“Aanvaar mekaar”
“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”—Rom. 15:7, NAB
1. (a) Hoeveel is al as lede van die Verenigde Volke-Organisasie aanvaar? (b) Wat het dit in gebreke gebly om voort te bring, en wat word dus voortdurend gevrees?
TOT op hede is 154 nasies in die Verenigde Volke-Organisasie aanvaar. Die ledenasies daarvan het nie almal dieselfde politieke ideologie nie. Hulle is mekaar selfs vyandig gesind, maar in die V.V.O. probeer hulle om “vriendelike vyande” te wees. Hulle sien skynbaar die waarheid in van die leuse: “Eendrag maak mag, tweedrag breek krag.” Die V.V.O. beweer dat dit ’n organisasie vir wêreldvrede en -veiligheid is. Maar na al hierdie jare sedert die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, het dit nie daarin geslaag om “Een wêreld, een regering”, soos Amerikaanse politikus Wendell Wilkie dit genoem het, voort te bring nie. ’n Derde Wêreldoorlog met kernwapens word dus al hoe meer gevrees.
2. Watter dinge kan selfs in ’n nasie teen een burger tel sodat hy nie deur medeburgers aanvaar word nie?
2 Selfs in ’n nasie wat aan die V.V.O. behoort, sal die burgers dalk nie alle ander medeburgers in hulle maatskaplike groep aanvaar nie. Vooroordeel speel ’n groot rol. Die rykes aanvaar nie die armes nie. Lede van een geloof aanvaar nie persone van ’n ander geloof nie. Aanhangers van een politieke party weier om lede van ’n opponerende politieke party te aanvaar. Geleerde persone beskou diegene met min of geen geleerdheid as persone wat nie hulle aandag werd is nie. ’n Persoon se velkleur kan teen hom tel wanneer hy hom onder persone met ’n ander velkleur bevind. ’n Mens se rasseherkoms kan ’n verskil maak. Daar is geen algemene, eenvormige aanvaarding van ’n indiwidu op grond van die feit dat hy ook ’n lid van een groot menslike gesin is nie. Persoonlike teensin en vyandelikhede bepaal dus waar ’n persoon toegang kan verkry en waar nie.
3. (a) Hoe was die valse Christendom nie ’n uitsondering op die reël nie? (b) Het die V.V.O. enigsins beter as die Volkebond daarin geslaag om ’n beliggaming van God se koninkryk in die hande van Christus te wees?
3 Die valse Christendom is geen uitsondering op die reël nie, al is dit veronderstel om ’n gemeenskap van Christelike nasies te wees. Omdat hulle slegs in naam Christelik is, het hulle herhaaldelik strydig opgetree met wat in Jesaja 2:4 geprofeteer is: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” In die valse Christendom sal persone wat slegs naamchristene is patrioties tot hulle dood of die dood van hulle teëstanders vir hulle eie nasionale belange veg. Hulle vind geen gegronde rede om hulle in die Verenigde Volke-Organisasie te verheug nie, selfs al het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika die destyds voorgestelde Volkebond in Desember 1918 “die politieke beliggaming van die koninkryk van God op aarde” genoem. Die Verenigde Volke-Organisasie was beslis nie die beliggaming van God se koninkryk in die hande van Christus nie.
4. Wat het Paulus, as iemand wat uit Jesaja se profesieë aangehaal het, gesê oor ‘die dinge wat tevore geskrywe is’?
4 Die voorgaande woorde oor nasies wat nie die swaard teen mekaar ophef en nie meer leer om oorlog te voer nie, word egter vervul deur diegene wat ware navolgers van Jesus Christus is. Hierdie vredeliewende Seun van God het baiekeer aangehaal uit die profesieë van Jesaja wat lank tevore geskryf is. Hy het dit gedoen om sy volgelinge te onderrig. Een van hierdie volgelinge, die apostel Paulus, het in die eerste eeu aan die dissipels van Christus in Rome geskryf en hulle herinner: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”—Rom. 15:4.
5. Wie het vir Paulus en mede-Christene die beste voorbeeld van volharding gestel?
5 Ter vervulling van dinge wat tevore in die Heilige Skrifte geskryf is, het Jesus Christus smaad en vervolging verduur en selfs soos ’n politieke misdadiger op skandelike wyse aan ’n paal gesterf. Deur sy volharding tot daardie uiterste het hy ’n volmaakte voorbeeld geword vir sy dissipels, een wat hulle sou versterk om getrou tot die einde toe te volhard.
6. (a) Wat toon dat Jesus aan die paal sy hoop behou het, en hoe is hy versterk om te volhard? (b) Wat kan, net soos in Jesus se geval, van sy volgelinge se hoop en volharding gesê word?
6 Omdat hy standvastig tot die einde van sy aardse loopbaan volhard het, het Jesus sy Godgegewe hoop behou. Hy kon dus vir die simpatieke dief wat langsaan hom opgehang is, se: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Luk. 23:43, NW). Gedurende daardie strawwe ure aan die folterpaal is Jesus baie vertroos deur die dinge wat “tevore geskrywe is” en wat op hom betrekking gehad het, te herroep, en hy is aldus geweldig versterk. Sy toegewyde volgelinge, wat die smaad verduur wat op Jehovah God en Jesus Christus gewerp word, hou eweneens styf vas aan hulle Skriftuurlik geïnspireerde hoop vir die toekoms. Hulle put ook geweldig baie troos uit die Skrifte wat “tevore geskrywe” is. Hulle hoop, wat op die allerbetroubaarste Skrifte gebaseer is, “beskaam nie”.—Rom. 5:5.
7. Wie se gesindheid behoort die hele gemeente te hê, en watter uitwerking het dit op hulle verheerliking van God?
7 Ons moet dieselfde gemoedstemming hê as wat Jesus Christus gedurende al sy lyding in ’n vyandige wêreld gehad het. In ooreenstemming hiermee het die apostel Paulus hierdie bede neergeskryf: “Mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik” (Rom. 15:5, 6). As ons in navolging van ons Voorbeeld, Jesus Christus, so ’n gesindheid verkry, sal ons ons eenheid as ’n gemeente van sy dissipels bewaar. As almal in ’n groep dieselfde gesindheid het, bring dit soortgelyke betuigings voort. Dit lyk dus asof “een mond” met groter krag en gewigtigheid vir die hele gemeente spreek. Dit is uiters gepas. Daar kan nooit te veel klem gelê word op die eensgesinde verheerliking van die God en Vader van onse Here Jesus Christus nie. Ons stemme moet saamsmelt oor die Een wat verheerlik moet word. Anders sal die hoorder verward raak oor die boodskap wat oorgedra word.
’N AANVAARDING SOOS DIE VAN CHRISTUS
8. Wat kon ’n uitwerking hê op die eenheid van die gemeente in Rome aan wie Paulus geskryf het?
8 In baie organisasies of genootskappe van hierdie stelsel is baie nie bereid om nuwelinge weens volks- of rassevooroordeel te aanvaar nie. Verskille in die mate van geleerdheid wat mense het, kan ’n rol speel, of daar is moontlik godsdiensverskille. In antieke Rome van die eerste eeu G.J. was daar dalk natuurlike redes vir sulke verdelende dinge.
9. Waaruit het die gemeente in Rome destyds bestaan, en wat kon lei tot verskille in die persoonlike keuse van metgeselle?
9 Die apostel Paulus het Rome, daardie kosmopolitaanse keiserstad, nog nie bereik nie, maar omdat hy gehoop het om eerlank soontoe te gaan, het hy sy geïnspireerde brief aan die gemeente aldaar geskryf. Nadat Paulus die aandag gevestig het op Jesus Christus se genaakbaarheid as die volmaakte voorbeeld, het hy gesê: “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God” (Rom. 15:7, NAB). “Al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is”, het natuurlike, besnede Jode en onbesnede Heidene of nie-Jode, vrymanne en slawe, ingesluit (Rom. 1:7; 3:1-6; Filip. 4:22). Onder daardie Romeinse Christene was daar dus verskille in godsdiensagtergrond en sosiale stand, en dit het verskillende standpunte en gewetensbeskouings tot gevolg gehad. Dit kon ook daartoe gelei het dat hulle sekere persone bo ander as metgeselle verkies het.
10. Hoe het Jesus vir ons die voorbeeld gestel waar dit kom by die wyse waarop ons mekaar moet aanvaar, en met watter doel het hy dit gedoen?
10 Paulus het hulle vermaan om al daardie dinge opsy te stoot en ‘mekaar te aanvaar’, en dit met hartlikheid, opregtheid en opregte waardering vir hul mede-Christene, hul medegelowiges. In hierdie opsig het hulle ’n volmaakte voorbeeld gehad, want Paulus se dat hulle dit moet doen net “soos Christus julle ook aanvaar het”. Het Jesus nie, toe hy op aarde was, gesê nie: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie”? (Joh. 6:37). Ja! As ’n volmaakte man kon hy ons op ’n afstand gehou het weens ons onvolmaaktheid en sondigheid. Maar hy het dit nie gedoen nie. Waarom nie? Paulus verstrek die rede deur die woorde by te voeg: “Tot eer van God.” Deur alle gelowiges te aanvaar, het Christus God eer aangedoen, want dit het God se groothartigheid en sy begeerte dat alle mense deur die losprysoffer van sy Seun Jesus Christus gered moet word, verheerlik. Dit was net soos Jesus self gesê het: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Joh. 3:16.
11. Waarom strek so ’n hartlike aanvaarding van nuwelinge tot God se eer, en wat het die verrese Jesus dus sy dissipels in Galilea aangesê om te doen?
11 Wanneer ons eweneens, as navolgers van Jesus Christus, alle soekers in die gemeente aanvaar ondanks ras, kleur, voormalige godsdiensverband, sosiale stand of sekulêre geleerdheid, strek dit tot God se eer. Dit gee almal wat aldus aanvaar word die regte beskouing van Jehovah God. As ’n blyk van sy gewilligheid om alle ware gelowiges te aanvaar in die gemeente waarvan hy die geestelike Hoof is, het die verrese Jesus vir sy dissipels in “Galilea van die nasies” gesê wat om te doen: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Jes. 9:1, NW; Matt. 28:16-20.
12. (a) As wat dien dit vir ons wanneer ons God se eer in gedagte het wanneer ons ander aanvaar? (b) Hoe voorkom ons huis-tot-huiswerk dat God van bloedskuld beskuldig word?
12 Wanneer ons almal wat kom voor die voet aanvaar, is dit vir ons ’n groot aansporing as ons onthou dat ons dit “tot eer van God” doen. Dit beweeg diegene wat aanvaar. word om God se goedhartigheid en vrygewigheid te waardeer en Hom dan self te verheerlik. Wanneer ons ons vergaderplekke verlaat en van huis tot huis gaan om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig aan almal wat ons teëkom, toon ons dat ons ‘mekaar aanvaar, soos Christus ons ook aanvaar het, tot eer van God’. Hierdie handelwyse strek tot eer van die God wie se getuies ons is, of diegene wat ons besoek nou die Koninkryksboodskap waardeer of nie. Diegene wat die Koninkryksboodskap aanneem, sal mettertyd ook die God verheerlik wat sy Koninkryksboodskappers na hulle gestuur het. Diegene wat nie ons Godgegewe boodskap van redding aanneem nie, sal die een of ander tyd in die toekoms besef dat Jehovah God aan hulle gedink het en sy getroue getuies na hulle gestuur het sodat hulle geen rede sal hê om met God fout te vind nie (Eseg. 33:33). God bly aldus sonder blaam wat hulle bloed betref.
VAN TIMMERMAN TOT “DIENAAR”
13. Waarom kan God nie van partydigheid beskuldig word omdat hy ’n volk wat minder talryk as die res van die wêreld was die eerste geleentheid gebied het nie?
13 Wie het egter die eerste geleentheid gehad om by God se voorsiening baat te vind? Dit was die volk deur wie ons die Heilige Bybel gekry het, die natuurlike Jode. Wel, was God dan nie partydig nie, veral as ons onthou dat daar selfs 1 900 jaar gelede baie meer nie-Jode as besnede Jode was? Oppervlakkig beskou, kan dit so lyk. Maar God moes êrens begin, en hy het begin by diegene aan wie hy spesiale beloftes deur hulle voorvaders gemaak het, naamlik die besnede Jode. Maar die uiteindelike voordele van God se handelwyse sou nie streng tot die natuurlike Jode of Hebreërs beperk wees nie. Bestaan daar dus grondige rede om daaroor te kla? Glad nie!
14. Watter soort man was die Seun van God uit die hemel gevolglik verplig om te word, en is hy deur sy eie mense aanvaar?
14 Laat ons altyd onthou dat God onverbreeklike beloftes aan verdienstelike manne gemaak het in verband met hulle natuurlike afstammelinge, die Jode. Die Seun van God moes gevolglik uit die hemel kom om daardie beloftes van sy hemelse Vader te vervul. Dit het vereis dat hy gebore moes word as ’n lid van ’n internasionaal gehate ras, die volk met wie God ’n nasionale verbond gesluit het. Maar selfs as ’n Jood is die Seun van God nie deur die meerderheid mede-Jode aanvaar nie, net soos ’n skrywer van die aardse geskiedenis van die Seun van God se: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”—Joh. 1:11.
15. Watter soort werk het Jesus in Nasaret gedoen, en was hy sodoende ’n “dienaar . . . van die besnydenis”?
15 Aan die Christengemeente in Rome, waarvan nie alle lede natuurlike Jode was nie, het die Joodse apostel Paulus dus geskryf: “Ek se dat Jesus Christus ’n dienaar geword het van die besnydenis terwille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig; en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik” (Rom. 15:8, 9a). In Nasaret in Galilea, in die huis van sy pleegvader, die besnede Jood Josef, het die groeiende Jesus geleer om ’n timmerman te word. Omdat hy in die stam van Juda gebore is, het Jesus nie tot die priesterlike familie of tot die stam tempel-Leviete behoort nie. Hy kon uiteraard nie by die geledere van die tempeldienaars in Jerusalem aansluit nie. Maar het Jesus, die Seun van God, na die aarde gekom bloot om as ’n timmerman te dien en te sterf? Nee! Die feit dat hy ’n “dienaar geword het van die besnydenis”, beteken dus veel meer as dat hy ’n timmerman soos sy pleegvader Josef geword het.
16. Wat het Jesus begin doen om meer as net die inwoners van Nasaret as ’n timmerman te dien?
16 As Jesus niks meer in die lewe gedoen het as sy timmerwerk in Nasaret nie, sou hy beslis nie sy voorspelde bediening volbring het nie. Sy hemelse Vader, Jehovah God, het hom dus iets anders laat begin doen, sodat hy ’n ,dienaar kon word van die besnydenis’, nie net van die inwoners van Nasaret nie, maar van die hele nasie. Op die ouderdom van 30 het hy dus sy timmerwerk vir altyd vaarwel toegeroep.
17. Hoe vergelyk die werk van Jesus nadat hy gedoop en gesalf is met die diens van die Joodse hoëpriester by die tempel?
17 Watter soort werk het Jesus begin doen nadat hy deur Johannes die Doper, ’n Leviet, en ook met God se heilige gees gedoop is? Was dit ’n minderwaardige diens vergeleke met die van die tempel-priesters en Leviete, wat ware “bedienaars” van God in Jerusalem was? Almal wat die feite ken, sal ongetwyfeld erken dat hy met ’n amptelik diens, ’n “bediening”, begin het, en nie bloot met ’n godsdiensprofessie nie. Dit is net soos die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en Psalms dit stel: “Christus het gekom om in belang van die Jode ’n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak” (Rom. 15:8). Hy het onteenseglik ’n nasionale diens verrig en ’n bedieningsamp beklee, nie een waarin hy deur die mens aangestel is nie, maar deur God, die Universele Soewerein. Wat Jesus gedoen het nadat hy van beroep op aarde verander het, was verreweg belangriker as die godsdiens van die Joodse hoëpriester in Jerusalem.
18. Waarom het Jesus ’n “dienaar” van “die besnydenis” geword al het geen aardse nasie hom as ’n “dienaar” erken nie?
18 Net soos Jesus Christus geen godsdiens in die tempel te Jerusalem kon verrig en aldus met die priesters en die Leviete aldaar meeding nie, kon hy nie, en sou hy natuurlik nie, godsdiens in enige tempel van die nie-Joodse nasies in Rome, Athene of elders verrig nie. Maar hy was verplig om ’n “dienaar . . . van die besnydenis” te word ter wille van God se waaragtigheid. Hoe so? Om God se “beloftes aan die vaders”, Hebreërs, nie nie-Jode nie, “te bevestig”. Hulle ‘voorvader’ Abraham het byvoorbeeld baie seuns by drie vroue gehad, maar God het Abraham se enigste seun by sy eerste vrou, Sara, naamlik Isak, gekies om die Abrahamitiese belofte te ontvang. Isak het weer ’n tweeling gehad, maar God het die jongste van die twee, Jakob, wat later Israel genoem is, gekies om die Abrahamitiese belofte in verband met die “saad” deur wie al die nasies van die aarde geseën sou word oor te dra. Mettertyd het die 12 seuns van Jakob die 12 stamme van Israel voortgebring, en dit is met hulle as ’n nasie dat God sy nasionale verbond deur die profeet Moses as middelaar gesluit het.
19. Waarom is Jesus nie in die stam van Levi gebore nie, en wie het hom op aarde verwelkom, en waar?
19 Later, nadat die nasie Israel verkies het om ’n mensekoning as die sigbare verteenwoordiger van Jehovah te hê, het Hy Sy koninklike belofte aan koning Dawid van die stam van Juda gemaak. Die beloofde Messias of Christus moes dus in Dawid se geslag kom. Dit verklaar waarom Jesus as Dawid se erfgenaam deur geboorte uit die Judese maagd, Maria, in Dawid se geboortedorp Betlehem gebore is. Hemelse engele het hom op aarde verwelkom. Die Seun van God uit die hemel moes dus onvermydelik as ’n Jood gebore word. Die onverbreeklike beloftes van God sy Vader moes bevestig of vervul word. God sou nie toelaat dat hyself ’n leuenaar word nie.
20. Waarin sou die nie-Joodse nasies nog aanvaar word, al is Jesus besny, en waarom so?
20 Jesus het met graagte met sy hemelse Vader saamgewerk. Hy het gevolglik ’n “dienaar geword . . . van die besnydenis”. Hy is soos een van hulle besny. Na Jesus se dood en opstanding is spesiale guns nog drie-en-’n-half jaar lank aan die besnede Jode betoon. Maar onbesnede Heidene of nie-Jode sou nog in Jehovah se teokratiese organisasie aanvaar word. Dit sou plaasvind ter bevestiging van Jehovah se onverbreeklike beloftes aan mense.