Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 12/15 bl. 8-13
  • Wat het van daardie verse geword

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het van daardie verse geword
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE OORSKRYF VAN MANUSKRIPTE
  • DIE SUIWERING VAN DIE TEKS
  • ’N PAAR “VERMISTE” VERSE
  • DIE AFRIKAANSE VERTALING
  • VERTROU DIE BYBEL
  • Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • A3 Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Is die Bybel verander?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die Bybel se stryd om voort te bestaan
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 12/15 bl. 8-13

Wat het van daardie verse geword

’n Vrou het onlangs geskryf:

“Liewe Wagtoringgenootskap,

In my studie van die Bybel het ek afgekom op enkele verse wat daaruit weggelaat is, maar wat in die Afrikaanse Bybel voorkom, onder meer Mattheüs 18:11; 23:14 en Lukas 17:36. Niemand kon vir my sê waarom hulle weggelaat is nie. Kan julle die saak vir my opklaar?

Die uwe, L.G.”

Stem jy nie saam dat dit ’n gegronde versoek was nie? Die boek Openbaring waarsku: “As iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe.” Ja, dit sal ’n ernstige saak wees as ’n egte deel van die Bybel verwyder word (Openb. 22:19). Maar het dit gebeur? Kom ons kyk.

Sekere verse is weggelaat uit die Bybelvertaling wat hierdie vrou gebruik het. Maar watter vertaling was dit? Dit kon enige van ’n aantal onlangse vertalings gewees het. Hierdie verse kom byvoorbeeld nie voor in die 1979 vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms, die Common Bible (’n ekumeniese uitgawe vir Katolieke en Protestante), The New English Bible, die New World Translation wat deur Jehovah se Getuies gebruik word en die Katolieke Jerusalem Bible nie, om maar ’n paar te meld.

Weet jy waarom hierdie verse weggelaat is? Jy wonder dalk: ‘Is my Bybel onvolledig?’

Kortom, die antwoord is Nee. Hierdie verse hoort in werklikheid nie in die Bybel nie, selfs al kom hulle in talle ouer vertalings voor. Vir party persone sal dit skokkend klink om te hoor dat sekere woorde, uitdrukkings en selfs hele verse wat voorkom in Bybels wat algemeen gebruik word, nie eg is nie. ’n Verduideliking is dus gepas.

Laat ons jou sommer aan die begin verseker dat daar oorvloedige getuienis is wat toon dat die teks van die Bybel betroubaar is. Dit is byvoorbeeld baie betroubaarder en akkurater as aanvaarde geskrifte van Tacitus, Thucydides of Herodotus.

Die getuienis bestaan uit derduisende antieke Griekse manuskripte wat nagegaan kan word om te toon dat die basiese teks van jou Bybel presies is wat oorspronklik geskryf is. Die oudste van hierdie manuskripte bied ook die vaste grondslag vir die weglating van sekere woorde, uitdrukkings en verse uit nuwer vertalings. Dit is baie interessant om in te gaan op die rede daarvoor.

DIE OORSKRYF VAN MANUSKRIPTE

Soos jy seker weet, is die oorspronklike geskrifte van die “Nuwe Testament” (die Christelike Griekse Skrifte) nie vandag vir vertalers beskikbaar nie. Niemand het al ooit ’n Bybelboek ontdek wat as ’t ware deur die apostels Paulus, Johannes of ander “geteken” is nie. Dit is egter duidelik dat daar begin is om afskrifte te maak vir gebruik deur die vroeë Christene kort nadat die oorspronklikes geskrywe is.

Die oorskrywers het gewoonlik groot sorg gebruik om te verseker dat hulle werk presies met die oorspronklikes ooreengestem het. Talle proeflesers lê vandag dieselfde sorg aan die dag. Maar jy het waarskynlik al drukfoute, soos ’n spelfout of die weglating of herhaling van ’n reël, in hedendaagse koerante of boeke gesien. Indien sulke klein drukfoute voorkom ondanks ons huidige tegniese vooruitgang, kan jy besef dat hulle kon voorkom toe hele Bybelboeke met die hand oorgeskryf is. Die latere afskrifte, wat die verste van die oorspronklikes verwyderd was, het gewoonlik meer foute bevat.

Kyk ’n bietjie hoe dit kon gebeur. ’n Oorskrywer wat baie goed bekend was met Mattheüs se Evangelie was moontlik geneig om die bewoording uit Mattheüs, wat hy so goed geken het, te gebruik wanneer hy die Evangelie van Markus of Lukas oorgeskryf het. Of hy het moontlik opgemerk dat ’n sin wat Mattheüs gebruik het, nie in Markus of Lukas se ooreenstemmende verslag voorgekom het nie. Hy het die sin dan dalk in die kantruimte bygevoeg. Maar ’n latere oorskrywer het miskien daardie sin in die hoofteks van Markus of Lukas ingevoeg omdat hy geglo het dat dit oorspronklik daar was aangesien dit die verslae meer laat ooreenstem het. In Lukas se verslag oor die Onse Vader voeg party manuskripte byvoorbeeld by: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Maar die oorwig van die bewyse dui daarop dat dit uit Mattheüs se verslag ingevoeg is, en daarom word dit in hedendaagse vertalings van die Bybel uit Lukas 11:2 weggelaat (Matt. 6:10). Soos jy kan sien, het sulke goedbedoelde pogings van oorskrywers om verslae te laat ooreenstem, gewoonlik daartoe gelei dat materiaal bygevoeg is.

Kom ons beweeg nou na die 16de eeu, net voordat party van die bekender Engelse vertalings gemaak is. Met die koms van die boekdrukkuns het dit moontlik geword om boeke by die duisendtal en goedkoper te druk, en dit het belangstelling in die Bybel gewek. Geleerdes was nie meer tevrede met die Latynse vertalings van die Skrif wat lank in die Roomse Kerk gebruik is nie, en het begin roep om eksemplare in Grieks, die taal waarin die “Nuwe Testament” geskryf is. In 1515 het ’n Switserse drukker, wat die moontlikheid gesien het om geld te maak, ’n vooraanstaande Nederlandse geleerde, Desiderius Erasmus, versoek om inderhaas ’n afskrif van die “Nuwe Testament” in Grieks gereed te maak vir publikasie.

Herbert Dennett se Graphic Guide to Modern Versions of the New Testament verduidelik wat gebeur het:

“Die taak is egter op kort kennisgewing onderneem en inderhaas afgehandel. Erasmus het slegs sowat ’n halfdosyn manuskripte gebruik, waarvan slegs een redelik oud en betroubaar was. Nie een van sy manuskripte het die hele Nuwe Testament bevat nie, en party verse wat nie in een van hulle voorgekom het nie, is inderdaad deur Erasmus uit Latyn in Grieks [terug]vertaal. Hierdie verskene teks is later hersien met behulp van ’n paar ander manuskripte, maar die resultaat het die werk min beïnvloed.”—Bl. 119.

Maar waarom behoort jy besonder geïnteresseerd te wees in hierdie oënskynlik onbenullige gebeurtenis in skolastiese geskiedenis? Watter verskil maak dit vandag vir ons dat Erasmus se teks van 1516 ‘hoofsaaklik op twee minderwaardige twaalfde-eeuse manuskripte’ gebaseer was, soos een professor dit onlangs gestel het?

Dit is betekenisvol omdat Erasmus se Griekse teks regstreeks gelei het tot wat later die Textus Receptus genoem is. Hierdie teks het as grondslag gedien vir baie vertalings, onder meer die Authorized Version en die Afrikaanse Bybel van 1933. Maar sir Frederic Kenyon het die volgende opmerking oor die Textus Receptus gemaak:

“Die gevolg is dat die teks wat in die sestiende en sewentiende eeu aanvaar is en wat ons aangehang het weens ’n natuurlike teensinnigheid om die woorde te verander wat ons as die van die Woord van God geleer het, in der waarheid vol onjuisthede is, waarvan baie met absolute sekerheid verbeter kan word uit die ontsaglik groter hoeveelheid informasie wat ons vandag tot ons beskikking het.”—Our Bible and the Ancient Manuscripts, bl. 162.

DIE SUIWERING VAN DIE TEKS

In die 16de eeu het Erasmus slegs ’n paar Griekse manuskripte wat nie baie oud was nie tot sy beskikking gehad. Maar dit was nie die geval in die 19de en 20ste eeu nie. Gedurende hierdie tydperk is duisende antieke Griekse manuskripte en fragmente ontdek. Teen 1973 was daar reeds 5 338 handgeskrewe Griekse manuskripte bekend, en daar word voortdurend nog ontdek. ’n Aantal belangrike Bybelmanuskripte in Grieks, soos die Kodeks Sinaïticus en die Kodeks Vaticanus, dateer uit die 4de eeu. Party is selfs veel ouer. ’n Fragment van Johannes se Evangelie dateer byvoorbeeld uit omstreeks 125 G.J.

Namate die straaltjie pasontdekte antieke Griekse manuskripte as ’t ware in ’n vloedgolf verander het, kon geleerdes hulle krities vergelyk. Hierdie tekskritiek moet nie verwar word met “hoër kritiek” wat gewoonlik respek vir die Bybel as die Woord van God laat afneem nie. Tekskritiek is ’n noukeurige vergelyking van alle bekende manuskripte van die Bybel om vas te stel wat die ware of oorsponklike bewoording was en om enige toevoegings uit te haal.

Om toe te lig hoe dit werk, kan jy jou voorstel wat sou gebeur het as jy 200 persone gevra het om met die hand ’n afskrif van ’n handgeskrewe manuskrip te maak. Die meeste van hulle sou foute maak, waarvan party gering en ander betekenisvoller sou wees. Maar hulle sou nie almal dieselfde foute maak nie. As ’n oplettende persoon dan al 200 afskrifte geneem en met mekaar vergelyk het, sou hy die foute kon vind. ’n Fout in een of twee sou opvallend wees, omdat dit nie in die ander 198 met die regte bewoording sou voorkom nie. Met inspanning sou hy dus met ’n juiste teks van die oorspronklike dokument vorendag kon kom, selfs al het hy dit nog nooit gesien nie.

Al het ander voorheen gearbei om die teks van die “Nuwe Testament” te suiwer, het twee geleerdes van Cambridge, B. F. Westcott en F. J. A. Hort, laat in die 19de eeu ’n gesuiwerde teks opgestel wat alom aanvaar is. Dit is in 1881 gepubliseer; en tog het ’n professor onlangs gesê:

“Westcott en Hort het hulle so goed en met sulke besondere bedrewenheid van hulle taak gekwyt dat teksverbetering sedertdien òf in reaksie op hulle werk gedoen is òf die toepassing daarvan was. . . . Dit is betekenisvol dat selfs diegene wat nie met Westcott en Hort [se metode] saamgestem het nie, Griekse tekste gepubliseer het wat baie min van hulle s’n verskil het.”—Christianity Today, 22 Junie 1973, bl. 8.

Hierdie gesuiwerde teks van Westcott en Hort is al as die basiese teks van ’n aantal onlangse vertalings, onder meer die New World Translation, gebruik.

’N PAAR “VERMISTE” VERSE

Met die voorgaande informasie as agtergrond is ons in ’n beter posisie om ondersoek in te stel na ’n paar van die verse wat mense met die eerste oogopslag meen in onlangse Bybelvertalings ontbreek.

Ons het vroeër gemeld dat ’n oorskrywer ’n sin of vers uit ’n ander deel kon invoeg in ’n verslag wat hy besig was om oor te skryf. Dit kan maklik in Markus 9:43-48 gesien word. Verse 44 en 46 word in talle nuwer vertalings weggelaat, en soms word ’n aandagstreep ingevoeg om die weglating aan te dui, soos in die New World Translation. Die teks van daardie twee verse lui: “waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie”, presies soos in vers 48. Hoewel party Griekse manuskripte verse 44 en 46 bevat, bevat ’n aantal ouer, gesaghebbende manuskripte dit nie. Die getuienis dui daarop dat ’n oorskrywer of oorskrywers bloot vers 48 herhaal het, moontlik selfs per abuis. Wanneer ’n hedendaagse Bybel dus verse 44 en 46 weglaat, beteken dit glad nie dat dit deel van God se Woord weglaat nie, want dieselfde sin verskyn in vers 48 van dieselfde verslag. Maar wat word bereik met die weglating van die twee verdagte verse? Die verslag word gesuiwer en verskyn nou soos Markus geinspireer is om dit te skryf.

In ander gevalle het die “vermiste verse” klaarblyklik uit ander Bybelboeke gekom. Party uitgawes van die Bybel help die leser om dit te sien, want hulle gee die vers wat weggelaat is in ’n voetnoot aan. Die grootdrukuitgawe van die New World Translation is ’n voorbeeld hiervan. As jy nie hierdie hulpmiddel het nie, kan jy jou hedendaagse Bybel met die Afrikaanse Vertaling van 1933 of ’n soortgelyke ouer vertaling vergelyk. Deur middel van so ’n vergelyking kan jy self vasstel dat die stuk wat weggelaat is dalk net ’n vers is wat op ’n ander plek of in ’n ander boek voorkom.a Let by voorbeeld op Romeine 16:24 en vergelyk dit met vers 20 en die slotgedeeltes van so te sê enige van die boeke wat deur die apostel Paulus geskryf is. Jy sal sien dat ’n oorskrywer klaarblyklik ’n afskeidsuitdrukking in Romeine 16:24 bygevoeg het soos dié wat Paulus in so te sê al sy boeke gebruik het.b

Waarskynlik die mees omstrede gedeelte wat weggelaat is uit onlangse vertalings wat aan antieke manuskripgetuienis getrou is, is ’n deel van 1 Johannes 5:7. In die verlede het mense hulle dikwels op hierdie vers beroep om die onskriftuurlike Drie-eenheidsleerstelling te staaf. Onder die inskrywing “Comma Johanneum” sê die Woordeboek van die Afrikaanse Taal die volgende omtrent die onegte gedeelte:

“Benaming vir ’n Skrifgedeelte wat sedert die 5de eeu in Latynse manuskripte en eers i/d 16de eeu ook in Griekse tekste in 1 Joh. 5:7 en 8 voorkom: Want daar is drie wat getuig [in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde]: Die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenders. Die woorde tussen hakies aangaande die drie hemelse getuies kom in die oudste Bybelhandskrifte nie voor nie.”

In antwoord op ’n vraag in sy “Vraebus” oor waarom 1 Johannes 5:7 in die Afrikaanse Bybel voorkom, het Die Kerkbode van 4 Februarie 1970 die volgende verduideliking verstrek:

“Toe Erasmus sy Griekse teks vir die pers gereed gemaak het, het hy die woorde uitgelaat, omdat hy dit nie in die Griekse manuskripte wat tot sy beskikking was, kon vind nie. Oor die weglating is hy toe heftig aangeval deur ’n Roomse kardinaal wat juis ook besig was met die voorbereiding van ’n Griekse uitgawe van die Nuwe Testament. Aangesien Erasmus nie met die kerk in stryd wou kom nie, het hy ingewillig om die woorde in die volgende uitgawe van sy Nuwe Testament op te neem, indien ’n Griekse manuskrip aan hom getoon kon word waarin die woorde wel voorkom. So ’n manuskrip is toe te voorskyn gebring waarin die woorde deur ’n latere hand ingeskryf is. Erasmus het daarteen sy bedenkings gehad, maar tog woord gehou en die sinsdeel opgeneem in die volgende edisie van sy teks. Van daar is dit toe oorgedra in die Textus Receptus en kom dit te staan in die ouer vertalings, o.m. die Statevertaling en ook ons Afrikaanse Vertaling.

“Hierdie sinsdeel kom egter nie in ’n enkele van die oudste en betroubaarste manuskripte voor nie, en word daarom ook weggelaat uit die gesaghebbende Griekse grondteks. Die nuwe Bybelvertalings laat dus die sinsdeel uit, of enkeles, soos die Nederlandse Bybelgenootskap se vertaling wat die Statevertaling vervang het, plaas die sinsdeel tussen hakies om aan te dui dat dit nie in die beste grondteks voorkom nie.”

Omdat hierdie vers dateer uit ’n tydperk lank nadat die Bybel geskryf is en so duidelik oneg is, behandel talle hedendaagse vertalers dit nie eens soos ander verse wat weggelaat is nie. Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms laat 1 Johannes 5:7 byvoorbeeld sonder enige verduideliking weg, terwyl dit in ander gevalle waar ’n vers weggelaat word die rede in ’n voetnoot verstrek.

Ons kan laastens net ’n paar langer Skrifgedeeltes meld waar geleerdes meen dat die manuskripgetuienis nie afdoende is nie. Die slotgedeelte van die boek Markus, van vers 9 af, is een van hierdie gedeeltes. So ook Johannes 7:53–8:11, wat handel oor die vrou wat in egbreuk betrap was en na Jesus gebring is. Hierdie verslag het die eerste keer in ou Latynse weergawes verskyn, en in latere Griekse manuskripte kom dit op drie ander plekke in die Evangelieverslae voor. Baie vertalings sluit hierdie twee gedeeltes in, maar skei dit van die hoofteks deur dit tussen hakies te plaas (die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms) of dit in kleiner druk te set (New World Translation).

DIE AFRIKAANSE VERTALING

Dit is dus nou duidelik waarom die Afrikaanse Vertaling van 1933 so baie aanvegbare verse bevat wat nie in nuwer vertalings voorkom nie. Dit is omdat dit op die Textus Receptus gebaseer is. Daar word egter allerweë erken dat die Textus Receptus nie ’n goeie keuse was nie. In ’n bespreking van die Bybel se grondteks het professor E. P. Groenewald gesê:

“In 1880 het die Engelse geleerdes Westcott en Hort oortuigend bewys dat die tekstipe van die Textus Receptus nie die oudste en betroubaarste is nie. Deur wetenskaplike navorsing het hulle voorkeur gegee aan die teks soos dit voorgekom het in die Codex Vaticanus en die Codex Sinaïticus, albei uit die 4de eeu. Voortgesette navorsing en die ontdekking van nog ouer manuskripte soos die Chester Beatty Papiri uit die jaar 250 n.C. het sonder twyfel bewys dat daar heelwat verbeter kan word op die teks van die Textus Receptus. . . .

“In hierdie verband is ons vandag in veel gunstiger omstandighede geplaas as die vaders van die 16de en 17de eeu wat hulle op die Textus Receptus moes verlaat. Maar hierdie voorreg bring ook mee dat ons afskeid moet neem van die Textus Receptus en ons nuwe Afrikaanse vertaling baseer op die allerbetroubaarste grondteks wat tot ons beskikking gestel is.”—Die Kerkbode, 4 Februarie 1970, bl. 177.

In Die Huisgenoot van 26 Maart 1981 het Murray Janson sy stelling dat Mattheüs 17:21 ‘nie in die grondteks van die Nuwe Testament voorkom nie’ soos volg verantwoord:

“Matteus (en wat van sy boek gesê word, kan van al die ander boeke in die Nuwe Testament gesê word) het sy evangelie in die eerste eeu geskryf. Later is daar vele afskrifte (met die hand) van Matteus se boek gemaak, en nog later afskrifte van die afskrifte (van die afskrifte, ens.). Toe die Bybel in Afrikaans vertaal is (1933), is die vertaling gemaak van sulke afskrifte wat baie eeue verwyderd was van Matteus se oorspronklike boek (die grondteks). Sedertdien het die Here beskik dat daar van die heel oudste afskrifte ontdek is, sodat ons vandag so naby aan die grondteks staan dat ons feitlik volledig kan weet hoe dit oorspronklik gelui het. Nou verstaan u: in geeneen van die oudste afskrifte kom Matt. 17:21 voor nie: ’n afskrywer het homself die reg (!) toegeëien om dit in die Bybel in te voeg.”

Kort na die vrystelling van die Afrikaanse Bybel in 1933 het professor J. du Plessis sy eerste indrukke van die vertaling gegee in ’n artikel met die titel “Prag en oorspronklikheid van die Afrikaanse Bybel” in The Cape Argus van 24 Junie 1933. Dit het egter die ondertitel gehad: “’n Paar gebreke: Hedendaagse kennis van die Nieu-Testamentiese tekste veronagsaam.” Onder die tussenhofie “Kritiek” het hy gesê:

“Maar watter kritiek kan ons andersyds op die nuwe vertalings uitspreek? In die eerste plek dit: dat die vertalers tevrede was om die aanvaarde teks van die Nuwe Testament te behou. Dit is ’n verbasende en betreurenswaardige besluit deur manne wat iets weet omtrent die geskiedenis van Nieu-Testamentiese tekskritiek.

“Ons huidige teks, wat die grondslag was van die Authorized Version en die Statevertaling, is in die 16de eeu vasgestel en kom oorspronklik van Erasmus. Dit was ’n baie goeie teks vir die sestiende eeu, maar dit is nie ’n goeie teks vir die twintigste eeu nie.

“Ons het vandag tallose manuskripte van die Nuwe Testament wat nie vir die geleerdes van die sestiende eeu beskikbaar was nie, en ons kan dus ’n baie suiwerder en akkurater teks van die Griekse Nuwe Testament saamstel as wat hulle kon. En ongelukkig het die Afrikaanse vertalers besluit om by die ouer en minder juiste teks te bly.

Hulle het 1 Johannes 5:7 behou, die gedeelte oor die drie Hemelse Getuies, wat geen deel van die Woord van God is nie, maar ’n menslike toevoeging.”

In die lig van die voorgaande wonder party dalk waarom daar besluit is om die Textus Receptus as grondslag vir die Afrikaanse Vertaling van 1933 te gebruik, daar Westcott en Hort se gesuiwerde teks reeds in 1881 beskikbaar was. In ’n brief gedateer 24 September 1963 het J. T. M. de Jongh van Arkel, hoofsekretaris van die Bybelgenootskap van Suid Afrika, die volgende redes verstrek:

“Met die Afrikaanse vertaling is destyds besluit om by die Textus Receptus te bly. Onder andere het twee redes die deurslag gegee—

“(1) Ons mense was nog baie konserwatief en ’n Bybel op daardie stadium wat bekende dele weggelaat het sou die mense miskien onnodig geskok het. . . .

“(2) Die Afrikaanse Bybel sou die ou Nederlandse Statevertaling vervang. Groot getalle van ons mense wou Afrikaans nog nie as Kerk of Godsdienstige taal aanvaar nie. Die blote feit dat die Bybel in Afrikaans verskyn het, het sterk weerstand uitgelok. As dit nog verder ‘modern’ was en sekere verse uitgelaat het sou dit soveel moeiliker ingang vind.”

Daar is dus besluit om die Afrikaanse Vertaling op ’n onjuister teks, die Textus Receptus, te baseer ten einde mense wat gewoond was aan die Nederlandse Statevertaling nie ‘onnodig te skok’ nie. Hierdie besluit om mense ’n vertaling te ontsê wat so getrou moontlik aan die oorspronklike geskrifte is net om hulle ‘in hul gehoor te streel’ kan nie goedgepraat word nie. Dit was voorwaar ’n “betreurenswaardige” besluit.—2 Tim. 4:3, 4.

VERTROU DIE BYBEL

Hierdie bespreking van enkele verse wat duidelik geen deel van die geïnspireerde Bybel is nie, moet by niemand twyfel wek oor die egtheid van God se Woord nie. In plaas daarvan om vertroue in die Skrif te ondermyn, behoort dit die feit te onderstreep dat God sy Woord merkwaardig suiwer bewaar het.

Na sy deeglike navorsing het geleerde F. J. A. Hort hierdie gevolgtrekking gemaak:

“Dit is dus nie oorbodig om uitdruklik te verklaar dat die oorgrote meerderheid woorde van die Nuwe Testament bo alle diskriminerende prosesse van kritiek verhewe is nie, want daar bestaan geen variasies nie, en hulle hoef slegs oorgeskryf te word. . . . Die som van al die variasies tussen lesings wat ooit in enige gedrukte tekste ingesluip het, of wat moontlik ooit sal insluip, is betreklik klein; en die meeste daarvan is bloot te wyte aan verskille tussen die vroeë, kritieklose uitgawes en die tekste wat gedurende die afgelope halfeeu opgestel is aan die hand van die onskatbare dokumentêre getuienis wat onlangs aan die lig gebring is.”

Hy het bygevoeg:

“Met die oog op die verskeidenheid en oorvloedigheid van die getuienis waarop die teks van die Nuwe Testament berus, is dit absoluut uniek en weergaloos onder antieke prosa-geskrifte.”

Sir Frederic Kenyon het volmondig hiermee saamgestem en gesê:

“Dit is gerusstellend om aan die einde te vind dat die algemene resultaat van al hierdie ontdekkings en al hierdie studie neerkom op ’n versterking van die bewys van die egtheid van die Skrif, en van ons oortuiging dat ons die wesenlik onveranderde, egte Woord van God in ons hande het.

[Voetnote]

a Vergelyk Matt. 18:11—Luk. 19:10; Matt. 23:14—Mark. 12:40—Luk. 20:47; Mark. 7:16—Mark. 4:9, 23—Luk. 8:8; Mark. 11:26—Matt. 6:14; Mark. 15:28—Luk. 22:37; Luk. 17:36—Matt. 24:40; Luk. 23:17—Matt. 27:15—Mark. 15:6.

b 1 Kor. 16:23; 2 Kor. 13:13; Filip. 4:23; 1 Thess. 5:28; 2 Thess. 3:18

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel