Hulle het verander
HOE wonderlik sou dit tog wees as jy jou deure kon laat oopstaan sonder enige vrees dat jy beroof sal word! Hoeveel aangenamer sou die lewe tog nie gewees het as ’n mens almal kon vertrou en self vertrou is nie!
Maar dit begin by die individu, nie waar nie? Ons persoonlike inspanning moet eerste kom.
Beskou ’n paar voorbeelde van persone wat hulle slegte neigings ondergekry en hulle daaraan ontworstel het omdat hulle wou.
In Rio de Janeiro, Brasilië, het ’n man die gevaar geloop om sy betrekking te verloor indien hy nie voortgegaan het om klante te kul nie. Waarom het hy hom in hierdie situasie bevind? Nadat hy sy werkgewer se bevele sonder enige gewetenswroeging gehoorsaam het, het hy begin om God se standaarde uit die Bybel te leer. Wat sou hy nou doen? Dadelik doen wat die Bybel sê? Glad nie. Hy het die maklike uitweg gekies; hy het opgehou om die Bybel te bestudeer. Hy het sy betrekking nog ’n ruk lank behou. Maar dit was nie die einde van die saak nie.
Sy gewete het hom nie met rus gelaat nie en hy het sy bedanking ingedien (Romeine 2:14, 15). Sy gebede tot God om ’n goeie gewete moes verhoor gewees het, want hy het een van Jehovah se Getuies wat naby hom woon, opgesoek om sy studie van God se Woord voort te sit. Dit is egter interessant dat dit nie lank was voordat sy voormalige baas hom ontbied het nie. Waarom? Hy wou hê hy moes terugkom. Die man wat in diens geneem is om hom te vervang, was oneerlik, nie alleen met die klante nie, maar met die baas self! Omdat hy intussen meer vasbeslote geraak het om eerlik te wees, het die Bybelstudent gesê dat hy dit sou oorweeg om terug te kom, maar op sy voorwaardes—eerlikheid onder alle omstandighede. Sy baas het daartoe ingestem. Eerlikheid het geseëvier, en die man is nou ’n gedoopte Christen.
Kan ’n gewapende rower sy lewenswyse verander? In suidelike Brasilië het ’n 19-jarige jongman aan ’n bende behoort wat by huise ingebreek het. Terwyl hy in die tronk was, het hy in aanraking gekom met Bybellektuur wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Die dinge wat hy geleer het, het hom geskok. Jehovah se vereistes vir ’n Christen was so anders as sy lewenswyse, alhoewel hy in naam ’n Rooms-Katoliek was.
Hy het stadig maar seker vordering gemaak. Sy waardering het toegeneem namate sy twyfelgedagtes uit die weg geruim is. Hy bestudeer vandag self die Bybel saam met ander gevangenes, en hy is by die gevangenisowerheid, prokureurs en regters bekend vir sy verbasende transformasie. Die owerheid is so beïndruk deur sy goeie gedrag dat hulle toelaat dat ’n groep-Bybelstudie met 40 aanwesiges elke week gehou word.
Nie meer ’n dief en ’n leuenaar nie
In Londen, Engeland, was ’n jong man so maagvol vir die stelsel om hom dat hy openlik opstandig geword het. Omdat hy nie ’n vaste betrekking gehad het nie en nie wou werk nie, het hy gevind dat die versoeking om te steel baie groot was. As ’n afleweraar het hy pakkies vir homself gevat en lekkers uit winkels gesteel. Hy het eerlank by ’n roofbende aangesluit, maar hy is gevang, verhoor en gevonnis. Omdat hy slegs 16 was, is hy na ’n Engelse verbeteringsgestig genaamd Borstal gestuur. Na twee jaar is hy vrygelaat, waarna hy ’n ruk lank uit die moeilikheid gebly het uit vrees vir verdere gevangesetting.
Het die gestig hom hervorm? Nie werklik nie. Na ’n jaar het hy weer begin steel. As ’n buskondukteur het hy van die spitstyd gebruik gemaak om die geld in sy eie sak te sit in plaas daarvan om kaartjies te verkoop. Hy het weer eens sy betrekking verloor. Hy is intussen getroud, maar daar was uit die staanspoor probleme as gevolg van sy strawwe drinkery en buite-egtelike verhoudings.
Op hierdie stadium, twee maande na hulle troue, het die paartjie met die Bybel in aanraking gekom. Hulle het tot ’n Bybelstudie ingestem. Het dit ’n skielike verandering meegebring? Nee. Die oneerlikheid was te diep gewortel. Hy het nie langer die studie bygewoon nie. Maar ’n saadjie is gesaai.
Wanneer hy nou terugkyk, erken hy dat hy in sy hart geweet het dat die dinge wat hy gedurende die paar weke tydens die Bybelstudie gehoor het die waarheid was en dat dit die enigste manier was om sy lewe in orde te bring. Sy hart het dit begeer, maar hy het nie die krag gehad nie. Eendag het hy met die polisie slaags geraak. Hy is in hegtenis geneem omdat hy ’n onversekerde voertuig onder die invloed bestuur het. Toe hy die volgende oggend in die spieël gekyk en sy bloedbevlekte wit hemp gesien het, het hy sy situasie noukeurig in oënskou geneem.
“Daar was net twee moontlikhede”, het hy gesê. “Dit was òf twee meter onder die grond òf ek moes myself regruk, my standpunt inneem. Ek het tot Jehovah gebid en gevra dat ’n sekere Getuie my moes kom besoek. En jou waarlik, kort daarna het hy my besoek en het ek hom gesmeek om die Bybel saam met my te bestudeer. Dit was in November 1973. Ek is in Maart 1974 gedoop.”
Was dit vir hierdie voormalige dief en leuenaar maklik? “Nee”, antwoord hy. “Daar was voor- en teenspoed, effense insinkings in gesindheid. Sonder Jehovah se hulp sou ek nooit uit die gemors gekom het waarin ek was nie.”
Hy weet dat geluk afhang van die toepassing van God se wet van liefde. “My gesin is verenig by die Koninkryksaal. En ek probeer om my kinders op God se manier groot te maak. Ek is spyt dat my ouers nie geweet het wat ek weet nie en my dus nie kon help nie.”
’n Lewe met ’n toekoms
In hierdie gesofistikeerde wêreld dink party dat “die geleentheid die dief maak”. Maar selfs party voormalige diewe kan sien dat ’n eerlike lewe veel meer bied.
Waarom? Want dit lei tot onkreukbaarheid, ’n goeie gewete, wedersydse vertroue en, bowenal, God se goedkeuring. Dit is ’n basiese vereiste vir lewe in God se nuwe orde wat ophande is, wanneer diefstal of oneerlikheid tot die verlede sal behoort.
Liefde sal die oorheersende faktor wees in ’n uiters bevredigende en vol lewe op ’n paradysaarde onder die duisendjarige bewind van Christus Jesus. Eerlikheid sal oral heers. Vind gerus nou meer omtrent hierdie wonderlike hoop uit. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help.
[Prente op bladsy 6]
Sou hy kul om sy baas te behaag?
’n Gewapende rower verander