Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/1 bl. 5-7
  • Die “einde van die wêreld”—Iets om na uit te sien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “einde van die wêreld”—Iets om na uit te sien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAAROM DIE OU “WÊRELD” EINDIG
  • WETENSKAPLIKES SE VRESE ONGEGROND
  • ’N REGVERDIGE “NUWE AARDE”—HOE?
  • HOE OM BEHOUE TE BLY
  • Sal die aarde vernietig word?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Gaan hierdie wêreld tot ’n einde kom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
  • Aarde
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/1 bl. 5-7

Die “einde van die wêreld”—Iets om na uit te sien

“EKONOMIESE en morele krissise, oorloë, sluipmoordpogings, gyselaardramas, die wapenwedloop, die tragedie van hongersnode en vlugtelinge—die mensdom is voorwaar baie siek. . . . Maar die einde van ’n wêreld beteken nie noodwendig die einde van die wêreld nie.” So het die Paryse dagblad Le Monde gesê onder die Engelse opskrif “Apocalypse Now?”

Of die skrywer van daardie woorde dit nou geweet het of nie, hy het die Bybel se beskouing gestel. Die Skrif toon dat ’n wêreld (in die sin van ’n “stelsel”) kan eindig sonder dat die wêreld (in die sin van die aarde en al sy bewoners) vernietig hoef te word. Bowendien is die einste toestande wat deur daardie Franse koerant aangevoer is as getuienis dat ‘die mensdom voorwaar baie siek is’ in die Bybel voorspel as deel van ’n teken wat toon dat ons nou in die “voleinding” van die huidige goddelose “wêreld” of stelsel lewe en dat ons op die drumpel van ’n ander “tydvak” staan wat totaal anders sal wees—’n nuwe “wêreld”.

WAAROM DIE OU “WÊRELD” EINDIG

Die skrikwekkende uitdrukking “einde van die wêreld” is in werklikheid ’n verkeerde benaming wat deur die Christendom se predikers gebruik word om mense die skrik op die lyf te jaag sodat hulle hulle kerkstelsels ondersteun. Die oorspronklike Grieks beteken “voleinding van die stelsel”. ’n Persoon kan dus vra: Waarom moet die teenswoordige stelsel verdwyn?

Die vernaamste rede is dat dit God se voorneme is. Waarom? Sedert dit kort na die vloed van Noag se dag in aansyn gekom het, het die teenswoordige stelsel van kwaad tot erger gegaan (Gen. 10:8-12; 11:1-9). Dit is nie deur Jehovah God geskep nie. Inteendeel, God se ware knegte is nog altyd deur “hierdie wêreld se heersers” geteister en selfs vervolg (1 Kor. 2:6). En geen wonder nie, want die apostel Paulus noem Satan “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Selfs net weens die feit dat “die heersers van hierdie wêreld” ‘die Here Jesus Christus aan die paal genael het’, verdien so ’n stelsel om te verdwyn.—1 Kor. 2:8, vgl. NW.

Die teenswoordige wêreldbestel het hom onderskei deur toenemende sonde, ongeregtigheid en opstand teen God en sy wil. Dit het ongeregtigheid, verdrukking en gewelddadigheid in die hand gewerk—onder individue en onder nasies. Die Bybel noem dit “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Dit is onvatbaar vir verbetering. Dit moet dus weg!

WETENSKAPLIKES SE VRESE ONGEGROND

Maar dit sal nie die einde van die planeet Aarde beteken nie. Soos ons in die vorige artikel gesien het, vrees wetenskaplikes “kosmiese rampe wat die aarde bedreig”. Sulke vrese is egter bloot hipoteses oor dinge wat kan gebeur, maar wat die allerbelangrikste kosmografiese faktor buite rekening laat: God en sy voorneme met die aarde.

Pierre-Paul Grasse, ’n lid van die Franse Akademie vir Wetenskap, sê:

“Die orde in die natuur is nie deur die menslike verstand uitgedink of deur sekere insigryke magte bewerkstellig nie. Nee, dit is ’n werklikheid wat fisici en wiskundiges soos Planck en Einstein volkome begryp het. Die bestaan van orde vooronderstel die beslaan van ’n intelligensie wat organiseer. Sodanige intelligensie kan net God s’n wees.”

Ja, al hoe meer wetenskaplikes kom tot die gevolgtrekking dat dit meer rasioneel is om die bestaan van ’n intelligente Skepper te erken as om die heelal met die woordjie “toeval” te verklaar.

Aangesien God bestaan, is die vraag nou: Wat is sy voorneme met die aarde? Sy Woord, die Bybel, antwoord: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE” (Jes. 45:18). Jehovah God het nie die aarde gemaak met die doel om dit eendag te vernietig nie (Ps. 104:5). Dit is God se voorneme dat die aarde ‘bewoon moet word’ deur ’n regverdige geslag manne en vroue wat hulle daarop toelê om sy wil te doen. Dit verklaar waarom Jesus Christene geleer het om te bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10.

’N REGVERDIGE “NUWE AARDE”—HOE?

Aangesien daar getoon is dat Jehovah God, wat “die aarde geformeer” en dit “bevestig” het, ’n duidelike voorneme het met die planeet waarop ons woon, moet ons nou ’n begrip verkry van wat die Bybel bedoel wanneer dit praat van “’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon”.—2 Pet. 3:13.

Die beloofde “nuwe aarde” kan klaarblyklik nie ’n nuwe planeet wees nie. Uit die verband in Petrus se tweede brief kan ons logies aflei wat dit wel beteken. Petrus praat van die vloed van Noag se dag as ’n voorbeeld van wat sal plaasvind voordat die regverdige “nuwe aarde” tot stand kom. Hy meld “’n aarde (Grieks, ge] wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld [Grieks, ko’smos] met water oorstroom is en vergaan het”.—2 Pet. 3:5, 6.

Watter “wêreld” is deur die Vloed vernietig? Vroeër in daardie selfde brief het Petrus geskryf dat God “die ou wêreld [ko’smos] nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld [ko’smos] van goddelose mense gebring het” (2 Pet. 2:5). Dit is dus ’n “wêreld van goddelose mense” wat tydens die Sondvloed vergaan het. Maar die aarde en ’n handjievol mense daarop het voortbestaan.a Dit was die bose, goddelose mensegemeenskap wat vernietig is, nie die planeet Aarde nie.

Dit is eweneens met verwysing na die simboliese “aarde”, oftewel die verdorwe mensegemeenskap wat sedert die Vloed ontwikkel het, dat Petrus voorts sê: “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Pet. 3:7). Ja, net soos die planeet Aarde behoue gebly het deur die einde van die antediluviaanse “wêreld van goddelose mense”, sal dit voortbestaan deur die “vuur” of “verderf” van “goddelose mense” en hulle regerings. Laasgenoemde, en die goddelose mensegemeenskap waaroor hulle heers, maak die simboliese “teenswoordige hemele en die aarde” uit.—Vergelyk Openbaring 21:8.

Petrus voeg by: “Maar ons verwag volgens sy [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” Dit is logies dat hy met hierdie woorde verwys na ’n regverdige nuwe regering (God se koninkryk in die hande van Christus) en ’n hervormde mensegemeenskap.—2 Pet. 3:13.

HOE OM BEHOUE TE BLY

Hoewel die meeste menslike futuroloë droefgeestig pessimisties oor die toekoms van die aarde en die mensegemeenskap is, is Christene wat werklik die Bybel glo en daarvolgens leef baie optimisties. Hulle sien die “teken” wat Jesus vir sy volgelinge gesê het om na op te let in die krisisse wat sedert 1914 op aarde ontstaan het. Jesus het bygevoeg: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. . . . So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. . . . Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug.”—Luk. 21:10, 11, 25, 26, 28, 31, 36; Matt. 24:3, 7-13.

Jehovah se Getuies is glad nie “doem-profete” nie, maar verkondig die allerbeste nuus, naamlik dat God se koninkryk op die punt staan om beheer van die aarde oor te neem. Hulle vervul Jesus se profetiese woorde: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [telos] kom” (Matt. 24:14). Daardie “einde” sal die vernietiging beteken van die teenswoordige goddelose stelsel, die einde van ongeregtigheid, verdrukking, gewelddadigheid, oorloë, hongersnode, siekte—ja, die einde van lyding en die dood self!—Openb. 21:1-5.

Die “einde van die wêreld” is inderdaad nie iets om te vrees nie. Dit is eerder iets om na uit te sien, aangesien dit ’n regverdige nuwe stelsel sal inlui op hierdie pragtige aarde wat God “gegrond [het] op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie”.—Ps. 104:5.

[Voetnoot]

a Vir bewys dat daar ’n wêreldvloed was, kyk hoofstuk 3 van die boek Is die Bybel werklik die Woord van God?, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Prent op bladsy 7]

God se koninkryk staan op die punt om die heerskappy oor die aarde oor te neem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel