WEERSPREEK DIE BYBEL HOMSELF WERKLIK?
‘ADAM en Eva het twee seuns gehad, Kain en Abel. Kain het Abel doodgemaak en toe ’n vrou geneem. Waar het hy sy vrou gekry?’ Het jy al ooit daardie vraag gehoor? Dit is moontlik die vraag wat die meeste gestel word deur mense wat beweer dat die Bybel homself weerspreek. Ken jy die antwoord?
Die Bybel sê vir ons dat Adam en Eva baie kinders gehad het, nie net twee nie. “Die dae van Adam, na die geboorte van Set [nog ’n seun], was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad” (Gen. 5:4). Waar sou jy, met daardie inligting, nou sê dat Kain sy vrou gekry het? Ja, hy moes met een van sy susters getrou het. Vandag kan dit gevaarlik wees vir kinders wat gebore word vir ouers wat so na aan mekaar verwant is. Maar aan die begin van mensegeskiedenis, toe die mensdom veel nader aan volmaaktheid was, was dit nie ’n probleem nie.
Hierdie vraag lig een rede toe waarom baie dink dat die Bybel homself weerspreek: hulle beskik nie oor al die feite nie. Wanneer hulle die geheelbeeld het, verdwyn sulke oënskynlike teenstrydighede.
Ander individue wys na verskillende Bybelverslae van dieselfde gebeurtenis en sê dat daar teenstrydighede is. In Mattheüs 8:5, 6 word ons byvoorbeeld meegedeel: “Nadat Jesus in Kapernaum ingegaan het, kom daar ’n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne.” Toe het hy Jesus se hulp gevra. Maar die parallelle verslag in Lukas lui: “Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak” (Luk. 7:3). Die een verslag sê dat die hoofman self die versoek gerig het, terwyl die ander sê dat hy deur ouderlinge van die Jode verteenwoordig is.
Lyk dit na ’n weerspreking? Kyk dan wat in Handelinge 7:47 staan. Daar word ons meegedeel dat koning Salomo ’n tempel vir Jehovah in Jerusalem gebou het. Maar het die skrywer bedoel dat Salomo self die tempel gebou het? Of is die bouwerk deur baie werkers gedoen, terwyl Salomo dit gemagtig en georganiseer het? Laasgenoemde is natuurlik die geval. Hierdie militêr het eweneens met Jesus gepraat, maar hy het dit deur Joodse tussengangers gedoen. Die twee verslae weerspreek mekaar nie. Hulle bevat bloot verskillende beskouings van dieselfde gebeurtenis.
Daar is talle sogenaamde teenstrydighede van hierdie aard. Maar dit is in werklikheid voorbeelde van beriggewing oor dieselfde gebeurtenis uit verskillende oogpunte. As al die Bybelskrywers presies dieselfde gesê het, sou dit sterk daarop dui dat hulle by mekaar afgeskryf het. Die feit dat hulle uit verskillende oogpunte skryf, bewys dat daar geen samespanning was nie, terwyl die feit dat hulle almal basies dieselfde verhaal vertel, toon dat hulle die waarheid vertel.
IS DIE BYBEL WETENSKAPLIK?
Die probleem lê soms by wat mense dink die Bybel sê. In 1633 het die Katolieke Kerk Galileo byvoorbeeld veroordeel omdat hy gesê het dat die aarde om die son draai. Volgens die tydskrif Newsweek beskou hulle dit nou as ’n pynlike flater. Waarom het hulle daardie flater begaan? Een rede wat in die New Catholic Encyclopedia verstrek word, is dat Galileo se nuwe leerstelling die Bybel weerspreek het. Met ander woorde, nie alleen die Katolieke Kerk nie, maar ook die Bybel het verkeerd gehad. Is dit korrek?
Die antwoord is Nee. Die Bybel is nie ’n wetenskaplike leerboek nie. Die hoofdoel daarvan is om vir ons van God, sy voornemens en sy handelinge met die mensdom te vertel. Maar dit is nie onwetenskaplik nie. Dit meld soms dinge wat met natuurwette in verband staan, en dikwels stem wat dit sê ooreen met wat wetenskaplikes vandag vir ons vertel. Waarom het die Katolieke Kerk dan gemeen dat Galileo se leerstelling die Bybel weerspreek?
Volgens die New Catholic Encyclopedia is een Bybelverslag waarna hulle verwys het die een in die boek Josua. Ons leer daar dat die Israeliete eenkeer teen hulle vyande geveg het en besig was om hulle te verslaan, maar dat die nabyheid van die nag kon verhoed dat hulle ’n klinkende oorwinning behaal. Deur ’n groot wonderwerk het Jehovah toe die dag verleng sodat hulle hulle oorwinning kon voltooi. Die verslag se: “Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande.”—Jos. 10:13.
Sê daardie teks dat die aarde nie om die son draai nie? Of het die inkwisiteurs te veel daarin gelees? Die Bybelskrywer het beslis nie hier probeer om ’n wetenskaplike verklaring oor planeetloop te doen nie. Hy deel ons eerder mee wat die Israeliete gesien het. Hulle het gesien hoedat die son in die hemele stilstaan—of Jehovah dit nou deur die onderbreking van die aswenteling van die aarde of op ’n ander manier gedoen het.
Ons sê vandag eweneens dat die son in die oggend opgaan en in die aand ondergaan. Beteken dit dat ons nie glo dat die aarde om die son draai nie? Natuurlik nie.
Ons beskryf gebeure bloot soos dit vir ons lyk.
Galileo se probleme is dus nie veroorsaak deur wat die Bybel sê nie. Dit het eerder voortgespruit uit wat die mense uit die Bybel afgelei het.
Nog ’n misverstand kom voor in die boek World Without End deur Roger Pilkington. Die skrywer sê: “Al die skrywers van die Ou Testament het die Aarde soos ’n plat bord beskou.” Die indruk word weer eens geskep dat die Bybel die wetenskap weerspreek. Maar is dit die geval?
Beskou twee tekste wat beskrywings van die aarde bevat. Een sê dat God “die noorde uitspan oor die chaos, . . . die aarde ophang oor ’n niks” (Job 26:7). Die ander sê: “[God] sit bo die kring van die aarde.”—Jes. 40:22.
Hierdie tekste is nie geskryf om ’n wetenskaples te gee nie. Die doel daarvan was om ons te help om die majesteit van Jehovah se Godheid te waardeer. Maar sou jy sê dat die beeld wat dit laat opkom—dié van ’n ronde aarde wat in leë ruimte hang—onwetenskaplik is? Dit is eerder ’n merkwaardige beskrywing van presies dit wat ruimtevaarders sien wanneer hulle in die ruimte reis. Mnr. Pilkington het dus verkeerd gehad toe hy gesê het: “Al die skrywers van die Ou Testament het die Aarde soos ’n plat bord beskou.”
WAT VAN MITES?
Ander mense ondervind probleme omdat party Bybelverhale in hierdie wetenskaplike 20ste eeu vreemd klink. Niemand loop vandag op water, voed menigtes met ’n paar brode en visse, wek die dode op of genees siekes oombliklik nie. Hierdie mense meen gevolglik dat die verslae oor sulke dinge in die Bybel mites is.
Die Bybel sê egter nie dat wonderwerke in daardie dae iets alledaags was nie. Hulle was verbasend en onverwags, “wonders en tekens” wat bewys het dat God waarlik sy kneg Jesus gesteun het (Hand. 2:22). Baie mense wat destyds gelewe het, het ’n goeie geleerdheid gehad, en hulle het gereageer net soos ons sou reageer wanneer hulle ’n wonderwerk gesien het wat deur Jesus of een van sy volgelinge deur die krag van God se heilige gees gedoen is. Hulle was “verwonderd” of ‘vervul met verbasing’.—Matt. 9:8; Hand. 3:10.
Dit is opmerkenswaardig dat selfs Jesus se vyande dit nie ontken het dat hy wonderwerke gedoen het nie. Maar hulle het die bron van sy krag bevraagteken. Hulle het ’n blinde man wat deur Jesus genees is, uitgeban. En hulle het eenkeer probeer om ’n man dood te maak wat deur hom opgewek is. Maar hulle moes erken dat die wonderwerke plaasgevind het.—Matt. 12:24; Joh. 9:30-34; 11:43-53; 12:9, 10.
Daarbenewens het honderde mense Jesus lewend gesien nadat hy in die openbaar deur Rome se opgeleide skerpregters gedood is. Party het hulle indrukke opgeteken in geskrifte wat ons vandag kan lees. Dit het baie van hulle so geraak dat hulle lewens heeltemal verander het. Hulle was nou bereid om vir hulle geloof te sterf. Sou ’n mite, of ’n hersenskim, so ’n uitwerking gehad het?
Sulke dinge gebeur weliswaar nie vandag nie. Maar stel jou voor wat sou gebeur as jy met mense kon praat wat in Jesus se dag gelewe het en jy vir hulle vertel het dat jy gesien het hoedat ’n man op die maan wandel, dat jy met mense aan die ander kant van die aarde kan praat, dat jy of jou vriende deur die lug gevlieg het, en dat daar masjiene bestaan wat dinge kan opneem en ingewikkelde wiskundige berekeninge kan doen. Wat sou hulle gesê het? Dat jy ’n verbeeldingryke spekskieter is! Sulke dinge het nie in Jesus se dag gebeur nie.
Die hedendaagse tegnologie maak egter sulke wonderwerke moontlik. En die bestaan van ’n almagtige God maak beslis al die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is ewe moontlik.
JY KAN DIT GLO
’n Skrywer wat ingegaan het op baie van die sogenaamde teenstrydighede en “probleme” van die Bybel het tot hierdie gevolgtrekking geraak: “Wanneer ons die ware grootsheid van die Bybel en die krag van sy invloed deur die eeue heen in ag neem, raak die haarklowery oor ‘foute’ wat skeptici daarin probeer bewys onbeduidend” (Does Inspiration Demand Inerrancy? deur Stewart Custer). Dit is waar. En wanneer al die feite beskikbaar is, is die “foute” glad nie eens foute nie.
’n Australiese teksskrywer het erken dat hy ’n “rasionalistiese dweper” was waar dit by die Bybel gekom het. Toe het hy gesê: “Vir die eerste keer in my lewe het ek gedoen wat normaalweg ’n verslaggewer se eerste plig is: Ek het my feite nagegaan. . . . En ek was geskok, want die dinge wat ek [in die Evangelieverslae] gelees het, was nie legendes nie en dit was nie naturalistiese fiksie nie. Dit was beriggewing. Eerstehandse en tweedehandse verslae van buitengewone gebeure, en soms—in die geval van Lukas—die versameling van dokumentêre getuienis en die resultate van onderhoude met ooggetuies. Beriggewing dra ’n stempel, en daardie stempel is in die Evangelieverslae.”
Ons spoor jou aan om hierdie man se voorbeeld te volg en ‘die feite na te gaan’. Lees die Boek en stel jouself bloot aan die “ware grootsheid van die Bybel”. Jy sal vind dat die Bybel nie ‘ontoepaslik, onverstaanbaar of oninteressant’ is nie. Dit is ’n boeiende verslag van God se handelinge met die mensdom van die begin af. Dit behandel vandag se jongste probleme en gee raad wat baie mense help om ’n sukses van hulle lewens te maak. Daarbenewens bevat dit ’n boodskap vir hierdie 20ste eeu wat nie geïgnoreer kan word deur diegene wat ’n grondige hoop en doel in hulle lewens wil hê nie.
As jy dit moeilik vind om die Bybel te verstaan, sal Jehovah se Getuies jou met graagte help om die informasie daarin jou eie te maak. Ja, die woorde van John Quincy Adams is nog steeds waar: “Die Bybel is die boek der boeke, een wat op alle ouderdomme gelees moet word.” Dit is steeds Die boek wat geglo en gehoorsaam moet word, veral in hierdie skeptiese 20ste eeu.
[Prent op bladsy 4]
WAAR HET KAIN SY VROU GEKRY?
[Prent op bladsy 5]
SÊ DIE BYBEL DAT DIE SON OM DIE AARDE DRAAI?
[Prent op bladsy 6]
HET WONDERWERKE WERKLIK PLAASGEVIND—OF IS DIT SLEGS MITES?
[Prent op bladsy 7]
DIE MENS HET DIT GEDOEN. HOEVEEL MEER KAN GOD TOG DOEN!