INSIG IN DIE NUUS
Priester prys Getuies
• Na ’n besoek van twee van Jehovah se Getuies aan sy pastorie het priester Andrew Breines in die Katolieke “Herald Citizen” van Madison, Wisconsin, geskryf: “Ek is nog altyd beïndruk deur die ywer van [Jehovah se Getuies]. Al het hulle maar pas op die toneel verskyn, begin hulle dadelik met huisbesoeke om die ‘Goeie Nuus’ te versprei.” Die geestelike het gesê dat hulle aan “God se werk voorkeur gee bo hulle eie belange en gerief. God beklee die eerste plek in hulle lewens.” Hy het gevra: “Ek wonder hoeveel van ons [Katolieke] . . . kan hulle onvermoeide ywer vir evangelisasiewerk ewenaar. Hulle gaan van huis tot huis omdat hulle God se roeping aangeneem het, nie alleen vir hulle eie redding nie, maar ook om die ‘Goeie Nuus’ met ander te deel.”
Toe die priester hoor dat een van die twee besoekende Getuies voorheen ’n Katoliek was en die ander een aan die Lutherse Kerk behoort het, het hy vir hulle gevra waarom hulle Jehovah se Getuies geword het. “Hulle het geantwoord dat dit was omdat hulle ‘die waarheid’ leer ken het. Daarmee het hulle bedoel dat hulle Jesus Christus persoonlik deur geloof en vrome Skriflesing leer ken het.” Toe het die priester gesê: “Nadat my besoekers vertrek het, kon ek dit nie verhelp om te wonder of ons, in die groot godsdiensdenominasies, nie dikwels God se evangelisasiewerk deur sakramente en programme vervang nie.” Maar daar kan geen ware plaasvervanger vir evangelisasiewerk wees nie, aangesien dit deel is van Jesus se bevel aan diegene wat sy volgelinge wil wees.—Matt. 10:7, 11-13; 24:14; 28:19, 20; Hand. 20:20.
Aborsie ’n geringer sonde?
• ’n Paar verbasende feite oor aborsies is onthul deur Britse sosioloog Colin Francome na ’n tweejarige studie van aborsieklinieke in Boston, Massachusetts, en Long Island, New York. “Een verbasende statistiek wat deur die studie aan die lig gebring is, is dat 66% van die aborsie-pasiënte aan die Bostonse kliniek Katolieke was, terwyl slegs 35% van Boston se bevolking Katolieke is”, het hy gesê. Maar die verbasendste onthulling van die studie was moontlik dat die meeste pasiënte ongetroude Katolieke vroue was wat gemeen het dat aborsie die kleiner euwel is. Waarom? Weens hulle godsdiensagtergrond het hulle, volgens die studie, geredeneer dat dit beter sou wees om ’n aborsie te hê as om “herhaaldelik te sondig deur van geboortebeperking gebruik te maak”.
’n Taamlik ongebalanseerde beskouing van sonde is klaarblyklik by persone ingeskerp deur ’n kerk wat net so ’n groot geskil van geboortebeperking maak—iets wat nie eens spesifiek in die Bybel bespreek word nie—as van fetusmoord, wat duidelik verbode is. In die furore oor geboortebeperking word die sondigheid van die hoerery wat die ongewenste baba in die eerste plek veroorsaak skaars raakgesien.—Ex. 20:13; 21:22, 23; 1 Kor. 6:9, 10.