Vrae van lesers
♦ Hoe moet individuele Christene en die gemeente as ’n geheel die Bybelraad om “net in die Here” te trou beskou?
Van ’n vrou wie se man gesterf het, het die apostel Paulus gesê: “Sy [is] vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here” (1 Korinthiërs 7:39). Dit is nie sommer net persoonlike raad van ’n mens nie. Paulus het dit onder inspirasie geskryf; hierdie verstandige en liefdevolle raad kom dus van God af. Christene moet dit gevolglik as ernstig beskou, nie iets wat geïgnoreer of ligtelik beskou moet word nie. Die geskiedkundige verslag in die Bybel onderstreep dit.
Toe Abraham ’n vrou vir Isak gekies het, het hy nie ’n vrou onder die beoefenaars van valse godsdiens, die Kanaäniete in die omgewing, gesoek nie. Hy het eerder die moeite gedoen om ’n vrou in ’n land ver daarvandaan te vind onder familielede wat die ware God erken het. Isak het eweneens vir Jakob gesê: “Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie” (Genesis 28:1; 24:1-67). Abraham en Isak het besef dat die huwelik nie bloot ’n saak van romantiese aangetrokkenheid is nie. Toegewydheid aan Jehovah was by die saak betrokke, want ’n huwelik met ’n ongelowige kon ernstige probleme skep en ’n persoon selfs van ware aanbidding afvallig maak.
Maar nie al die Hebreërs het vasbeslote weggebly van diegene wat Jehovah nie aanbid het nie. Dina het byvoorbeeld omgegaan met jong persone in haar omgewing wat nie die ware God gedien het nie. Met watter gevolg? Een van die jong manne se hartstog is gewek en hy het haar verkrag. Dit wil voorkom of Juda ’n ruk lank van sy familie af weggetrek het en vir hom ’n Kanaänitiese vrou geneem het. Hoe het sake verloop? Wel, drie seuns is uit daardie ongelyke verbintenis gebore, maar Jehovah moes twee van hulle vernietig weens hulle boosheid. Simeon het ook ’n seun by ’n Kanaänitiese vrou gehad. Dit was klaarblyklik as so buitengewoon en onwenslik beskou dat die aandag daarop gevestig is in die lys van Jakob se afstammelinge.—Genesis 34:1, 2; 38:1-10; 46:8-10.
Toe God wette gegee het om Israel te lei, het hy hulle gewaarsku teen huwelike met persone wat Jehovah nie aanbid het nie (Deuteronomium 7:2-4). Die wysheid hiervan is onderstreep deur die tragedie wat Salomo getref het. Hy het moontlik gedink dat hy, as gevolg van sy buitengewone wysheid, opgewasse is teen enige probleem of toets wat sou spruit uit huwelike met vroue wat Jehovah nie gedien het nie. Maar toe hy God se raad in die wind geslaan het, het selfs Salomo hom vasgeloop.—1 Konings 11:1-6.
Laastelik, in die Christelike Griekse Skrifte het God die raad herhaal: Moenie met iemand trou wat die Here nie dien nie. Die geïnspireerde raad was nie ‘As jy ’n rein, ordentlike persoon vind, is dit toelaatbaar om met daardie persoon uit te gaan en te trou in die hoop dat hy of sy eindelik ’n Christen sal word’ nie. God se Woord sê eerder duidelik: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (2 Korinthiërs 6:14). As ’n persoon met iemand trou wat nie reeds ’n gedoopte Christen is nie, ignoreer hy daardie ernstige raad.
Omdat Jehovah se Getuies as ’n volk hierdie raad as verstandig en ernstig beskou, wil hulle nie daartoe bydra dat enigiemand in stryd daarmee optree nie. As ’n geestelike broer of suster byvoorbeeld weens swakheid begin om ’n persoon wat nie ’n getuie van Jehovah is nie die hof te maak of met hom of haar uit te gaan, sal die ander in die gemeente nouliks daardie verhouding wil bevorder deur sosiaal met die ongelowige te verkeer. Hulle is dit eens met die Bybel dat die nie-Christen nie goeie omgang is nie (1 Korinthiërs 15:33). Maar hulle moet steeds belangstelling in hulle broer of suster toon. Hulle kan dalk die dwalende Christen taktvol en bemoedigend vermaan om hom of haar te help om die pynlike pad te vermy wat Salomo ingeslaan het.—Vergelyk 2 Thessalonicense 3:14, 15.
Maar gestel ’n Getuie beplan om God se raad te ignoreer en met iemand te trou wat nie ’n gedoopte Getuie is nie? Tensy daar ’n baie uitsonderlike rede bestaan, sal die broers in die gemeente nie so ’n ongelyke huwelik wil bevestig nie. Die Koninkryksaal sal ook nie vir die huwelik beskikbaar wees nie. Dit is beskikbaar vir die huwelik van twee gedoopte Christene wat “net in die Here” trou. Of dit kan soms gebruik word deur twee persone wat God gereeld as deel van die gemeente dien en wat binnekort gedoop gaan word. Deur nie toe te laat dat die Koninkryksaal gebruik word deur ’n Getuie wat beplan om ‘in dieselfde juk saam met ’n ongelowige te trek’ nie, kan die gemeentelike ouere manne die erns van God se raad om “net in die Here” te trou, onderstreep.