Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/15 bl. 16-19
  • Die opstanding, die oordeelsdag en die afval

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die opstanding, die oordeelsdag en die afval
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die opstanding en die afval
  • Die afval ‘woeker voort soos ’n kanker’
  • Getrou aan Bybelwaarheid
  • Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Inherente onsterflikheid of die opstanding—Welke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die Koninkryk en die opstandingshoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die krag van die opstandingshoop
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/15 bl. 16-19

Die opstanding, die oordeelsdag en die afval

DIE Rooms-Katolieke, Ortodokse en Protestantse kerke het die duidelike Bybelwaarhede oor die toestand van die dode en die hoop op lewe na die dood die rug toegekeer. Hulle verkies die antieke, onskriftuurlike opvatting dat die siel onsterflik is. Soos ons gesien het, het hierdie opvatting in Babilonië ontstaan en is dit in die vierde eeu v.G.J. deur die Griekse filosoof Plato vereenvoudig.

Die Christendom se teoloë beweer dat elke man, vrou en kind wat ooit gelewe het, ’n siel het wat die liggaam verlaat wanneer die persoon sterf. Om hierdie leerstelling met ander leerstellings te laat rym, het hulle plekke soos limbus, die vaevuur en ’n brandende hel uitgedink. Die bevryde siele wat nie geskik is vir die “paradys” wat volgens hulle in die hemel is nie, gaan dan glo daarheen.

Die kerke sê ook dat die dode nie werklik dood is nie. Hulle beweer dat die siel voortlewe. Hulle kan gevolglik nie die ware Bybelleerstelling oor die opstanding, gedefinieer as “’n terugkeer tot die lewe” leer nie. Hulle teoloë het dus die sogenaamde opstanding van die liggaam versin en beweer dat die liggame van die regverdiges en die goddelose op die Oordeelsdag met hulle onderskeie siele verenig sal word om hemelse saligheid te beërf of in die helse vuur verdoem te word. En aangesien hulle glo dat sulke “siele” nie op die Oordeelsdag hoef te wag om “hemel” “hel” of na ‘wagkamers’, soos “limbus” of die “vaevuur” toe gestuur te word nie, het die Christendom se teoloë ook met die leerstelling oor twee oordele vorendag gekom. Die eerste is die sogenaamde Besondere Oordeel, wanneer die “siel” glo die liggaam by die dood verlaat. Die tweede is die sogenaamde Algemene Oordeel, wanneer die liggame op die Oordeelsdag “opgewek” en dan glo met die “siele” verenig word.

Die opstanding en die afval

Al die voormelde teologiese versinsels was die gevolg van die Rooms-Katolieke Kerk, wat in sekere fundamentele opsigte deur die Ortodokse en Protestantse kerke nagevolg is, se versuim om by die duidelike Bybelleerstellings oor die opstanding en verwante onderwerpe soos die dood, die mensesiel en die laaste oordeel te bly.

Die afval op hierdie gebied het baie vroeg in die geskiedenis van die Christelike godsdiens begin. Net meer as 20 jaar na Christus se dood en opstanding het die apostel Paulus uit Efese aan die jong Christengemeente in Korinthe, Griekeland, geskryf: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle [gesalfde Christene] dat daar geen opstanding van die dode is nie?”—1 Korinthiërs 15:12.

Party van die Christene aan wie Paulus in Korinthe geskryf het, was moontlik steeds onder die invloed van Griekse filosofie. ’n Paar jaar tevore het Paulus “die evangelie van Jesus en die opstanding” aan Griekse filosowe in Athene verkondig. Maar “toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot” (Handelinge 17:18, 32). Die Epikureërs en die Stoïsyne het hulle eie teorieë gehad oor wat na die dood met die siel gebeur. Ander Griekse filosowe, wat Sokrates en Plato gevolg het, het geglo aan die onsterflikheid van die siel. Nie een van hulle het aan die opstanding geglo soos dit in die Bybel geleer word nie.

Party Christene in Korinthe het moontlik ook reeds die afvallige beskouings oor die opstanding gehuldig wat die apostel Paulus tien jaar later veroordeel het. Jy sal onthou dat toe Paulus aan Timotheüs geskryf het, wat destyds waarskynlik in Efese was, hy gewaarsku het: “Die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker, onder wie daar Himeneüs en Filetus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.”—2 Timotheüs 2:16-18.

Deur te sê dat “die opstanding al plaasgevind het” het hierdie afvalliges nie beweer dat afgestorwe Christene reeds uit die dode opgewek is nie. Hulle het klaarblyklik geglo dat lewende Christene reeds opgewek is en dat die opstanding van ’n bloot simboliese, geestelike aard was. Hulle het enige toekomstige opstanding van die dode geloën. Sulke idees het party se ‘geloof omgekeer’, sodat die apostel Paulus ’n sterk waarskuwing teen daardie afvallige leraars gerig het.

Die afval ‘woeker voort soos ’n kanker’

Hierdie Himeneüs was ongetwyfeld dieselfde persoon as die een wat Paulus in sy eerste brief aan Timotheüs gemeld het. Hierdie man is saam met ene Alexander uit die Christengemeente gesit omdat hulle “aan die geloof skipbreuk gely” het. Paulus het Timotheüs vermaan om voort te gaan om “die goeie stryd” teen sulke afvalliges te stry.—1 Timotheüs 1:18-20.

Terwyl die apostels gelewe het, het hulle die voorbeeld gestel deur die afval teë te staan. Maar toe hulle nie meer aanwesig was om dit ‘teë te hou’ nie, is Paulus se vrese bewaarheid en het die “woord” van afvalliges ‘soos ’n kanker voortgewoeker’.—2 Thessalonicense 2:3-12; Handelinge 20:29, 30.

Idees oor ’n bloot simboliese opstanding, soos die wat deur Himeneüs en Filetus in Efese verkondig is, is later deur die Gnostici ontwikkel. Gedurende die tweede en vroeë derde eeu G.J. het die Gnostici (van die Griekse woord gno’sis, “kennis”) die afvallige Christelike godsdiens met Griekse filosofie en Oosterse mistisisme vermeng. Hulle het beweer dat alle materie boos is en daarop klem gelê dat redding deur mistiese “kennis” (gno’sis) verkry sou word eerder as deur geloof in Christus as verlosser.

Maar Gnostisisme was nie die enigste vorm van afvalligheid wat ‘soos ’n kanker voortgewoeker het’ nie. Teen die vierde eeu is die ware Christelike godsdiens soos wat Christus en sy getroue apostels en dissipels verkondig het, verderf deur ander manne wat “van die waarheid afgedwaal het”. Die vakkundige New International Dictionary of New Testament Theology erken dat “baie buitebybelse grondidees, beelde en gedagtes in die verdere loop van die kerkgeskiedenis in die konsepsie van die paradys opgeneem is”. Hierdie Bybelwoordeboek meld voorts “die feit dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel die plek ingeneem het van die Nieu-Testamentiese eskatologie [studie van die lot van die mensdom en die wêreld] met sy hoop op die opstanding van die dode”.

Soos ons hier en in die vorige artikel gesien het, het die loëning van die wesenlikheid van die dood en die aanvaarding van die heidense gedagte dat ’n onsterflike siel outomaties voortbestaan die Katolieke en Ortodokse kerke al hoe verder laat afdwaal van die duidelike Bybelleerstellings oor die opstanding en die oordeel. Dit het aanleiding gegee tot die God-onterende leerstelling oor die helse vuur en die vaevuur en die onsinnige gedagte dat vleeslike liggame opgewek word om in die hemel rond te sweef of vir ewig in die “hel” gefolter te word.

Die “kanker” het nie hier geëindig nie. In latere eeue het Protestantse hervormers hulle eie nie-Bybelse teorieë oor die dood, die opstanding en die laaste oordeel bygevoeg. Hulle het in die meeste gevalle die Katolieke leerstelling oor die inherente onsterflikheid van die siel gevolg, en dit het hulle verplig om ook die leerstelling oor die “opstanding van die liggaam” aan te neem. Baie Protestantse kerke verkondig ook ’n helse vuur. Maar Protestantse teoloë het ook hulle vindingrykheid getoon deur ander leerstellings wat nie in die Bybel geleer word nie te versin. Party Calvinistiese Gereformeerde kerke leer byvoorbeeld dat God sekere siele tot redding en ander tot ewige verdoemenis voorbestem. Ander Protestante glo aan universele redding, dit wil sê, die uiteindelike redding van alle siele, selfs dié van die goddelose.

Getrou aan Bybelwaarheid

Nadat Paulus gewaarsku het teen die afvallige leer van Himeneüs en Filetus oor die opstanding, het hy bygevoeg: “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is.”—2 Timotheüs 2:19.

Wat gaan jy doen noudat ons die geskiedkundige ontwikkeling van afvallige idees aangaande die siel, die dood, die opstanding en die laaste oordeel hersien het en die verwarring van hedendaagse opvattings oor hierdie lewensbelangrike onderwerpe gesien het? Die opregte Christen sal meer as ooit tevore oortuig wees van die nodigheid om by “die fondament van God” te bly waar dit by hierdie sake kom, soos uiteengesit in sy Woord, die Bybel.

Hoewel party Christene die duidelike Bybelleerstelling oor die mensesiel, die dood en die opstanding aanvaar, het hulle weens emosionele redes idees omtrent die laaste oordeel wat oënskynlik Jehovah se goedertierenheid verhef, maar wat in werklikheid sy geregtigheid en sy reg om die goddelose te vernietig in twyfel trek. Om duidelikheid omtrent sulke vrae te kry, bespreek die volgende artikels wat die Bybel oor die ware opstandingshoop sê soos dit in verband staan met God se koninkryk en God se oordeelsdag. Ons nooi jou om verder te lees.

[Lokteks op bladsy 17]

Wat die Bybel oor die siel, die dood, die opstanding en die laaste oordeel sê

Die mens het nie ’n siel nie; hy IS ’n siel.—1 Korinthiërs 15:45.

Die siel, of hele persoon, sterf.—Esegiel 18:4.

Die dood is ’n vyand, nie ’n vriend nie.—1 Korinthiërs 15:26.

Lewe na die dood is slegs moontlik deur ’n opstanding.—Johannes 5:28, 29.

Die beloning vir getrouheid is die ewige lewe.—Johannes 10:27, 28.

Die straf vir moedswillige sonde is die ewige dood, nie ewige foltering nie.—Romeine 6:23.

[Lokteks op bladsy 18]

’n Amptelike leerstelling van die Christendom se kerke

Die Athanasiaanse Geloofsbelydenis, wat amptelik deur die Rooms-Katolieke, Anglikaanse en ander Protestantse kerke aanvaar word, lui: “Hy [Jesus] het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader, die almagtige God; vanwaar hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode. Met sy koms sal alle mense weer met hulle liggame opstaan, en rekenskap gee van hulle eie werke. Die wat goed gedoen het, sal weggaan in die ewige lewe, en die wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur.”

[Lokteks op bladsy 19]

’n Kerk se beskouing van die opstanding

“Die algemene opstanding kan nouliks met behulp van rede bewys word, hoewel ons die gepastheid daarvan kan toon. (a) Aangesien die siel ’n natuurlike neiging tot die liggaam het, sou die ewige skeiding van siel en liggaam onnatuurlik lyk. (b) Aangesien die liggaam medepligtig is aan die siel se misdade, en ’n aandeel het in sy deugde, lyk dit of God se geregtigheid vereis dat die liggaam die siel se straf en beloning deel. (c) Aangesien die siel wat van die liggaam geskei is uiteraard onvolmaak is, lyk dit of die toppunt van sy geluk, oorlaai met alles wat goed is, die opstanding van die liggaam vereis.”—Catholic Encyclopedia (Vet druk ons s’n).

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel