‘DRA VRUG IN ELKE GOEIE WERK’
OMDAT Jehovah se Getuies gehoorsaam is aan die Skriftuurlike bevele wat in die vorige twee artikels bespreek is, is dit waarlik so dat hulle ‘in elke goeie werk vrug dra’ (Kol. 1:10). Hulle preek en onderrig nie alleen ywerig nie, maar hulle lewer ook verslag van hulle bedrywighede vir die genot van alle ander Koninkryksverkondigers.
Hierin het hulle goeie Skriftuurlike voorbeelde. Ons lees byvoorbeeld in Handelinge 2:41 dat daar, as gevolg van die apostel Petrus se aangrypende toespraak, sowel as die predikingswerk van ander dissipels, “op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring” is. ’n Kort rukkie later het verdere ywerige predikingswerk meegebring dat die aantal dissipels tot “omtrent vyfduisend” toegeneem het (Hand. 4:4). En toe nuwe Christenbekeerlinge in Efese gedoop is, sê die Bybelverslag: “Altesaam was hulle omtrent twaalf manne.”—Hand. 19:2-7.
BEMOEDIGENDE VERMEERDERINGE
Die 1980-diensjaar van Jehovah se Getuies, wat op 1 September 1979 begin het en op 31 Augustus 1980 geëindig het, was voorwaar ’n goeie. Daar was wêreldwyd ’n algemene vermeerdering van 3,7 persent in die aantal wat die koninkryksboodskap verkondig. Dit is voorwaar hartverblydend om te sien hoedat land na land vermeerderinge getoon het, terwyl hulle die vorige jaar verminderinge gehad het. Daar was byvoorbeeld voorverlede jaar ’n vermindering van 11 persent in Paraguay, ongetwyfeld weens groter wetlike moeilikhede. Wel, verlede jaar was daar ’n vermeerdering van 13 persent, wat meer as vergoed het vir die vorige jaar se afname. Nadat daar etlike jare lank ’n afname in die Filippyne was, het hulle ’n vermeerdering van 2 persent gehad. Korea het voorverlede jaar ’n afname van 1 persent gehad, maar verlede jaar was daar ’n vermeerdering van 6 persent. Uruguay, wat die vorige jaar ’n afname van 2 persent gehad het, het verlede jaar ’n vermeerdering van 9 persent gehad.
Baie lande het groter vermeerderinge as die vorige jaar gehad. In Bolivia was daar byvoorbeeld voorverlede jaar ’n vermeerdering van 1 persent, maar verlede jaar ’n vermeerdering van 7 persent. Die Verenigde State het ook twee jaar gelede ’n vermeerdering van 1 persent gehad, maar verlede jaar was die vermeerdering 4 persent. Jamaika, wat voorverlede jaar eweneens ’n vermeerdering van 1 persent gehad het, het verlede jaar ’n vermeerdering van 11 persent gehad. Venezuela, wat die vorige jaar ’n vermeerdering van 3 persent gehad het, het verlede jaar een van 9 persent gehad. Japan, wat twee jaar gelede ’n fenomenale vermeerdering van 10 persent gehad het, het dit verlede jaar verbeter met ’n vermeerdering van 11 persent.
In België toon die Italiaanse Getuies opmerklike ywer en behaal hulle merkwaardige resultate. Daar is nou 31 Italiaanse gemeentes aldaar met ’n totaal van 2 500 Getuies. Dit beteken dat 1 uit elke 100 Italianers in België nou ’n Getuie is. Trouens, ’n Getuie kom selde ’n Italianer teë wat nie ’n buurman, ’n vriend of ’n familielid het wat ’n Getuie is nie.
ONDERVINDINGE UIT DIE VELD
Iets wat veral verkwikkend is, is die ondervindinge wat die Getuies in die predikingswerk gehad het. In Ierland het die byeenkomslapelkaartjies wat die Getuies gedra het die aandag getrek van ses alkoholiste wat in pondokkies in ’n park gewoon het. Een van hulle het baie belanggestel en die boek Die lewe het ’n doel geneem. Verdere Bybelbesprekings met hom het meegebring dat hy heeltemal opgehou het om alkohol te gebruik.
Weens sy kennis van Bybelbeginsels het hierdie man besef dat dit nodig is om te werk en het hy ’n werk gekry en ook sommer uit die park getrek en ’n woonstel gehuur. Sy voorkoms het dramaties verander toe hy sy hare laat kap en vir homself ’n pak gekoop het. Toe hy in die hof verskyn het weens ’n oortreding wat hy begaan het voordat hy die waarheid leer ken het, het hy so ordentlik gelyk dat die regter hom ’n opgeskorte vonnis gegee het en hom geprys het oor sy voorkoms.
Terwyl die voormalige alkoholis die “Goddelike Liefde”-byeenkoms van die Getuies in Dublin bygewoon het, het hy sy familielede besoek, al het hulle hom vantevore verbied om hulle huise binne te kom. Hulle kon skaars hulle oë glo en het dit moeilik gevind om te glo dat hy dieselfde persoon is. Hy woon nou gereeld die Getuies se vergaderinge by en hou aan om vir polisiemanne, hofbeamptes en die manne by sy werk te preek.
Die volgende ondervinding kom van ’n Getuie in Argentinië. “Ek het van huis-tot-huis gewerk toe ’n man vir my gevra het of ek een van Jehovah se Getuies is. Ek het aanvanklik geaarsel, want ek het nie geweet wat sy beweegrede is nie, aangesien die werk hier verbied is. Toe hy hoor dat ek een van hulle is, het hy gevra dat ek die Bybel saam met hom moet bestudeer. Dit is gereël. Trouens, ek het dieselfde dag teruggegaan en ons het ’n Bybelstudie begin met die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Hy het hierdie Bybelstudiehulp in een week deurgelees en het begin om die Bybel te lees. Ek het vir hom gevra waarom by die Bybel saam met my wou bestudeer, en hy het gesê dat dit was weens die groot verandering wat ’n egpaar wat langs hulle woon in hulle lewens aangebring het. Hulle het op die punt gestaan om te skei omdat hulle nie met mekaar kon klaarkom nie. Toe het hulle begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, en wat ’n verandering het tog in hulle lewens plaasgevind! Hulle kom nou goed klaar. Hierdie man het dadelik besluit om van geloof te verander, en hy leer nou vir sy kinders wat hy leer.”
Om ‘in elke goeie werk vrug te dra’ moet ’n mens ook liefde aan mede-Christene betoon. ’n Broer in Europa het die verhaal gelees in The Watchtower van 15 April 1978 wat vertel van ’n Getuie in Panama wat albei sy hande verloor het. Hy het aan die Genootskap se takkantoor geskryf en gesê dat hy graag die gebreklike broer wil help om kunshande te kry en dat hy al die onkoste sal dek. Reëlings is getref dat dit in Mexiko gedoen word. Die broers aldaar het die gebreklike broer hartlik ontvang. Hy het nou teruggekeer huis toe en jy kan jou voorstel hoeveel vreugde dit hom verskaf om ’n potlood in een “hand” te neem en sy naam te skryf, iets wat hy meer as dertig jaar lank nie kon doen nie!
Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Oostenryk het ’n brief ontvang wat waardering uitspreek vir die werk wat Jehovah se Getuies doen. Dit het gelui:
“Ek het lank gewik en geweeg of ek hierdie brief moet skryf of nie. Ek weet dat julle van huis tot huis gaan om vir mense die ‘goeie nuus’ te bring. Ek kan my goed voorstel dat dit nie altyd ’n bevredigende werk is om dag na dag geharde persone teë te kom en nie jou ywer en vriendelikheid te verloor nie. Party van julle dink dalk dat mense nie dankbaar is nie, en daarom wil ek julle bedank dat julle iemand na my toe gestuur het. As dit nie vir julle predikingswerk was nie, sou ek ongetwyfeld die breë weg bewandel het [Matt. 7:13, 14]. Maar danksy julle het ek ’n gulde geleentheid gekry om die wil van God te leer ken. Daarom wil ek graag hierdie een ding sê: Een persoon se liefde wat gewin is en sy opregte dankbaarheid vergoed vir ’n duisend deure wat toegemaak is. Met groot bewondering vir julle werk.”
JONGMENSE DRA VRUG
Die volgende ondervindinge vanuit die eiland Jamaika toon dat klein kindertjies ook vrug kan dra tot God se eer: ’n Vader het sy vyfjarige seun na skool gaan oplaai. Toe hy hom nie kon kry nie, het die vader besluit om net te wag en sy seun hom te laat kry. Na ’n rukkie het hy ’n groepie kinders gesien en gewonder wat hulle doen. Die vader het ondersoek ingestel en sy seuntjie in hulle midde gevind besig om vir hulle te preek met behulp van sy eksemplaar van My boek met Bybelverhale.
Toe ’n jong Getuie-meisie ’n dollarnoot by die skool optel, het sy dit vir die onderwyser gegee. Kort daarna is geld gesteel en die onderwyser het gedreig om die hele klas te straf as die geld nie teruggegee word nie; dit wil sê, almal behalwe die Getuie-meisie, want die onderwyser het geweet dat die Getuie nie die geld sou gevat het nie.
REGSOORWINNINGS
Daar is ook ander gebiede waarop daar ‘in elke goeie werk vrug gedra is’. Die apostel Paulus het aan sy geliefde gemeente in Filippi geskryf: “Soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en [wetlike] bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is” (Filip. 1:7, vgl. NW). Party van die regsoorwinnings is ongetwyfeld behaal omdat Jehovah se Getuies ag slaan op die raad van die apostel Paulus in 1 Timotheüs 2:1, 2: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.”
Daar is byvoorbeeld ’n brief ontvang uit Bangui, Sentraal-Afrikaanse Republiek, wat 1 Oktober 1979 gedateer is. Dit vertel hoedat die staatsradio op 27 September aangekondig het dat die verbod van 19 Augustus 1976 op Jehovah se Getuies opgehef is en dat hulle die reg het om weer vryelik dwarsoor die hele gebied van die Sentraal-Afrikaanse Republiek te preek. Dit was veral rede tot blydskap omdat die bevel uitgevaardig is deur ’n regering wat slegs een week oud was.
In April 1980 is die werk van Jehovah se Getuies in Zaïre wettiglik deur die regering erken. Omtrent ’n maand tevore het Jehovah se Getuies ’n skitterende regsoorwinning in Turkye behaal. Die jaar tevore is 42 Getuies vrygespreek op die aanklag van ondermyning en skending van die Wet op Sekulêre Bewind. Die prokureur-generaal het appèl aangeteken en die saak is dus na Turkye se hoogste Appèlhof geneem. Dit het ten gunste van die Getuies beslis. Omdat dit die hoogste hof in Turkye is, moet alle ander howe hulle by sy beslissing hou. Dit het onder meer gesê:
“Indien die dinge wat die beskuldigdes glo en heerskappy deur God oor die wêreld tot stand gaan kom, sal dit nie daardie gebeure voorkom as die beskuldigdes gestraf word omdat hulle dit glo nie. Maar indien hulle verwagting bloot ’n fantasie en ’n sinnelose opvatting is, kan hulle opvattings ons sekulêre orde van die Staat geensins skade berokken nie.” Dit is voorwaar ’n verstandige besluit, wat ’n mens herinner aan wat Gamaliël gesê het oor die vroeë Christene en hulle leerstellings, soos opgeteken in Handelinge 5:34-40.
Al sulke verslae en ondervindinge is voorwaar so verkwikkend soos “koue water op ’n vermoeide siel” (Spr. 25:25). Dit toon ook dat Jehovah sy belofte gestand doen om ons ryklik te seën as ons die “hele tiende” na sy huis van aanbidding bring (Mal. 3:10). Mag alle toegewyde Christene hulle eweneens inspan gedagtig aan die woorde: “Wie volop saai, sal ook volop maai.”—2 Kor. 9:6.
[Tabel op bladsye 24-27]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1980-DIENSJAAR
(See bound volume)