Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 12/1 bl. 23-28
  • As ’n familielid uitgesit word . . .

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • As ’n familielid uitgesit word . . .
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • FAMILIELEDE KAN PROBLEME SKEP
  • IN DIE GESINSKRING
  • UITGESETTE FAMILIELEDE WAT NIE IN DIESELFDE HUIS WOON NIE
  • SOSIALE GELEENTHEDE EN UITGESETTE FAMILIELEDE
  • LESSE VIR ONS ALMAL
  • Hoe om uitsetting te beskou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Toon Christelike lojaliteit wanneer ’n familielid uitgesit is
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 12/1 bl. 23-28

As ’n familielid uitgesit word . . .

1, 2. (a) Wat was God se voorneme ten opsigte van gesinsgodsdiens? (b) Watter besluit moes party gesinne in Korag se dag neem?

NADAT Adam ’n ruk lank alleen was, het God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Toe het Hy Eva geskep en die menslike huwelik ingestel (Gen. 2:18, 21, 22). Daarna sou die aarde se bevolking aan was. Elke persoon sou dus baie familielede hê. Selfs al het party familielede, soos kinders, nie naby gewoon nie, kon hulle besoek word en kon aangename samesyn geniet word.—Gen. 1:28; Job 1:1-5.

2 Dit was God se voorneme dat gesinne in ware aanbidding verenig moes wees sodat godsdiensopvattings nie verdeeldheid sou skep nie. Maar daar was voorvalle waar godsdiens ’n familiegeskil geword het. Een geval was toe Korag, Datan en Abiram in opstand gekom het. Jehovah het bevestig dat hy deur Moses en Aäron gehandel het, nie deur hierdie godsdiensrebelle nie. Toe het Moses die mense beveel om hulle van die rebelle se tente te verwyder. Wat sou Korag, Datan en Abiram se kinders en gesinne doen? Sou hulle meer lojaal wees aan hulle gesin as aan Jehovah en sy gemeente? Die meeste van die rebelle se naverwante het hulle gesin bo God verkies. Jehovah het hierdie familielede saam met die rebelle tereggestel.—Num. 16:16-33.

3. Watter verstandige keuse het party lede van Korag se gesin gedoen?

3 Maar party van Korag se seuns het lojaal aan God en Sy volk gebly. Hulle is nie saam met die res van Korag se gesin en die gesinne van Datan en Abiram tereggestel nie (Num. 26:9-11). Trouens, afstammelinge van hierdie oorlewende Koragiete is later met spesiale diens by die tempel geseën en het eervolle vermelding in die Bybel ontvang.—2 Kron. 20:14-19; Ps. 42, 44-49, 84, 85, 87.

4. In watter ander opsig kon gesinslojaliteit ’n toets in Israel gewees het?

4 ’n Soortgelyke keuse tussen lojaliteit aan die gesin en lojaliteit aan God moes gedoen word wanneer ’n Israeliet afvallig geword het. Sou sy gesin hom, as gevolg van menslike emosie of familiebande, teen teregstelling probeer beskerm? Of sou selfs sy broer, seun of dogter besef dat lojaliteit aan God en die gemeente die regte en verstandige weg is? (Kyk Deuteronomium 13:6-11.) In die hedendaagse Christenreëling word ’n sondaar nie tereggestel nie, maar Christene kan voor toetse te staan kom omdat ’n familielid gedissiplineer word.

FAMILIELEDE KAN PROBLEME SKEP

5, 6. (a) Hoe kan familieverdeeldheid oor godsdiens ontstaan? (b) Waarom moet Christene nie ’n kompromis in hierdie situasie aangaan nie? (Ps. 109:2-5)

5 Familiebande en liefde kan baie sterk wees. Dit is natuurlik en in ooreenstemming met God se reëling (Joh. 16:21). Maar hierdie sterk bande kan ook vir Christene ’n moeilike toets meebring. Jesus het verduidelik dat familieteenstand een gevolg kan wees wanneer ’n persoon ’n Christen word. Jesus het gesê: “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie.”—Matt. 10:34-38.

6 Christene wil nie hê dat sulke vyandskap moet bestaan nie. En daar bestaan geen rede waarom familielede hulle moet teëstaan of haat omdat hulle rein, sedelike, eerlike knegte van God geword het nie. Maar ware Christene besef dat hulle nie hulle gesin voor God kan stel nie. Op die lange duur is dit in almal se belang dat Christene aan God getrou bly. Hulle kan mettertyd hulle familielede beïnvloed om die weg na redding te bewandel.—Rom. 9:1-3; 1 Kor. 7:12-16.

7, 8. Wie dra die skuld vir familieprobleme wat as gevolg van uitsetting ontstaan? (Deut. 32:4)

7 Familielede kan ook op ’n ander manier vir ware Christene probleme skep. Dit kan gebeur wanneer ’n familielid uitgesit word. Soos in die voorgaande artikels bespreek is, verwag God dat ’n persoon in die gemeente wat sonder berou growwe sonde beoefen, uitgesit word (1 Kor. 5:11-13). Die gedrag van die oortreder het sy verhouding met Jehovah verander, en dus ook met familielede wat Jehovah se Getuies is. God kan nie die skuld hiervoor kry nie, want sy standaarde is regverdig en reg (Job 34:10, 12). En die fout lê ook nie by die getroue Christenfamilielede nie. Dit is die uitgesette persoon wat probleme vir homself en vir sy familielede geskep het, net soos Korag, Datan en Abiram gedoen het.

8 Ons moet twee onderskeie situasies ondersoek. Die eerste is waar ’n Christen in dieselfde huis saam met ’n uitgesette of gedisassosieerde familielid woon. Die tweede is waar ’n familielid nie deel van die gesinskring is nie.

IN DIE GESINSKRING

9. Wat is die situasie ten opsigte van gesinsverpligtinge as ’n persoon se huweliksmaat nie ’n Christen is nie of uitgesit is?

9 ’n Persoon kan ’n Christen word sonder dat ander in sy gesin die geloof aanneem. Byvoorbeeld, ’n vrou kan Jehovah dien, maar haar man nie. Sy is nietemin nog “een vlees” met haar man en verplig om hom lief te hê en te respekteer (Gen. 2:24; 1 Pet. 3:16). Of sy kan getroud wees met ’n man wat ’n toegewyde Christen was maar wat later uit die gemeente gesit is. Dit sou egter nie ’n einde aan hulle huweliksbande maak nie; slegs die dood of ’n Skriftuurlike egskeiding sou dit doen.—1 Kor. 7:39; Matt. 19:9.

10, 11. Hoe raak uitsetting geestelike bande in die huis?

10 As ’n familielid, soos ’n ouer, ’n seun of ’n dogter, uitgesit word of homself disassosieer, bestaan bloed- en familiebande eweneens voort. Beteken dit dan dat alles dieselfde in die gesinskring bly wanneer een lid uitgesit word? Beslis nie.

11 ’n Uitgesette persoon is geestelik van die gemeente afgesny; die vorige geestelike bande is heeltemal verbreek. Dit is waar selfs ten opsigte van sy familielede, met inbegrip van diegene in sy gesinskring. Hoewel familielede familiebande sal erken, sal hulle gevolglik nie langer enige geestelike omgang met hom hê nie.—1 Sam. 28:6; Spr. 15:8, 9.

12. Watter veranderinge in geestelike omgang kan plaasvind wanneer ’n gesinslid uitgesit word?

12 Dit sal veranderinge beteken in die geestelike omgang wat in die huis bestaan het. As die man byvoorbeeld uitgesit is, sal sy vrou en kinders nie gemaklik voel wanneer hy ’n gesins-Bybelstudie hou, die Bybel vir hulle voorlees of hulle in gebed voorgaan nie. As hy wil bid, soos met maaltye, het hy die reg om dit in sy eie huis te doen. Maar hulle kan stil hulle eie gebede tot God doen (Spr. 28:9; Ps. 119:145, 146). Maar gestel dat ’n uitgesette persoon in die huis teenwoordig wil wees wanneer die gesin die Bybel saam lees of ’n Bybelstudie hou. Die ander kan hom toelaat om te kom luister mits hy nie probeer om hulle te leer of sy godsdiens idees te verkondig nie.

13. Wat sal ouers met ’n uitgesette kind in die huis doen?

13 As ’n minderjarige kind uitgesit word, sal die ouers steeds in sy fisiese behoeftes en die nodige morele opleiding en dissipline voorsien. Hulle sal nie regstreeks met die kind ’n Bybelstudie hou waaraan hy kan deelneem nie. Maar dit beteken nie dat daar nie van hom verwag sal word om die gesinstudie by te woon nie. En hulle kan die aandag op dele van die Bybel of Christelike publikasies vestig wat raad bevat wat hy nodig het (Spr. 1:8-19; 6:20-22; 29:17; Ef. 6:4). Hulle kan hom saambring Christenvergaderinge toe en hom by hulle laat sit in die hoop dat hy Bybelse raad ter harte sal neem.

14, 15. Wat moet gedoen word wanneer ’n uitgesette ouer wil terugtrek huis toe?

14 Maar sê nou dat ’n naverwant, soos ’n seun of ouer wat nie in die huis woon nie, uitgesit word en daarna wil terugtrek huis toe? Die gesin kan besluit wat om te doen, afhangende van die situasie.a

15 ’n Uitgesette ouer kan byvoorbeeld siek wees of nie langer in staat wees om finansieel of fisies vir homself te sorg nie. Die Christenkinders het ’n Skriftuurlike en morele verpligting om hulp te verleen (1 Tim. 5:8). Dit lyk miskien of dit nodig is om die ouer, tydelik of permanent, in die huis in te neem. Of dit lyk dalk raadsaam om te reël dat die ouer versorg word by ’n plek waar daar mediese personeel is, maar waar hy of sy besoek moet word. Wat gedoen gaan word, sal afhang van faktore soos die ouer se ware behoeftes, sy gesindheid en die agting wat die hoof van die huisgesin vir die geestelike welsyn van die gesin het.

16, 17. (a) Hoe kan ouers reageer wanneer ’n uitgesette kind weer by hulle wil kom woon? (b) Wat kan ons hieromtrent leer uit die gelykenis van die verlore seun?

16 Dieselfde kan waar wees in die geval van ’n kind wat die huis verlaat het maar wat nou uitgesit of gedisassosieer is. Christenouers het soms ’n kind wat fisies of emosioneel siek geword het ’n ruk lank in die huis teruggeneem. Maar in elke geval kan die ouers die individuele omstandighede in ag neem. Het ’n uitgesette seun op sy eie gewoon, en kan hy dit nou nie meer doen nie? Of wil hy terugtrek hoofsaaklik omdat dit ’n makliker lewe sal wees? Wat van sy sedes en gesindheid? Sal hy “suurdeeg” in die huis inbring?—Gal. 5:9.

17 In Jesus se gelykenis van die verlore seun het die vader die terugkerende seun tegemoet gehardloop en hom toe teruggeneem. Die vader, wat die jong man se jammerlike toestand gesien het, het met natuurlike ouerlike besorgdheid gereageer. Ons kan egter daarop let dat die seun nie hoere huis toe gebring het of gekom het met die gedagte om sy sondige lewe in sy vader se huis voort te sit nie. Nee, hy het hartgrondige berou betuig en was klaarblyklik vasbeslote om weer ’n rein lewe te lei.—Luk. 15:11-32.

UITGESETTE FAMILIELEDE WAT NIE IN DIESELFDE HUIS WOON NIE

18, 19. (a) Hoe moet Christene omgang met uitgesette familielede buite die gesinskring beskou? (b) Waarom is hierdie posisie gepas? (2 Tim. 2:19)

18 Die tweede situasie wat ons moet bespreek, is die van ’n uitgesette of gedisassosieerde familielid wat nie ’n lid van die gesin is of in dieselfde huis woon nie. So ’n persoon is steeds ’n bloedverwant of ’n aangetroude familielid, en gevolglik moet daar dalk nou en dan na noodsaaklike gesinsaangeleenthede omgesien word. Dit is nietemin nie asof hy in dieselfde huis woon waar kontak en gesprekke nie vermy kan word nie. Ons moet die Bybel se geïnspireerde voorskrif duidelik in gedagte hou “om nie om te gaan met [enig]iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard . . . nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie”.—1 Kor. 5:11, vgl. NW.

19 Christene wat verwant is aan ’n uitgesette persoon wat nie in dieselfde huis woon nie, moet gevolglik onnodige omgang probeer vermy en selfs sakekontak tot ’n minimum beperk. Die redelikheid van hierdie handelwyse blyk uit verslae van wat gebeur het wanneer familielede die verkeerde beskouing gehad het: ‘Al is hy uitgesit, is ons verwant en kan ek hom net soos tevore behandel.’ Een berig het byvoorbeeld gelui:

“Een persoon wat uitgesit is, was aan omtrent ’n derde van die gemeente verwant. Al sy familielede het voortgegaan om met hom te assosieer.”

En ’n hoogs gerespekteerde Christen ouere man skryf:

“ln ons gebied word party uitgesette persone met groot gesinne hartlik op die rug geklop en met die hand gegroet wanneer hulle by die voorportaal van die Koninkryksaal instap (selfs al was dit bekend dat die uitgesette persoon nog steeds onsedelik gelewe het). Dit is vir my ’n saak van erns dat diegene wat uitgesit is, moet sien dat Jehovah en sy volk hulle handelwyse haat en dat hulle bewus moet wees van die nodigheid om opreg berouvol te wees. Wat sal hierdie uitgesette persone help om te verander as hulle voortdurend gegroet word deur almal in hulle groot families wat van hulle gebruike weet?”

20, 21. Waarom moet ons versigtig wees waar dit by uitgesette familielede kom? (2 Tim. 2:22)

20 Daar moes gemeentes in die eerste eeu gewees het waar baie aan mekaar verwant was. Maar moes al die familielede die uitgesette persoon net soos tevore behandel net solank hulle nie Skriftuurlike sake met hom bespreek het nie? Nee. Anders sou die gemeente nie werklik gehoorsaam gewees het aan die bevel nie: “Verwyder tog die slegte mens onder julle uit.”—1 Kor. 5:13.

21 Groot sorg moet aan die dag gelê word dat ’n persoon se situasie as ’n uitgesette sondaar nie verskoon of vergoelik word nie. Soos die seuns van Korag goed getoon het, moet ons allereers aan Jehovah en sy teokratiese reëling lojaal wees. Ons kan daarvan seker wees dat ons sy beskerming en seën sal geniet as ons sy standaarde handhaaf en omgang met sy georganiseerde volk verkies bo die met oortreders.—Ps. 84:11-13.

SOSIALE GELEENTHEDE EN UITGESETTE FAMILIELEDE

22. Waarom kan familiesaamtrekke spesiale probleme oplewer wanneer daar uitgesette familielede is?

22 Familielede is gewoonlik dikwels bymekaar tydens maaltye, pieknieks, familiereünies of ander sosiale geleenthede. Maar wanneer iemand onberouvol sonde nagejaag het en uitgesit moes word, kan hy vir sy Christenfamilielede probleme skep waar dit by sulke gesellighede kom. Alhoewel hulle besef dat hulle steeds aan hom verwant is, wil hulle nie Paulus se raad ignoreer dat getroue Christene ‘nie moet omgaan’ met ’n uitgesette sondaar nie.

23. Wat is die situasie van ’n uitgesette familielid in die geval van ’n Christentroue?

23 Dit het geen sin om na ’n reël te soek oor familielede se teenwoordigheid by gesellighede waar ’n uitgesette familielid teenwoordig is nie. Dit is iets waaroor die betrokke persone in ooreenstemming met Paulus se raad moet besluit (1 Kor. 5:11). En tog moet ’n mens besef dat indien ’n uitgesette persoon by ’n geselligheid gaan wees waarheen daar Getuies genooi is wat nie aan hom verwant is nie, dit ’n uit werking kan hê op wat ander doen. ’n Christenpaartjie wil miskien in ’n Koninkryksaal trou. As ’n uitgesette familielid vir die troue na die Koninkryksaal kom, spreek dit vanself dat hy nie aldaar ’n lid van die bruidstoet kan wees of die bruid kan “afgee” nie. Maar gestel daar is ’n bruilof of onthaal? Dit kan ’n aangename sosiale geleentheid wees, soos die een in Kana wat Jesus bygewoon het (Joh. 2:1, 2). Maar sal die uitgesette familielid toegelaat word om dit by te woon of selfs genooi word? As hy daar gaan wees, kan baie Christene, hetsy familielede of nie, in die lig van Paulus se voorskrifte in 1 Korinthiërs 5:11, besluit dat hulle nie daar moet wees om saam met hom te eet en met hom te assosieer nie.

24. Watter omgang kan lojale Christene die meeste geniet? (Spr. 18:24)

24 Soms sal Christene dus meen dat hulle nie ’n uitgesette of gedisassosieerde familielid na ’n geleentheid kan nooi wat normaalweg familielede sou ingesluit het nie. Die Christene kan nietemin omgang met die lojale lede van die gemeente geniet, gedagtig aan Jesus se woorde: “Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.”—Mark. 3:35.

25, 26. Wat sal die situasie ten opsigte van ’n begrafnis wees as ’n uitgesette familielid sterf?

25 Die feit is dat wanneer ’n Christen hom aan sonde oorgee en uitgesit moet word, hy baie verbeur: sy goedgekeurde naam by God; lidmaatskap in die gelukkige gemeente Christene; soete omgang met die broers, met inbegrip van baie van die omgang wat hy met Christenfamilielede gehad het (1 Pet. 2:17). Die pyn wat hy veroorsaak het, kan selfs na sy dood voortduur.

26 As hy sou sterf terwyl hy uitgesit is, kan reëlings vir sy begrafnis ’n probleem skep. Sy Christenfamilielede sou miskien graag ’n toespraak by die Koninkryksaal wou hê, indien dit die plaaslike gebruik is. Maar dit sal nie gepas wees vir ’n persoon wat uit die gemeente gesit is nie. As hy blyke gelewer het dat hy berouvol is en God se vergifnis wil hê, soos om sy sonde te staak en deur Christenvergaderinge by te woon, sal ’n broer se gewete hom dalk toelaat om ’n Bybeltoespraak by die roulokaal of graf te hou. Sulke Bybelse kommentare oor die toestand van die dode bied ’n getuienis aan ongelowiges of troos vir die familielede. Maar as die uitgesette persoon aangehou het om valse leerstellings of goddelose gedrag voor te staan, sal selfs so ’n toespraak nie gepas wees nie.—2 Joh. 9-11.

LESSE VIR ONS ALMAL

27. Hoe moet ons God se oordele beskou?

27 Ons moet almal besef dat dit Jehovah se oordeel is wat van belang is (Spr. 29:26). Dit geld vir haatlike gebruike, want die Bybel toon dat dit dinge is wat God verafsku (Spr. 6:16-19). Maar dit geld ook vir sy beoordeling van individue. Jehovah se Woord sê duidelik dat “onregverdiges”, diegene wat die “werke van die vlees” beoefen, nie sy koninkryk sal beërf nie (1 Kor. 6:9, 10; Gal. 5:19-21). Sulke persone het geen plek in die hemel nie, en hulle sal ook nie in die aardse ryk van die Koninkryk pas nie. Enigeen wat vandag in die rein gemeente van God wil bly, moet gevolglik aan Sy standaarde voldoen. God sal eenvoudig nie toelaat dat “suurdeeg” as ’n verderflike invloed onder sy heilige volk bly nie.—1 Kor. 5:6-13.

28. Hoe kan uitsetting ons lojaliteit op die proef stel?

28 Indien ’n naverwant uitgesit word, kan menslike gevoelens natuurlik vir ons ’n groot toets wees. Sentiment en familiebande is veral sterk tussen ouers en hulle kinders, en dit is ook baie sterk wanneer ’n huweliksmaat uitgesit word. Ons moet nietemin erken dat ons, op stuk van sake, niemand sal help of God sal behaag as ons toelaat dat emosie ons oorreed om Sy wyse raad en leiding te ignoreer nie. Ons moet ons volkome vertroue in die volmaakte regverdigheid van God se weë, onder meer sy voorsiening om onberouvolle oortreders uit te sit, toon. As ons aan God en aan die gemeente getrou bly, kan die oortreder mettertyd ’n les daaruit leer, berou kry en in die gemeente herstel word. Maar of dit nou gebeur of nie, ons kan troos en krag put uit wat Dawid laat in sy lewe gesê het: “Al [God se] verordeninge was voor my, . . . So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy oë. By die [lojale] betoon U Uself [lojaal], by die opregte man opreg, by die reine, rein . . . En U verlos die verdrukte volk.”—2 Sam. 22:23-28, vgl. NW.

[Voetnoot]

a Kommentare oor die situasie van ouere manne en bedieningsknegte word gevind in “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Mei 1978.

[Prent op bladsy 25]

’n Uitgesette ouer moet miskien in die huis van Christenkinders versorg word.

[Prent op bladsy 26]

Die verlore seun het nie teruggekeer huis toe om met sy sondige lewe voort te gaan nie, maar was berouvol. Sy vader het hom teruggeneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel