Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/1 bl. 3-4
  • Voorspel die Bybel die einde van die aarde?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voorspel die Bybel die einde van die aarde?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WETENSKAPLIKES SE VRESE
  • WAT LEER DIE KERKE?
  • DIE BYBEL SE BESKOUING
  • Die “einde van die wêreld”—Iets om na uit te sien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Wanneer sal die wêreld tot ’n einde kom?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Moet jy die einde van die wêreld vrees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/1 bl. 3-4

Voorspel die Bybel die einde van die aarde?

DIE EINDE VAN DIE WÊRELD—vyf woordjies wat deur die eeue van mensegeskiedenis heen baie harte met skrik vervul het. Hulle het vandag baie van hulle krag verloor aangesien godsdienstige geloof aan die afneem is. Maar voorspellings oor ’n wêreldramp kom nie net van godsdienstiges af nie. Wetenskaplikes op verskeie terreine van mensekennis rig waarskuwings oor ’n ramp vir die mensdom.

WETENSKAPLIKES SE VRESE

Astronome het ten minste vier dinge gemeld wat lewe op ons aarde bedreig. Onder die opskrif “Die vier kosmiese rampe wat die aarde bedreig” het die Franse wetenskaptydskrif Science et Vie dit aangegee as die ontploffing van ’n supernova, ’n reusesongloed, ’n reusemeteoriet wat die aarde kan tref of die moontlikheid dat die hele sonnestelsel ’n kosmiese stofwolk kan binnegaan wat soveel van die son se hitte sal absorbeer dat die aarde sal verys.

Ekoloë rig terselfdertyd al hoe meer waarskuwings oor die gevare van besoedeling weens die gebruik en die misbruik van onnatuurlike stowwe wat die gesondheid en selfs die lewe van die mensdom en diere in gevaar stel. Ja, besoedeling vergiftig die lug wat ons inasem, die grond en die voedsel wat dit lewer, en die seë tesame met die vis wat ons eet. Onverstandige en selfsugtige ontbossing het tot rampspoedige oorstromings sowel as mensgemaakte woestyne gelei.

Op sy eie sou elk van hierdie omgewingsbedreigings ongetwyfeld nie groot genoeg wees om ’n einde aan lewe op aarde te maak nie. Maar tesame maak hulle ’n besonder groot gevaar uit. In ’n onderhoud met die Paryse weekblad L’Express, het Maurice Strong, voormalige sekretaris-generaal van die Wêreldomgewingskonferensie, onlangs gesê: “Ek wil dit nie graag sê nie, maar as die mens voortgaan om so ’n verwaande houding teenoor die natuur aan te neem, sal hy mettertyd verdwyn.”

Maar op die oomblik is die grootste bedreiging vir lewe op aarde—die een wat al as “Die laaste groot slagting of Apokalips” bestempel is en verkeerdelik “Armageddon” genoem is—die baie wesenlike moontlikheid van totale kernoorlog. Die gemilitariseerde nasies van die wêreld het kernwapens opgehoop met ’n plofkrag gelykstaande aan dié van etlike tonne TNT vir elke man, vrou en kind op die aarde. Geen wonder dat mense van die kernbedreiging praat asof dit die einde van die wêreld sal beteken nie!

WAT LEER DIE KERKE?

Honderdmiljoene Katolieke en baie Protestante dink aan ’n laaste afrekening en die vernietiging van die aarde wanneer hulle uitdrukkings soos “die Oordeelsdag” of “die einde van die wêreld” hoor. Onder die opskrif “Einde van die wêreld” sê die gesaghebbende Dictionnaire de Théologie Catholique: “Die Katolieke Kerk glo en leer dat die teenswoordige wêreld, soos God dit gemaak het en soos dit is, nie vir ewig sal bestaan nie. Al die sigbare skepsele wat God deur die eeue heen gemaak het . . . sal ophou om te bestaan en sal in ’n nuwe skepping omgeskep word.”

Die Christendom se kerke leer dat die finale lotsbestemming van die mens òf ewige saligheid in die hemel òf ewige straf in die “hel” is. Volgens hulle speel die aarde geen permanente rol in God se voorneme nie. En tog is Katolieke en Protestantse teoloë deeglik bewus daarvan dat die Bybel praat van die koms van God se koninkryk sodat God se wil ‘op aarde kan geskied soos in die hemel’ (Matt. 6:10). Hulle weet dat dit een van die belangrike dinge is waarvoor Christene moet bid. Hulle is ook goed vertroud met die Bybelbelofte van “’n nuwe aarde” waarin geregtigheid sal woon (2 Pet. 3:13; Openb. 21:1-4). Maar Katolieke en Protestantse teologie oor hierdie tekste en baie ander wat van die aarde in God se voorneme praat, is vaag, selfs ontwykend.

Omdat hulle al die goeie mense hemel toe en die slegte mense “hel” toe gestuur het, haal baie van die Christendom se teoloë andersyds graag tekste aan soos: “Die hemel en die aarde sal verbygaan” (Matt. 24:35) om te ‘bewys’ dat die aarde vernietig sal word. Hulle is maar te bly om van die aarde ontslae te raak, want dit pas nie by hulle teologie in nie. Hulle vertolk baie gerieflik dit wat party Bybelvertalings “die einde van die wêreld” noem as die einde van die aarde.—Matt. 24:3.

DIE BYBEL SE BESKOUING

Wat bedoel die Bybel dan met “die einde van die wêreld”? Ons moet eerstens daarop let dat wat party vertalings vertaal met “einde van die wêreld”, ander weergee as “afsluiting van die tydvak” (Revised Standard Version, beide Protestantse en Katolieke uitgawes), “voltooiing van die tydvak” (Marshall—The Interlinear Greek-English New Testament) of “voleinding van die stelsel” (New World Translation). Die woorde “afsluiting”, “voltooiing” of “voleinding” is akkurater vertalings van die Griekse woord synte’leia, wat verskil van telos (einde of algehele einde; vergelyk Mattheüs 24:6, 14). “Tydvak” en “stelsel” is eweneens akkurater vertalings van ai·on’, wat verskil van ko’smos, wat oor die algemeen op die wêreld van die mensdom slaan.

Dit is interessant dat die woord ko’smos nie voorkom in een van die tekste wat die woorde bevat wat soms verkeerd vertaal word met “einde van die wêreld” nie. Daardie uitdrukking beteken dus nie die einde van die mensdom nie. Dit verwys na die voleinding van ’n goddelose stelsel, die afsluiting van ’n tydvak (ai·on’) wat gekenmerk word deur die slegte dade van “goddelose mense”.—Vergelyk 2 Petrus 3:7.

Die Bybel voorspel glad nie die einde van die aarde nie, maar bevat die belofte van ’n wonderlike toekoms vir ons pragtige planeet. Maar eers moet die teenswoordige goddelose stelsel van die aarde af vernietig word. Die einde van hierdie stelsel is dus iets waarna ons kan uitsien, soos die volgende artikel toon.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel