Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 12/1 bl. 29-31
  • ’n Heuglike dag in Brasilië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Heuglike dag in Brasilië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • DIE BOUWERK
  • INWYDING
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 12/1 bl. 29-31

’N HEUGLIKE DAG IN BRASILIË

SATERDAG, 21 Maart 1981, was ’n heuglike dag vir Jehovah se Getuies in Brasilië. Op daardie dag is hulle ruim, nuwe hoofkwartierkompleks in Cesario Lange, 140 km van São Paulo af, ingewy. Dit was ook ’n belangrike dag vir die res van Brasilië. Waarom? Omdat die lewens van die meeste Brasiliane vroeër of later deur die bedrywighede van die vrywilligerwerkers in hierdie nuwe geboue geraak sal word.

Jehovah se Getuies het vinnig in Brasilië aangewas. In die twintigerjare het agt matrose wat Bybellektuur in New York bekom het, soontoe teruggekeer en hulle pasgevonde kennis met ander gedeel. Vanaf daardie klein begin het hulle vinnig toegeneem tot meer as 117 000.

As Christene is Jehovah se Getuies altyd besig om met hulle naaste oor die Bybel te praat, en hulle maak omvattend van Bybellektuur gebruik. Dit verklaar die behoefte aan ’n hoofkwartier vanwaar hulle werk georganiseer en waar hulle lektuur gedruk kan word. Hulle noem hulle hoofkwartier in elke land “Bethel”.

As gevolg van die toenemende aantal Getuies in Brasilië het die vorige Bethelhuis en drukkery in São Paulo te klein geword, is daar aangebou en het dit weer te klein geword. Daar is dus besluit om ’n splinternuwe kompleks op te rig. In 1977 is eiendom in Cesario Lange gekoop.

Die nuwe eiendom van 115 hektaar was onbewerk. Vrywilligers het dus slange en bye getrotseer om die land te onderwerp. Hulle het die gebied skoongemaak waar die gebou opgerig sou word en ’n stuk voorberei sodat dit gebruik kon word om groente te kweek en beeste aan te hou. Hulle het egter probeer om soveel bome moontlik te red en het daarin geslaag om 20 hektaar oerwoud te bewaar. Die Bethelgesin woon dus nou op die terrein saam met armadille, ystervarke, herte, wildekatte, muishonde, eekhorinkies en talle kleurryke en buitengewone voëls.

DIE BOUWERK

Die nuwe Bethel is waarlik pragtig in sy landelike omgewing. Dit is ook groot. Aangesien dit amper ses keer groter as die vorige een is, is daar baie ruimte vir toekomstige uitbreiding. Die agt geboue (onder meer ’n drukkery) het ’n vloerruimte van 46 000 vierkante meter. Altesaam 15 000 meter heipale is in die grond ingedryf vir die steunpilare—dit is amper twee keer so hoog soos Mount Everest!

Wie het die bouwerk gedoen? Wel, toe die grond gekoop is, het baie van Jehovah se Getuies dwarsoor die land hulle vaardighede en vakkundigheid aangebied. Daarbenewens het werknemers van ’n private kontrakteur, wat nie Getuies is nie, op die terrein gewerk. Op een stadium was daar 800.

Dit is baie mense. Het daar wanorde geheers? Nee. Die projek was so goed georganiseer dat ’n plaaslike koerant gesê het: “Daar is geen wanorde soos die wat gewoonlik onder die werkers aan ’n groot projek waargeneem word nie; sterk drank bestaan nie of kom selde voor op die terrein, waar vrede heers. Al die kos word daar voorberei. Die terrein is in werklikheid ’n miniatuurstadjie wat heeltemal selfversorgend is.”

Ernstige ongelukke kom ook algemeen by groot bouprojekte voor. Maar by hierdie een het goeie organisasie en gehoorsaamheid aan veiligheidsregulasies goeie vrugte afgewerp. Gedurende die hele boutydperk was daar geen groot ongeluk nie. Die Getuies is Jehovah hiervoor dankbaar.

Hoe is die projek gefinansier? Hoofsaaklik deur die vrywillige bydraes van Jehovah se Getuies in Brasilië en ander lande. Een jong Getuie het ’n spaarvarkie met hierdie nota gestuur: “Elke jaar spaar ek geld in ’n spaarvarkie om vir my ’n speelding te koop. My pa het my aangespoor om my spaarvarkie aan die [Wagtoring-] Genootskap te stuur. Ek weet dat Jehovah my hiervoor sal seën.”

INWYDING

Die dag vir die inwyding van die nuwe hoofkwartier—21 Maart 1981—het eindelik aangebreek. Daar was 3 607 Getuies van oor die hele land teenwoordig. Party het 4 000 kilometer afgelê om daar te wees. Ander wat nie teenwoordig kon wees nie, het hulle groete skriftelik gestuur, en daar was selfs ’n boodskap in Braille.

Onder die aanwesiges was daar persone met baie jare ondervinding. Charles D. Leathco, ’n gegradueerde van die heel eerste klas van die sendingskool Gilead, het vir die vergaderde menigte vertel hoe dit was om die verskillende gemeentes in 1945 te besoek. Destyds was daar slegs 30 gemeentes in die hele land, vergeleke met 2 100 vandag. Agenor da Paixão het vertel van die tyd toe hy in 1949 by Bethel begin werk het. Daar was destyds slegs 20 vrywilligerwerkers in die Brasiliaanse hoofkwartier. Daar is nou 280.

Maud Yuille se herinneringe het selfs verder teruggestrek. Sy en haar man het in 1936 in Brasilië aangekom toe daar slegs ongeveer 60 getuies van Jehovah in die land was. Daar is nou meer as 117 000. Twee-en-negentigjarige Maud Yuille werk nog steeds getrou in Bethel.

Ten slotte het Lloyd Barry, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, die inwydingsrede, gebaseer op 1 Kronieke 29:9-13, gehou. Hy het ook die pragtige woorde van koning Salomo tydens die inwyding van die tempel in Jerusalem gebruik en Jehovah God al die eer gegee vir die pragtige nuwe geboue wat nou gereed was om in Sy diens gebruik te word.

Aan die einde van die program was almal vreugdevol oor die dag se gebeure. En die woorde van Karl Rietz, wat die program geopen het, was ongetwyfeld nog in hulle gedagtes: “Bakstene kan nie preek nie. Sonder die verkondigers van die ‘goeie nuus’ sou hierdie geboue dus nooit gebou gewees het nie.” Hoe waar tog! Dit was die ywer van Jehovah se Getuies in Brasilië, en Jehovah se seën op hulle arbeid, wat hierdie bouprojek nodig gemaak het.

Noudat dit voltooi is, sal Jehovah se Getuies aanhou hard werk om die “goeie nuus” na die uithoeke van hierdie ontsaglike land te dra. Hierdie inwydingsdag was dus nie alleen vir Jehovah se Getuies ’n heuglike geleentheid nie, maar ook vir alle regskape persone in Brasilië.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel