Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/15 bl. 4-6
  • Die eerste leuen—Hoe dit jou raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eerste leuen—Hoe dit jou raak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die god van hierdie wêreld
  • Hoe was die lewe in die Paradys?
    Luister na God en lewe vir ewig
  • Die mens verloor die Paradys
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Wat was die eerste sonde?
    Ontwaak!—2006
  • Die grootse tema van die Bybel
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/15 bl. 4-6

Die eerste leuen—Hoe dit jou raak

IN 1981 het ’n trein in Indië ’n brug genader toe die masjinis skielik ’n koei op die spoor gesien het. Hy het hard gerem. Die trein het ontspoor en sewe waens propvol mense het in die rivier daaronder geval. Meer as 800 mense het gesterf. So het iets kleins—’n koei op die spoorlyn—tot ’n groot tragedie gelei. Iets soortgelyks het in Eden, die tuin van God, gebeur.

Eden moes ’n baie aangename plek gewees het. Daar was ’n groot verskeidenheid bome, blomme, diere en voëls. Daar was rus en vrede. Dit was waarlik ’n paradys. Adam en Eva moes hulle in God se handewerk verlustig het. En hulle het ’n wonderlike vooruitsig gehad. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Hulle het boonop ’n wonderlik eenvoudige godsdiens gehad: Hulle moes God se wil doen.

Selfs die engele het intens in hierdie gelukkige begin van die mensdom belang gestel. Maar een engel was anders. Sy belangstelling het selfsug bemantel. Hy het die aanbidding van die mens vir homself begeer en planne beraam om die “god” of owerste van die wêreld te word. Sodoende het hy Satan geword, ’n naam wat “teenstander” beteken.—Kyk Lukas 4:5-8; 2 Korinthiërs 4:4.

Jehovah God het Adam verbied om die vrug van ’n sekere boom te eet. Dit was ’n eenvoudige toets. Deur daarin te slaag, kon Adam en sy vrou toon dat hulle God waarlik wou dien. Jehovah het boonop gewaarsku: “Die dag as jy daarvan [die verbode vrug] eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Die gawe van ewige lewe was nie bedoel vir ongehoorsame rebelle nie.

Hier het Satan sy kans gesien. Deur middel van ’n slang het hy Eva versoek om die verbode vrug te eet deur vir haar te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” Toe het hy van die boom gesê: “Maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:4, 5). Watter aanloklike aanbod—om soos God te wees! Maar Satan het gelieg. Eva het hom egter geglo en ongehoorsaam die verbode vrug geëet. Later het sy dit vir Adam aangebied, en hy het saam met haar gesondig. Wat was die gevolg?

Daardie kritieke daad het die hele mensdom laat “ontspoor” en tot ’n tragedie gelei. Die eerste egpaar het dadelik die paradys verloor. Later het hulle ook hulle lewens verloor en teruggekeer tot die stof waaruit hulle geformeer is (Genesis 3:19). Ongelukkig is al hulle kinders—die mensdom—gevolglik buitekant die paradys, in sonde en met die dood in die vooruitsig, gebore.—Romeine 5:12.

Satan het oënskynlik die oorwinning behaal. Hy was nou ’n “god” en die mensdom het hom gevolg in plaas van die Skepper. Maar hy het nie werklik gewen nie. Hy het bloot die eerste hou geslaan in ’n stryd wat vandag nog voortduur. Jehovah het dadelik opgetree om die gevolge van Satan se leuen ongedaan te maak. Hy het vir Satan gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 3:15.

Hier, in die eerste profesie in die Bybel, word voorspel dat Satan uiteindelik verslaan sal word deur middel van ’n sekere “saad”. Wie is daardie saad? Dit was baie lank ’n geheim.

Die god van hierdie wêreld

Op ’n paar uitsonderinge na het die afstammelinge van Adam en Eva verkies om hulle ouers se voorbeeld te volg en aan God ongehoorsaam te wees. Hulle het die onafhanklikheid wat Satan aangebied het, verkies. Mettertyd het ’n gebied bekend as Mesopotamië, tussen die Tigris- en Eufraatrivier, die middelpunt van opstand teen God geword.

Die menseleier in daardie opstand was ene Nimrod. Hy word in die Bybel geïdentifiseer as die eerste koning en ryksbouer. Al sy bedrywighede was in stryd met God se opdragte; die Bybel sê gevolglik: “Hy was ’n geweldige jagter gekant teen Jehovah.” Die begin van sy ryk was Babel, wat later die stad Babilon geword het.—Genesis 10:9, 10, NW.

Politieke verdrukking en wreedheid het dus van Babel af versprei. Nuwe godsdiensteorieë het ook hier hulle ontstaan gehad. Die eerste leuen—dat sondige Eva nie werklik sou sterf nie—is blootgelê aangesien Eva wel gesterf het. Nou is daar by daardie leuen aangelas, ’n Onsterflike deel van die mens het glo na die dood in ’n onsigbare ryk voortgelewe. Hierdie leerstelling het gelei tot geloof in die helse vuur, spiritisme, vooroueraanbidding en ’n mag der menigte ander dwaalleerstellings.

Die godsdiensteorieë wat in antieke Babel, of Babilon, ontstaan het, het dwarsoor die wêreld versprei. Een deskundige, wat die algemene ooreenkomste tussen die meeste van die wêreld se gelowe raakgesien het, het gesê dat hulle “almal hulle godsdiensopvattings van ’n gemeenskaplike bron [moes] gekry het” (The Worship of the Dead, deur kolonel J. Garnier). Daardie bron was antieke Babilon. Die Bybel verwys na hierdie wêreldwye godsdiensstelsel wat van Babilon afkom as “Babilon [die Grote], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”.—Openbaring 17:5, vgl. NW.

Satan se eerste leuen het gevolglik tot algemene politieke verdrukking en valse godsdiens gelei. Maar wat het intussen gebeur in verband met die “saad” wat God voorspel het Satan en sy planne tot niet sou maak?

[Prent op bladsy 5]

Die hele mensdom het net soos hierdie trein “ontspoor”.

Weet jy hoe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel