Hoe om uitsetting te beskou
“HERE, wie . . . mag woon op u heilig berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen.”—Ps. 15:1, 2.
1, 2. Hoe weet ons dat God verwag dat sy aanbidders volgens sy standaarde moet lewe?
JEHOVAH is regverdig en heilig. Alhoewel hy onvolmaakte mense met barmhartigheid en begrip behandel, verwag hy dat diegene wat hom aanbid sy heiligheid weerspieël deur volgens sy regverdige standaarde te probeer lewe.—Ps. 103:8-14; Num. 15:40.
2 ’n Israeliet wat opsetlik God se gebooie, soos dié teen afvalligheid, owerspel of moord, oortree het, moes uitgeroei, gedood, word (Num. 15:30, 31; 35:31; Deut. 13:1-5; Lev. 20:10). Hierdie ferme handhawing van God se redelike en regverdige standaarde was goed vir alle Israeliete, want dit het gehelp om die gemeente se reinheid te bewaar. En dit het verhoed dat enigiemand verdorwenheid versprei onder die volk wat God se naam gedra het.
3. Wat was die situasie van ’n Jood wat uit die sinagoge geban is?
3 In die eerste eeu G.J. het die Jode onder Romeinse bewind nie die gesag gehad om die doodstraf te voltrek nie (Joh. 18:28-31). Maar ’n Jood wat die Wet oortree het, kon uit die sinagoge geban word. Die gevolg van hierdie kwaai straf was dat ander Jode die banneling sou vermy. Daar is gesê dat ander nie eens sake met hom sou doen nie benewens om die lewensbenodigdhede aan hom te verkoop.a—Joh. 9:22; 12:42; 16:2.
4, 5. Wat moes die Christengemeente met ’n onberouvolle sondaar doen?
4 Nadat die Christengemeente gestig is, het dit die Joodse nasie vervang as die groep wat God se naam dra (Matt. 21:43; Hand. 15:14). Daar kon dienooreenkomstig tereg van Christene verwag word om Jehovah se geregtigheid te handhaaf. Die apostel Petrus het geskryf: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:14-16). Jehovah het sy volk lief en wil die reinheid van die Christengemeente beskerm. Hy het dus ’n voorsiening uiteengesit om ’n persoon wat volhard op ’n weg wat God onteer en die gemeente in gevaar stel te verwerp of uit te sit.
5 Die apostel Paulus het aangeraai: “Aan ’n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ’n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan” (Tit. 3:10, 11). Ja, geestelike ouere manne, soos Titus was, probeer eers om ’n oortreder liefdevol te help. As hy nie op hulle hulp reageer nie en op ’n weg van “sonde” volhard, het hulle die gesag om ’n komitee van ouere manne by een te roep om “die wat in die gemeente is” te oordeel (1 Kor. 5:12, Die Lewende Nuwe Testament). Liefde vir God en vir die reinheid van sy volk verg dat diegene in die “gemeente” daardie man verwerp.
6. Waarom was dit reg en behoorlik om onberouvolle sondaar uit te sit?
6 In die eerste eeu het party sulke oortreders hul verskyning gemaak. Himeneüs en Alexander was onder hulle, manne wat “aan die geloof skipbreuk gely” het. Paulus het gesê dat hy hulle “aan die Satan oorgelewer het, sodat hulle [deur tugtiging] kan leer om nie te laster nie” (1 Tim. 1:19, 20, vgl. NW). Die uitsetting van daardie twee manne was kwaai kastyding, of tugtiging, ’n straf wat hulle dalk kon leer om nie die heilige en lewende God te laster nie. (Vergelyk Lukas 23:16, waar die basiese Griekse woord wat dikwels met “tugtiging” weergegee word, gebruik word.) Dit was reg dat hierdie lasteraars aan die mag van Satan oorgelewer en in die duisternis van die wêreld onder Satan se invloed gewerp word.—2 Kor. 4:4; Ef. 4:17-19; 1 Joh. 5:19; vergelyk Handelinge 26:18.
HOE OM UITGESETTE PERSONE TE BEHANDEL
7, 8. Hoe kan ons bepaal wat ons gedrag teenoor ’n uitgesette persoon moet wees?
7 Daar kan egter vrae ontstaan oor hoe ons ’n voormalige lid wat uitgesit is, moet behandel. Gelukkig het God in sy woord antwoorde en riglyne voorsien wat ons seker kan wees volmaak, regverdig en reg is.—Jer. 17:10; Deut. 32:4.
8 Op een stadium het ’n man in die gemeente in Korinthe onsedelik gelewe en was hy klaarblyklik onberouvol. Paulus het geskryf dat hierdie man ‘onder hulle uit verwyder moes word’, want hy was soos ’n bietjie suurdeeg wat die hele deeg suur of verdorwe kon maak (1 Kor. 5:1, 2, 6). Maar moes hy, nadat hy uitgesit is, behandel word asof hy ’n gewone persoon van die wêreld is wat die Christene in hulle buurt of daaglikse lewe kan teëkom? Let op wat Paulus gesê het.
9. Wat was Paulus se raad oor ons handelinge met onregverdiges oor die algemeen?
9 “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie—dit wil sê, nie hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars oor die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan” (1 Kor. 5:9, 10). Met hierdie woorde erken Paulus realisties dat die meeste persone met wie ons in ons daaglikse omgang in aanraking kom, nog nooit God se weg geken of bewandel het nie. Hulle is moontlik hoereerders, rowers of afgodedienaars, en daarom nie persone wat Christene as hulle gereelde, intieme metgeselle sal kies nie. Ons lewe nogtans op hierdie planeet tussen mense en kom by die werk, by die skool en in die buurt met sulke mense in aanraking en moet met hulle praat.
10, 11. Waarom moet Christene anders optree teenoor ’n sondaar wat uitgesit is?
10 In die volgende vers tref Paulus ’n teenstelling tussen hierdie situasie en hoe Christene hulself moet gedra teenoor iemand wat ’n Christen-“broeder” was, maar wat as gevolg van oortreding uit die gemeente gesit is: “Maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”—1 Kor. 5:11.
11 Die uitgesette persoon is nie bloot ’n man van die wêreld wat God nie geken het of nie ’n godvrugtige lewenswyse het nie. Inteendeel, hy het die weg van die waarheid en geregtigheid geken, maar daardie weg verlaat en onberouvol sonde beoefen sodat hy uitgesit moes word. Hy moet dus anders behandel word.b Petrus het kommentaar gelewer oor hoe sulke voormalige Christene van die “gewone” man verskil. Die apostel het gesê: “As hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. . . . Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord se: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.”—2 Pet. 2:20-22; 1 Kor. 6:11.
12. (a) Waarom is “uitsetting” ’n gepaste term? (b) Wat toon die geskiedenis oor die wyse waarop persone wat die Christelike godsdiens bely het sondaars in vroeë tye behandel het?
12 Ja, die Bybel beveel Christene om nie om te gaan met ’n persoon wat uit die gemeente gesit is nie. Die woord “uitsetting” is dus ’n gepaste term wat Jehovah se Getuies gebruik vir die banning en daaropvolgende vermyding van so ’n onberouvolle oortreder. Hulle weiering om op enige geestelike of sosiale vlak met ’n uitgesette persoon om te gaan, weerspieël lojaliteit aan God se standaarde en gehoorsaamheid aan sy bevel in 1 Korintiërs 5:11, 13. Dit strook met Jesus se raad dat so ’n persoon beskou moet word net soos “die heiden” destyds deur die Jode beskou is. Nadat die apostels gesterf het, het diegene wat die Christelike godsdiens bely het klaarblyklik die Bybelse prosedure ’n ruk lank gevolg.c Maar hoeveel kerke pas vandag God se duidelike voorskrifte in hierdie verband toe?
DIEGENE WAT HULSELF DISASSOSIEER
13. Wat moet gedoen word in die geval van ’n persoon wat swak en onbedrywig word?
13 ’n Christen kan geestelik swak word, moontlik omdat hy nie God se woord gereeld bestudeer nie, persoonlike probleme het of vervolging verduur (1 Kor. 11:30: Rom. 14:1). So ’n persoon kan ophou om Christenvergaderinge by te woon. Wat moet gedoen word? Jy sal onthou dat die apostels Jesus op die nag van sy inhegtenisname verlaat het. Christus het Petrus egter aangespoor: “As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers [wat Jesus ook verlaat het] versterk” (Luk. 22:32, NTP). Uit Christelike liefde kan ouere manne en ander die persoon wat swak en onbedrywig geword het, besoek en help (1 Thess. 5:14; Rom. 15:1; Hebr. 12:12, 13). Dit is egter ’n ander saak wanneer ’n persoon sy Christenskap verwerp en homself disassosieer.
14. Hoe kan ’n persoon homself disassosieer?
14 Iemand wat ’n ware Christen was, kan die weg van die waarheid verloën en sê dat hy hom nie langer as een van Jehovah se Getuies beskou of as een bekend wil staan nie. Wanneer hierdie seldsame gebeurtenis plaasvind, verloën die persoon sy Christenskap en disassosieer hy hom met voorbedagte rade van die gemeente. Die apostel Johannes het geskryf: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het.”—1 Joh. 2:19.
15, 16. (a) Op watter ander manier kan ’n persoon homself disassosieer? (b) Hoe moet Christene gedisassosieerde persone beskou en behandel?
15 Of ’n persoon kan sy plek in die Christengemeente deur sy dade verloën, byvoorbeeld deur deel te word van ’n organisasie waarvan die oogmerk strydig met die Bybel is en gevolglik deur Jehovah God veroordeel word. (Vergelyk Openbaring 19:17-21; Jesaja 2:4.) As iemand wat ’n Christen was dus verkies om aan te sluit by diegene wat deur God afgekeur word, sal dit vir die gemeente gepas wees om deur ’n kort aankondiging te erken dat hy hom gedisassosieer het en nie langer een van Jehovah se Getuies is nie.
16 Persone wat hulle aan ons onttrek deur met voorbedagte rade die geloof en opvattings van Jehovah se Getuies te verwerp, moet gepas beskou en behandel word soos diegene wat weens oortreding uitgesit is.
SAMEWERKING MET DIE GEMEENTE
17, 18. Wat behels samewerking met die gemeente op die gebied van uitsetting?
17 Alhoewel Christene geestelike omgang geniet wanneer hulle die Bybel saam met hulle broers of belangstellendes bespreek of bestudeer, sal hulle nie sulke omgang met ’n uitgesette sondaar (of iemand wat die geloof en opvattings van Jehovah se Getuies verwerp het en homself aldus gedisassosieer het) wil hê nie. Diegene in die gemeente het hulle aan die uitgesette persoon “onttrek” daar hy “selfveroordeeld” staan omdat hy “sonde doen”, en hulle aanvaar en handhaaf God se oordeel. Maar uitsetting impliseer meer as net die beëindiging van geestelike omgang.—Tit. 3:10, 11.
18 Paulus het geskryf: “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met [so] iemand [nie], . . . met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie” (1 Kor. 5:11). ’n Maaltyd is ’n tyd vir ontspanning en gesellige omgang. Die Bybel verbied hier dus ook sosiale omgang, soos om saam met ’n uitgesette persoon na ’n piekniek, partytjie, balwedstryd, die strand of bioskoop te gaan, of ’n maaltyd saam met hom te nuttig.d (Die spesiale probleme wanneer dit ’n familielid is wat uitgesit is, word in die volgende artikel bespreek.)
19. Waarom lyk dit soms moeilik om ’n uitsetting te handhaaf, maar waarom is dit belangrik dat ons dit doen?
19 Soms kan ’n Christen baie druk ervaar om hierdie Bybelraad te ignoreer. Sy eie gevoelens kan die druk veroorsaak, of dit kan deur kennisse uitgeoefen word. Daar is byvoorbeeld druk op een broer uitgeoefen om die huweliksbevestiging van twee uitgesette persone waar te neem. Kon daardie diens bloot as ’n vriendelike daad verklaar word? ’n Mens kan so dink. Maar waarom wou hulle sy dienste hê, en nie die van die landdros of ’n ander huweliksbeampte van die staat nie? Was dit nie weens sy posisie as ’n bedienaar van God en sy vermoë om huweliksraad uit God se Woord te gee nie? Indien hy voor sulke druk sou swig, sou dit lei tot omgang met die paartjie, persone wat weens hulle goddelose optrede uit die gemeente gesit is.—1 Kor. 5:13.
20. Wat moet ons reaksie wees wanneer iemand saam met wie ons werk, uitgesit word?
20 Ander probleme ontstaan in verband met sake of werkverskaffing. Gestel jy werk vir ’n man wat nou deur die gemeente uitgesit is, of dit het met een van jou werknemers gebeur. Wat dan? Indien jy deur ’n kontrak of finansieel verplig is om die sakeverhouding voorlopig voort te sit, sal jy nou beslis ’n ander gesindheid teenoor die uitgesette persoon hê. Dit is dalk nodig om sakeaangeleenthede met hom te bespreek of by die werk met hom in aanraking te kom, maar geestelike gesprekke en sosiale omgang sal tot die verlede behoort. So kan jy jou gehoorsaamheid aan God toon en jouself beskerm. Dit kan hom ook laat besef hoe veel sy sonde hom op verskillende maniere gekos het.—2 Kor. 6:14, 17.
MAG JY MET ’N UITGESETTE OF GEDISASSOSIEERDE PERSOON PRAAT?
21, 22. Watter raad gee die Skrif oor gesprekke met ’n uitgesette persoon?
21 Beteken die handhawing van God se geregtigheid en sy uitsettingsreëling dat ’n Christen glad nie met ’n uitgesette persoon mag praat en nie eens “Hallo” mag sê nie? Party het hieroor gewonder, in die lig van Jesus se raad om ons vyande lief te hê en nie ‘net ons broeders te groet’ nie.—Matt. 5:43-47.
22 In sy wysheid het God inderdaad nie probeer om elke moontlike situasie te dek nie. Wat ons moet doen, is om die sin te kry van wat Jehovah oor die behandeling van ’n uitgesette persoon sê, want dan kan ons daarna streef om Sy beskouing te handhaaf. Deur die apostel Johannes verduidelik God:
“Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. . . . As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”—2 Joh. 9-11.
23, 24. Waarom is dit verstandig om nie met uitgesette persone te praat nie?
23 Die apostel wat daardie verstandige waarskuwing gerig het, was na aan Jesus en het goed geweet wat Christus oor begroetinge gesê het. Hy het ook geweet dat die algemene groet van daardie tyd “Vrede” was. In teenstelling met ’n persoonlike “vyand” of wêreldse hoogwaardigheidsbekleër wat Christene teëgestaan het, is ’n uitgesette of gedisassosieerde persoon wat probeer om sy afvallige denke te verkondig of te regverdig of wat met sy goddelose gedrag voortgaan, beslis nie iemand wat “Vrede” toegewens moet word nie (1 Tim. 2:1, 2). En ons weet almal uit ons ondervinding deur die jare heen dat net om vir iemand “Hallo” te sê die eerste stap kan wees wat tot ’n gesprek of moontlik selfs ’n vriendskap kan lei. Wil ons daardie eerste stap teenoor ’n uitgesette persoon doen?
24 ‘Maar sê nou dit lyk of hy berouvol is en aanmoediging nodig het?’ sal iemand wonder. Daar is ’n voorsiening vir die hantering van sulke situasies. Die opsieners in die gemeente dien as geestelike herders en beskermers van die kudde (Hebr. 13:17; 1 Pet. 5:2). As ’n uitgesette of gedisassosieerde persoon navraag doen of blyke lewer dat hy weer God se guns wil geniet, kan die ouere manne met hom praat. Hulle sal vriendelik verduidelik wat hy moet doen en hom moontlik gepas vermaan. Hulle kan met hom handel op grond van die feite omtrent sy sonde in die verlede en sy gesindheid. Ander in die gemeente besit nie sulke informasie nie. Is dit, as iemand meen dat die uitgesette of gedisassosieerde persoon ‘berouvol is’, moontlik ’n oordeel wat gebaseer is op indruk eerder as op juiste informasie? As die opsieners daarvan oortuig is dat die persoon berouvol is en die vrugte van beroue voortbring, sal hy in die gemeente herstel word. Wanneer dit gebeur, kan die res van die gemeente hom hartlik by die vergaderinge verwelkom, vergifnis toon, hom troos en hulle liefde vir hom bevestig, soos Paulus die Korinthiërs aangespoor het om te doen teenoor die man wat in Korinthe herstel is.—2 Kor. 2:5-8.
GEEN GEMEENSKAP AAN BOSE WERKE NIE
25, 26. Wat sê God oor “gemeenskap” met ’n uitgesette persoon?
25 Alle getroue Christene moet die ernstige waarheid wat God Johannes geïnspireer het om neer te skryf ter harte neem: “Die een wat hom [’n uitgesette sondaar wat ’n dwaalleer verkondig of aanhou om hom goddeloos te gedra] groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”—2 Joh. 11.
26 Baie van die valse Christendom se kommentators maak beswaar teen 2 Johannes 11. Hulle beweer dat dit ‘onchristelike raad is wat strydig is met die gees van onse Here’, of dat dit onverdraagsaamheid voorstaan. Maar sulke gevoelens kom van godsdiensorganisasies wat nie God se bevel om ‘dié slegte mens onder julle uit te verwyder’ gehoorsaam nie en wat selde indien ooit selfs berugte oortreders ekskommuniseer (1 Kor. 5:13). Hulle “verdraagsaamheid” is onskriftuurlik, onchristelik.—Matt. 7:21-23; 25:24-30; Joh. 8:44.
27. Hoe kan ’n Christen sulke “gemeenskap” hê, en met watter gevolg?
27 Maar dit is nie verkeerd om aan die regverdige en billike God van die Bybel lojaal te wees nie. Hy sê vir ons dat hy slegs diegene wat opreg wandel, geregtigheid doen en die waarheid spreek ‘op sy heilige berg’ sal toelaat (Ps. 15:1-5). Maar as ’n Christen sy lot sou inwerp met ’n oortreder wat deur God verwerp en uitgesit is, of homself gedisassosieer het, sou dit wees asof hy sê: ‘Ek wil ook nie ’n plek op God se heilige berg hê nie.’ As die ouere manne sien dat hy in daardie rigting beweeg deur gereeld met ’n uitgesette persoon om te gaan, sal hulle hom liefde vol en geduldig probeer help om God se beskouing te verkry (Matt. 18:18; Gal. 6:1). Hulle sal hom vermaan en, indien nodig, “skerp bestraf”. Hulle wil hom help om ‘op God se heilige berg’ te bly. Maar as hy nie sy omgang met die uitgesette persoon wil staak nie, het hy ‘gemeenskap (ondersteuning of deelname) aan die bose werke’ en moet hy uit die gemeente verwyder word, uitgesit word.—Tit. 1:13; Jud. 22, 23; vergelyk Numeri 16:26.
LOJAAL AAN GOD SE BESKOUING
28. Hoe kan ons ons lojaliteit aan Jehovah se beskouing toon?
28 Lojaliteit aan Jehovah God en sy voorsienings is ’n bron van geluk, want al sy weë is regverdig, reg en goed. Dit is ook waar van sy voorsiening om onberouvolle oortreders uit te sit. Terwyl ons met daardie reëling saamwerk, kan ons op Dawid se woorde vertrou: “Weet tog dat die HERE vir Hom [sy lojale dienaar] afgesonder het” (Ps. 4:4, vgl. NW). Ja, God sonder diegene wat aan hom en sy weë lojaal is af, eer hulle en lei hulle. Die talle seëninge wat ons as gevolg van sulke lojaliteit ontvang, sluit die vreugde in om onder diegene te wees wat God goedkeur en ‘op sy heilige berg’ toelaat.—Ps. 84:11, 12.
[Voetnote]
a “Hy was voortaan soos ’n dooie. Hy is nie toegelaat om saam met ander te studeer nie, geen [sosiale] omgang is met hom geniet nie, ’n mens kon nie eens vir hom verduidelik hoe om êrens te kom nie. Hy kon nou wel die lewensbenodigdhede koop, maar dit was verbode om saam met so ’n persoon te eet of te drink.”—The Life and Times of Jesus the Messiah, deur A. Edersheim, Dl. II. bl. 184.
b In ooreenstemming met hierdie Bybelleerstelling, beklemtoon Adam Clarke die verskil waar hy sê: “Moet geen omgang met [’n uitgesette sondaar] hê wat heilige of burgerlike dinge betref nie. Jy kan jou sekulêre sake doen met ’n persoon wat God nie ken nie en wat nie die Christelike godsdiens bely nie, wat ook al sy morele karakter; maar jy mag nie ’n man wat bely dat hy ’n Christen is en hom skandelik gedra sulke erkenning verleen nie. Laat hom hierdie ekstra teken van jou walging vir alle sonde dra.”
c Kerkhistorikus Joseph Bingham skryf aangaande die vroeë eeue: “Die dissipline van die kerk het bestaan uit ’n mag om mense al die voordele en voorregte van doop te ontneem deur hulle uit die kerkgemeenskap te werp, . . . en almal het gewone gesprekke met hulle vermy, deels om die kerk se sensuur en optrede teen hulle te handhaaf, en deels om hulle skaam te maak, en deels om hulself teen die gevaar van besmetting te beskerm.” “. . . niemand moes geëkskommuniseerde persone in hulle huise ontvang of aan dieselfde tafel saam met hulle eet nie; terwyl hulle gelewe het, moes hulle nie gemeensaam met hulle verkeer nie; by hulle dood moes hulle nie die lykdiens vir hulle hou nie, . . . Hierdie voorskrifte was geskoei op die lees van daardie reëls van die apostels wat Christene verbied het om berugte oortreders te duld.”—The Antiquities of the Christian Church, ble. 880, 891.
d Ons nommer van 15 November 1981 het 2 Thessalonicense 3:14, 15 bespreek, waar die Bybel sê dat dit nodig kan wees om ’n Christen wat voortgaan om onordelik te wandel te “teken”. Hy is steeds ’n broer en moet as sodanig vermaan word, maar ander Christene moet “geen gemeenskap met hom [hou] nie”. As hulle sy omgang op ’n sosiale vlak moet vermy, moet daar ’n bale duideliker skeiding bestaan in die gevalle van oortreders wat uitgesit is of hulself gedisassosieer het.
e Kyk Die Wagtoring van 15 November 1981 vir ’n bespreking van berou.
ONTHOU JY HIERDIE GEDAGTES?
Hoe is Jode behandel wanneer hulle uit die sinagoge geban is?
Watter verskil bestaan daar volgens Paulus in die behandeling van
(1) onsedelike persone in die wêreld?
(2) onsedelike persone wat uit die gemeente gesit is?
Hoe moet Christene ’n persoon beskou wat hom van die gemeente disassosieer?
“Uitsetting” impliseer die beëindiging van watter soorte omgang?
Waarom groet of praat Christene nie met uitgesette persone nie?
Wat moet ons, met verwysing na uitsetting, doen om ‘op God se heilige berg’ te bly?
[Prent op bladsy 19]
Met ’n uitgesette persoon moet ’n mens “selfs nie saam eet nie”