Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/1 bl. 8-11
  • Die paradys: Moet ek dit skilder of daaroor preek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die paradys: Moet ek dit skilder of daaroor preek?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N KURSUS VOL VERRASSING
  • MY SOEKTOG NA IETS BETERS
  • ’N LOOPBAAN AS ’N KUNSTENAAR OF ’N PREDIKER?
  • SPESIALE DIENSVOORREGTE
  • Hoe ek geluk gevind het deur te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Puerto Rico
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Bly om te dien soos Jehovah wil
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Ek het gesien hoe “die geringste ’n magtige nasie” word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/1 bl. 8-11

DIE PARADYS: MOET EK DIT SKILDER OF DAAROOR PREEK?

Soos vertel deur Randy Morales

EK HET naby die stad Guayama op die suidelike kus van die eiland Porto Rico grootgeword. Ons huis op die platteland was geleë tussen suikerrietplantasies. Dit was voorwaar ’n pragtige omgewing, ’n ware paradys. Ek meen dat hierdie omgewing ’n invloed gehad het op my begeerte om ’n skilder te word en sulke skoonheid op doek vas te lê.

Dit was dus een middag teen die einde van Augustus 1948 dat ek met groot verwagtinge per boot van San Juan vertrek het. Ek was op pad na die stad New York met drome om ’n kunstenaar te word. Ek was slegs 18.

’N KURSUS VOL VERRASSING

In September het ek met my klasse aan die Pratt-Instituut in Brooklyn, New York, begin. Een van ons leerboeke, Art Through the Ages, was baie insiggewend, asook die weeklikse lesings oor kunsgeskiedenis. Ons het gehoor hoedat daar in antieke Egipte reusebedrae bestee is om die tempels en piramides te versier, terwyl die mense in onkunde, bygeloof en vrees gehou is. Die situasie was dieselfde in ander nasies soos dié van Babilon, Griekeland en Rome. Maar ek het my grootste verrassing gekry tydens ons studie van sogenaamde Christelike Kuns, veral gedurende die Renaissance-tydperk.

Dit het my geskok om te hoor hoe die Katolieke Kerk geld in die hande gekry het om al daardie pragtig versierde katedrale in Europa te bou, veral dié in Italië en die Vatikaanstad. Die metodes van verskeie pouse om geld in die hande te kry, is openlik in die klas bespreek. Ek het sedertdien die volgende aanhaling uit The New Funk & Wagnalls Encyclopedia van 1949 oor pous Alexander VI onthou:

“Hy het rykdom verwerf en weelderig gelewe selfs nadat hy tot die pousdom verhef is, ’n posisie wat hy in 1492 deur omkopery verkry het. . . . Dit was hoofsaaklik deur die amper onbeskaamde berowing van edelliede en geestelikes, waarvan hy ’n aantal met daardie doel laat vermoor of vergiftig het, dat hy daarin geslaag het om die fortuine van sy kinders te vergroot.”

Ja, die manier waarop die pouse hulle mag uitgeoefen het om geld, werkers en kunstenaars te kry om tempels en paleise vir kerkamptenare te laat bou, was vir my ’n openbaring. ’n Spesiale nommer van die tydskrif Life, wat uitgegee is terwyl ek op skool was, het in hierdie verband ’n groot indruk op my gemaak. Dit het die werke van die groot Italiaanse beeldhouer en skilder Michelangelo Buonarroti van die stad Florence bespreek.

Daardie nommer van Life, 26 Desember 1949, het gesê dat pous Julius II Michelangelo “letterlik moes dwing om die Sixtynse fresko’s te skilder. . . . Michelangelo het twee keer geweier om na Rome te kom en die muurskilderings te skilder. Hy het die derde keer ingewillig slegs op die aandrang van die Florentynse regering, wat gevrees het dat die verwoede pous die stad Florence met die pouslike leër sou aanval.”

Ek was nie juis godsdienstig nie. My moeder, wat in naam ’n Katoliek was, het vir my en my broer geleer om te bid voordat ons gaan slaap. Ek het met die gewoonte voortgegaan en tot la virgencita—die maagd—gebid, maar as gevolg van wat ek by die skool geleer het, het my geloof in die Katolieke Kerk gesterf. Ek het nogtans in God geglo en gemeen dat daar ’n regte manier moet wees om te aanbid.

MY SOEKTOG NA IETS BETERS

Een van my skoolmaats het my genooi om by ’n klub van Protestantse studente aan te sluit. Hulle het geestelikes, onder meer Katolieke priesters, Protestantse predikante en selfs rabbi’s, genooi om toesprake te hou. Ek het dit bygewoon, maar ek was teleurgesteld omdat die Bybel nooit gebruik is nie. Die geestelikes het net hulle eie filosofiese idees en menings verkondig.

Vroeg in 1950 het ek ’n dame besoek wat ons buurvrou in Guayama was, maar wat nou in Bronx, New York, gewoon het. My moeder het my gevra om haar te besoek, aangesien hulle goeie vriende was. Terwyl ek daar was, het hulle eksemplare van Die Wagtoring aan my gegee, ’n tydskrif wat ek nog nooit tevore gesien het nie.

’n Paar maande later, in Maart, het ’n middeljarige egpaar by my deur aangeklop en verduidelik dat hulle met hulle bure oor die Bybel gesels. Ek het hulle ingenooi en vir die eerste keer in my lewe gehoor wat die koninkryk van God is. Dit is ’n regering wat vrede op aarde gaan bring, ja, wat gaan toesien dat dit oral in ’n pragtige paradys omskep word. Dit was die eerste keer dat ek die geleentheid gehad het om die Bybel oop te slaan en te sien dat dit werklik sulke wonderlike dinge sê (Ps. 37:9-11, 29; Openb. 21:3, 4). Die egpaar het die Bybelstudiehulp “Laat God waaragtig wees” by my gelaat, en daarna het ons gereeld Bybelbesprekings gevoer.

In Junie is ek terug na Porto Rico vir my somervakansie. Toe ek teen die einde van die somer terug is skool toe, het ek my Bybelbesprekings hervat en begin om die gemeentelike vergaderinge by Columbia Heights 124, waar die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies geleë is, by te woon. Kort daarna het ek begin om die wonderlike boodskap oor ’n paradysaarde aan ander te verkondig. Ek het dit gedoen deur van huis tot huis te gaan en aldus die voorbeeld van eerste-eeuse Christene te volg (Hand. 20:20). Op 13 Mei 1951 is ek as simbool van my toewyding aan Jehovah God gedoop.

Ek het eindelik die waarheid gevind wat mense vrymaak. Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Ja, vry van vrees vir die helse vuur, limbus, die vaevuur en ander valse leerstellings wat in die naam van God verkondig is. Vry van onderdanigheid aan godsdiensleiers wat so dikwels liefhebbers van rykdom, geld en aardse mag is. Vry van die opvatting dat wêreldvrede afhanklik is van politieke leiers wat wêreldprobleme moet oplos. En vry van die vrees dat die aarde vernietig sal word deur verskriklike atoomwapens in die hande van goddelose manne.

’N LOOPBAAN AS ’N KUNSTENAAR OF ’N PREDIKER?

Teen 1952 het ek al amper vier jaar lank gestudeer om ’n kunstenaar te word. Wat sou ek doen? Nadat ek na Porto Rico teruggekeer het, was my befleerte om vir ander te vertel wat ek in die Bybel geleer het selfs sterker as my begeerte om ’n kunstenaar te wees. In Augustus 1952 het ek dus ’n voltydse prediker geword. Teen die einde van die jaar het ons ’n gemeentetjie van agt of nege nuwe getuies vir Jehovah in Guayama gestig. Die gemeente het gou aangewas tot 18.

In Julie 1954 is ek en ’n ander Getuie genooi om spesiale pioniers te word. Ons toewysing was Yauco, ’n dorp aan die suidelike kus van Porto Rico. Daar was geen Getuies daar nie, maar ons het gou belangstellendes gevind, selfs al het die plaaslike godsdiensleiers die mense gewaarsku om nie na ons te luister nie. Al is my maat na sewe maande daar weg, het ek twee jaar aangebly en myself onderhou deur te skilder. Vandag is daar drie sterk gemeentes van Jehovah se Getuies in Yauco.

SPESIALE DIENSVOORREGTE

In 1957 is ek genooi na die Gileadsendingskool in die staat New York. Die gradeplegtigheid van die 31ste klas van Gilead is op 27 Julie 1958 in Yankee-Stadion gehou tydens die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies. Die verbasende aantal van 180 291 toeskouers was teenwoordig! Ek het die toewysing ontvang om sendingwerk in Honduras te doen, en het eindelik in Desember 1958 daar aangekom.

Kort daarna het ek die toewysing ontvang om gemeentes van Jehovah se Getuies as kringopsiener te besoek. Dit was werklik ’n ervaring om van die een plek na die ander te reis! Ek het dikwels per varonesa (plaaslike bus) gereis, ander kere per trein of per cayuco (plaaslike roeiboot), of nou en dan per vliegtuig en soms selfs met ’n muil of ’n perd om by baie afgeleë gebiede te kom.

Ek sal nooit die eerste keer vergeet dat ek op ’n perd gery het nie; wel, dit was eintlik ’n muil. Iemand het ’n spoor aan my regterstewel gesit, en ek het seker maar die muil te hard geskop, want hy het op ’n galop weggespring terwyl ek my bes gedoen het om op sy rug te bly. Ek het eindelik daarin geslaag om hom tot stilstand te bring en so my vel en bene gered!

In Januarie 1961 het ek met Johneth Fischer, wat sedert 1952 ’n sendelinge in Honduras was, getrou. Aan die einde van daardie jaar is ons eerste dogter, Jeaneatte Rose, gebore. Daarna het ons nog amper twee jaar lank in Honduras aangebly, maar weens toenemende gesinsverantwoordelikhede is ons terug na Guayama waar ons begin werk het saam met die gemeente van ongeveer 20 Koninkryksverkondigers.

Dit was ons vreugde om te sien hoe die Guayama-gemeente groei. My moeder was een van die wat deur ons gehelp is. Sy het die Bybelwaarhede wat ons verkondig het, aanvaar en dit het ons baie bly gemaak toe sy gedoop is. Sy is in 1970 oorlede, en ek bid dat Jehovah haar in die opstanding sal onthou. Dit is voorwaar ’n hoop wat ons aanspoor om ons liefdevolle Vader te dien.

Op 6 Junie 1976 is ek genooi om ’n lid te word van die Takkomitee van Jehovah se Getuies wat toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies in Porto Rico. In 1978 het ek nog ’n diensvoorreg ontvang toe ek genooi is om die Gileadkursus vir Takkomiteelede in New York by te woon. Ek en my vrou is met vyf kinders geseën, en dit verskaf ons groot vreugde om te sien hoe hulle hulle Skepper gewillig dien en hulle vertroue in hom stel.

Baie, baie jare het verstryk sedert skilderwerk my vernaamste strewe in die lewe was. Dit is nog vir my belangrik. Dit verskaf my groot genot, en dit het my gehelp om my gesin te onderhou. Ek hoop, as dit Jehovah se wil is, om in sy paradysaarde meer tyd te kan wy aan my begeerte om die wonders van sy pragtige skeppingswerke op doek vas te lê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel