Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/1 bl. 26-30
  • Bedienaars met sekulêre werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bedienaars met sekulêre werk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT SEKULÊRE WERK BETREF
  • DIT IS NOU DIE TYD OM DIE BEDIENING TE VERHEERLIK
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Verheerlik die bediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/1 bl. 26-30

BEDIENAARS MET SEKULÊRE WERK

1. Wat word die amptenare van politieke regerings in Tyndale se vertaling van Romeine 13:1-6 ten opsigte van die God van Christene genoem?

IN ROMEINE 13:1-6 lees ons die volgende aangaande die “hoëre owerhede” van hierdie wêreld: “Want hy is ’n dienaar [minister, volgens William Tyndale se vertaling van 1526 G.J. uit die oorspronklike Grieks in die Engels wat in sy dag gepraat is] van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar [minister, Tyndale] van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars [ministers, Tyndale] van God wat juis hiermee voortdurend besig is.”—Vgl. NW.

2. (a) Is die feit dat amptenare van wêreldlike regerings “ministers” genoem word, gebaseer of Tyndale se vertaling van 1526? (b) Ontneem hulle gebruik van daardie uitdrukking Paulus en mede-Christene wat geen deel van hierdie wêreld is nie die reg om hulself in Engels “ministers” te noem?

2 Daar bestaan geen rede om te glo dat sekere staatsamptenare op grond van die voormelde woorde van die apostel Paulus die “eerste minister” of “minister” van hierdie of daardie departement genoem word nie. Daarbenewens bestaan daar ’n hemelsbreë verskil tussen die sekulêre ministerskap van sulke politici wat in Engels ‘God’s ministers’ genoem word en die godsdienstige “bediening” van die apostel Paulus en die van sy mede-Christene wat geen deel van hierdie wêreld is nie. Hulle terreine verskil van mekaar. Die gebruik van die uitdrukking “minister” in ’n goewermentele sin deur wêreldlike politici verhinder nie dat Paulus en sy mede-Christene in sekere tale “ministers” in ’n godsdienssin genoem word nie.

3. Is Jehovah se Getuies van vandag, wat soos Tichikus en Timotheüs van huis tot huis preek, elkeen ’n “dienaar van God . . . in die evangelie van Christus”?

3 Toe Paulus Tichikus in Efesiërs 6:21 ’n “geliefde broeder en getroue dienaar [minister, Engels] in die Here” genoem het, het hy Tichikus nie saam met die geestelikes van die Christendom geklassifiseer nie. (Ook Kolossense 1:7; 4:7.) Paulus het Timotheüs ook “ons broeder en dienaar [minister, Engels] van God . . . in die evangelie van Christus” genoem (1 Thess. 3:2). Jehovah se toegewyde, gedoopte getuies van vandag wat “hierdie evangelie van die koninkryk” van huis tot huis verkondig, is inderdaad “dienaar[s] [minister(s), Engels] van God . . . in die evangelie van Christus”.—Matt. 24:14; Mark. 13:10.

4. Wat sê die Skrif oor die kwessie of die Christengemeente as geheel, asook indiwiduele lede daarvan, ’n bediening het?

4 Maar wat van die gemeente gedoopte Christene as geheel? Aan die gemeente in Thiatire, Klein-Asië, het die verheerlikte Seun van God, Jesus Christus, gesê: “Ek ken jou werke en liefde en diens [ministry, Engels]” (Openb. 2:18, 19). Aan die gemeente in Korinthe, Achaje, Griekeland, het Paulus geskryf: “Daar is verskeidenheid van bedieninge [ministries, Engels] en tog is dit dieselfde Here” (1 Kor. 12:5). Dienooreenkomstig het die verheerlikte Jesus Christus vanaf Pinkster van 33 G.J. gawes in die vorm van mense aan sy gemeente gegee, onder meer apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Met watter doel? “Om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk [letterlik work of ministry, Engels], tot opbouing van die liggaam van Christus” (Ef. 4:7-12). En aan al die lede van die Hebreeuse Christengemeente in Jerusalem het die apostel Paulus geskrywe: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het [ministered, Engels] en nog dien” (Hebr. 6:10). So het almal ’n bediening wat deur Jehovah God goedgekeur is, uitgevoer.

WAT SEKULÊRE WERK BETREF

5. (a) Kan persone wat volgens die Skrif bedienaars is deeltydse sekulêre werk doen, in stryd met die patroon van die professionele bedienaars van die valse Christendom? (b) Wanneer het die uitdrukking “minister” in Bybelvertalings verskyn?

5 As ’n mens Skriftuurlik ’n bedienaar is as deel van die toegewyde, gedoopte gemeente van Jehovah se Getuies beteken dit nie dat jy in weelde en gemak lewe nie. Die lewenswyse van die professionele bedienaars van die godsdiensstelsels van die Christendom kan baie so laat dink. Maar volgens die geïnspireerde Bybel behoort dit nie so te wees nie. Maar diegene wat volgens die Bybelse betekenis van die woord “dienaars” is, kan deeltyds sekulêre werk doen. Selfs Jesus Christus was dan tot op die ouderdom van 30 ’n timmerman in Nasaret! Daarna het hy al sy tyd gewy aan die bediening waarvoor hy met God se gees gesalf is. Ons weet nie of hy Latyn gepraat het en die uitdrukking “minister” gebruik het nie. Maar toe die Hebreeuse en Griekse Skrifte in die Latyn van die Romeinse Ryk vertaal is, het die woord minister in daardie vertaling verskyn.

6. (a) Watter soort betekenis het die Engelse woord “minister” volgens die herkoms van die ooreenstemmende woord in Latyn of Grieks? (b) Hoe kon Paulus dit dan “verheerlik”?

6 Aangesien die woord minister kom van die Latynse byvoeglike naamwoord minus, wat “minder” beteken, beteken ministerskap basies dat ’n mens “soos iets minders optree of is” (quod minus est, Latyn). Die ooreenstemmende Griekse woord di·a’ko·nos het ’n soortgelyke nederige herkoms. Dit kom volgens berig van di·a’ (wat “deur” beteken) en konis (wat “stof” beteken). Vir ’n Griek bevat die woord die gedagte van iemand wat deur die stof loop om homself beskikbaar te stel of om ’n diens te lewer. Maar ondanks die nederige herkoms van die Griekse woord het die apostel Paulus dit gebruik toe hy gesê het: ‘Ek verheerlik my bediening’ (Rom. 11:13). Hy het dit bewys deur tot aan die einde daarmee vol te hou.

7. (a) Word die bediening van die Koninkryksboodskap goedkoop gemaak omdat bedienaars nie betaling daarvoor vra nie? (b) Hoe beskou Koninkryksbedienaars enige noodsaaklike sekulêre werk?

7 Dit was nie vir selfverheerliking dat Paulus sy bediening ywerig vervul het nie. Dit het diegene vir wie hy die “evangelie” verkondig het, niks gekos nie. Maar hy het sodoende sy bediening nie goedkoop gemaak nie. Persone wat die “evangelie” aanvaar het, moes steeds ‘die koste bereken’ om iets voordeligs vir hulleself te doen, al het hulle nie vir die “evangelie” betaal nie. Dit was vir Paulus ’n groot eer dat so ’n heerlike “evangelie”, ’n bediening sonder weerga wanneer dit vergelyk word met al die hoogbesoldigde beroepe van hierdie wêreld, aan hom toevertrou is. Jehovah se Getuies volg vandag die voorbeeld van die apostel Paulus na. Hoe? Deur nie vir eiegewin in ’n materiële of wêreldlike sin deel te neem aan die bediening van God se Koninkryksboodskap nie. In hulle oë is dit verkeerd om die Koninkryksboodskap te behandel as handelsware, bloot as ’n middel om ’n gerieflike bestaan te voer. Enige sekulêre werk wat hulle verplig is om te doen, beklee by hulle ’n ondergeskikte plek. Die Koninkryksbediening is opofferings werd!

8. Hoe het Paulus. nadat hy uiteindelik Rome bereik het, voortgegaan om ‘sy bediening’ daar te “verheerlik”?

8 Toe die apostel Paulus eindelik in Rome aangekom en met die gemeente in aanraking gekom het, het hy voortgegaan om te doen wat hy gesê het in die brief wat hy jare tevore aan hulle geskryf het: hy het ‘sy bediening verheerlik’. Hoe het hy dit gedoen ondanks die feit dat hy ’n gevangene in kettings was? Dokter Lukas, sy getroue metgesel, sê vir ons: “En nadat ons in Rome gekom het, . . . is dit [aan Paulus] vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas. En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, [met hulle gepraat], . . . En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.”—Hand. 28:16-31; Ef. 6:20.

9. Tot watter mate het Paulus se gevangenskap en die rede daarvoor in Rome bekend geword, en hoe het dit die Christene in daardie stad daaromtrent gevoel?

9 Wat was die gevolg van hierdie bedrywigheid van Paulus wat ten onregte as ’n gevangene aangehou is? Hy deel ons mee: “En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander, en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek.” “Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle.”—Filip. 1:12-14; 4:22.

DIT IS NOU DIE TYD OM DIE BEDIENING TE VERHEERLIK

10. Wanneer het die oorblyfsel van Jehovah se getroue, togewyde, gedoopte volk gehoor gegee aan die oproep om uit die wêreldryk van valse godsdiens te kom?

10 Jehovah se Getuies het gereageer op die goddelike oproep om uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te kom. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 het Babilon die Grote met die strydende politieke magte saamgewerk en beperkings op die toegewyde, gedoopte volk van Jehovah God geplaas. Hulle het selfs vername lede van die hoofkwartierpersoneel van die organisasie in die tronk gestop. Maar in die naoorlogse jaar 1919 was daar verligting en bevryding. Toe het hulle gesien dat dit nodig is om hulself te herorganiseer vir die voorspelde werk om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” dwarsoor die wêreld te verkondig.—Matt. 24:14, NW.

11. (a) Hoe het lede van die oorblyfsel Babilon die Grote aan die kaak gestel toe hulle in 1919 tydens ’n byeenkoms byeen was? (b) Watter verwagte tydperk het hulle begroet, en watter tydskrif is in ooreenstemming daarmee gepubliseer?

11 ’n Herorganisering van die oorblyfsel om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” op ongeëwenaarde skaal dwarsoor die aarde te verkondig, het gevolg. Met daardie doel het hulle in September 1919 ’n algemene byeenkoms te Cedar Point, Ohio, V.S.A., gehou. Daar het hulle Babilon die Grote in die openbaar aan die kaak gestel as die steuner van die destyds voorgestelde Volkebond, wat die geestelikes van die Protestantse Kerk “die politieke beliggaming van die koninkryk van God op aarde” genoem het. Die byeenkomsgangers het die “goue eeu” begroet wat deur God se hemelse koninkryk in die hande van Christus ingelui gaan word. Soos daar by die byeenkoms aangekondig is, is daar in Oktober 1919 begin om ’n nuwe tydskrif uit te gee as ’n komplement vir The Watch Tower, en dit is The Golden Age genoem. Omdat die hele mensdom later al hoe meer vertroosting nodig gehad het, is die naam van die tydskrif verander na Vertroosting. Na die Tweede Wêreldoorlog is die naam verander na Ontwaak!

12. (a) Watter nuwe identifikasie het die oorblyfsel aangeneem en aldus hulle bedieningsvoorkoms verder verbeter? (b) Wat het al hierdie dinge vir hulle Koninkryksbediening gedoen?

12 Al hierdie dinge het daardie verkondigers van God se opgerigte koninkryk ’n nuwe bedieningsvoorkoms gegee. In 1931 het hulle al die skelname wat Babilon die Grote steeds aan hulle gegee het, afgeskud, want hulle het die naam aangeneem wat gebaseer is op Bybelprofesie, naamlik Jehovah se Getuies (Jes. 43:10-12, NW). Dit het hulle ’n nuwe identifikasie voor Babilon die Grote en haar politieke ondersteuners gegee. Dit het hulle God, Jehovah, behaag toe hulle hierdie godsdiensgewaad wat deur kontak met Babilon die Grote bevlek en besoedel is, uitgetrek het. Hulle het ’n nuwe beeld in sy oë gekry. Dit was asof die gesalfde oorblyfsel figuurlik die “feesklere” aangetrek het wat by hulle priesterlike bediening gepas het (Sag. 3:4, 5). Dit het waardigheid, eer en heerlikheid aan hulle bediening voor God verleen.

13. (a) Watter verdere bewys was daar sedert 1935 dat die oorblyfsel in God se guns herstel is? (b) Wat het die lede van die “groot menigte” saam met die oorblyfsel omtrent hulle bediening begin doen?

13 Was daar sigbare getuienis dat die gesalfde oorblyfsel na die Eerste Wêreldoorlog in God se guns herstel is? Ja, want ’n groep wat later ’n “groot menigte” opregte soekers na die een lewende en ware God sou word, het begin om met die betreklik klein oorblyfsel van die “koninklike priesterdom” om te gaan (1 Pet. 2:9). Dit was beslis die geval sedert die noordelike lente van die jaar 1935. Dit was toe dat ’n algemene byeenkoms in Washington, D.C., gehou is. Dit was daar dat die president van die Wagtoringgenootskap op 31 Mei die hooftoespraak oor die onderwerp “Die groot menigte” gehou het. Dit was gebaseer op Openbaring 7:9-15. Die volgende dag het 840 hulle toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Die meerderheid van hierdie doopkandidate het die hoop van die “groot menigte” op ’n aardse paradys onder Christus se koninkryk gekoester. Hulle het deeglik besef dat dit beteken het dat hulle as bedienaars van Jehovah God by die gesalfde oorblyfsel in hulle huis-tot-huisbedrywigheid aansluit. Ook hulle het begin om ‘hulle bediening te verheerlik’.

14. Watter verpligting rus op die “groot menigte” weens hulle toewyding en doop as simbool daarvan, al kan hulle nie in die meeste gevalle al hulle tyd aan die Koninkryksprediking wy nie?

14 Tot op die hede het honderdduisende “skape” na die kant van die gesalfde oorblyfsel gestroom en by hulle aangesluit in die Koninkryksbediening. Nie almal van hulle kan al hulle tyd aan daardie bediening wy in die hoedanigheid van voltydse verkondigers, reisende verteenwoordigers van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië of as personeellede van takkantore van die Genootskap nie. Aardse verpligtinge verg dat die meeste van hulle die meeste van die tyd of ’n groot deel daarvan sekulêre werk moet doen. Maar hulle toewyding aan God, wat deur waterdoop gesimboliseer is, verg dat hulle sy bedienaars moet wees en die belange van sy koninkryk moet bevorder.

15. Hoe bevind hulle hulle in ’n situasie soortgelyk aan die van die apostel Paulus in Korinthe?

15 Hulle bevind hulleself in ’n situasie soortgelyk aan die van die apostel Paulus. Hy het ’n jaar en ’n half lank saam met Aquila, ’n Joodse gelowige, in Korinthe tente gemaak (Hand. 18:1-11). Party sal vandag sê dat Paulus destyds “’n gewone bedienaar” was.

16. Wat het Paulus, toe hy Milete aangedoen het op pad na Jerusalem, gesê oor sekulêre werk wat hy gedoen het?

16 Ons onthou ook wat Paulus gesê het toe hy die hawe Milete in Klein-Asië aangedoen het op pad na Jerusalem. Vandaar het hy gestuur en die ouere manne of opsieners van die gemeente in Efese laat roep. Hy het onder meer vir hulle gesê: “Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. . . . Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Hand. 20:31-35.

17. (a) Het Paulus sy bediening verlaag deur soms sekulêre werk te doen, of wat was die doel daarvan? (b) Wat kan gesê word oor die kwessie of ander toegewyde Christene destyds bedienaars met sekulêre werk was, soos toegelig deur watter tempeldienaars?

17 Deur tydelik ’n sekulêre werk te doen waarvoor hy besoldig is, het Paulus nie sy koninkryksbediening verlaag nie. Hy het gereël om sy prediking en onderrigting kosteloos te maak vir sy hoorders en leerlinge. Sodoende het hy in werklikheid verhinder dat die aantyging gemaak kon word dat sy opvoedkundige werk ’n oneerlike geldmakery is (1 Kor. 9:13-18). In hierdie geval het hy werklik gedoen wat hy gesê het: ‘Ek verheerlik my bediening’ (Rom. 11:13). Die feit dat hy ’n bedienaar met sekulêre werk was om homself te onderhou, het bewys dat hy ’n reine, onselfsugtige beweegrede in sy Koninkryksbediening gehad het. Die meeste van sy toegewyde Christenmetgeselle was bedienaars met sekulêre werk, en party van hulle was selfs die slawe van nie-Christelike here (Hand. 18:1-4; Rom. 16:3-5). Noodsaaklike sekulêre werk verlaag nie die Koninkryksbediening nie, want ons moet onthou dat die Leviete onder die Mosaïese Wetsverbond van Israel slegs een week elke halwe jaar by die tempel in Jerusalem gedien het, benewens die jaarlikse feeste in Jerusalem. Die res van die tyd het hulle in hulle Levitiese stede dwarsoor die land gewoon en daar gewerk om hulle gesinne te onderhou. Hulle was dus ook bedienaars met sekulêre werk.

18. (a) Is sulke bedienaars met sekulêre werk onder Jehovah se Getuies geregtig op die voordele wat bedienaars van Babilon die Grote geniet? (b) Hoe “verheerlik” bedienaars met sekulêre werk ‘hulle bediening’ terwyl hulle sekulêre werk doen?

18 Omdat baie van Jehovah se toegewyde, gedoopte getuies dit nodig vind of verplig is om die meeste van hulle tyd sekulêre werk te doen, beteken dit nie dat hulle nie ware bedienaars van God is wat geregtig is op al die voordele wat regerings aan godsdiensbedienaars van Babilon die Grote gee nie. Alhoewel hulle bedienaars met sekulêre werk is, geniet die belange van God se koninkryk voorkeur. Omdat hulle God se koninkryk selfs van huis tot huis verkondig, is hulle inderdaad Koninkryksbedienaars met dieselfde status as die politieke ministers in die regerings van hierdie wêreld. Deur die prysenswaardige gehalte van die werk wat hulle aan hulle sekulêre werkgewers lewer, “verheerlik” hierdie bedienaars met sekulêre werk indirek ‘hulle bediening’. Dit strek tot eer van God vir wie ons heilige diens verrig.

19. (a) Wat sal die bedienaar met die sekulêre werk na sy beste vermoë doen indien omstandighede verander om so iets vir hom moontlik te maak? (b) Wat sal elke toegewyde, gedoopte getuie van Jehovah doen, ongeag hoeveel tyd hy kan wy aan die regstreekse bevordering van Koninkryksbelange?

19 Indien bedienaars met sekulêre werk se omstandighede verander sodat hulle voltyds aan die Koninkryksbediening kan deelneem, is dit vanselfsprekend dat hulle vol waardering sal begin om die bediening van God se Woord na hul beste vermoë te vervul. Laat ons in elk geval onophoudelik ‘ons bediening verheerlik’, of ons nou al ons tyd of slegs ’n deel daarvan kan wy aan die regstreekse bevordering van die belange van God se opgerigte koninkryk in die hande van Christus.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel