“Wat verhinder my om gedoop te word?”
1. Na watter soort persoon is Filippus gestuur?
BOGEMELDE vraag is gestel deur ’n vroom man wat reeds ’n liefde vir God gehad het, maar wat pas tevore ingelig is oor “die evangelie van Jesus”. Hy was die Ethiopiese hofdienaar wat “na Jerusalem gekom het om te aanbid” as ’n Joodse proseliet. Hy was op pad terug na Ethiopië om die pligte van sy hoë amp in die diens van die koningin van Ethiopië te hervat toe Filippus die evangelis deur God se gees aangesê is om hom te nader.
2. Hoe het Filippus die hofdienaar gehelp om die profesie te verstaan?
2 Terwyl Filippus langs die wa gehardloop het, het hy die man hardop uit die boek Jesaja hoor lees. Toe daar vir die Ethiopiese hofdienaar gevra is of hy die betrokke Skrifgedeelte oor ’n skaap wat sonder enige teëstribbeling weggelei word om geslag te word verstaan het, moes hy erken dat hy nie kon begryp of die profeet oor homself of iemand anders gepraat het nie. Watter, puik geleentheid vir Filippus! Hy het “van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig”. Ja, die profesie van Jesaja het gehandel oor “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”!—Handelinge 8:26-35; Jesaja 53:7, 8; Johannes 1:29.
3. Hoe het hierdie nuwe begrip hom geraak?
3 Hoe is die hofdienaar geraak deur hierdie heeltemal onverwagse maar opsienbarende verwikkeling in sy lewe? “En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” Filippus het klaarblyklik niks in hierdie man se lewenswyse en begrip van God se voornemens, veral soos dit nou in verband gestaan het met Jesus as die Messias en Verlosser, gesien wat sou verhinder dat hy dadelik gedoop word nie. Die wa het stilgehou; hulle het saam in die water geklim en Filippus het hom gedoop op grond van die feit dat hy Jesus se offer vir die vergifnis van sondes aangeneem het.—Handelinge 8:36-39.
Wat van jou?
4. Hoeveel van diegene wat met Jehovah se Getuies assosieer, het hulle laat doop?
4 Rondom die wêreld is daar baie wat met Jehovah se Getuies omgaan maar wat nog nie gedoop is om hulle toewyding aan Jehovah te simboliseer nie. Die wêreldhoogtepunt in die aantal wat die “evangelie” in 1981 verkondig het, was 2 361 896 (waarvan ongeveer 25 persent nog nie gedoop is nie). Maar by die Here se Aandmaal in 1981 was die gesamentlike opkoms dwarsoor die aarde 5 987 893. Dit beteken dat meer as die helfte van diegene wat party vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon nog nie gedoop is nie. Is dit rede tot ontsteltenis? Nee, maar dit is rede tot liefdevolle besorgdheid. Party van hulle assosieer al meer as ’n paar maande lank met die gemeente.
5. Hoe is die Ethiopiese hofdienaar ’n goeie voorbeeld vir diegene wat nog nie gedoop is nie?
5 Miskien is jy, geagte leser, een van diegene wat nog nie gedoop is nie. Jy het moontlik ’n goeie rede waarom jy nog nie gedoop is nie, maar indien nie, nooi ons jou om die goeie voorbeeld van die Ethiopiese hofdienaar wat nie uitgestel het om gedoop te word nie noukeurig en biddend te oorweeg. Hy het sy eie gedagtes en hart ondersoek en vir Filippus gevra of daar enigiets is wat hom verhinder het om gedoop te word. Toe daar geen rede gevind kon word waarom hy moes wag nie, is hy dadelik gedoop.
6. Watter stappe moet gedoen word deur diegene wat meen dat hulle nog tyd nodig het?
6 Jy het jou moontlik nog nie laat doop nie omdat jy, na ’n eerlike ondersoek, meen dat jy nog nie ’n voldoende begrip van God se Woord het om jou hartgrondig aan Jehovah toe te wy nie. Om dit onvoorwaardelik te doen, wil jy Jehovah en sy voornemens beter leer ken. Dit is prysenswaardig, en ons spoor jou aan om aan te hou om goeie vordering met jou studies te maak terwyl jy onthou dat die tyd elke dag minder word. Benut jou geleenthede om die Bybel privaat en met die hulp van Jehovah se Getuies te bestudeer (2 Timotheüs 3:16, 17). Leer die gewoonte aan om Christenvergaderinge gereeld by te woon waar jy noodsaaklike onderrig en die nodige omgang met ware Christene en bemoediging van hulle sal kry (Hebreërs 10:24, 25). As jy ywerig in hierdie goeie roetine voortgaan, sal jy waarskynlik oor ’n paar maande gereed wees om jou toewyding deur waterdoop te simboliseer. Ons hemelse Vader nooi jou om hierdie besondere verhouding met hom aan te knoop!
7. (a) Wat is moontlik die redenasie van party wat doop uitstel? (b) Hoe toon Jesus dat dit gevaarlik is?
7 Moontlik woon jy al die vergaderinge van Jehovah se Getuies etlike jare lank by maar het jy nog nie besluit om jou toe te wy en te laat doop nie. Toon ’n ondersoek van die verborge redenasies van die hart moontlik dat jy uitstel omdat jy sien dat die lewe van ’n Christen vir jou beperkend sal wees? Redeneer jy dat jy, solank as jy nie gedoop is nie, nie deur hierdie beperkings gebonde sal wees nie en ’n mate van “vryheid” sal hê om sekere verdagte dinge te doen terwyl die ou stelsel nog bestaan, in die hoop dat jy ter elfder ure jou standpunt vir ware aanbidding kan inneem? Sulke denke kan gevaarlik, inderdaad rampspoedig, wees! Jesus het gesê: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom.”—Lukas 21:34, 35; 1 Korinthiërs 15:33, 34; Romeine 13:11-14.
8. Hoe moet ons Jehovah se liefdevolle uitnodiging om ons aan hom toe te wy, beskou?
8 As jy onnodig uitstel om Jehovah se liefdevolle uitnodiging te aanvaar, naamlik om sy guns te verkry deur jou lewe aan hom toe te wy, kan die tyd van welbehae waartydens die uitnodiging gerig word in jou geval verstryk (2 Korinthiërs 6:1, 2; Hebreërs 12:25). Moet dus nie aarsel om na die gawe van lewe te reik en dit in dankbaarheid in jou boesem te vertroetel nie. Moenie steeds met verlange terugkyk na die verlokkings van hierdie stelsel wat binnekort sal ondergaan nie. Beantwoord God se liefde terwyl jy die geleentheid het. Jehovah is nou wel selektief waar dit kom by wie ’n intieme verhouding met hom mag hê, en hy skryf voor wat toelaatbaar is en wat nie. Maar hoe beter jy Jehovah leer ken, des te duideliker sal jy sien dat wat hy doen of vereis altyd vir jou die beste is. Hy wil jou niks ontneem wat werklik goed is of wat jou blywend gelukkig sal maak nie (Psalm 145:16, 19). ’n Eerbiedige en gehoorsame seun beskou dit as baie natuurlik om in die teenwoordigheid van sy aardse vader te wees en deur hom onderrig te word. Hoeveel te meer behoort dit nie jou gesindheid teenoor ons liefdevolle hemelse Vader te wees nie!—Johannes 14:23.
9. Hoe moet ons persoonlike probleme die hoof bied?
9 As jy natuurlik ’n groot stryd voer om ’n vleeslike begeerte te bowe te kom, en jy werklik met jou hele hart en krag probeer om daarvan ontslae te raak, kan jy daarvan seker wees dat God jou sal help om te seëvier—nie met ’n wonderwerk wat die probleem sal wegneem nie, maar met sy gees wat jou sal help om die nodige vrugte van die gees in jou lewe aan te kweek. En in die gemeente sal jy begrip en hulp kry deur ouere manne te raadpleeg. Hulle is daar as God se voorsiening om jou te help.—Galasiërs 5:22-24; Efesiërs 4:11-15.
10, 11. (a) Watter goeie voorbeeld het die tronkbewaarder in Filippi en sy huisgesin gestel? (b) Is meer as blote geloof in Jesus nodig om “gered te word”?
10 Moet dus nie uitstel om te doen wat jy weet jy moet doen om God te behaag nie. Volg die goeie voorbeeld van die tronkbewaarder in Filippi wat vir Paulus en Silas gevra het: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Toe hulle vir hom gesê het: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” sê die verslag vir ons: “Hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.”
11 Hoewel dit aanvanklik ’n aardbewing van God af was wat hierdie tronkbewaarder godvresend gemaak het, moet ons nie vandag so ’n opsienbarende ontwaking van God af verwag om ons tot ons sinne te bring en van ons huiwerigheid ontslae te laat raak nie. Dit was nie sommer net algemene geloof in Jesus wat hierdie man en sy huisgesin in ’n geredde toestand geplaas het nie. Dit was ook nie net ’n alledaagse verbintenis tot die Christelike lewenswyse nie. Nee, want die verslag deel ons mee: “[Paulus en Silas] het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.” Dit het beteken dat hulle Jehovah goed genoeg moes leer ken om eers vergifnis vir sondes van die verlede te ontvang op grond van hulle aanvaarding van die losprysoffer. In hulle geval het dit weliswaar net ’n kort tydjie geverg, net een dag. Dit is gevolg deur ’n hartgrondige toewyding aan die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God, en toe is hulle gedoop om dit te simboliseer. Ja, die tronkbewaarder “het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het”.—Handelinge 16:25-34.
12. Moet ’n mens uitstel om gedoop te word net omdat daar dinge is wat jy nie ten volle verstaan nie?
12 Jy aarsel moontlik weens ’n twyfelgedagte of vraag wat jou kwel. Maar as ’n tegniese punt oor ’n leerstelling nog nie opgeklaar is nie, het jy des te meer rede om die antwoord in God se Woord te soek en voortdurend tot God te bid om jou insig te gee. Hy sal dit doen, namate jy leer om hom volkome te vertrou. Hy sal nie ’n “klip” of ’n “slang” in jou uitgestrekte hand plaas nie (Mattheüs 7:7-11). Jy moet jou nie daarvan verskoon om jou lewe aan hom toe te wy net omdat daar ’n paar dinge is wat jy nie ten volle verstaan nie. Die Christen verkry voortdurend meer kennis van God en Sy voornemens.—Filippense 1:9-11; Hebreërs 6:1-3.
13. (a) Wat besef ons omtrent jong kinders in ons midde? (b) Wanneer moet ’n jong persoon gedoop word?
13 En laastens, jy dink miskien dat jy nog te jonk is om jou met begrip toe te wy. In baie gevalle is dit waar, aangesien daar duisende jong kinders met Jehovah se Getuies assosieer—iets wat ons baie bly maak (Mattheüs 19:13-15). Terwyl sulke kinders besig is om die nodige verstandelike en fisiese rypheid te verkry om die volle verantwoordelikheid van toewyding en doop te aanvaar, kan ons daarvan seker wees dat God hulle as “heilig” ‘teken’, mits hulle geseglik en gehoorsaam aan hulle gelowige ouers is (1 Korinthiërs 7:14). Maar tyd staan nie stil nie. Gestel jy het gereageer op jou ouers se pogings om jou “in die tug en vermaning van die Here” op te voed en jy het jou daarop toegelê om te leer, tuis sowel as in die gemeente. Het die tyd nou vir jou aangebreek om jou aan Jehovah toe te wy? As dit die geval is en jy die saak met jou ouers en die ouere manne in jou gemeente bespreek het, spoor ons jou aan om gedoop te word nadat jy jou lewe aan Jehovah toegewy het.—Efesiërs 6:1-4; 2 Timotheüs 1:5-7.
Dien waar Jehovah jou plaas
14. Watter feite in verband met die ‘insameling’ van gesalfdes moet ons nou in ag neem?
14 Bestaan die hoop dat God jou sal roep om ’n deel van die bruid van Christus te wees as jy nou gedoop word? God is natuurlik die regter, nie mense nie. ’n Persoon se gevoelens en neigings, soos die wat by hom ingeskerp is toe hy nog aan ’n sekte van die Christendom behoort het, moet nie die deurslag gee nie (Romeine 8:28-30; 9:16). Dit is belangrik om te onthou dat die ‘insameling’ van die gesalfdes vinnig besig is om ten einde te loop. (Vergelyk Mattheüs 13:36-43.) Negentien eeue lank was daar slegs die een roeping, die hemelse, en was Jehovah baie selektief waar dit kom by diegene wat saam met sy Seun sou dien om die Koninkryksregering uit te maak. Baie sou genooi word, maar baie min sou uitverkies word (Mattheüs 22:2, 14). Mettertyd sou die voorgeskrewe maar beperkte getal van 144 000 bereik word. Daarna sou niemand meer deur die heilige gees gesalf word as getuienis dat hulle die hemelse hoop het nie, tensy een van die oorblywende ‘uitverkorenes’ in ’n seldsame geval weens ontrouheid vervang moes word.—Romeine 8:16; 11:19; Openbaring 7:1-8; 14:1-5.
15, 16. (a) Wat kan gesê word oor die einde van die hemelse roeping en die insameling van die “groot menigte”? (b) Wie sal logies op hierdie late tydstip as plaasvervangers gekies word? (c) Hoe moet enige persoonlike aansprake op die hemelse roeping nietemin beskou word?
15 As ons in ag neem hoe Jehovah gedurende die ‘oestyd’ met sy volk gehandel het, wil dit voorkom of die hemelse roeping oor die algemeen omstreeks 1935 geëindig het toe daar behoorlik verstaan is dat die hoop van die “groot menigte” in Openbaring 7:9-17 ’n aardse is. Sake het verloop net soos Jehovah geweet het dit sou. Soos Openbaring 7:3, 4 toon, sou daar ’n finale ‘verseëling’ van die oorblywende lede van geestelike Israel wees. Maar in hierdie tyd net voor die “groot verdrukking” sou ’n onbeperkte “groot menigte” hul verskyning maak. Hulle sou hulle natuurlike hoop op lewe op aarde behou omdat hulle nie “weer gebore” is met hemelse lewe in die vooruitsig nie.—Psalm 115:16; Johannes 3:1-8.
16 En wat betref die moontlikheid om op hierdie late tydstip ’n ‘wedergebore’ plaasvervanger te wees: Dit is te begrype dat dit onwaarskynlik is dat baie van hierdie oorblywende gesalfdes hulle hemelse roeping sal verbeur deur ontrou te word. Die dood het hulle geledere nou uitgedun tot slegs ’n paar duisend. En wie sal Jehovah roep indien dit nodig word om een te vervang? Van diegene wat genooi is om sy apostels te wees, het Jesus gesê: “Dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge” (Lukas 22:28). Dit is logies dat Jehovah liewer iemand sou kies wat al baie jare lank aan die gemeente verbonde is en wat volharding en lojaliteit tydens beproewing getoon het, as iemand wat maar eers onlangs ’n gedoopte dissipel van Jesus geword het en moontlik nog in baie opsigte onbeproef is. Ons sê dit nie dogmaties of as ’n maatstaf om iemand se aansprake te beoordeel nie, maar om persone wat pas met die gemeente begin assosieer het te help om nie vermetel te wees nie en om seker te wees van die wyse waarop Jehovah met hulle handel.
17. Watter verhouding begin met toewyding en doop, en watter beloning bring dit mee?
17 Hetsy ’n mens aan die “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename behoort of die wonderlike hoop het om vir ewig in volmaaktheid en geluk op die aarde te lewe—so ’n verhouding begin met die verkryging van ons Vader, Jehovah, se guns (Lukas 12:32). En hoe verkry ons ’n goeie naam by God? Dit is deur kennis in te neem, in Christus se offerande te glo, berou te toon oor ons vorige handelwyse in die wêreld, ons te bekeer om God se wil te doen, ons lewens aan Jehovah toe te wy en ons te laat doop as simbool daarvan. God is getrou en sal ons beloon met ewige lewe, ’n kosbare besitting hetsy in die hemele of in die ryk van die Koninkryk hier op aarde, mits ons ons kosbare verhouding met Hom bewaar.—Hebreërs 11:6; Romeine 6:23, 18 Die skeiding van die “skape” en die “bokke” sal eerlank ten einde loop. Niemand sal op tussengrond gelaat word wanneer God die “groot verdrukking” bring om weg te doen met “die wat God nie ken nie en . . . die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (Mattheüs 25:31-46; 2 Thessalonicense 1:6-9). Slegs diegene wat die “teken” vir oorlewing ontvang het, sal tot in sy nuwe orde behoue bly (Openbaring 7:3, 4, 9, 14; Esegiel 9:2-6). Hoe bly sal diegene tog wees wat hierdie “teken” vir oorlewing ontvang het omdat hulle aanvaar is in ’n toegewyde verhouding met Jehovah God, wat deur waterdoop gesimboliseer is, en in onkreukbaarheid volhard op die smal weg wat na die lewe lei!—Mattheüs 7:13, 14.
KAN JY HIERDIE VRAE TER HERSIENING BEANTWOORD?
◻ Hoe het die Ethiopiese hofdienaar ’n voorbeeld gestel deur gedoop te word?
◻ Waarom moet ’n mens nie versuim om die verlokkings van hierdie stelsel opsy te skuif sodat jy Jehovah se liefdevolle uitnodiging kan aanvaar nie?
◻ Hoe sal vertroue op Jehovah ’n persoon help wanneer ’n twyfelgedagte of vraag hom kwel?
◻ Hoe moet jongmense toewyding en doop beskou?
◻ Wie sal Jehovah logies as plaasvervanger vir ’n geestelike Israeliet kies indien dit nodig sou word?
18. In watter sin ontvang mense nou ’n “teken” en hoe toon individue dat hulle die “teken” vir redding ontvang het?