Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 5/15 bl. 16-20
  • Jehovah se onverskrokke leër voltydse stryders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se onverskrokke leër voltydse stryders
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pionierkrygers in ’n geestelike leër
  • Bereken die koste
  • Hulle doen meer—soos die Nasireërs
  • ‘Kan ek ’n pionier wees?’
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Jehovah onderskraag sy leër voltydse knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Lesse wat ons by die Nasireërs kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 5/15 bl. 16-20

Jehovah se onverskrokke leër voltydse stryders

“[Wees] ’n goeie soldaad van Christus Jesus. ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.”—2 Timotheüs 2:3, 4, NTP.

1, 2. Watter oproep om predikers is 100 jaar gelede gedoen, en met watter resultate?

“BENODIG: 1 000 PREDIKERS” Hierdie opskrif het sowat 100 jaar gelede in ’n publikasie verskyn, maar hierdie buitengewone verklaring was nie deel van die een of ander koerant se “geklassifiseerde advertensies” nie. Die reaksie het boonop die uitgewers se verwagtinge ver oortref. Wie het daardie oproep gedoen, en wie het gehoor gegee? En hoe is jy vandag by die saak betrokke?

2 Dit was tydens sy tweede jaargang dat die tydskrif wat nou wêreldwyd as Die Wagtoring bekend staan die roerende oproep om predikers gedoen het. Maar hierdie soektog was nie na predikante om kerkkansels te vul nie. Die Bybel skets nie so ’n rol vir diegene wat as predikers van God se boodskap wil dien nie. In 1881 het die uitgewers van Die Wagtoring eerder gesoek na persone wat bereid was om “as Kolporteurs of Evangeliste na groot of klein stede te gaan, na gelang van julle vermoë”. Die oproep was om diegene wat bereid en in staat was om al hulle tyd aan die verkondiging van Bybelwaarheid te wy. Diegene wat gehoor gegee het, was aanvanklik net ’n handjievol, ’n paar hier, ’n paar daar, totdat daar teen 1885 eindelik 300 was. Maar nou het hulle aangegroei tot duisende, tienduisende, tot ’n gemiddelde van 151 180 gedurende 1981.

3. Hoe is die benaming vir sulke predikers verander?

3 Jehovah se Getuies noem sulke voltydse predikers nie meer “kolporteurs” nie. Hierdie Franse woord het slegs een aspek van hulle werk beklemtoon, naamlik die verspreiding van Bybels en verwante lektuur. Dit is nie hulle vernaamste werk nie. ’n Ander woord heg ’n breër betekenis aan die werk van hierdie geestelike leër evangeliste wat die “evangelie” verkondig (2 Timotheüs 2:3, 4; Lukas 8:1; 10:1). Die woord is “pionier”.

Pionierkrygers in ’n geestelike leër

4. Wat is die agtergrond en betekenis van die woord “pionier”?

4 Waarom is “pionier” ’n gepaste benaming vir Jehovah se Getuies wat voltydse predikers kan wees? Die woord het oorspronklik ’n militêre betekenis gehad en in verband gestaan met ’n soldaat, maar nie ’n gewone infanteris nie. Dit het geslaan op ’n geniesoldaat, een wat voor die hoofafdeling uitgegaan en brûe en paaie gebou en loopgrawe gemaak het. “Om pionierdiens te doen” het dus beteken om die weg te baan of te berei, en ’n “pionier” is ’n voortrekker, iemand wat baanbrekerswerk doen ondanks ’n oormag of teenstand, soos die vroeë setlaars van die Noord-Amerikaanse Weste. Die uitdrukking sien op ’n individu wat onverskrokke is, iemand wat voortbeur totdat hy sy doel bereik. Wat ’n gepaste beskrywing tog vir diegene wat voltyds selfopofferende “soldate” van Christus Jesus is!a

5. Waarom kan Christene “soldate” genoem word? (Filemon 2; Filippense 2:25)

5 Alle ware Christene kan vergelyk word met soldate wat in ’n geestelike stryd gewikkel is (1 Timotheüs 6:12; 2 Timotheüs 4:7; Judas 3). Ons het ’n gemeenskaplike vyand wat daarop uit is om ons te vernietig—Satan. Hy het sy leërskare onsigbare demonkragte, saam met sy sigbare goddelose stelsel, opgestel om ’n gedugte leër te vorm ten einde die ware dissipels van Christus teë te staan. Maar aardwyd gee nagenoeg 2 300 000 Christene gehoor aan die geïnspireerde bevel: “Bly standvastig in die geloof en staan [die Duiwel] teë” (1 Petrus 5:9, NTP). Dit is Jehovah se Getuies wat, alhoewel op sigself swak en gering, seëvier in die geestelike stryd teen hulle gedugte vyand.—Jakobus 4:7, 8, 10.

6. In watter ander opsig is die woord “soldaat” ’n gepaste beskrywing vir Christene?

6 Gedurende die geveg het ’n soldaat net een ding in gedagte—die stryd. Hy kan nie bekostig om toe te laat dat sy aandag deur minder belangrike dinge afgetrek word nie. Die apostel Paulus het aan ’n jonger Christenmetgesel, Timotheüs, gesê: “Dra jou deel van die ontberinge soos ’n goeie soldaat van Jesus Christus. ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie” (2 Timotheüs 2:3, 4, NTP). Paulus en Timotheüs was natuurlik nie krygsmanne vir ’n nasie of wêreldlike ryk nie. W. E. Vine se An Expository Dictionary of New Testament Words sê dat “soldaat” hier “metafories verwys na iemand wat ontberinge vir die saak van Christus verduur”.

7. Watter rol het pioniers in die Christenleër geestelike stryders gespeel?

7 Onder hierdie miljoene suksesvolle Christenstryders is ’n voorhoede, die voltydse predikers. Baie van hulle het waarlik “pionierdiens gedoen” in die sin dat hulle voor die hoofafdeling uitgetrek en die weg gebaan het. Pioniers het dikwels na gebiede gegaan waar die goeie nuus van God se opgerigte koninkryk nog nooit verkondig is nie. Party pioniersendelinge het na ander lande gegaan waar hulle vreemde gewoontes en moeilike tale moes leer, ongerief moes verduur en met siektes en demoniese gelowe te kampe gehad het. Hulle het brûe oor al hierdie versperrings gebou, die weg met geestelike wapens gebaan en “brughoofde” opgerig wat tot sterk gemeentes ontwikkel het. Hulle het die weg berei tot in gebiede waar ’n hele leër Christenstryders ’n paar jaar later Christus se boodskap oor geestelike bevryding verkondig het.—Jesaja 60:22.

8. Waarom is dit beter dat hierdie geestelike leër uit vrywilligers bestaan? (Rigters 7:3)

8 Verlede jaar was daar gemiddeld elke maand 151 180 van hierdie voltydse stryders in die wêreldwye veld. Almal is vrywilligers en daar is geen huursoldate nie (Psalm 110:3). Dit is gepas, want soldate wat teen hulle wil opgeroep word of wat met winsoogmerk dien, is dikwels besluiteloos wanneer die stryd op sy ergste is. Hulle verloor moed en gee oor of dros. Maar waarom sou die pioniers, wat vrywilligers is en geen tasbare beloning ontvang nie, al hulle tyd aan die predikingswerk wy terwyl miljoene toegewyde Christene dit nie doen nie? Doen hulle pionierdiens omdat hulle verwag om in die toekoms ’n groter beloning te ontvang as diegene wat weens hulle omstandighede net sowat 10, 20 of 30 uur per maand aan die bediening kan wy? Nee, opregte pioniers span al hulle kragte op hierdie wyse in as ’n blyk van hulle heelhartige toewyding aan Jehovah God. Hulle wil net soos enige ander waarlik toegewyde Christen alles in hulle vermoë doen om ons liefdevolle God te dien. Wie kan en moet dan pionierdiens doen? Dink asseblief na oor jou eie omstandighede en beskouing.

Bereken die koste

9. Waarom kan party Christene nie pionierdiens doen nie?

9 Wanneer ’n persoon sake ontleed om te sien of hy ’n pionierprediker moet wees of nie, moet hy ’n aantal faktore in aanmerking neem. Sy persoonlike lewensomstandighede sal natuurlik betrekking op die saak hê. Daar is verpligtinge wat voorkeur moet kry bo voltydse predikingswerk (Deuteronomium 24:5). Die apostel Paulus het geskryf dat ’n Christen wat nie die materiële benodigdhede vir sy huisgesin voorsien nie ‘die geloof verloën het en slegter is as ’n ongelowige’ (1 Timotheüs 5:8). Vir party sal gesinsverpligtinge dit dus op die oomblik onmoontlik maak om pionierdiens te doen. Omstandighede van ’n ander aard staan in verband met gesondheid en ouderdom. Dit moet in aanmerking geneem word, hoewel baie met swak gesondheid, asook bejaardes, as pioniers dien.

10. Waarom is geloof nodig om pionierdiens te doen?

10 Die pioniersoldaat moet ook vaste geloof hê, want dit is nie maklik om in daardie hoedanigheid te dien nie. Paulus verbind sulke geloof regstreeks met ’n Christen se openbare verkondiging van die waarheid waar hy skryf: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Timotheüs 6:12). Hoewel geloof van almal in God se leër verwag word, is dit een ding om jou geloof nou en dan in die predikingswerk te toon, maar heeltemal iets anders om dit talle ure elke dag doen. Daar kan egter net gemeld word dat ’n mens se geloof sterker kan word as jy dikwels met ander oor die waarheid praat.—2 Thessalonicense 1:3.

11. (a) Watter soort offerande bring alle Christene? (b) Watter bykomende offer vereis die pionierdiens?

11 Dan is daar ook die kwessie van opoffering. In een sin kan alle diens wat in reinheid en opregtheid vir God verrig word as ’n offerande aan hom beskou word (Hebreërs 13:15). Pionierdiens met die regte beweegrede—om God te loof en ander te help om uit slawerny aan Satan se stelsel te kom—is gevolglik inderdaad ’n goeie offerande. Maar pionierdiens behels ’n opoffering uit ’n ander standpunt. Wanneer ’n Christen ’n pionier word, moet hy tyd wat hy eens aan persoonlike strewes bestee het, gebruik om te preek en te onderrig. Tyd wat gebruik is om materiële dinge te bekom en daarvoor te betaal, moet nou ingekort word. Ja, pionierdiens verg selfopoffering. Derduisende pioniers is tevrede om materieel met minder klaar te kom en net een, twee of moontlik drie dae per week sekulêre werk te doen om hulself te onderhou en nogtans genoeg tyd te hê vir hulle bediening.—2 Timotheüs 2:4.

Hulle doen meer—soos die Nasireërs

12. Waarom doen party pionierdiens, en hoe was party eertydse Israeliete in staat om meer in hulle aanbidding te doen?

12 Baie wat pionierdiens begin doen het, is aangedryf deur ’n begeerte om meer te doen. Dit is nie ’n mededingende of trotse begeerte om meer as hulle Christenbroers en -susters te doen nie, maar ’n begeerte om meer te doen om hulle liefde vir Jehovah en hulle naaste te toon (Mattheüs 22:37-39). Ons het ’n interessante Bybelse voorbeeld in die Nasireërs. Eertydse Israelitiese manne en vroue kon aanbied om Nasireërs te wees, ’n naam wat kom van die Hebreeuse woord na-zir’, wat beteken toegewyd, afgeskei, uitgesoek. Om ’n Nasireër te word, moes ’n persoon ’n gelofte aflê. Maar ons moet nie probeer om dit gelyk te stel met ’n Christen se besluit om pionierdiens te doen nie, want laasgenoemde behels nie ’n gelofte wat met plegtige verpligtinge gepaard gaan nie. Ons kan nietemin kyk na sekere insiggewende ooreenkomste tussen die Nasireërs en die pioniers.

13, 14. (a) Verduidelik een van die beperkings vir Nasireërs. (b) Wat is die ooreenkoms met pioniers?

13 ’n Israeliet wat aangebied het om as ’n Nasireër te dien, het sekere beperkings aanvaar wat gehelp het om sy “afgeskeie” of “uitgesoekte” rol in die aanbidding van Jehovah te beklemtoon. Een beperking het in verband gestaan met voedsel en drank, soos verduidelik in Numeri 6:3, 4. ’n Nasireër kon nie sterk drank of die produkte van die wingerdstok gebruik nie (Psalm 104:15). Hoewel daar ’n mate van selfverloëning was, was geen nodige voedsel verbode nie. Hierdie beperking het dus nie lyding meegebring nie.

14 Suksesvolle pioniers bou nie hulle lewe rondom materiële dinge soos voedsel of luukse-artikels nie, maar om hulle diens tot eer van God. Dit is onontbeerlik vir ’n diepgesetelde en duursame vreugde en dit is iets wat baie persone wat uit ’n materiële standpunt oënskynlik ’n “beter” lewe lei hulle beny. (Vergelyk Lukas 12:16-21.) ’n Lewe wat eenvoudiger is of waar ’n mens met minder materiële dinge kan klaarkom, kan ook voordele inhou wat maklik oor die hoof gesien word. Gesondheidsdeskundiges lewer verslag oor die uiteenlopende gevare van ’n dieet met baie, ryk kos en drank. Maar ’n pionier wat normaalweg gebalanseerde en voedsame dog taamlik eenvoudige maaltye geniet, en wat boonop baie in sy huis-tot-huispredikingswerk loop, sal waarskynlik beter gesondheid geniet. Persone met groot huise, die nuutste meganiese of elektroniese apparate, en talle ander besittings, weet dat hierdie dinge herhaaldelik probleme oplewer. Die ooreenkomste tussen Numeri 6:3, 4 en die pionierdiens verdien ons aandag.

15. Watter voorbeeld is daar in die beperking in verband met Nasireërs se hare?

15 ’n Tweede beperking vir Nasireërs was dat hulle nie die hare van hulle hoof kon sny nie (Numeri 6:5). Hulle lang hare was ’n teken waaraan ander hulle kon uitken. Paulus het later verduidelik dat ’n Christin se lang hare ’n herinnering was aan haar onderdanigheid (1 Korinthiërs 11:3-15). Sal ons nie, gedagtig aan die Nasireërs se lang hare, saamstem dat ’n Christenbroer of -suster wat aanbied om pionierdiens te doen in ’n groot mate onderdanigheid aan Jehovah God toon nie? Talle persoonlike belange word opsy geskuif of beklee ’n ondergeskikte plek sodat die bediening voorkeur kan geniet. Die pionier leer om op God staat te maak, om hom aan God te onderwerp.

16. Wat kan ons leer uit die voorskrifte vir die Nasireërs in verband met lyke?

16 ’n Laaste vereiste vir Nasireërs was dat hulle nie ’n lyk moes aanraak nie, nie eens die van ’n naverwant soos ’n ouer wat gesterf het nie (Numeri 6:6, 7). ’n Nasireër moes dus heilig en rein, onbesmet bly. (Vergelyk die vereiste vir die hoëpriester in Levitikus 21:10, 11.) Geen Christen, ’n pionier inkluis, word vandag verbied om die begrafnis van ’n naverwant te reël of by te woon nie. Maar net soos in die geval van die Nasireërs wil pioniers enige verdagte gebruik of handelwyse wat hulle kan diskwalifiseer, vermy. Hulle wil voorbeeldig wees. En as ’n pionier, wat sy familie liefhet, in ’n afgeleë toewysing dien en hulle dus nie so dikwels kan besoek as wat andersins moontlik sou wees nie, kan hy tevredenheid put uit die wete dat Jehovah hierdie opoffering erken.

17. Waarom was Nasireërskap nie ’n blote ritus nie? Wat van die pionierdiens?

17 Die Bybel toon dat ’n Israeliet wat ’n Nasireër geword het nie sommer net ’n godsdiensritus vervul het nie. Hy het eerder begin met ’n belangrike, bevredigende lewenswyse, want God praat van so ’n man as een wat ‘as ’n Nasireër vir Jehovah lewe’ (Numeri 6:2, NW). Die pionierdiens is vandag eweneens ’n lewenswyse, en boonop ’n gelukkige!

‘Kan ek ’n pionier wees?’

18. Watter vraag moet ons ons almal afvra? Waarom?

18 Alle Christene is verenig in hulle aanbidding van God. Ons is ’n enkele leër vegters vir die waarheid. Dit moet ons begeerte wees om alles in die stryd te werp. Dit is ons begeerte om ons bes te doen. Elkeen van ons kan hom dus die tydige vraag afvra: ‘Kan ek as ’n pionier dien?’ Die volgende artikel sal jou help om te sien hoe Jehovah jou kan onderskraag as jy in die pionierbediening kan tree.

[Voetnoot]

a Webster’s Third New International Dictionary gee die volgende as een van die definisies onder “pionier” aan: “’n voltydse werker van Jehovah se Getuies.”

HET JY DIT IN JOU GEHEUE GEPRENT . . .

◻ Waarom voltydse predikers gepas pioniers genoem word?

◻ Waarom die Bybel Christene met soldate vergelyk?

◻ Watter faktore jy in aanmerking moet neem wanneer jy dit oorweeg om ’n pionier te word?

◻ Hoe die Nasireërs ’n voorbeeld vir pioniers is?

[Prent op bladsy 17]

Waarom word Christene gepas met onverskrokke soldate vergelyk?

[Prent op bladsy 19]

Hoe kan diens as ’n pionier tot geluk en goeie gesondheid bydra?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel