Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/1 bl. 4-5
  • Waarom eerlik wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom eerlik wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe God met Israel gehandel het
  • ’n Vereiste vir Christene
  • Wat het hulle laat verander?
  • Waarom dit doen?
  • Wees eerlik in alles
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wees eerlik in alles
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Wees eerlik in alles
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Waarom eerlikheid die beste is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/1 bl. 4-5

Waarom eerlik wees?

DIE Bybel beskryf Jehovah tereg as “die God van waarheid”, as iemand “wat nie kan lieg nie” (Jesaja 65:16; Titus 1:2). Van die mens se skepping af het Jehovah konsekwent verwag dat sy ware aanbidders in alle opsigte eerlik moet wees.—Sagaria 8:16, 17.

As ’n persoon eerlik wil wees, is dit belangrik dat hy hom nie deur die gesindhede van die gemeenskap laat lei nie, maar deur die standaarde van Jehovah God. Hierdie standaarde is in die Bybel opgeteken.

Hoe God met Israel gehandel het

In sy wet aan die nasie Israel het Jehovah beveel: “Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie. En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.”—Levitikus 19:11, 12.

Diewe het nie lig daarvan afgekom nie. Hulle moes die slagoffer vergoed. En indien hulle nie genoeg besit het om te betaal wat die wet vereis het nie, het hulle slawe geword om die skuld met arbeid te delg.—Exodus 22:1-4.

Jehovah het dinge tot in besonderhede omskryf sodat daar geen misverstand sou wees oor die feit dat hy alle vorme van oneerlikheid veroordeel nie. Hy het sterk waarskuwings gerig teen ‘bedrieglike tonge’, vleiery, gewelddadige en geheime diefstal, asook ’n valse weegskaal vir saketransaksies.—Spreuke 1:10-19; Daniël 11:32; Miga 6:11, 12.

’n Vereiste vir Christene

Het die goddelike beginsel van eerlikheid verander met die totstandkoming van die Christengemeente? Glad nie!

Wat leuens en diefstal betref, beveel die Bybel Christene: “Lieg nie vir mekaar nie.” “Lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste . . . Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.” “Niemand van julle moet ly as . . . dief of kwaaddoener . . . nie.”—Kolossense 3:9; Efesiërs 4:25, 28; 1 Petrus 4:15.

Die erns van die saak word beklemtoon deur die volgende waarskuwing: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders . . . of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle.”—1 Korinthiërs 6:9-11.

Let daarop dat daar persone onder daardie vroeë Christene was wat diewe en rowers was, maar wat hulle lewenswyse verander het. Aangaande die reputasie van die bewoners van Kreta het die apostel Paulus ’n Kretenser, moontlik die digter Epimenides, soos volg aangehaal: “Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike” (Titus 1:12). Onder die Grieke was die naam “Kretenser” sinoniem met “leuenaar”. Maar party van die bewoners van Kreta het hulle weë verander en ware Christene geword. In hulle midde was daar Christen- ouere manne wat daarvoor bekend was dat hulle ‘onberispelik, geen vuilgewinsoekers nie, liefhebbers van die goeie, regverdig, heilig en selfbeheersd’ was.—Titus 1:7, 8.

Wat het hulle laat verander?

Toe hulle Jehovah, “die God van waarheid”, leer ken het, en van sy vereistes vir sy knegte geleer het, het dit hulle beweeg om te verander. Jesus Christus, wat ‘vir hulle ’n voorbeeld nagelaat het sodat hulle sy voetstappe kon navolg’, het nou hulle voorbeeld geword. Toe hulle Jesus se lewenspatroon bestudeer het, het hulle gevind dat daar ‘geen bedrog in sy mond was nie’. Hulle het verneem dat hy geleer het: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—1 Petrus 2:21, 22; Lukas 6:31.

Dit is natuurlik onwaarskynlik dat hulle oornag verander het. Dit is byvoorbeeld waarom die apostel Paulus aan Titus geskryf het om Christene in Kreta voortdurend te “herinner” aan sekere sake in verband met godvrugtige gedrag (Titus 3:1-3). Hulle het aanvanklik miskien gedink dat dit onmoontlik is om hulle met ’n nuwe persoonlikheid te beklee. Wanneer hulle terugslae ondervind het, was hulle moontlik terneergedruk. Maar waardering vir die wonderlike voorsiening wat Jehovah gemaak het sodat hulle sondige weg van die verlede op grond van geloof in Jesus Christus se offerande vergewe kon word, was ’n dryfkrag. En namate hulle geleer het om op Jehovah staat te maak en die hulp van sy gees te vra, het hulle gevind dat veranderinge plaasgevind het wat hulle nie op hulle eie kon aanbring nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 6:11.

Waarom dit doen?

Maar waarom moet ’n mens so ’n stryd voer? Waarom moet ’n mens in alles eerlik wees?

Wel, kom ons begin tuis. Wat is die gevolg wanneer huweliksmaats vind dat hulle mekaar nie kan vertrou nie? Dit begin miskien met oënskynlik onbenullige dingetjies, maar dit duur nie lank voordat die hele verhouding verweer het nie. Eerlikheid in alles versterk andersyds die huweliksband. Dit is ook ’n sterk invloed ten goede in die lewens van die kinders.

Buite die huis toon jou eerlikheid teenoor ander hoe jy jou medemens beskou. Hier weerhou straf party van oortreding. Maar daar is sterker dryfkragte. Die apostel Paulus het geskryf: “Jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Romeine 13:9). Om liefde te ontvang, moet ons dit bewys. Die eerlike persoon geniet goeie verhoudinge met ander. Hy geniet ook gemoedsrus. Hy word nie snags deur ’n lastige gewete wakker gehou nie. Hy loer nie voortdurend oor sy skouer omdat hy bang is dat hy gevang sal word nie.—Romeine 13:3-5.

Maar die allerbelangrikste is ’n mens se verhouding met God. Dit is opregte liefde vir Jehovah en die begeerte om Sy goedkeuring weg te dra wat ’n persoon sal beweeg om teen sy eie onvolmaakthede te stry en om eerlik te wees wanneer ander nie is nie.—Psalm 15:1-5.

Is daar werklik mense wat vandag eerlik is? Kom ons kyk.

[Lokteks op bladsy 5]

’n Eerlike persoon het ’n skoon gewete en kan snags slaap

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel