Inherente onsterflikheid of die opstanding—Welke?
Ons nooi jou om die reeks van vier artikels wat op hierdie bladsy begin, aandagtig te bestudeer. Hulle bied die Bybel se beskouing oor wat by die dood met die siel gebeur, van die opstanding, van God se oordeelsdag en van die finale verdrukking, en toon hoe dit verband hou met die Koninkrykstema van God se Woord.
ELKE Maart of April vier meer as ’n kwart van die aarde se bewoners die Paasfees, wat die “fees ter herdenking van Christus se opstanding” genoem word. Dit beteken dus dat die miljoene wat Christus se opstanding op Paassondag gedenk in werklikheid uiting gee aan hulle hoop om eindelik uit die dood opgewek te word. Maar eienaardig genoeg glo die meeste van hierdie mense nie dat lewe na die dood van die opstanding afhang nie, maar eerder van die voortbestaan van hulle “onsterflike siel”.
Honderdmiljoene ander, wat nie die Paasfees vier nie, glo ook dat hulle hoop op lewe na die dood van die voortbestaan van hulle “siel” afhang, en nie van ’n opstanding nie. Al hierdie mense, binne sowel as buite die Christendom, meen klaarblyklik dat hulle kort lewe op aarde nie al kan wees nie. Dit frustreer hulle om te dink dat die mens net soos ’n dier lewe en sterwe. Hulle begeerte om in die toekoms te lewe, is heeltemal natuurlik. Dit is moontlik ook jou begeerte. Maar hoe is lewe na die dood moontlik?
Lewe na die dood—Hoe?
Die “heilige boeke” van verskeie gelowe bied in die meeste gevalle twee oplossings vir hierdie probleem. Party van hierdie boeke vertel van die outomatiese voortbestaan van die “siel” of “gees” van ’n afgestorwene. Die Bybel leer andersyds dat die dode deur ’n opstanding lewend gemaak sal word.—Hebreërs 11:17-19; Lukas 20:37, 38; Johannes 5:28, 29; 11:24.
Dit is nie verbasend dat Oosterse gelowe die outomatiese voortbestaan van die “siel” of “gees” verkondig nie, want betroubare geskiedenis toon dat hierdie opvatting in die Ooste ontstaan het. Die antieke Babiloniërs het geglo aan ’n onderwêreld waar die siele van die dode woon onder die god Nergal en die godin Eresj-kigal. Die antieke Egiptenaars het ook aan die onsterflikheid van die siel geglo, en het hulle eie “onderwêreld” gehad. Hulle het Osiris as die “god van die dode” aanbid. Net soos die Egiptenare het die Perse geglo dat siele na die dood “geweeg” word. Talle antieke Griekse filosowe het hierdie Oosterse begrip van ’n onsterflike siel aangeneem, en dit is eindelik in die vierde eeu v.G.J. deur Plato gedefinieer.
Wat wel verbasend is, is dat Judaïsme en die kerke van die Christendom die idee aangeneem het dat toekomstige lewe van ’n onsterflike siel in die mens afhang. Dit is eenvoudig nie ’n Bybelleerstelling nie, soos The Concise Jewish Encyclopedia (1980) toon: “Die Bybel bevat nie ’n leerstelling oor die onsterflikheid van die siel nie, en dit kom ook nie duidelik na vore in vroeë [Joodse] rabbynse literatuur nie. . . . Mettertyd het die opvatting dat ’n deel van die menslike persoonlikheid ewig en onvernietigbaar is ’n deel van die rabbynse geloofsbelydenis geword, en dit is later amper universeel in Judaïsme aanvaar.”
Die Christendom se teoloë het die voorbeeld van die Joodse rabbi’s gevolg deur die Babiloniese, Egiptiese, Persiese en Griekse begrip dat die mens ’n onsterflike siel besit, aan te neem. Maar omdat die Christendom se kerke beweer dat hulle die Bybel aanvaar, het hulle ’n dilemma vir hulself geskep deur hierdie nie-Christelike leerstelling te aanvaar. Die dilemma is naamlik: Hoe kan die kerke die Bybelleerstelling oor die opstanding onderskryf en terselfdertyd leer dat ’n persoon na die dood voortbestaan omdat hy ’n onsterflike siel het?
Hoe wikkel die Christendom se kerke hulle uit hierdie dilemma? Die Catholic Encyclopedia vertel vir ons hoe waar dit sê: “Die Vierde Lateraanse Konsilie leer vir ons dat alle mense, hetsy uitverkore of verworpe, ‘weer sal opstaan met die liggame wat hulle nou het’. In die taal van die geloofbelydenisse word hierdie herlewing die opstanding van die liggaam genoem.” (Ons kursiveer.) Met ander woorde, daar word hier beweer dat die opstanding van die dode bloot die herbekleding van ’n onsterflike siel met ’n vleeslike liggaam is. Maar dit is nie wat die Bybel leer nie.
Die ware opstandingshoop
Talle Bybelgeleerdes erken dat die leerstellings oor inherente onsterflikheid en die “opstanding van die liggaam” nie in die Bybel geleer word nie. Georges Auzou, Franse Katolieke professor van Heilige Skrif, skryf: “Die begrip ‘siel’, met verwysing na ’n uitsluitend geestelike, onstoflike wese, apart van die ‘liggaam’, . . . bestaan nie in die Bybel nie.” “Die Nuwe Testament praat nooit van die ‘opstanding van die vlees’ nie, maar van die ‘opstanding van die dode’.”
En in sy boek Die onsterflikheid van die siel of die opstanding van die dode? skryf Franse Protestantse professor Oscar Cullmann: “Daar bestaan ’n radikale verskil tussen die Christelike verwagting dat die dode opgewek gaan word en die Griekse geloof in die onsterflikheid van die siel. . . . Alhoewel die Christendom later ’n verband tussen hierdie twee opvattings geskep het, en die deursnee-Christen hulle vandag heeltemal met mekaar verwar, sien ek geen rede waarom ek dit wat ek en die meerderheid geleerdes as die waarheid beskou, moet wegsteek nie. . . . die lewe en denke van die Nuwe Testament word geheel en al oorheers deur geloof in die opstanding. . . . die hele mens, wat waarlik dood is, word lewend gemaak deur ’n nuwe skeppingsdaad van God.”
Ja, die ware Bybelse hoop op ’n toekomstige lewe berus op die opstanding, nie op die outomatiese voortbestaan van ’n onsterflike siel nie. Die Bybel sê baie duidelik dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). In die volgende artikel sal ons bespreek hoe daar soveel godsdiensverwarring oor die hiernamaals ontstaan het.
[Prent op bladsy 15]
Die prent van die siel wat bokant die lyk sweef, toon dat die antieke Egiptenare geglo het dat die siel na die dood voortleef