Blinde Getuie red ’n lewe
Vicente is blind en 75 jaar oud. Hy is nou al omtrent vyf jaar lank ’n hulppionier in Spanje, versprei elke maand 110 tydskrifte en hou drie Bybelstudies. Een koue wintersaand het sy diensmetgesel nie opgedaag om hom te vergesel na ’n herbesoek by ’n belangstellende wat vir 9:15 nm. gereël was nie. Omdat dit nog effens vroeg was om die besoek te doen en hy nie tyd wou verkwis nie, het Vicente besluit om op sy eie huisbesoek te doen. Die man wat die deur oopgemaak het, het hom vriendelik behandel, na die Koninkrykshoop geluister en twee tydskrifte geneem. ’n Paar weke later toe hierdie man weer besoek is om vir hom die jongste nommers te bring, het hy gesê: “Señor Vicente, as jy my nie daardie aand besoek het nie, sou ons nie vandag met mekaar gesels het nie. Ek het besluit om myself te skiet. Op daardie oomblik wou ek net sterf, maar wanneer ek nou hierdie tydskrifte lees en meer omtrent die Koninkryk leer, word my wil om te lewe al hoe sterker.”