Bewaar jou Christelike ewewig
WIE het nog nie gesien hoe ander val of self geval nie? Kindertjies val maklik weens ’n gebrek aan ondervinding en spierkoördinasie. Bejaarde persone is soms te swak om hulle ewewig op gladde oppervlakke of teen steiltes te bewaar. Persone kan val omdat hulle nie versigtig genoeg was nie of omdat hulle gevaarlike toestande onderskat het. Ja, ’n mens kan skielik en onverwags jou fisiese ewewig verloor. Christene kan eweneens hulle geestelike ewewig verloor.
Die faktore wat geestelike ewewig kan versteur, sluit apatie, onsedelikheid, te veel ontspanning en oormatige betrokkenheid in sekulêre werk in. Is dit moontlik dat enige van hierdie dinge jou Christelike ewewig of die van jou gesin in die gevaar stel?
Vermy apatie
Apatie is vandag baie algemeen. Mans staan onverskillig teenoor die emosionele en geestelike behoeftes van hulle vrouens en kinders. Vrouens toon min besorgdheid wanneer hulle mans hulle tot hulle wend vir begrip, ondersteuning en sinvolle liefde. Werkgewers sukkel met werknemers vir wie redelike produksiedoelwitte en die maatskappy se welsyn en belange van weinig belang is. Daar die Christen omring word deur onverskilligheid teenoor verantwoordelikhede en pligte, moet hy waak teen so ’n apatiese gees.
As ons die volgende geïnspireerde raad in gedagte hou, sal dit ons help om nie voor apatie te swig nie: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang” (Kolossense 3:23, 24). As ons waarlik ons Skepper en sy Seun wil behaag, sal ons dit toon deur werk van hoë gehalte te lewer en nie tyd te verkwis nie.
Versterk jouself teen onsedelikheid
Die algemene veronagsaming van die Bybel se sedelike standaarde kan ook ’n groot bedreiging vir ’n Christen se geestelike ewewig wees. Die apostel Paulus het medegelowiges in Korinthe vermaan: “Laat ons nie hoereer soos sommige van [die Israeliete] gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval” (1 Korinthiërs 10:8). Die apostel het verwys na die voorval toe die Israeliete op die vlaktes van Moab vertoef het kort voordat, hulle die Beloofde Land binnegegaan het. Hulle is toe verlei omdat hulle die uitnodigings aanvaar het om saam met mooi afgodsaanbiddende vroue fees te vier (Numeri 25:1-9). Hoe kragtig beklemtoon die tragiese gevolge die gevaar van sosiale omgang met persone wat geen agting vir die goddelike wil het nie!
Om ’n rein reputasie te behou, jaag ons wyslik “geregtigheid, geloof, liefde, vrede, [na] saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Timotheüs 2:22). Om slegte omgang te vermy, moet ons ook seksgeoriënteerde lektuur, rolprente en televisieprogramme vermy wat verkeerde begeertes kan wek. Daarbenewens moet ons ons verstande versterk deur hulle te vul met heilsame gedagtes uit God se Woord.—Filippense 4:8.
Hou ontspanning op sy plek
God se Seun het gesê dat die “genietinge van die lewe” waardering vir geestelike dinge kan verstik (Lukas 8:14). Dit is waarom ware Christene op hulle hoede moet wees dat ontspanning nie te belangrik in hulle lewe word nie. Ons moenie toelaat dat dit te veel inbreuk maak op tyd wat gebruik word om God se Woord te lees en te bepeins, die “evangelie” te verkondig, in ander se behoeftes te voorsien en met persone met dieselfde kosbare geloof te vergader nie.
Selfs al is aangename bedrywighede nie in stryd met regverdige beginsels nie, sal dit nie ware bevrediging verskaf as ’n mens te veel tyd daaraan wy nie. Genietinge wat die sinne behaag, is baie soos smaakmiddels in kos. In matige hoeveelhede kan afleiding, ontspanning of vermaak aangenaam wees. Maar in groot dosisse kan dit ’n mens siek maak, want dit laat ’n persoon met ’n gevoel van leegheid omdat hy niks bereik het wat waarlik die moeite werd is nie.
Wanneer ’n Christen ontspan, moet hy buitendien onthou dat hy in die allereerste plek ’n kneg van God is. Dit kan hom help om ’n mededingende gees te vermy en spele nie te ernstig op te neem sodat hy moontlik homself of ander beseer nie.—Galasiërs 5:26.
Ewewig in sekulêre werk
In sekulêre werk bestaan daar ook ’n behoefte aan ewewig. Dit is noodsaaklik dat God se knegte werk om hulself en hulle dierbares te onderhou, om “eerlike voorsiening te tref, nie alleen voor die oë van Jehovah nie, maar ook voor die oë van mense” (2 Korinthiërs 8:21, NW). Deur eerlike werk te doen, kan die Christen sy pogings om ander geestelik en materieel te help, in die hand werk. Wanneer sekulêre werk soveel eise aan hom stel dat hy min tyd en krag oor het om ander geestelik te vertroos, bring hy wyslik veranderinge aan.
Dit is inderdaad bemoedigend om te sien hoedat individue hulle sekulêre werk beperk om meer tyd vir lewensbelangrike geestelike bedrywighede te hê. In een gesin het die twee dogters byvoorbeeld ’n voltydse werk in ’n kantoor gedeel en elk twee en ’n half dae per week in plaas van vyf gewerk. Dit het albei in staat gestel om 100 uur per maand te wy aan pogings om mense in hulle gemeenskap te help om Bybelkennis te verkry.
Net soos ’n mens kan voorkom dat jy letterlik val, kan ’n versteuring van geestelike ewewig voorkom word deur onsself geestelik op te bou deur ’n studie van God se Woord en omgang met medegelowiges. En wanneer ons ons tyd en kragte gebruik om Bybelwaarheid aan ander te verkondig, smaak ons die groter geluk wat mededeelsaamheid verskaf en word ons gehelp om ons oë op die waarlik belangrike dinge in die lewe gevestig te hou (Handelinge 20:35). As ons aldus ons geestelike ewewig bewaar, kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan, “want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam”.—Hebreërs 6:10.