Waarom soveel oneerlikheid?
’N OU spreekwoord sê: “Die geleentheid maak die dief.” Daarenteen is daar persone wat volhou dat “die dief die geleentheid maak”.
Ongeag hoe oneerlikheid begin, die talle vorme daarvan het onrusbarende afmetings aangeneem. Baie vorme daarvan het so algemeen geword dat baie mense dit nie langer as oneerlik beskou nie.
Beskou ’n paar tipiese situasies. ’n Werkgewer sê vir ’n klerk om ’n kleiner bedrag in die rekeninge aan te gee as wat werklik vir sekere goedere ontvang is. Die klerk meen dat dit nie laakbaar is nie omdat hy net doen wat die baas hom beveel om te doen. ’n Vrou kul met die gesinsbegroting en sus haar gewete met die gedagte dat sy op ’n persoonlike artikeltjie geregtig is. ’n Man sê vir sy vrou dat hy oortyd moet werk, maar hy gaan saam met sy vriende of moontlik saam met ’n ander vrou uit.
Een winkelier het onlangs gesê dat jongmense in groepe in sy winkel inkom. Terwyl een iets koop, steel die res. “Toe ek ’n seun was”, sê hy, “was seuns bang wanneer hulle gevang is. Die tragedie van die saak is dat hulle nou glad nie omgee nie. In sekere gebiede is dit so erg dat as jy met hulle raas, hulle terugkom en jou vensters breek.”
En dit is nie net die minderbevoorregtes wat dit doen nie. ’n Rukkie gelede is ’n bejaarde vrou uit die adelstand in Engeland aan winkeldiefstal skuldig bevind. En wie het nog nie van verduisterings gelees nie? Partykeer is dit klein bedrae, maar soms beloop dit miljoene rande.
Wat is die oorsake van hierdie oorweldigende neiging tot oneerlikheid? Daar is baie. Van kleins af word die meeste kinders aan die sluipende invloed daarvan onderwerp. Volkskunde, klassieke verhale soos “Ali Baba en die veertig diewe”, rolprente, TV-programme en baie boeke verheerlik oneerlikheid op die een of ander manier.
Tydens ’n onderhoud het ’n man in São Paulo, Brasilië, die invloed van godsdiensgebruike soos maklike vergifnis deur belydenis die skuld gegee vir baie oortredings. Een vrou het erken dat haar wêreld van eerlikheid ineengestort het toe sy uitgevind het dat “Sinterklaas” ’n familielid was. Van die ooievaar wat kamma babas bring tot politici wat leë beloftes maak—op alle terreine van die lewe word ons omring deur sterk invloede wat die verstand vir oneerlikheid voorberei.
Party persone kan niks verkeerd sien met sogenaamde “noodleuentjies” nie, maar die stigter van die Christelike godsdiens het gesê: “Wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.” Hy het ook die Duiwel beskryf as ‘die vader van die leuen’ en as die heerser aan wie die mensdom hulle oor die algemeen onderwerp het. Dit gee ons beslis stof tot nadenke, en dit help ons om te begryp waarom oneerlikheid so algemeen is.—Lukas 16:10, NTP; kyk ook Johannes 8:44; 14:30.