ST. HELENA—eensaam, pragtig en gasvry
IN 1502 het Portugese matrose, onder aanvoering van kaptein João de Nova Castella, ’n eilandjie omtrent 1 900 kilometer wes van Afrika in die Suid-Atlantiese Oseaan gesien. Sy barre, ruwe kranse, waarvan party 600 meter hoog is, het glad nie aanloklik gelyk nie. Maar toe hulle daar land, het hulle ’n groen, geil landskap met baie fonteine en stroompies vars water gevind. Hulle het dit St. Helena genoem.
Die eilandjie, met ’n oppervlakte van so wat 122 vierkante kilometer, is onder Britse bewind, en skepe wat water nodig het, doen dit al eeue lank aan.
Die klimaat is subtropies, en op party plekke lyk die eksotiese plantegroei amper na ’n botaniese tuin. Die bevolking van 5 200 is hoofsaaklik van gemengde afkoms en het ’n kleurryke agtergrond. Die Britte het tevore ’n garnisoen in Jamestown, die enigste dorp en hawe, gehou. Honderde slawe is uit Afrika soontoe gebring, en baie Chinese het na die eiland gekom om die hennepnywerheid te ontwikkel. Tekens van sulke afkoms is vandag te sien in vanne, gelaatstrekke, karaktertrekke en volkstradisies.
Geen vliegtuie kan op St. Helena land nie, want daar is te veel berge en diep valleie. Dit kan slegs per boot bereik word na ’n reis van vyf dae van Kaapstad af. Dit is dus afgeleë en eensaam, maar pragtig.
Die eiland se hoofaanspraak op roem uit ’n geskiedkundige oogpunt is die feit dat Napoleon Bonaparte, na sy nederlaag by Waterloo in 1815, na hierdie afgeleë plek verban is. Hy is in 1821 hier oorlede.
DIE KONINKRYKSBOODSKAP BEREIK ST. HELENA
Net meer as 100 jaar later, in 1933, het die eiland ’n besoek ontvang wat verreikender gevolge sou hê. Twee van Jehovah se Getuies, Grey Smith en ’n jong metgesel, het as ware pioniers gekom. Hulle het die hele eiland besoek en amper 1 000 stukke Bybellektuur versprei. Die ‘saad’ het “goeie grond” gevind in Tom Scipio, ’n offisier in die Britse Polisiemag wat toevallig ook ’n afstammeling van ’n huisbediende van Napoleon was (Matt. 13:3-8). Tom het aandagtig na die Koninkryksboodskap geluister en dadelik besef dat dit belangrik is om dit vir ander te vertel. Hy het gou teenstand ondervind. In ’n poging om Tom die swye op te lê, het ’n medeoffisier hom daarvan aangekla dat hy sy posisie as polisieman gebruik om sy godsdiensopvattings te versprei. Maar die goewerneur het die aanklag verwerp.
Onverskrokke het hierdie ywerige man meer Bybellektuur van Kaapstad af bestel, asook ’n grammofoon en plate met Bybellesings daarop. Tom Scipio, met sy donkie wat gelaai was met hierdie hulpe om die “goeie nuus” te versprei, het ’n bekende gesig op die eiland geword. Hy was ’n ywerige prediker tot met sy dood in 1977.
DIE EERSTE GEMEENTE
Sulke ywerige bedrywigheid het gou vrugte afgewerp. Sommer die volgende jaar al, in 1934, is ’n groepie op St. Helena gevorm. Dit het aangehou groei en teen 1939 is twee groepe gevorm, een in Jamestown en die ander in Longwood, ’n paar kilometer daarvandaan. Hulle het jare lank die werk sonder hulp gedoen. Selfs kontak per brief was (en is nog steeds) baie ongereeld. Behoorlike predikings en onderrigtingsmetodes is gevolglik nie goed begryp nie.
Daarom het die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Suid-Afrika in 1951 ’n ervare voltydse werker, J. F. van Staden, na St. Helena gestuur. Hy het gevind dat die plaaslike Getuies se enigste vergaderinge “opelugdienste” op verskeie plekke op die eiland was. Die broers het hulle eie orkessie gehad—twee viole en ’n trekklavier. Hulle het mense se aandag getrek deur Koninkryksliedere te speel en het dan vir die omstanders ’n toespraak gehou. Maar met broer Van Staden se hulp, is twee vergaderplekke gevind, een in Jamestown en die ander in Levelwood, en is behoorlik gereëlde vergaderinge vir Bybelonderrig gehou. Na slegs drie maande van opleiding en geestelike hulp was broer Van Staden verheug om ’n dooptoespraak te hou waarna 26 nuwelinge gedoop is. Broer Van Staden het meer as ’n jaar lank gebly, en die plaaslike Getuies is goed toegerus om die huis-tot-huispredikingswerk te doen en Bybelstudies en vergaderinge te hou.
Sedertdien word die eiland elke jaar deur ’n reisende opsiener besoek. Die twee gemeentes is goed gevestig, elk met sy eie Koninkryksaal.
Tom Scipio se seun George is een van die wat die voortou in hierdie ontwikkeling neem. ’n Ernstige liggaamsgebrek wat dit vir hom moeilik maak om te loop, het hom nie verhinder om getrou op en af teen die steil en dikwels gladde bergpaadjies waarvan die eiland vol is, te hobbel nie. Hy het al male sonder tal gegly en geval. Maar hy dien al jare lank as ’n voltydse werker. Daarbenewens het hy vroeër as gemeenteopsiener gedien, met min of geen hulp om die plaaslike probleme te hanteer en besluite te neem nie.
’N DAG IN DIE VELDDIENS
Die huis-tot-huispredikingswerk op St. Helena is ’n baie lonende ondervinding. Vir ’n vreemdeling is dit ’n onvergeetlike gebeurtenis. Hier volg ’n beskrywing van ’n dag in die velddiens deur ’n besoekende opsiener wat onlangs daar was.
“Weens die ligging van die gebied waar ons moet werk, vergader ons nie by die Koninkryksaal nie. Ons bymekaarkomplek is ’n rusplekkie op ’n bergpad, 360 meter bo seespieël. Terwyl ons ons reëlings bespreek, het ons ’n asemrowende uitsig. Tussen ons en die blink see daar onder is daar weivelde met lowergroen gras, terrasvormige vlaslande, klompies doringbome en bloekomwoude met braambosse en varings onder hulle. Ons hoor die gesang van voëls. Sulke wondere van Jehovah se handewerk help die groepie Koninkryksverkondigers om die regte beskouing te hê.
“Na ’n kort Skriftuurlike bespreking en gebed, ontvang ons ons stuk gebied vir die dag. Elke paar kry vier of vyf huise. Daar bestaan geen nodigheid vir ’n kaart nie. Die plaaslike werkers ken die bewoners so goed dat hulle net die vanne van die gesinne wat hulle moet besoek, kry.
“Wanneer ons die smal teerpad verlaat, loop ons met steil bergpaadjies langs. Party dele is so steil dat ons kort-kort moet rus. Omtrent ’n halfuur later nader ons ’n huisie op ’n gelyk stuk grond wat uit die steil berghang gekap is. Dit is gebou van blokke lawarots en is wit geverf. Die varkhokke en die netjiese groentetuin met piesangbome en granadillaranke sê vir ons dat die huisbewoner ’n kleinboer is.
“Ons roep ’n begroeting van die hek af uit en ’n vriendelike stem antwoord: ‘Is jy broer So-en-so? Kom gerus in. Wat dink jy van ons eiland?’
“Ons weet dat hierdie huise net ’n paar weke gelede besoek is. Die huisbewoner het reeds Bybellektuur en verstaan verskeie basiese leerstellings. Ons stel dus vas watter Bybelonderwerpe tevore bespreek is. Hy gaan haal sy Bybel en ons wei uit oor ’n onderwerp wat vantevore bespreek is (of in party gevalle verduidelik ons nuwe gedagtes). ’n Halfuur of meer verstryk gou en ons laat tydskrifte of ander lektuur by die huisbewoner wat ons vir ons besoek bedank. Omdat al ons besoeke dieselfde patroon het, is dit duidelik waarom ’n mens vier of vyf uur nodig het om vier of vyf huise te besoek.
“Omtrent 2 nm. kom al die Getuies by ’n bepaalde piekniekplek in die een of ander mooi omgewing bymekaar. Terwyl hulle gasvry die inhoud van hulle mandjies met mekaar deel, vertel hulle vir mekaar van die ondervindinge wat hulle daardie dag gehad het. Die volwassenes ontspan terwyl die kinders ’n bietjie speel. Almal het daardie gevoel van innige genoegdoening wat die Koninkrykswerk ’n mens verskaf.”
DIE “SEËVIERENDE GELOOF”-BYEENKOMS
Die “Seëvierende Geloof”-Byeenkoms in 1979 was ’n mylpaal in St. Helena se geskiedenis. Die plek? ’n Saal wat van klipblokke gebou en omtrent 100 jaar oud is, reg in die middel van Jamestown. Aangesien die saal slegs sitplek vir 150 mense het, het die res in ’n kafeteria daar naby wat voor oop was, gesit. Luidsprekers is in hierdie gebou opgerig. Dit was nie net die 250 wat die byeenkoms bygewoon het, wat die program gehoor en geniet het nie, maar ’n aantal bure het ook die vierdaagse program geniet deur op hulle stoepe te sit. Een dame het die volgende vir een van die Genootskap se verteenwoordigers gesê: “Die program was puik. Die raad en onderrigting vir die gesin was so prakties. Ek was ook bly om te hoor watter goeie sprekers ons plaaslike eilandbewoners geword het.” Sy het die program van haar voorstoep af gehoor.
Ja, St. Helena is een van die mees afgeleë plekke op aarde. Dit hou egter voordele in vir diegene wat van rus en vrede hou. Dit help ook dat die mense nie so deur wêreldse neigings en die media beïnvloed word nie. Hulle is oor die algemeen vriendelike, gasvry en nederige mense. Op St. Helena is daar gevolglik meer Getuies in verhouding tot die bevolking as op enige ander plek ter wêreld—1 tot 61 in 1980. Sedertdien het ’n paar Getuies verhuis sodat daar sowat 80 bedrywiges oorgebly het. Maar die Gedenkmaalopkoms in 1980 was 207, ’n verhouding van omtrent 1 tot 24 van die eilandbewoners.
Dit is hartverblydend om te sien dat die Koninkrykswerk wonderlike vooruitgang gemaak het in hierdie eensame maar pragtige plek. En daar bestaan goeie vooruitsigte dat baie meer van die mense hier nog sal deelneem aan die vervulling van die woorde van Jesaja 42:10: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af . . . eilande en bewoners daarvan.”—Bygedra.