Gebruik as ’n leerboek
Verslae word steeds uit talle oorde ontvang oor hoe die publikasie “My boek met Bybelverhale” as ’n leerboek in skole gebruik word. ’n Moeder skryf uit Italië:
“My agtjarige seun Emanuele het sy eksemplaar van die boek skool toe geneem om vir die onderwyseres te wys. Sy was baie beïndruk met die inhoud daarvan en het gesê: ‘Ek gaan hierdie boek hou.’ Daardie selfde oggend het sy die verhaal oor die 10 plae vir die klas gelees en die kinders het gelag oor die paddas wat in die huise gekom het, en hulle het van die prent gehou. Vir huiswerk moes die klas ’n kort opsomming skryf van wat gelees is.
“Ek en Emanuele was baie verbaas, want hierdie onderwyseres is ’n ywerige Katoliek en is gekant teen Jehovah se Getuies. ’n Paar dae later het sy die boek vir die priester gewys wat na die skool kom om vir die kinders godsdiens te leer, en sy het vir hom gevra of sy kon voortgaan om vir die kinders daaruit te lees aangesien dit deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Nadat hy deur die boek geblaai het, het die priester gesê dat dit baie mooi is en werklik geskik is vir kinders. Hy het vir die onderwyseres gesê dat sy dit maar vir haar lesse kon gebruik. Die onderwyseres lees dus amper elke dag vir die kinders ’n verhaal en dan laat sy hulle daaroor skryf of dit mondelings bespreek.”
“My boek met Bybelverhale” bevat 116 Bybelverhale wat die leser ’n duidelike idee gee van wat die Bybel bevat. Die boek het groot druk en meer as 125 groot prente, waarvan die meeste veelkleurig is. Jy kan hierdie waardevolle publikasie met 256 bladsye ontvang deur die koepon hiernaas in te vul en te pos.