Onheil en rampe—Amos bied insig
TERWYL werkers lyke verwyder het uit die puin van die kerk in Balvano, Italië, wat deur die aardbewing vernietig is, het priester Salvatore Pagliocchi gekla: “Hoe kan ek vir hierdie mense verduidelik dat God besluit het om hulle dierbares tydens ’n Mis weg te neem?”—Liverpool se Daily Post, 25 November 1980.
Het jy opgemerk mense dikwels dink dat God verantwoordelik is vir vandag se onheil en rampe? Maar die Bybel openbaar dat die God van liefde nie opsetlik die talle oorstromings, bosbrande, aardbewings en ander soortgelyke rampe van vandag veroorsaak nie (1 Joh. 4:8). Dit is dikwels fratsgevolge van die aarde se natuurkragte. Die mens moet egter ’n mate van die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, want hy bou dorpe op vloedvlaktes of teen berghange in gebiede waar aardbewings dikwels voorkom.
Rampe soos aardbewings waartydens daar groot lewensverlies is, is egter in die Bybel vir ons dag voorspel. Hoewel God nie persoonlik hierdie dinge veroorsaak nie, het hy voorsien dat hulle sou kom. Die kort Bybelboek Amos bied insig in God se vermoë om rampe te voorsien en gee vir ons tydige waarskuwings waarop ons ag moet slaan.
Amos was ’n Hebreër in Tekoa, ’n dorpie sowat 16 kilometer suid van Jerusalem. Hy was oënskynlik ’n baie onwaarskynlike kandidaat om ’n profeet en ’n draer van oordeelsboodskappe te wees. Waarom?
Party manne kon daarop aanspraak maak dat hulle vader ’n profeet was of dat hulle verbonde was aan ’n groep bekend as “die profete-seuns” (2 Kon. 2:3; 4:1). Maar nie Amos nie. Toe ’n invloedryke priester in die noordelike koninkryk aantygings gemaak het, het Amos geantwoord: “Ek was geen profeet en ook geen profete-seun nie; maar ek was ’n veewagter en kweker van wildevyebome. Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel.”—Amos 7:14, 15.
Amos was dus nie ’n welgestelde eienaar van kuddes of landerye nie. Hy was ’n gewone arbeider wat skape op die weivelde van Juda opgepas en seisoenwerk gedoen het deur ’n minderwaardige soort vy te prik om dit soeter te maak. Maar selfs al was Amos se agtergrond nie indrukwekkend nie, was sy boodskap, wat onder leiding van God se gees oorgedra is, beslis.
Hy het êrens tussen die jare 829 en 803 v.G.J. geprofeteer, gedurende die tyd toe Jerobeam II oor die noordelike koninkryk van Israel geheers het en Ussia koning in Juda in die suide was. Amos het gesê dat hy die gesig gehad het “twee jaar voor die aardbewing” (Amos 1:1). Die geskiedskrywer Josefus sê dat daar ’n aardbewing was toe Ussia heiligskennend probeer het om wierook in die Heilige van Jehovah se tempel te offer. Maar dit wil voorkom asof dit vroeër in Ussia se bewind was dat die aardbewing waarna Amos verwys, voorgekom het, een wat so hewig was dat Sagaria dit ook gemeld het.—2 Kron. 26:16-27:1; Sag. 14:5.
Amos het ’n profeet geword op ’n tydstip toe dit miskien gelyk het asof dinge bestendig is en alles goed gaan. Met God se hulp het Ussia in die suide militêre welslae behaal. Dit het ook gelyk asof die noordelike koninkryk veiligheid geniet. Jerobeam het Israel se grense uitgebrei tot waar dit tevore was, en die Assiriese oorlogsmasjien wat Sirië geraak het, het Israel skynbaar nog nie bedreig nie.—2 Kon. 14:23-28.
VERDORWE, EN ONHEIL HET VOORGELÊ
Maar alles was nie so aangenaam en belowend soos dit gelyk het nie. Daar het ’n onheil op Israel gewag, veral deur die toedoen van die Assiriërs. Jehovah God het Amos gekies en hom uit die afsondering van Judea na die noordelike koninkryk van Israel gestuur om daar ’n oordeelsboodskap te verkondig.
Wanneer jy die kort boek Amos lees, sal jy party van die toestande sien wat in Israel bestaan het en wat meegebring het dat Jehovah Amos soontoe gestuur het. ’n Mens kan die situasie soos volg opsom: Voorspoed en losbandigheid.
Die sorgvrye materiële voorspoed van baie in Israel het hulle vir ondergang bestem. Die rykes het in ydel weelde geleef. Daar was somerhuise en winterhuise, waarvan party met duur, gekapte klippe gebou is. Argeologiese ontdekkings het Amos se verslag bevestig dat die rykes ivoorinlegsels of versierings op hulle swierige rusbanke gehad het. Hulle het goeie wyn afgesluk, nie bekers vol nie, maar sommer komme vol, en hulself gemaksugtig met die die beste olie en voedsel verwen.—Amos 3:12, 15; 5:11; 6:4, 6.
Hoe het hierdie ryk Israeliete hulle rykdom verkry en behou? Deur onreg, verdrukking en bose gebruike. Hulle het die armes selfsugtig bedrieg deur die maat te verklein wanneer hulle koring verkoop (boonop koring van swak gehalte of afvalkoring) en deur bedrieglike gewigte te gebruik. Hulle het nie geaarsel om die armes weens geringe skuld in slawerny te verkoop nie; en hulle het ook nie broodnodige kledingstukke wat as ’n pand geneem is, aan die armes teruggegee nie.—Amos 2:6, 8; 8:4-6.
Sulke verdorwenheid was bloot deel van hulle minagting vir God se weg. Dit het veel meer behels. Met veragting en minagting vir Jehovah het vader sowel as seun omgang met dieselfde vrou gehad. Die Nasireërs se onthouding van wyn moes ’n bestraffing gewees het vir die sinlike luukse-gewoontes van die rykes; hulle het dus probeer om die Nasireërs te oorreed om hul onkreukbaarheid prys te gee. Die rein God het gevolglik die skynheilige tiendes, offers en rituele feeste van die rykes gehaat.—Amos 2:7, 11, 12; 4:4, 5; 5:21.
God het op Israel se morele en godsdiensverval geantwoord deur Amos se boodskap van naderende onheil te stuur. Maar Amos het ook woorde van troos en hoop gehad.
AMOS SE ONHEILSBOODSKAP
Die boek open met oordele teen die omliggende nasies. Damaskus (Sirië), Gasa (Filistea), Tirus, Edom, Ammon en Moab het God se volk mishandel, soms op maniere wat teen die gewone menslike gewete ingedruis het. Die voorskouing van oordeel sluit Juda in. Wat is die les? Indien al hierdie omringende nasies geoordeel gaan word, hoe kon Israel, wie se skuld vererger is deur minagting vir God se sorg van die verlede, dan hoop om vry te spring?—Amos 1:1-2:16.
Elke gevolg het ’n oorsaak, en Jehovah is die een wat Amos laat profeteer het; Amos sou bang wees om nie te profeteer nie (Amos 3:1-8). Hoewel hy Assirië nie by name meld nie, verseker Amos die Israeliete dat ’n vyand teen hulle genotsugtige nasie sal optrek (Amos 3:9-15). Israel het nie gereageer op God se teregwysings van die verlede nie. Amos waarsku dus: “Maak jou klaar om jou God te ontmoet.” Ja, hulle moet hulle dwalinge onder die oë sien en verander. As hulle dit nie doen nie, sal die Skepper toesien dat ’n ramp hulle tref.—Amos 4:1-13.
Maar die Israeliete gaan nie reageer op die vriendelike beroep: “Soek die HERE, dan sal julle lewe” nie. Hulle sal nie “haat wat sleg is en liefhê wat goed is” nie. Die verskriklike “dag van die HERE” sal dus gewis kom. Deur Amos voorspel God dat hulle in ballingskap weggevoer gaan word. Dit is bewaarheid; die Assiriërs het hulle later oorweldig en as gevangenes weggevoer (2 Kon. 17:1-6). Israel het Amos se bestrawwing geïgnoreer en moes dus die deeglike vernietiging wat hy voorspel het, ondervind.—Amos 5:1-6:14.
Met ’n reeks beskrywende mededelings toon Amos dat Israel se einde naby is. Die verwoesting kan vergelyk word met die skade wat aangerig word deur ’n swerm sprinkane of deur ’n vuur wat selfs die water verteer. In daardie twee gevalle tree Amos tussenbeide. Maar die volgende gesig is finaal. Net soos ’n bouer met ’n skietlood kan vasstel of ’n muur loodreg is, bepaal God dat Israel nie meer opreg is nie, maar verdien om verwoes te word. Amasia, ’n priester van kalfaanbidding, beskuldig Amos van verraad en beveel hom om terug te gaan na Juda. Maar Amos laat hom nie intimideer nie en voorspel selfs Amasia en sy gesin se lot.—Amos 7:1-17.
Net soos vrugte aan die einde van die seisoen ingesamel word, is Israel se einde naby. Jehovah sweer by homself dat hy hom tot verantwoording sal roep. Wanneer daardie oordeel voltrek word, sal die Israeliete soek na ’n woord van God in die hemel af, maar dit sal te laat wees. Niemand sal ontvlug deur weg te kruip nie, nie eens in Karmel se grotte nie.—Amos 8:1-9:7.
God sal die land skud asof Israel nie ’n nasie is wat aan hom toegewy is nie. Maar daar is hoop! Alhoewel die sondaars wat sê ‘Die onheil sal ons nie bereik nie’ vernietig sou word, sou party van Jakob se afstammelinge bewaar word. En hulle is bewaar. Persone uit Israel en uit Juda het in 537 v.G.J. uit gevangenskap teruggekeer.—Amos 9:8-10, 13-15.
Nog vertroostender is die feit dat Amos voorspel het dat die “hut van Dawid” weer opgerig sou word. In 49 G.J. het die dissipel Jakobus hierdie deel van Amos se profesie aangehaal. Teen daardie tyd was daar ’n gesalfde, toekomstige koning in Dawid se geslag, Jesus Christus. Die versameling van Christendissipels, Jode en nie-Jode, om medeheersers van Jesus te word, was die wonderlike vervulling van die woorde in Amos 9:11, 12.—Hand. 15:13-18.
RAMPE IN ONS DAG
Net soos Amos kon voorspel wat met Israel sou gebeur, kon Jesus Christus internasionale gebeure in ons dag voorspel. Hoewel nòg die liefdevolle God Jehovah nòg sy Seun sulke rampe veroorsaak, vervul die oorloë, voedseltekorte en aardbewings sedert die Eerste Wêreldoorlog Jesus se profesie oor die “voleinding van die wêreld” (Matt. 24:3-12). Trouens, na die ramp naby Napels, Italië, in November 1980 het Robert I. Tilling, hoof van die V.S.A. se Geologiese Opname se Kantoor van Geochemie en Geofisika gesê: “Daar is aanduidings dat vulkaanuitbarstings en aardbewings dwarsoor die aarde toeneem.”
Ons het beslis goeie rede om ag te slaan op Jesus se waarskuwing om wakker te wees en nie al ons tyd deur ’n weelderige lewe in beslag te laat neem soos dit die geval met die Israeliete in Amos se dag was nie. Die getuienis bewys dat die einde van die huidige goddelose stelsel voor die deur is. Ons moet dus “waak”.—Matt. 24:14, 36-44; Amos 5:14.