Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 9/1 bl. 6-12
  • Geloof is prakties!—Getuienis uit die konsentrasiekampe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof is prakties!—Getuienis uit die konsentrasiekampe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BAIE HET GELOOF VERLOOR
  • GELOOF ONDER VROUE
  • ONDER TWEE DIKTATORS
  • GELOOF IS VIR JOU PRAKTIES
  • Ek het die “tog na die dood” oorleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Ek behou my geloof saam met my man
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 9/1 bl. 6-12

Geloof IS PRAKTIES!

GETUIENIS UIT DIE KONSENTRASIEKAMPE

KONSENTRASIEKAMPE—Waaraan laat dit jou dink?

Dit laat dalk beelde by jou opkom van vreesbevange mense wat uit goederewaens gejaag word na plekke waar hulle sal sterf. Of van uitgeputte, brandmaer gevangenes wat gedwing word om tussen hulle eie drek te lewe en aan kwale ly. Of jy kan dink aan onmenslike mediese eksperimente of oonde waarin tallose menseliggame verbrand is.

Hierdie dinge is deel van die beeld van daar die verskriklike kampe.

Daar is egter iets anders wat ons in ag moet neem. Hoewel die Nazi-kampe afgryslik was, was daar honderdduisende manne en vroue daar wat probeer het om te lewe. Hulle het dag na dag gesukkel om aan die lewe te bly ondanks siekte, slae, uitputting en willekeurige moord. Hulle het probeer om te eet en om warm en gesond te bly. Hulle moes werk, slaap en met diegene rondom hulle klaarkom.

Ondanks die afgryse daarvan—of moontlik as gevolg daarvan—is die Nazi-konsentrasiekampe dus ’n plek waar ons kan gaan soek na getuienis of geloof werklik prakties is. Alhoewel ons persoonlik dalk nooit in sulke kampe sal beland nie, kan ons baat vind by lesse wat hulle ons leer.

BAIE HET GELOOF VERLOOR

’n Belangrike uitwerking van die kampe was dat baie mense hulle geloof verloor het. Skrywer Philip Yancy verduidelik: “Party oorlewendes het hulle geloof in God verloor. Dit was veral met Jode die geval: nadat hulle grootgemaak is om te glo dat hulle die uitverkore volk is, het hulle skielik ontdek dat ‘Hitler die enigste een is wat sy beloftes gehou het’ soos een Jood dit pynlik gestel het.”

Elie Wiesel was ooggetuie van ’n jong seun se teregstelling en beskryf die uitwerking wat dit op hom gehad het. Die SS het die gevangenes voor die galg laat byeenkom. Terwyl die seun stadig gesterf het, het ’n gevangene uitgeroep: “Waar is God nou?” Wiesel sê: “En ek het ’n stem in my hom hoor antwoord: ‘Waar is Hy? Hy is hier—Hy hang daar aan die galg . . .’”

Baie wat bely dat hulle Christene is, het ook hulle geloof verloor. In The Christian Century beskryf Harry J. Cargas hoe talle voormalige kerkgangers gevoel het: “Die Groot Slagting is myns insiens die grootste tragedie vir Christene sedert die kruisiging. In die eerste geval het Jesus gesterf; in die laasgenoemde kan ’n mens sê dat die Christelike godsdiens gesterf het . . . Kan ’n mens vandag ’n Christen wees in die lig van die konsentrasiekampe wat grotendeels uitgedink, gebou en beman is deur ’n volk wat hulself Christene genoem het . . . ?”

Daar was egter ’n groep wie se geloof nie vernietig is nie. Jehovah se Getuies verstaan uit die Bybel dat God nie verantwoordelik is vir die goddeloosheid van die kampe of die lyding wat die mensdom eeue lank verduur het nie. Inteendeel, hierdie dinge veroorsaak vir Hom verdriet en bewys dat mense nie hulle voetstappe onafhanklik van hom kan rig nie (Jer. 10:23; Pred. 8:9). Hy het in sy Woord beloof dat hy op ’n bepaalde tyd goddeloosheid van die aarde af gaan uitwis. Hy sal ook die skade wat persone met geloof berokken is, ongedaan maak daar hy hulle selfs kan opwek.—Openb. 21:4; kyk ook die hoofstuk “Waarom het God goddeloosheid toegelaat tot op ons dag?” in die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe.a

GELOOF ONDER VROUE

Kom ons beskou byvoorbeeld die uitwerking van die konsentrasiekampe op vroue.

In sy outobiografie Commandant of Auschwitz het Rudolf Hoess gesê: “Die vrouekamp, wat uit die staanspoor stampvol was, het sielkundige vernietiging vir die oorgrote meerderheid van die vroulike gevangenes beteken, en dit het vroeër of later tot hulle fisiese ineenstorting gelei. In alle opsigte en te alle tye het die allerverskriklikste toestande in die vrouekamp geheers.”

Toestande het natuurlik van kamp tot kamp en op verskillende tye gedurende die oorlog gewissel. Maar Hoess het gesê: “Wanneer vroue die laagste vlak bereik het, het hulle heeltemal ineengestort. Hulle het soos spoke rondgestrompel, . . . tot die dag dat hulle stil heengegaan het.” Die gedrag van party gevangenes wat gesag ontvang het, het hiertoe bygedra. Volgens Hoess “het hulle hulle manlike eweknieë verreweg oortref wat strengheid, smerigheid, wraaksug en verdorwenheid betref”.

Maar Hoess voeg by: “Die vroulike Jehovahsgetuies, wat die bynaam ‘Bybelbye’ of ‘Bybelwurms’ gehad het, was ’n welkome teenstelling. Ongelukkig was daar te min van hulle.”

Hoe het hierdie vroulike Getuies van Jehovah die afgryse van die Nazi-konsentrasiekampe verduur? Hoe het dit hulle geloof geraak? Eerstehandse inligting is gepubliseer in die boek Under Two Dictators (1949), deur Margarete Buber.

Sy en haar man was vername lede van die Duitse Kommunistiese party gedurende die vroeë dertigerjare. Nadat hulle na Moskou ontbied is, is hulle in hegtenis geneem vir “politieke afwykings”. Alhoewel sy steeds geglo het aan die teorie van Kommunisme, is Margarete Buber na ’n Siberiese kamp gestuur. Later is sy aan die Nazi’s uitgelewer en het sy vyf jaar lank in die berugte Ravensbrueck-konsentrasiekamp vir vroue deurgebring.

Sy was aldaar ’n ruk lank ’n Bloksenior, ’n gevangene wat aangestel is oor ’n blok of barak met ander gevangenes. Die meeste in haar blok was Jehovah se Getuies (Bybelstudente). Margarete Buber se verslag bied ooggetuie-informasie deur ’n politieke gevangene wat nie self een van Jehovah se Getuies was nie. Haar verslag word gestaaf deur Gertrude Poetzinger, een van Jehovah se Getuies wat meer as vier jaar lank ’n gevangene in Ravensbrueck was en wat vandag saam met haar man by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, dien. Hier volg ’n samevatting van dele van die boek in Margarete Buber se eie woorde en dit word met haar toestemming gebruik.

ONDER TWEE DIKTATORS

Elke nuweling in ’n konsentrasiekamp beleef ’n verskriklike tydperk waartydens sy tot in haar kern geskud word, ongeag hoe sterk sy fisies is, ongeag hoe kalm haar senuwees is. En elke jaar het die lyding van die nuwelinge in Ravensbrueck al hoe erger geword, met die gevolg dat die sterftesyfer onder hulle die hoogste was. Dit het, afhangende van die indiwidu, weke, maande of selfs jare geduur voordat ’n gevangene in haar lot berus het en haar by kamplewe aangepas het. Dit is gedurende hierdie tydperk dat die geaardheid van die indiwidu verander. Belangstelling in die buitewêreld en ander gevangenes neem geleidelik af.

Myns insiens is niks meer demoraliserend as lyding nie, as oormatige lyding gepaard met vernedering soos die van manne en vroue in konsentrasiekampe nie. Wanneer die SS jou geslaan het, durf jy nie teruggeslaan het nie. Wanneer die SS jou getreiter en beledig het, moes jy jou mond hou en nooit terug antwoord nie. Jy het alle menseregte verloor—almal, sonder uitsondering. Jy was net ’n lewende wese met ’n nommer om jou van die ander ongelukkiges rondom jou te onderskei.

Ek verwys nie hier na gevangenes wat die een of ander posisie gehad het en diegene onder hulle kon mishandel nie. Ek bedoel die gewone vrouegevangenes. As dit gelyk het asof een ’n bietjie meer kos, ’n effens groter stukkie brood, ’n effens groter porsie margarien of wors gekry het, was daar dadelik haatlike uitbarstings van woede en gebelgdheid.

Van die oomblik dat ons uit ons katels geklim het totdat ons buitekant vir die appèl moes aantree, het ons ’n driekwartier gehad om te was, aan te trek, ons kaste reg te pak en ons “ontbyt” te eet. Dit sou in die beste omstandighede nie maklik wees nie, maar stel jou voor hoe dit was in ’n hut met 100 ander vroue wat gejaag het om dieselfde gedaan te kry! ’n Mens se ore het getuit van die vloekwoorde en beledigings.

[Dit is deel van haar beskrywing van haar lewe in Ravensbrueck. Maar toe is die skryfster aangestel as Bloksenior in Blok 3, wat destyds die Bybelstudente se barak was.]

Ek het daardie middag by Blok 3 begin werk. ’n Heeltemal ander atmosfeer het hier geheers. Die plek was stil en het geruik na waspoeier, ontsmetmiddel en koolsop. Tweehonderd-en-sewentig vroue het by die tafels gesit. Toe ek die vertrek binnekom, het ’n lang, blonde vrou opgestaan, my na ’n sitplek gelei en vir my ’n bord koolsop gegee. Ek het amper nie geweet wat om te doen nie.

Oral om die tafels was daar dieselfde beskeie, glimlaggende gesigte. Almal se hare was teruggekam in ’n stywe bolla, en almal het in volmaakte orde hulle kos geëet asof hulle aan dieselfde toutjie vas was. Die meeste het na boervroue gelyk, en hulle maer gesigte was bruin en vol plooie van die son en die wind. Baie van hierdie vroue was al jare lank in die tronk en die konsentrasiekamp.

Daar was 275 gevangenes—almal Bybelstudente. Hulle was almal voorbeeldige gevangenes en hulle het almal die kamp reëls en -regulasies uit die hoof geken en dit nougeset gehoorsaam. Die een kas het presies soos die ander gelyk, en hulle was almal voorbeelde van sindelikheid en netheid. Al die handdoeke aan die kasdeure het presies gehang soos die voorskrifte vereis het; elke kom, bord, koppie, ensovoorts, was skoon en blinkgevryf. Die stoeltjies was silwerskoon geskrop en altyd netjies weggepak wanneer hulle nie gebruik is nie. Stof is oral verwyder, selfs van die balke af, want ons hut het nie ’n plafon gehad nie en ons het reg in die dak vasgekyk. Ek is meegedeel dat party van die SS-opsieners wit handskoene gedra het en met hulle vingers oor lyste en die bokant van die kaste gevee het en selfs op tafels geklim het om uit te vind of daar stof op die balke is.

Die toilette en waskamer was net so skoon. Maar die hoogtepunt van al hierdie netheid en sindelikheid was die slaapsale, elk met 140 beddens. Die bedopmakery hier was ’n verbasende prestasie. Strooisakke en -kussings het soos groot dose gelyk. Die komberse was almal netjies op presies dieselfde wyse en tot presies dieselfde grootte opgevou, en almal is presies volgens dieselfde patroon op die beddens neergesit. Op elke stapelbed was ’n kaart met die naam en nommer van die gevangenes wat daarin geslaap het, en op die deur was ’n noukeurige plan van die slaapsaal wat elke stapelbed aangedui het met die name van diegene wat daarin geslaap het, sodat enigiemand wat ondersoek ingestel het, dadelik kon vasstel waar almal was.

Terwyl ek Hutsenior onder die Asosialeb was, is die hele dag deur die een of ander taak in beslag geneem en met die een of ander nuwe vrees versteur. By die Bybelstudente het my lewe vlot verloop. Alles het seepglad verloop. Soggens, wanneer almal probeer het om hulle take voor die appèl gedaan te kry, het niemand ’n skelwoord geuiter nie. In die ander blokke moes die Blokseniors en Hutseniors hulself hees skreeu om die gevangenes onder hulle buite te laat aantree, maar hier het alles stil en sonder ’n woord van my af plaasgevind, en alle ander dinge is op dieselfde wyse gedoen—die uitdeel van die kos, die afskakeling van die ligte, en die res van die gevangenes se dag.

My vernaamste taak by die Bybelstudente was om hulle lewens so draaglik moontlik te maak, om hulle teen die getreiter van die SS-blokleier te beskerm.

Niks is ooit in Blok 3 gesteel nie. Daar is geen leuens vertel of stories aangedra nie. Elke vrou was nie alleen self baie pligsgetrou nie, maar het haarself verantwoordelik gehou vir die welsyn van die groep as geheel. Ek was nie lank daar voordat hulle besef het dat ek hulle vriendin was nie.

Nadat ons vriende gemaak het en ek heeltemal seker was dat nie een van hulle my ooit sou verraai nie, was daar baie dinge wat ek vir hulle kon doen; ek het byvoorbeeld allerhande verskonings en planne gebruik om te voorkom dat die bejaarde en swak gevangenes ure lank tydens die appèl staan. Ek sou dit nie met die Asosiale kon doen nie, want die sterkeres sou my by die SS verraai het weens hulle gebelgdheid oor die gedagte dat enigiemand begunstig is.

Die Bybelstudente was die enigste gelyksoortige blok onder die gevangenes in Ravensbrueck. Toe ek na Blok 3 gestuur is, het ek slegs ’n baie vae idee van hulle godsdiensoortuigings en die rede vir Hitler se teensin in hulle gehad. Teensin is ’n sagte woord om sy gesindheid teenoor hulle te beskryf; hy het hulle as vyande van die Staat veroordeel en hulle meedoënloos vervolg.

Hulle het gou besef dat ek nie ’n baie waarskynlike bekeerling was nie, maar hulle het aangehou om my simpatiek te behandel en het nooit opgehou om te hoop dat ek eendag “die lig sou sien” nie. Sover ek kon uitmaak, het hulle geglo dat die hele mensdom, met die uitsondering van Jehovah se Getuies, binnekort in ewige duisternis gewerp sou word wanneer die wêreld gaan eindig. Die Goeie sou eindelik oor die Bose seëvier. Nasie sou nie meer teen nasie die swaard ophef nie, en die luiperd sou by die bokkie gaan lê; en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en niemand sou kwaad doen of verderf aanrig in Sy hele heilige berg nie. En niemand sou meer doodgaan nie en almal—die oorlewendes—sou daarna vir ewig gelukkig lewe.

Hierdie eenvoudige en bevredigende opvatting het vir hulle krag gegee en hulle in staat gestel om die lang jare van konsentrasiekamp-lewe en al die onwaardige behandeling en vernederings te verduur en steeds hulle menslike waardigheid te behou. Hulle is die geleentheid gebied om te toon dat die dood vir hulle geen vrees inhou nie, en hulle het dit bewys. Hulle het vir hulle opvattings gesterf sonder om terug te deins.

Hulle het die Sesde Gebod ernstig opgeneem en gevolglik was hulle ferm gekant teen alle oorloë en alle militêre diens. Hulle getrouheid in hierdie opsig het baie van die manlike Getuies hulle lewe gekos. Die vroue van die sekte het ook geweier om enige werk te doen wat na hulle mening daarop gemik was om die oorlogspoging te bevorder.

Hulle pligsbesef en verantwoordelikheidsgevoel was onwankelbaar; hulle was vlytig, eerlik en gehoorsaam. Die Getuies was as ’t ware “vrywillige gevangenes”, want al wat hulle moes doen om dadelik vrygelaat te word, was om die spesiale Bybelstudente-vorm te teken wat gelui het: “Ek verklaar hiermee dat ek my voortaan nie langer as ’n Bybelstudent beskou nie en dat ek niks sal doen om die belange van die Internasionale Bybelstudentevereniging te bevorder nie.”

Voordat ek hulle Bloksenior geword het, het hulle baie gely omdat [die berugte vorige Bloksenior] Kaethe Knoll haar bes gedoen het om te verhoed dat hulle godsdiensgesprekke met mekaar voer. Die verbod op sulke gesprekke—kortom, “Bybelstudie”—was ’n vorm van Chinese marteling, en Kaethe Knoll het dit met bose ywer afgedwing.

Ek was geruime tyd hulle Bloksenior voordat ek ontdek het dat my “Bybelwurms”, soos hulle in die kamp genoem is, Bybels en lektuur van die Bybelstudente besit het. Hulle het begin om dit in te bring deur dit in emmers en vloerlappe, ensovoorts te versteek wanneer hulle van die werk af gekom het. Toe ek dit ontdek het, het ek voorgestel dat dit minder gevaarlik sou wees as hulle dit êrens in die blok weggesteek het, en hulle het hierdie voorstel geesdriftig aanvaar. Daarna het hulle saans en Sondae openlik die Bybel in die blok bestudeer. En voordat die SS-vroue met hulle honde verbygekom het, het hulle saans in die bed saggies hulle liedere gesing. My werk was om te sien dat hulle vroegtydig gewaarsku word en die kans kry om hulle verbode lektuur weg te steek.

Ek het ’n geweldige risiko geloop. Ek was Bloksenior en was verantwoordelik vir alles wat gebeur het. Dit was die “Goue Eeu” van my lewe in die konsentrasiekamp—as’t ware lewe na Armageddon—maar ek weet tot vandag toe nie hoe ek daarin geslaag het om die een inspeksie na die ander deur daardie wreedaard Koegel te oorleef sonder om in die Strafblok te beland nie.

Maar ek het iets selfs nog gevaarliker gedoen. Wanneer ’n gevangene siek gevoel het, moes sy deur my by die mediese pos rapporteer. Die koorspen was die toets. Dit sou bepaal of die siek vrou na die siekeboeg gestuur sou word, toegelaat sou word om “binnenshuis” te werk of ongenadig uitgestuur sou word om haar gewone werk te doen. Onder die “Getuies” was daar ’n aantal bejaarde vroue wat geen koors gehad het nie, maar so swak was dat hulle nie kon werk nie. Die enigste manier om hulle te help en hulle van tyd tot tyd ’n dag vry te gee, was deur valse verslae te gee oor die getalle in die spanne, en dit is wat ek gedoen het. Ek sidder om te dink wat met my sou gebeur het as ek betrap is. Die saak is verder bemoeilik deur die feit dat ons die Inspeksieblok was [die barakke waarheen besoekende Nazi-amptenare gebring is. Die skryfster beskryf een van hierdie onverwagte besoeke:]

Ek het altyd met gepaste onderdanigheid geantwoord:

“Bloksenior Margarete Buber, Nr. 4 208. Ek rapporteer gehoorsaam dat Blok Nr. 3 bewoon word deur 275 Bybelstudente en drie Politieke gevangenes, waarvan 260 by die werk is, agt hutpligte het en sewe permitte het om binnenshuis te werk.”

Koegel sou met sy blou leepoë na my staar terwyl sy gladgeskeerde kake spiertrekkings het, en dan sou hy iets mompel. Daarna kon ek voortgaan met die gewone inspeksie deur die een deur na die ander en die eerste drie kaste oop te maak. Wanneer ons die gevangenes wat tereg en wettig daar was, genader het, het ek hulle toesgesnou “Achtung!” waarna hulle almal soos kisduiweltjies regop gespring het. Al die besoekers, hetsy man of vrou, SA, SS of wat ook al, was sonder uitsondering beïndruk deur die blink tin en aluminium. Koegel was gewoonlik die enigste een wat vrae aan die gevangenes gestel het. “Waarom is jy in hegtenis geneem?” En die antwoord was sonder uitsondering: ‘Omdat ek ’n Getuie van Jehovah is.” Dit sou al vraag wees, want Koegel het uit ondervinding geweet dat hierdie onversetlike Bybelstudente nooit ’n geleentheid deur die vingers laat glip het om te toon dat hulle Getuies is nie. Daarna sou die besoekers die slaapsaal besoek, en die orde wat hulle daar aangetref het, het gereeld luide uitroepe ontlok.

Alhoewel Frau Langefeld, die SS se Senior-opsiener, die “Getuies” begunstig en beskerm het, het een van die hoof-opsieners, ’n vrou genaamd Zimmer, hulle as haar “bête noire” beskou. Frau Zimmer was met niks tevrede nie. Selfs nie eens die netjiesste bed het haar goedkeuring weggedra nie, en sy het nooit ’n geleentheid deur die vingers laat glip om die Getuies te beledig en te tiranniseer nie.

[Om die Getuies se vrede en Christelike eenheid te versteur, het die owerheid omtrent 100 Asosiale in die blok gesit.]

Dit was asof die wolwe op die kudde toegesak het. Skellery, diefstal en rusies het ’n onafskeidelike deel van ons daaglikse lewe geword. Die Asosiale het dadelik begin om die “Getuies” te verkla omdat hulle die Bybel bestudeer het en godsdiensgesprekke gevoer het; hulle het alles gesteel wat hulle in die hande kon kry; en omdat hulle hulself as die verteenwoordigers van gesag beskou het, het hulle hulle oor die algemeen op ’n baie aggressiewe en uittartende wyse gedra. En hoe hartseer het dit my tog nie gemaak nie! Maar ek moet dit my “Getuies” ter ere nagee dat hulle my in my probleme te hulp gesnel het en my op elke moontlike manier ondersteun het. Danksy hulle het ons daarin geslaag om ses maande lank deur te worstel—die duur van die plaag—sonder dat daar enige ernstige moeilikheid was.

Ek het my bes gedoen om die onrusstokers af te sonder. Ek het die “Getuies” by afsonderlike tafels laat eet sodat hulle hulle sake tydens maaltye kon bespreek sonder die gevaar om verkla te word, en snags het ek die Asosiale in die boonste bed en die “Getuies” onder laat slaap. Maar soos sake verloop het, moes die owerheid—Frau Zimmer was die eintlike aanstigter—al die berugte bednatmakers in die kamp gekies het, en nag na nag het dit op die onskuldiges in die onderste beddens neergegiet.

Eendag het ons ou vyand, Frau Zimmer, haar handewerk kom beskou. Sy het dadelik opgemerk dat ek die skape van die bokke geskei het en my verontwaardig bygedam.

“Jy moenie dink ek is blind nie”, het sy gesê. “Ek weet baie goed dat jy die Bybelwurms hier beskerm. Moenie waag om die Bybelwurms en die Asosiale te skei nie, gehoor?”

Wel, wat kon ek doen? Ek was verplig om hulle te meng en die beste te hoop. Dit was hier dat Jehovah ingegryp het. Die Bybelstudente het die Asosiale soos verlore susters verwelkom: Was hulle honger? Regtig! Sou hulle graag ’n ekstra stukkie brood wou hê? Regtig! En so het dit voortgegaan. Ek het hierdie Christelike liefdadigheid met gemengde gevoelens aanskou, maar dit het gewerk. Die Asosiale is saggemaak met goedheid en vriendelikheid, en toe is daar begin met ’n veldtog om hulle die lig te laat sien. Na ’n kort rukkie het ’n hele paar Asosiale—’n sigeuner, ’n Pool, ’n Jodin en Politieke gevangene—na die SS-kantoor gegaan en gesê dat hulle voortaan as Jehovah se Getuies beskou wil word en op die ligpers driehoek vir hulle moue aangedring. Toe dit te erg word, het die SS net ingestorm, teen die bekeerlinge uitgevaar en hulle uitgegooi. Op die ou end het die SS so maagvol geword dat hulle die Asosiale uit ons blok gehaal en vrede teruggekeer het. Ek het ’n sug van verligting geslaak, en die “Getuies” het ’n biduur gehou om Jehovah te dank.

GELOOF IS VIR JOU PRAKTIES

Dit is tragies dat enigiemand, ongeag wat die rede is, die afgryse van die Nazi-konsentrasiekampe moes beleef. Tog het dit gebeur. Wat kan ons daaruit leer?

Die verslag in Under Two Dictators getuig van die geloof van daardie Christinne. Dit was beslis nie ’n geloof vir hulle eie gerief nie. Maar ons kan nie anders as om die praktiese voordele van ’n lewe met sulke sterk geloof in God, terwyl hulle gewag het op die tyd wanneer God alle goddeloosheid op die aarde gaan uitwis, raak te sien nie.

Hulle geloof het vir hulle standaarde gegee. Dit het hulle gehelp om geestes- en morele balans te bewaar. Hulle gesondheid is nie deur bekommernis ondermyn nie, en hulle krag is nie deur wanhoop uitgeput nie. Hulle geloof het hulle dus gehelp om van dag tot dag aan die lewe te bly.

Sielkundige Bruno Bettelheim het Jehovah se Getuies persoonlik in die kampe waargeneem. Hy het geskryf dat hulle “nie alleen buitengewone menslike waardigheid en morele gedrag gehad het nie, maar oënskynlik beskerm is teen dieselfde kampervaring wat persone gou vernietig het wat deur my en my psigoanalitiese vriende as baie goed geïntegreer beskou is”.—The Informed Heart (Ons kursiveer.)

The Dungeon Democracy voeg by: “Party het met hulle gespot, maar hulle het dit geïgnoreer en hulle menslike waardigheid behou terwyl die ander hulself met veragting verkwansel het vir heerskappy in die hand-en-tandstryd om oorlewing.”

Kan jy nie sien dat sulke geloof jou kan help nie, selfs al ondervind jy nooit sulke groot lyding nie? Net soos alle ander mense het jy ook vandag met probleme en druk te kampe. Maar geloof in God sal jou help om ’n veiliger lewe te lei.

Geloof in God en sy Woord sal ook prakties wees in jou handelinge met ander. Wanneer jy byvoorbeeld ooreenkomstig diepe geloof lewe, sal ander jou waarskynlik billiker en met meer respek bejeën. Klink dit onwaarskynlik in vandag se wêreld vol meedoënlose mededinging? Wel, beskou Bettelheim se kommentaar oor die Getuies in die kamp: “Selfs al was hulle die enigste groep gevangenes in die kamp wat nooit die ander gevangenes beledig of mishandel het nie (inteendeel, hulle was gewoonlik baie hoflik teenoor medegevangenes), het SS-offisiere hulle as bediendes verkies weens hulle werkgewoontes, vaardighede en beskeidenheid.”

So ook vandag. As gevolg van hulle geloof en God se gees probeer Jehovah se Getuies steeds om vriendelik, sagmoedig, eerlik en hardwerkend te wees (Gal. 5:22; Rom. 12:16-18, 21; Jak. 3:13; Ef. 4:28). Hulle word dus dikwels hoog op prys gestel as werknemers. Hulle vind dit dikwels betreklik maklik om werk te kry en behou hulle werk wanneer ander afbetaal word, of hulle word gou tot vertrouensampte bevorder.

Geloof kan ook op baie ander maniere prakties wees. Dit kan jongmense help om gelukkiger te wees en meer doelgerigte lewens te lei. Dit is prakties waar dit kom by gesinslewe en sake rakende seks. Dit kan vir jou beter gesondheid en ’n langer lewe gee.

En die ding wat deur baie as die grootste bewys beskou word dat geloof waarlik prakties is, word beklemtoon deur die woorde in Hebreërs 11:6. Die apostel Paulus het daar geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”

Miljoene van Jehovah se Getuies sien in geloof uit na God se beloofde beloning van lewe in vrede, geregtigheid en geluk op aarde (2 Pet. 3:13). Ons spoor jou aan om meer by hulle uit te vind omtrent daardie beloning en hoe geloof nou en vir ewig in jou lewe prakties kan wees.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaat genootskap

b Die Asosiale was prostitute, rondlopers, sakkerollers, alkoholiste en ander “lui elemente”

[Prent op bladsy 8]

Gertrude Poetzinger in 1944. Sy was een van die 275 lede van Jehovah se Getuies wat in die Ravensbrueck-kamp was

[Prent op bladsy 9]

Gertrude Poetzinger vandag. Sy dien by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel