Vrae van lesers
♦ Wat moet gebruik word as embleme by die viering van die Here se Aandmaal, en hoe moet hierdie embleme behandel word?
Die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal (die Gedenkmaal) is die enigste viering wat Christene deur die Skrif beveel word om te hou. Jesus het dit op die nag van 14 Nisan 33 G.J. ingestel nadat hy die Joodse Pasga gevier het. Voor hom was die verskillende voedselitems wat tydens die Pasgamaaltyd genuttig is. Lukas se verslag sê:
“Daarop neem [Jesus] brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.”—Lukas 22:19, 20.
God het die Jode beveel om “ongesuurde brode” tydens die Pasga te gebruik (Exodus 12:8). Die “brood” wat tot Jesus se beskikking was, was dus ongesuurde brood. Dit was gemaak van koringmeel sonder enige sout of ander smaakmiddels, want dit het die “brood van ellende” voorgestel.—Deuteronomium 16:3.
Jehovah se Getuies gebruik vandag soortgelyke “brood”. ln party gevalle word Joodse matzo gekoop en gebruik, mits die matzo nie ander bestanddele soos uie, mout of eiers bevat nie. Plat, droë, ongekruide matzo is gepas. Of ’n ongesuurde brood kan gebak word. ’n Bietjie volkoring-meela kan met ’n bietjie water gemeng word. Die effens klam deeg word dun uitgerol en dan in ’n plat pan (met ’n dun lagie olie op) gebak totdat die brood droog en bros is.
Wat van die ander embleem? Teen die eerste eeu G.J. het die Jode wyn as deel van die Pasgamaal aanvaar. Jesus het gepraat “vrug van die wynstok” wat tydens daardie viering gebruik is (Lukas 22:18). Party persone beweer dat Jesus nie van wyn gepraat het nie, maar van ongegiste druiwesap. Maar gewone druiwesap sou nie van die druiwe-oes in die noordelike herfs tot die Pasga in die noordelike lente ongegis gebly het nie, en daarom moes Jesus wyn bedoel het. Rooi druiwewyn sou ’n gepaste simbool van Jesus se bloed wees. Aangesien Christus se “kosbare bloed” heeltemal toereikend was, sal dit nie gepas wees om ’n wyn wat met brandewyn gefortifiseer of versterk is, soos sjerrie, port en muskadel, of sekere ander dessertwyne tydens die Gedenkmaal te gebruik nie (1 Petrus 1:19). Dit sal ook nie gepas wees om ’n wyn wat speserye of kruie bevat, soos vermoet en Dubonnet, of baie ander aptyt- of aperitiefwyne te gebruik nie. Maar ’n onversoete, rooi wyn soos Chianti, Boergondiese wyn of klaret, of ’n tuisgemaakte rooi wyn wat nie versoet is, speserye bevat of gefortifiseer is nie, is gepas.
Die ouere manne in ’n gemeente van Jehovah se Getuies moet vroegtydig reëlings tref vir die ongesuurde brood en rooi wyn en seker maak dat hulle iets geskiks kry. Na afloop van die Here se Aandmaal is dit nie nodig om die brood en wyn wat oorbly as iets spesiaals of heiligs te beskou nie, want dit bly steeds gewone voedselprodukte. Dit is ook nie nodig om ’n sekere bottel wyn te hou sodat dit jaar na jaar vir die viering gebruik kan word nie, tensy probleme om geskikte wyn te kry dit raadsaam maak.
Wanneer die embleme tydens die Gedenkmaal omgestuur is, het party individue opgetree asof dit spesiale vermoëns besit. ’n Paar persone het byvoorbeeld opsetlik hulle hoof na die embleme gebuig of daaraan geruik. Dit is nie gepas nie.
Gedurende die viering van die Here se Aandmaal is die brood en die wyn simbole van Jesus se vleeslike liggaam en sy kosbare bloed (Mattheüs 26:26-28). Wanneer dit omgestuur word, moet elke individu gevolglik eerbiedig nadink oor wat die brood en die wyn voorstel. Die lede van die gehoor wat dit nie gebruik nie, kan net die bord en glas vir die volgende persoon aangee, hoofsaaklik gedagtig aan Jesus se offerande, wat versoening vir ons sondes kan doen en die vooruitsig op ewige lewe moontlik maak—1 Johannes 2:2; 1 Korinthiërs 11:23-26.
[Voetnoot]
a Koringmeel is verkieslik, want dit is wat die Jode vir hulle ongesuurde brood gebruik het. Maar as dit baie moeilik is om koringmeel in die hande te kry, kan ongegiste “brood” wat van rys, mielies of ander graanmeel gemaak is, gebruik word.
♦ My seun, wat as ’n tienderjarige gedoop is, is nou getroud en het ’n gesin. Weens die druk om ’n lewe te maak het hy geestelik agteruitgegaan en assosieer hy nie meer met die gemeente nie. Moet hy as ’n “gedisassosieerde” persoon beskou word?
Daar is niks in jou beskrywing wat so ’n beskouing sou regverdig nie. Die vraag het moontlik ontstaan weens ’n misverstand oor wat dit beteken om as ’n “gedisassosieerde” persoon beskou te word.
Die Wagtoring van 1 Desember 1981 het op bladsy 20 getoon dat daar ’n verskil bestaan tussen (a) ’n Christen wat geestelik swak en onbedrywig word, en (b) ’n persoon wat duidelik sy posisie as een van Jehovah se Getuies verloën sodat die gemeente se ouere manne moet aankondig dat hy homself “gedisassosieer” het. Dit wil lyk of die eerste beskrywing jou seun pas.
Die Wagtoring het gemeld dat party Christene se geloof en geestelikheid verswak. Dit het ook in die eerste eeu gebeur (Romeine 14:1, 2; 1 Korinthiërs 11:30). Dit beteken nie dat hulle opgehou het om Christene te wees nie. Selfs al het hulle so swak geword dat hulle nie langer die “evangelie” aan ander verkondig nie en opgehou het om vergaderinge by te woon, en hulle nie die Christen-gemeente smaad aandoen nie, moet hulle steeds as ons geestelike broers en susters beskou word. Dit moet ons begeerte wees om hulle liefdevol te help en die apostel Paulus se raad toe te pas: “Ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” Hoewel die ouere manne dikwels die leiding hierin gee, moet ons daarop let dat hierdie raad aan die hele “gemeente van die Thessalonicense” gegee is (1 Thessalonicense 1:1; 5:14). Die ouere manne kan dus liefdevolle hulp verleen en die persoon bemoedig, gedagtig aan die raad: “Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”—Hebreërs 12:12, 13; Openbaring 3:1-3.
Dit is heeltemal anders in die geval van ’n voormalige Christen wat homself “gedisassosieer” het. Hierdie uitdrukking word basies in twee situasies gebruik:
Eerstens, hoewel dit seldsaam is, kan ’n persoon besluit dat hy glad nie langer ’n Getuie wil wees nie. Ons bedoel nie ’n persoon soos die een wat hierbo beskryf is, ’n geestelik swak of mismoedige Christen wat twyfelgedagtes uitspreek nie. Ons bedoel iemand wat ’n duidelike besluit neem en sê dat hy glad nie langer een van Jehovah se Getuies wil wees nie. Aangesien hy in die verlede vrywillig ’n gedoopte lid van die gemeente geword het, sal dit nou vir hom gepas wees om die gemeente in te lig dat hy hierdie verhouding beëindig. Dit sal die beste wees as hy dit in ’n kort brief aan die ouere manne doen, maar selfs al sê hy mondelings op ondubbelsinnige wyse dat hy sy posisie as ’n Getuie verwerp, kan die ouere manne die saak hanteer.—1 Johannes 2:19.
Die tweede situasie is die van ’n persoon wat sy posisie in die gemeente verloën deur aan te sluit by ’n sekulêre organisasie met oogmerke wat strydig is met raad soos die in Jesaja 2:4, waar ons aangaande God se knegte lees: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” En Johannes 17:16 sê ook: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek [Jesus] nie van die wêreld is nie.”—Vergelyk Openbaring 19:17-21.
ln elk van hierdie twee situasies het die persoon deur woord en/of dade duidelik sy status as een van Jehovah se Getuies beëindig en homself gedisassosieer. Die ouere manne sal gevolglik kortliks vir die gemeente aankondig dat hierdie individu homself gedisassosieer het. Diegene in die gemeente sal die persoon se besluit aanvaar en sal hom daarna beskou as ’n voormalige broer met wie hulle nie sal omgaan nie in ooreenstemming met wat ons in 1 Korinthiërs 5:11 en 2 Johannes 9-11 lees.
Soos ons kan besef, het die geestelik swak en onbedrywige seun oor wie die vraag gestel is nie in enige van hierdie twee sinne ’n “gedisassosieerde” persoon geword nie en is geen sodanige aankondiging in die gemeente gedoen nie. Dit is dus nog moontlik om hom te help in die gees van Romeine 15:1: “Op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie.”—Kyk ook Jesaja 35:3.