“Verbly julle, o nasies, saam met sy volk”
1. Waarom is die Jode wat steeds die wet van Moses hou nie “sy volk” saam met wie die nasies hulle moet “verbly” nie?
WIE is “sy volk” saam met wie al die nasies hulle moet “verbly”? (Rom. 15:10). Dit was nie die Joodse volk nie. Die natuurlike Jode wat steeds probeer om die wet van Moses te hou, is gedurende die 1 900 jaar sedert 70 G.J., die jaar waarin eertydse Jerusalem deur die Romeinse legioene onder generaal Titus vernietig is, gehaat en vervolg. Eienaardig genoeg het nie eens die natuurlike Jode hulle saam met “sy volk”, Jehovah se volk, verheug nie. Aan die einde van ’n geïnspireerde lied wat in 1473 v.G.J. gesing is, was dit die Joodse profeet Moses wat gesing het: “Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.”—Deut. 32:43.
2. Wanneer is daar begin met die oorplasing van Jesus se volgelinge, “uit die mag van die duisternis . . . in die koninkryk van die Seun van sy liefde”?
2 Toe Paulus daardie woorde van Moses omstreeks 56 G.J. aangehaal en toegepas het, het Jesus al lank tevore, in 33 G.J., gesterf, opgestaan en opgevaar na die hemel. Vanaf Pinkster van daardie jaar was “sy volk”, Jehovah se volk, dus die toegewyde, gedoopte, geesverwekte dissipels van Jesus Christus. ’n Paar jaar later, omstreeks 60-61 G.J., het Paulus aan lede van Jehovah se “volk” in Kolosse geskryf en gesê: “[Dank] die Vader [Jehovah] . . . wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig—Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:12, 13). Hierdie oorplasing het op die Joodse Pinksterdag (6 Siwan) van 33 G.J. begin nadat Jesus teruggekeer het hemel toe.
3. Wat het hulle as gevolg van daardie oorplasing in die geestelike koninkryk van God se geliefde Seun ten behoewe van die Koning geword?
3 Deur middel van sy verheerlikte, koninklike Seun Jesus Christus het die hemelse Vader op daardie dag sy heilige gees eers op omtrent 120 wagtende dissipels in Jerusalem uitgegiet. Hulle is sodoende oorgebring uit die mag van wêreldlike duisternis in die geestelike koninkryk van God se geliefde Seun, Jesus Christus, “die lig van die wêreld” (Joh. 8:12). Daardie geestelike koninkryk is deur Jehovah God opgerig, en as die geestelike Koning het Jesus Christus daarin as Jehovah se minister van staat gedien. Om hierdie ministersamp te vervul, gebruik hy sy geesverwekte dissipels op aarde as “ambassadeurs wat optree in die plek van Christus” (2 Kor. 5:20, NW). Volgens die English Revised Version is hulle “ambassadeurs om Christus wil”. Sulke “ambassadeurs” het inderdaad ’n ministersamp, ’n staatsdiens.
4. (a) Uit wie bestaan God se “volk” saam met wie die nasies hulle moet “verbly” dus? (b) Waaroor moet die nie-Joodse nasies God verheerlik?
4 Dit is saam met sulke ambassadeurs dat al die nasies wat nie uit geestelike Israeliete bestaan nie hulle moet “verbly”. Waaroor? Die Christelike ambassadeur Paulus antwoord wanneer hy aan die gemeente in Rome skryf en se dat “Christus ’n dienaar geword het van die besnydenis [die natuurlike Jode] ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig; en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik” (Rom. 15:8, 9a). Wat was God se barmhartigheid aan die nie-Joodse “nasies”?
5. (a) Wat was daardie “barmhartigheid” van God teenoor die onbesnede nie-Jode? (b) Wanneer en aan wie is daardie “barmhartigheid” eerste betoon, en waartoe het hulle sodoende toegang verkry?
5 In die eerste eeu G.J. was God se “barmhartigheid” die volgende: Jehovah God het die onbesnede nie-Jode toegelaat om erfgename te word van die “beloftes” wat hy aan die voorvaders van die besnede Jode gemaak het. In die geval van onbesnede nie-Jode het dit in die jaar 36 G.J. begin toe die Romeinse hoofman Cornelius en sy gesin en vriende in Cesarea die apostel Petrus se bediening aanvaar het, met God se heilige gees gesalf is en gedoop is (Hand. hfst. 10). Ons weet nie of Cornelius en sy gesin Cesarea daarna verlaat het en na Italië teruggekeer het om lede van die gemeente in Rome te word, wat tot op daardie stadium uit besnede Joodse gelowiges en moontlik “Jodegenote” of proseliete bestaan het nie (Hand. 2:1-10). Maar van toe af het God “barmhartigheid” aan die gelowige, gedoopte nie-Jode getoon deur hulle ondanks hulle onbesnedenheid tot die geestelike “koninkryk” van sy geliefde Seun toe te laat.
6. (a) Waarvan het God se “barmhartigheid” in Paulus se dag die nasies toegelaat om deel te word? (b) Waarom kan hierdie ontvangers van God se “barmhartigheid” nie ministers in wêreldlike regerings wees nie?
6 Sodoende het die “nasies”, hetsy besnede Samaritane, besnede Egiptenaars of onbesnede nie-Jode, die voorreg gehad om lede van die ‘saad van Abraham’ te word waardeur al die geslagte van die aarde hulself sal moet seën (Gen. 12:3; 22:15-18; Gal. 3:3-29). Alhoewel hulle op die oomblik in die geestelike koninkryk van die Seun van God se liefde is, sal almal van hulle wat tot hulle aardse dood getrou bly, opgewek word tot die hemelse koninkryk van God. Daar sal hulle 1 000 jaar lank saam met Christus regeer om al die geslagte van die aarde te seën (Openb. 20:4-6). Intussen, terwyl hulle nog in die vlees op aarde is, het hulle die ministers-amp of “bediening” wat op hulle rus omdat hulle “ambassadeurs . . . in die plek van Christus” is en “die bediening van die woord” oor Jehovah se koninkryk in die hande van Christus vervul. Dientengevolge kan hulle nie ministers in politieke regerings van hierdie wêreld, wat deur die Duiwel beheer word, word nie.—Hand. 6:4.
OPENLIKE ERKENNING ONDER DIE NASIES
7. Watter standpunt neem hierdie “ambassadeurs” teenoor die botsings van hierdie wêreld in, en waarom hou hulle aan om hulle te verheug en nooi hulle ander om dit saam met hulle te doen?
7 Die Koninkryks-“ambassadeurs” neem ’n streng neutrale standpunt teenoor wêreldlike botsings in. Hulle weet dat “die [vasgestelde] tye van die nasies” in die vroeë noordelike herfs van die jaar 1914 en gedurende die derde maand van die Eerste Wêreldoorlog geëindig het (Luk. 21:24, vgl. NW). Toe het die nie-Joodse nasies se geleentheid om wêreldheerskappy uit te oefen, geëindig. Sulke wêreldlike nasies, onder meer die van die Christendom, weier hardnekkig om daardie feit te erken. Hulle staan dus die Christengetuies van Jehovah wat mense se aandag op daardie feit vestig teë en vervolg hulle. Al sulke vervolging is presies wat Bybelprofesieë voorspel het. Maar ondanks al hierdie dinge hou die “ambassadeurs” van God se opgerigte koninkryk aan om hulle te verheug. Hulle nooi die mense van alle nasies om hulle saam met hulle te verheug en om saam met hulle die koninkryk aan te kondig wat op die skouers van Jesus Christus geplaas is.
8. (a) Van wanneer af word ’n “groot menigte” uit alle nasionaliteite na die kant van God se opgerigte koninkryk versamel? (b) Wat besef hulle terdeë en watter barmhartige ondervinding wil hulle graag geniet?
8 In die noordelike lente van 1935 (Mei) het ’n “groot menigte” mense van alle nasies begin om hulle saam met die geesgesalfde “volk” van Jehovah, wat erfgename van sy hemelse koninkryk is, te verbly. Persone van alle nasionaliteite wat daardie “groot menigte” uitmaak en hulle verbly, stel intens daarin belang om aardse onderdane van God se duisendjarige koninkryk in die hande van Christus te word (Openb. 7:9-17; 22:17). Hulle sien duidelik dat “die koninkryk van die wêreld” aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 “die koninkryk van onse Heer [Jehovah] en van sy Christus geword het, en hy sal as koning regeer tot in alle ewigheid” (Openb. 11:15, NW). Hulle besef dat hulle lewe in die oorgangstydperk tussen die gedoemde politieke regerings van hierdie wêreld en die duisendjarige koninkryk van God se Messias of Christus. En hulle wil baie graag deur hierdie oorgangstydperk lewe en daardie nuwe orde op aarde onder daardie Messiaanse koninkryk binnegaan sonder om te sterf. Dit sal groot “barmhartigheid” van Jehovah God se kant teenoor hulle wees.
9. (a) Watter uitnodiging het die lede van die internasionale “groot menigte” aanvaar, en hoe het hulle dit gesimboliseer’? (b) Hoe het hulle as “skape” tydens hierdie voleinding van die wêreld aan Christus se geestelike “broeders” goed gedoen?
9 Ja, dit is selfs buitengewone “barmhartigheid” van Jehovah se kant dat “hierdie evangelie van die koninkryk” “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig is en dat hulle dit gehoor het (Matt. 24:14). Sedert die noordelike lente van 1935 benut diegene wat die “groot menigte” uitmaak God se “barmhartigheid” en het hulle gereageer op die uitnodiging om hulleself deur Christus aan Jehovah God toe te wy en het hulle hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, wat in Mattheüs 25:31-46 opgeteken is, toon dat hulle nou gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” goed moet doen aan sy uitverkorenes, sy geestelike broers (Matt. 24:3, 31). Dit sluit in dat hulle Christus se geestelike “broeders” moet help met die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” reg tot die komende “groot verdrukking” wat geen gelyke in die geskiedenis het nie (Matt. 24:14-22). Omdat hulle saam werk met die oorblyfsel ambassadeurs wat optree in die plek van Christus”, verkry hulle ’n nuwe status.
10. Watter nuwe status het die “groot menigte” verkry, en watter diens lewer hulle saam met die “ambassadeurs wat optree in die plek van Christus”?
10 Die “groot menigte” “skape” wat na Christus se regterkant van goedkeuring versamel word, dien as gesante van Christus in die heilige diens van sy koninkryk. Hulle ontvang ’n ministersamp of “bediening” in die belang van ’n koninklike regering “die koninkryk van die hemele”. Deur die voortreflike diens wat hulle saam met die Koninkryks-“ambassadeurs” verrig, toon hulle hulle dankbaarheid teenoor Jehovah God.
DIE BLYDSKAP VAN DIE NASIES IS VOORSPEL
11. Wie is die Een tot eer van wie se naam Dawid gesê het hy sal psalmsing, en hoe beskryf hy Hom?
11 Die apostel Paulus haal die psalmis, koning Dawid, aan wanneer hy vertel hoedat die nasies ‘God ter wille van sy barmhartigheid sal verheerlik’, wanneer Paulus voorts sê: “Soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof [openlik erken, NW] onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing” (Ps. 18:50; 2 Sam. 22:50; Rom. 15:9b). Die geïnspireerde psalmis het beskryf wie die Een is tot eer van wie se naam hy wil psalmsing toe hy die slotwoorde bygevoeg het: “Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.”—2 Sam. 22:51.
12. (a) Hoe het Jesus Christus, toe hy ’n man op aarde was, Jehovah “openlik erken” onder die nasies? (b) In watter provinsie het die verrese Jesus vir sy dissipels gesê wat hulle as sy “ambassadeurs” moes doen?
12 Die Grotere Dawid, naamlik Jesus Christus, het Jehovah God nie veel onder die nie-Joodse nasies gedank en geloof toe hy ’n volmaakte man hier op aarde was nie. Hy het wel ’n bietjie Koninkrykspredikingswerk gedoen onder die Samaritane en vir ’n Siro-Feniciese vrou uit wie se dogter hy ’n duiwel uitgedryf het. En ’n groot deel van sy predikingswerk is gedoen in wat Jesaja 9:1 (NW) “Galilea van die nasies” noem. Daar het hy Kapernaüm, langs die see van Galilea, die hoof-kwartier van sy Koninkryksprediking-kampanje gemaak (Matt. 4:12-15). Dit was na sy opstanding uit die dode dat hy in “Galilea van die nasies” vir sy dissipels wat “ambassadeurs . . . in die plek van Christus” was, gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Matt. 28:19.
13. (a) Op watter dag en hoe is die wagtende dissipels in Jerusalem gemagtig om hulle ambassadeursbediening te vervul? (b) Waar het hulle begin om Jehovah openlik onder die nasies te “erken”?
13 Etlike dae nadat die verrese Jesus sy gedoopte dissipels daardie opdrag gegee het, het Pinksterdag van 33 G.J. aangebreek. In die vroeë deel van die oggend van daardie dag het die verheerlikte Jesus die heilige gees van Jehovah God op ongeveer 120 dissipels in Jerusalem uitgestort. As gevolg van hulle predikingswerk daardie dag het so wat 3 000 Jode en Joodse proseliete die Koninkryksboodskap aanvaar en is hulle in water gedoop. Daarna het hierdie ontvangers van die heilige gees ook die ambassadeurswerk as plaasvervangers van Christus begin doen. Nadat vervolging in Jerusalem uitgebreek het, het party begin om Jehovah “openlik” onder die Samaritane en later ook onder onbesnede nie-Jode van Romeinse afkoms en ander te “erken”. Wanneer hulle gehoor het hoedat Jehovah openlik onder hulle erken en geloof word, kon die mense van alle nasionaliteite sy naam deur Christus aanroep om barmhartige redding te ontvang.
14. Watter woorde het die apostel Paulus vervolgens uit Deuteronomium 32:43 aangehaal, en wat moes die lede van Jehovah se volk doen om dit moontlik te maak?
14 Die apostel Paulus haal nog profesieë ter stawing van sy argument aan en sê: “En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk” (Rom. 15:10; Deut. 32:43). Maar hoe kon mense van alle nasies hulle saam met Jehovah se “volk” verbly tensy hulle van hom gehoor het? Die lede van “sy volk” moes dus die Messiaanse koninkryk aan hulle verkondig.—Rom. 10:13-15.
15. Deur watter optrede en deur wie moet Paulus se aanhaling uit Psalm 117:1 opgevolg word sodat die nasies daarop kan reageer?
15 Die apostel Paulus gee nog meer Skriftuurlike steun deur te vertel wat Jehovah deur Sy geïnspireerde woordvoerder gesê het: “En ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke” (Rom. 15:11; Ps. 117:1). Ja, dit is maklik om dit te sê, maar hoe kan alle nasies, volke en sibbes dit doen tensy ons vir hulle van Jehovah vertel en verduidelik waarom hy geloof moet word? Internasionale predikingswerk oor sy koninkryk in die hande van Christus is gevolglik nodig. Dit is die “bediening” wat toegewys is aan die oorblyfsel Koninkrykserfgename en die “groot menigte” van hulle medewerkers.—Openb. 7:9-17.
16. Hoe sal Paulus se aanhaling uit Jesaja 11:10 in verband met die “wortel van Isai” vervul word?
16 Die apostel Paulus haal ’n vierde getuie ter ondersteuning van sy argument aan en sê: “En Jesaja se ook: Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop” (Rom. 15:12; Jes. 11:10). Isai van Betlehem was die vader van Dawid, wat deur God aangestel is om koning oor die twaalf stamme van Israel te wees. Dawid kon nie ’n “wortel” van lewe vir sy vleeslike vader wees nie. Jesus Christus, wat in Betlehem en in die koninklike stam van Juda, Isai se stam, gebore is, moet dus die ware “wortel van Isai” wees. Jesus sal ’n lewegewende “wortel” vir sy aardse voorvader Isai word deur hom en sy seun Dawid tydens sy duisend-jarige bewind op te wek.—Openb. 22:16.
17. Wie is dan die “wortel van Isai” op wie die nasies kan hoop?
17 Dawid het ‘oor nasies geheers’ nadat hy die nie-Joodse nasies wat in die Beloofde Land oorgebly het, onderwerp het. Maar Dawid is nou al sedert 1037 v.G.J. dood, en die mense van die nasies kan nie op hom hoop nie. Gelukkig kan hulle hoop op die tans heersende Grotere Dawid, Jesus Christus, “die wortel en die geslag van Dawid” (Openb. 22:16). As hulle op hom, die teenbeeldige Dawid, hoop, sal hulle hoop nie tevergeefs of misplaas wees nie.
18. Watter mense uit al die nasies hoop reeds op daardie beloofde Heerser, en oor wie heers hy reeds?
18 Sedert 1935 hoop honderdduisende lede van die “groot menigte” wat uit alle nasies, stamme, volke en tale kom op die Heerser wat hulle nie sal teleurstel nie. Hulle bewys dit deur gehoorsaam te wees aan sy bevel om ,hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld te verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies’ (Matt. 24:14). Die hoop vir al die mense van die nasies wat gesterf het sedert dodelike sonde die mensdom binnegedring het, berus by die tans heersende Koning, Jesus Christus. Sedert hy aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 op die troon geplaas is, heers hy reeds oor gelowige, hoopvolle persone uit al die nasies. Hy sal nog oor baie, baie meer heers nadat hy al die vrygekoopte lede van die mensdom opgewek het.
19. Het gelowiges van alle nasionaliteite dus rede om steeds oorvloedig in die hoop te wees? en om hulle te verbly?
19 Het mense van al die nasies dus rede om hulle saam met Jehovah se “volk”, die geestelike Israeliete, te “verbly”? Ja, al die rede in die wêreld! Hoe gepas tog is die pragtige seën waarmee Paulus sy aanhalings uit die profesieë afsluit! Want hy sê: “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15:13). Daar kan nie ontken word dat daardie geïnspireerde gebed op al die Christengetuies van Jehovah in alle dele van die aardbol vervul word nie. Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat ons allerheerlikste hoop verwesenliking nader. “Verbly julle”!
[Prent op bladsy 26]
Romeinse hoof man Cornelius en sy gesin en vriende in Cesarea het baat gevind by Petrus se bediening