Goeie bure—Ons het hulle nodig
’N RUK gelede het ’n vrou in Toronto, Kanada, inkopies gaan doen en haar weeklikse wasgoed aan die wasgoedlyn laat hang om droog te word. Terwyl sy weg was, het die wasgoed op die grond geval. Toe haar buurvrou dit sien, het sy dit vir haar opgetel, weer gewas en opgehang om droog te word.
Het jy sulke bure? Ongelukkig is hulle vandag baie skaars. Berigte soos die een, ook uit Toronto, oor ’n bejaarde vrou wie se arm teen ’n warm stoof vasgedruk is, is algemener. Sy het om hulp geroep, maar haar bure het haar geroep geïgnoreer, en sy is eers twee dae later gered. Die arm moes afgesit word.
As ’n mens in ’n gemeenskap woon waar bure vir mekaar omgee, gee dit jou ’n groter gevoel van sekuriteit en hartlikheid. Goeie bure kook vir ons maaltye wanneer ons siek is, bring ons kinders huis toe wanneer hulle wegdwaal, help ons deur groot en klein krisisse, koop vir ons ’n paar items terwyl hulle hulle inkopies doen, hou ’n ogie oor ons huis terwyl ons weg is en maak die lewe oor die algemeen aangenamer wanneer hulle elke dag “Goeiemore” sê. En ons doen natuurlik dieselfde vir hulle.
In die verlede was sulke bure eerder die reël as die uitsondering. Jy kan hulle vandag nog in plattelandse gebiede en klein dorpe aantref. Maar in die groter stede en die ryk voorstede is bure wat omgee seldsaam; en omdat die meeste mense vandag in stede of in voorstede woon, het baie mense nog nooit die ondervinding gehad om in ’n buurt te woon waar mense vir ander omgee nie. ’n Sielkundige het gesê: “As ’n mens in ’n woonstel in Toronto woon, kan jy doodgaan en maande lank daar lê voordat enigiemand dit sal agterkom. Dit was nie altyd so nie.” Dit geld van die meeste groot stede. Aan die ander kant van die aardbol het ’n jong vrygesel in ’n woonstel in ’n groot stad gesterf. Sy lyk is eers een en ’n half jaar later gevind!
Die sielkundige het gesê dat dit nie altyd so was nie. Wat het die verandering teweeggebring?