Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 3/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Juig vir ewig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • So ’n groot wolk van getuies!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 3/15 bl. 30-31

VRAE van LESERS

• In Hebreërs 12:22, 23 praat die apostel Paulus van “die geeste van die volmaakte regverdiges”. Is hierdie ”regverdiges” daardie getroues waarvan die apostel Paulus in Hebreërs hoofstuk 11 geskryf het?

Die gedagte dat hierdie woorde verwys na die manne van geloof en getrouheid in voorchristelike tye tot by Johannes die Doper is nie nuut nie. Reeds in sy nommer van 15 Augustus 1913, bladsye 248 en 249, het The Watchtower dit versigtig te kenne gegee, en daardie beskouing is baie jare lank gehuldig.

Hebreërs 11:8-10 het verwys na Abraham, Isak en Jakob en het getoon dat Abraham die stad Ur in Chaldea verlaat het en dat hy en Isak en Jakob soos swerwers gelewe het totdat Jakob na Egipte getrek het in die dae van sy seun Josef. Gedurende daardie tydperk het hulle dus nie in ’n gevestigde plek soos ’n stad gewoon nie. Niks in die Hebreeuse Skrifte sê dat God ’n “stad . . . wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” aan hierdie drie manne beloof het nie. Dit is Paulus se kommentaar oor die saak. Daardie uitdrukking verwys ongetwyfeld na die opgerigte koninkryk van God in die hande van die ‘saad van Abraham’, waaronder daardie drie aartsvaders op aarde sal lewe en teen die einde van die duisend jaar volmaaktheid sal bereik.—Gal. 3:16.

Toe God die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob uit Egipte gebring het na die land wat hy aan Abraham beloof het, het hulle hulle in die stede van die Kanaäniete gevestig, daar Jerigo die enigste een is wat deur God se mag vernietig is. Daarna het al die getroue profete en getroue vroue van die ou tyd ’n vaste woonplek in stede gehad. Daar kon gevolglik nie soos van Abraham, Isak en Jakob ook van hulle gesê word dat hulle ’n toekomstige stad op aarde verwag nie. Jerusalem is in die jaar 70 G.J. vernietig, 39 jaar nadat Johannes die Doper onthoof is. Selfs Joodse Christene het dus in daardie sigbare, aardse stad gewoon tot na die onttrekking van generaal Gallus aan Jerusalem toe Christene Jesus se profetiese bevel om uit die stad te vlug gehoorsaam het.—Matt. 24:15-22.

Hebreërs 13:12-14 meld hoedat Jesus buitekant die mure van aardse Jerusalem, of “buitekant die poort” aan die paal genael is. In die lig daarvan sê Paulus voorts: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer [soos die sondebok of “die bok . . . vir Asasel” wat op die versoendag in die woestyn ingestuur is (Lev. 16:10)] en sy smaad dra. Want ons 30 het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” Hierdie “stad” verwys na die hemelse koninkryk, die Nuwe Jerusalem, wat Paulus in Hebreërs 12:22 meld.

Die getroue manne van die ou tyd, veral van Abraham af tot Johannes die Doper, het nie verwag om hemel toe te gaan en in daardie hemelse Jerusalem in te gaan nie. Hulle het geen begrip van so iets gehad nie (Matt. 11:11). Hulle kon nie so ’n hoop koester nie, want hulle is nie deur God se heilige gees verwek nie. Johannes 7:39 bewys dit waar dit sê: “Dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” Christenmanne en -vroue is eers vanaf Pinkster van 33 G.J. deur gees verwek. Daardie geesverwektes het van toe af uitgesien na lewe in die hemelse stad wat deur aardse Jerusalem afgeskadu is.

Dit is waarom Paulus in sy brief aan Hebreeuse Christene tereg vir hulle in Hebreërs 12:22 kon sê: “Maar julle het gekom by [nader, NW] die berg Sion [nie die berg Sinai in Arabië nie] en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele.” In Paulus se dag was “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” nog nie eers 30 jaar oud nie. Dit was dus nog jonk en het nie naastenby 144 000 lede gehad nie. Die 144 000 “eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”, is eers voltallig aan die einde van die sogenaamde Christelike Tydvak wat eindig by die “groot verdrukking” van Openbaring 7:14 en Mattheüs 24:21, 22. Paulus en die Hebreeuse Christene aan wie hy geskrywe het, was dus slegs besig om daardie “gemeente” te nader wat betref die volle ledetal van 144 000.

Hebreërs 12:23, 24 sê vervolgens: “En by God, die Regter van almal, en by die geeste [geestelike lewens, NW] van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” God is dus die regter van almal, onder meer die 144 000 opgeskrewenes. Die aanstaande lede van die verheerlikte “gemeente” moet dus ’n oordeelstydperk belewe voordat hulle deur Jehovah, die Opperregter, goedgekeur word. Dit is waarom die vers, reg na dit van hom melding gemaak het, voorts sê: “En by die geeste [geestelike lewens] van die volmaakte regverdiges.” Dit is die lede van die geesverwekte Christen-“gemeente” wat deur geloof geregverdig is (Rom. 5:1; 8:1-4). Om daardie rede word daar na hulle verwys as “die volmaakte regverdiges”.

Hulle word gevolglik vermaan om hulle “liggame [te] stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens” (Rom. 12:1). Dit is daarom dat hulle “uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Hebr. 13:13). Hierdie geesverwekte Christene het inderdaad nou op aarde “geestelike lewens” en hulle word vermaan om te wandel volgens die gees waarmee hulle verwek is.

Die apostel Paulus verwys in dieselfde hoofstuk, in Hebreërs 12:9, na die “geestelike lewens” van hierdie geregverdigde Christene: “Moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste [ons geestelike lewe, NW] onderworpe wees en lewe nie?” Die Griekse teks lui letterlik: “Die Vader van die geeste.” Hy is die Vader van die geesverwekte gemeente waaraan Paulus geskryf het, en dus parafraseer die New World Translation die uitdrukking effens persoonliker deur te sê “Die Vader van ons geestelike lewe”. Hierdie uitdrukking kom 14 verse voor Hebreërs 12:23 voor en is dus deel van die onmiddellike verband.

In Hebreërs 12:1 keer die apostel Paulus die aandag weg van die getroue manne en vroue van voorchristelike tye na die geesverwekte Christengemeente en die weg van goddelike diens wat voor hierdie geesverwekte Christene uitgestrek het. In Hebreërs 12:23 keer hy dus nie terug na wat hy in hoofstuk 11 bespreek het nie. In die lig van hierdie feite stel die uitdrukking “die [geestelike lewens] van die volmaakte regverdiges” die “gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” uit ’n ander hoek voor en is dit dus nie onnodige herhaling van wat reeds in vers 22 gesê is nie. Dit is gevolglik nie nodig om dit te probeer toepas op ’n ander klas Godvresende persone soos die getroue manne en vroue van vervloë tye van Abel af tot Johannes die Doper nie.

Dit blyk ook uit Paulus se volgende woorde dat Hebreërs 12:22, 23 slegs op die geesverwekte Christengemeente van toepassing is: “En by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel” (Hebr. 12:24). Die geesverwekte gemeente is in daardie nuwe verbond en gevolglik is Jesus hulle middelaar. Dit is hulle op wie die “bloed” van Jesus Christus in ’n geestlike sin gesprinkel is sodat dit ’n beter uitwerking op hulle het as wat die bloed van die martelaar Abel sou hê (Hebr. 11:4). Dit wil sê, hulle is nou werklik geregverdig of regverdig verklaar deur hulle geloof in daardie bloed.—Rom. 5:9.

In ooreenstemming hiermee rig Paulus voorts steeds sy woorde in Hebreërs 12:25-28 tot die geesverwekte gemeente en vermaan hy hulle om hulle te beywer om hulle hemelse koninkryk, naamlik “die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem”, wat hulle genader het waardig te wees. Die oorblyfsel van die geesverwekte gemeente van 144 000 lede is nou baie nader aan die dinge wat Paulus in verse 22 en 23 opgenoem het as wat daardie Hebreeuse Christene van die eerste eeu was. En ’n groot menigte “ander skape” verheug hulle saam met hulle dat dit die geval is. Hierdie “groot menigte” wandel vandag inderdaad deur die geloof net soos die getroue manne en vroue van voorchristelike tye.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel