Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/1 bl. 5-8
  • Aanbid God volgens sy voorskrifte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanbid God volgens sy voorskrifte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE KAN JY WEET?
  • ’N ALGEMENE OPVATTING—MAAR IS DIT DIE WAARHEID?
  • GEDRAG IS OOK BY DIE SAAK BETROKKE
  • GOD SE MORELE STANDAARDE
  • WAT GAAN JY DOEN?
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Moet jy die dooies vrees?
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/1 bl. 5-8

AANBID GOD VOLGENS SY VOORSKRIFTE

HET jy al voorbeelde van hierdie godsdiensparadoks gesien: “Gedurende die tagtigerjare sal ‘meer mense tot die Christelike geloof bekeer word as in die geskiedenis en sal meer Christene die georganiseerde Christelike gelowe verlaat as in enige vorige tydvak’.”—Sydney se “Morning Herald”, 21 Julie 1979.

Hierdie Australiese verslag, wat gebaseer is op ’n opname onder 50 groot kerke en 9 000 “Christelike” groepe, het getoon dat mense hulle kerke in ongeëwenaarde aantalle verlaat. Jy ken moontlik baie mense wat taamlik godsdienstig was en kerk toe gegaan het, maar wat nou opgehou het.

Maar baie persone, wat bewus is van ’n innerlike behoefte om God te aanbid, word aangetrek tot ’n godsdiens, dikwels ’n godsdiens wat hulle emosies wek, moontlik een wat hulle aanspoor om ‘gered te word’.

Jy het ook ’n Godgegewe behoefte om jou Skepper te aanbid. Maar hoe moet jy dit doen? Wat is die manier waarop hy aanbid wil word?

HOE KAN JY WEET?

Dit is natuurlik God, en nie ’n mens of ’n kerk nie, wat moet bepaal wat waarheid en ware aanbidding is. Jesus het vir ’n vrou wat lid was van ’n eerste-eeuse godsdiensgemeenskap gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Joh. 4:24). Dit geld ook vandag vir ons.

Ja, as ons God wil behaag, moet ons ’n neiging na reine aanbidding hê, en dit heelhartig en opreg toon. Ons moet ook na waarheid soek en hard probeer om ons daarna te skik. Dit beteken dat ons moet optree in ooreenstemming met die waarheid wat in God se Woord geopenbaar word, in plaas daarvan om gehoorsaam te wees aan blote kerktradisies of selfs godsdiensleerstellings wat in stryd is met Bybelwaarheid.

Wanneer jy ontleed of ’n geloof—selfs jou eie kerk, of die geloof wat in julle omgewing gewild is—die waarheid leer, kan talle gebiede ondersoek word. Maar selfs ’n ondersoek wat tot net drie gebiede beperk is, kan jou help om God volgens sy voorskrifte te aanbid. Kyk ’n bietjie:

’N ALGEMENE OPVATTING—MAAR IS DIT DIE WAARHEID?

Een leerstelling wat deur die meeste gelowe dwarsoor die aardbol geleer word, is dat die mens ’n onsigbare siel in hom het wat die dood van die liggaam oorlewe en as ’n onsterflike gees voortlewe. Herken jy daardie leerstelling? Dit word dikwels gekoppel aan die gedagte dat die siel van ’n goeie persoon na sy dood hemel toe gaan. En dit sit agter die algemene besorgdheid oor die “geeste” van afgestorwe familielede of spoke. Die Encyclopœdia Britannica sê: “Die geloof in menslike onsterflikheid in die een of ander vorm is amper universeel.” Jy weet dit waarskynlik.

Maar dit is heel gepas dat die ensiklopedie sê: “amper universeel”. Waarom? Omdat die eertydse Hebreërs en vroeë Christene nie geglo het dat mense onsterflike siele het nie.

Jy is dalk verbaas om dit te hoor, want baie mense dink dat hierdie kerkleerstelling uit die Bybel kom. Maar let op die volgende:

Volgens die Skrif was die eerste leuen, wat deur Satan die Duiwel vertel is, dat mense se sonde nie die dood sou meebring nie (Gen. 3:1-4). Wat sou, toe ons eerste mense-ouers wel sterf, en die dood almal daarna opeis, bedriegliker wees as om te sê: ‘Hulle is nie werklik dood nie—net hulle liggaam is; hulle siel is onsterflik’? Ja, die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel laat Satan se leuen voortbestaan en het tot gevolg gehad dat miljoene die dode vrees.

Maar die Skrif leer eenvoudig dat jou siel jy is. Ons vind ’n aanduiding daarvan in wat die Bybel oor Adam sê. Die Skepper het ’n liggaam uit die stof geformeer en toe die lewe en die asem wat nodig was om lewe te onderhou, voorsien. Die gevolg? Adam het “’n lewende siel geword” (Gen. 2:7). Daar is nie vir hom ’n siel gegee nie. Adam was ’n siel.—Vergelyk 1 Korinthiërs 15:45.

In ooreenstemming hiermee leer die Bybel dat ’n siel (’n persoon) kan sterf. Kyk Esegiël 18:4. Beteken dit dat wanneer ’n persoon dood is, hy geen gedagtes of gevoelens het nie? Presies. Trouens, Prediker 9:5 deel ons mee: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.”

Beteken dit dat ons familielede en vriende wat gesterf het geen hoop het nie? Nee, want die Bybel bevat voorbeelde waar God dooies lewendig gemaak het, hulle opgewek het. Jy weet moontlik reeds dat God Jesus Christus op die derde dag na sy dood as ’n gees opgewek het (Hand. 10:39, 40; 1 Pet. 3:18, NW) Op grond hiervan en verwante Bybelbeloftes, kan ons uitsien na die tyd wanneer God diegene wat hy onthou, gaan opwek.—Hand. 17:31; 24:15.

Wanneer jy oor sake nadink, kan jy sien dat die leerstelling oor die onsterflike siel wat deur die meeste gelowe geleer word regstreeks in stryd is met wat die Bybel sê. Vra jouself dus af: ‘Wat beteken dit vir my? Moet ek ’n aanpssing maak om God volgens sy voorskrifte, in waarheid, te aanbid?’

GEDRAG IS OOK BY DIE SAAK BETROKKE

Jesus Christus het nog ’n manier gemeld waarop ons die vorm van aanbidding wat deur God goedgekeur word, kan uitken. Hy het vir sy volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Spoor die meeste kerke vandag werklik al hulle lidmate aan om dieselfde soort liefde te betoon as wat Jesus bewys het?

Die vroeë Christene se ware liefde is byvoorbeeld op die proef gestel toe hulle gevra is om by die Romeinse leer aan te sluit of dit te ondersteun. Hulle wou regeringswette gehoorsaam. Maar hulle kon dit nie doen as dit beteken het dat hulle God se wette, soos sy wet teen moord, moes verbreek nie (Matt. 22:21; Hand. 5:29). God het daarbenewens van sy volk gesê: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jes. 2:4.

Vroeë Christene het gevolglik geweier om vir die Romeinse Ryk of enige ander nasie te veg.

Dink egter aan die posisie van die kerke van ons dag en van hulle predikante en priesters. Nadat hulle die een of ander verskoning aangevoer het, het hulle oorlogvoering goedgekeur en geseën—oorlogvoering waarin Katolieke Katolieke en Protestante Protestante doodgemaak het. Dit is nie God se manier nie!

GOD SE MORELE STANDAARDE

’n Derde gebied wat ons wil ondersoek om vas te stel hoe God aanbid wil word, is om te kyk of ’n godsdiensgroep sy morele standaarde handhaaf in plaas daarvan om bloot verkeerde gedrag deur die vingers te sien.

Jesus het hom daarop toegelê om sondaars te help, onder meer dronkaards en hoereerders. Sy dissipels moes dieselfde doen (Matt. 9:10-13; 21:31; Luk. 7:36-48; 1 Kor. 6:9, 11). En die Bybel toon dat selfs nadat indiwidue hulle bekeer en Christene geword het, party van hulle kan verswak en ’n ernstige sonde kan begaan (Gal. 6:1). ’n Man in die Christengemeente in eertydse Korinthe het byvoorbeeld ’n hoereerder geword.—1 Kor. 5:1.

Wanneer ’n Christen wel sonde begin bedryf het, moes ander Christene probeer om hom in God se guns te herstel en geestelik sterk te maak (Jak. 5:13-16). Maar gestel ’n persoon het onberouvol sonde bedryf? God se Woord sê van daardie man in Korinthe of enigiemand soos hy:

“[Moenie omgaan] met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. . . . Verwyder tog die slegte mens onder julle uit.”—1 Kor. 5:11-13.

As ’n growwe sondaar dus weier om hulp te aanvaar en hom te bekeer, moet hy uit die ware Christengemeente gesit word. Dit sal hom miskien so skok dat hy tot sy sinne kom. Maar of dit nou gebeur of nie, sal hierdie uitsetting uit die gemeente op las van God opregte Christene beskerm.—1 Kor. 5:2-8.

Maar dissiplineer die meeste kerke waarvan jy weet mense ooit so? Is dit nie eerder waar dat die meeste kerkgangers wat openlik sonde bedrywe steeds as deel van die groep aanvaar word nie?

Die voorblad van ’n Nigeriese koerant het onlangs berig:

“Amper ’n derde van die getroude Rooms-Katolieke mans in die aartsbisdom van Lusaka het inwonende byvroue . . . Die verslag, wat gebaseer is op ’n opname deur aartsbiskop Emmanuel Milingo, sê dat daar byvroue in 3 225 van die 10 903 Katolieke huishoudings is.—14 Sept. 1980.

Deur te weier om gehoorsaam te wees aan God se bevel om onberouvolle sondaars uit te sit, laat die kerke ander dink dat hulle ook kan sondig en ongestraf kan bly. Of die mense keer sommer net godsdiens die rug toe.—Pred. 8:11.

’n Jong knaap het die volgende aan ’n koerant geskryf:

“Ek hou nie daarvan om kerk toe te gaan nie, want ek sien mense daar wat ek weet dronkaards, skinderbekke, leuenaars en bedrieërs is. Maar hulle is elke Sondag daar om hulle gebede op te sê en liedere te sing. Ek het geen respek vir huigelaars nie, en ons kerk is vol van hulle.”—Palm Beach se “Post-Times”, 27 Mei 1979.

Dit is duidelik dat God nie indiwidue of kerke wat sulke vrugte dra en hom nie “in gees en waarheid” aanbid nie, kan goedkeur nie.—Joh. 4:24; Matt. 7:15-20.

WAT GAAN JY DOEN?

Ons het net drie gebiede ondersoek. Maar dit toon duidelik dat as ons God volgens sy voorskrifte wil aanbid, ons moontlik ’n paar basiese veranderinge in ons opvattings en handelwyse sal moet aanbring, net soos die apostel Paulus en baie ander wat ware Christene geword het, moes doen. Dit is noodsaaklik om ons af te skei van gelowe wat nie voorstanders is van die manier waarop God aanbid wil word nie. Trouens, God beveel ons om ‘uit hulle uit te gaan as ons nie met hulle sondes gemeenskap wil hê en van hulle plae, wat van God af kom, wil ontvang nie’.—Openb. 18:4, 5; 2 Kor. 6:14-18.

Jehovah se Getuies stel opreg daarin belang om hulle lewens na God se Woord te skik en aldus die Skepper “in gees en waarheid” te aanbid. Hulle sal jou met graagte help as jy ook graag God volgens sy voorskrifte wil aanbid.

[Venster op bladsy 6]

“’n Noukeurige hersiening van die beskikbare informasie toon dat geen Christen tot die tyd van Marcus Aurelius [keiser van 161 tot 180 G.J.] ’n soldaat geword het nie; en dat geen soldaat, nadat hy ’n Christen geword het, in die leër aangebly het nie.”—“The Rise of Christianity.”

[Venster op bladsy 6]

“WAARDES EN GEWELD IN AUSCHWITZ”

In haar boek met daardie titel het Poolse sosioloog Anna Pawelczynska gesê: “Die Jehovahsgetuies [in Nazi-Duitsland] het passiewe weerstand ter wille van hulle geloof gebied, ’n geloof wat teen alle oorlog en geweld gekant is.” Met watter gevolg? Sy verduidelik:

“Hierdie groepie gevangenes was ’n gedugte ideologiese mag en hulle het in hulle stryd teen Nazisme geseëvier. Die Duitse groepie lede van hierdie sekte was ’n eilandjie onvermoeide weerstand in die hartjie van ’n geterroriseerde nasie, en dit was met daardie selfde onverskrokke gees dat hulle in die kamp te Auschwitz opgetree het. Hulle het daarin geslaag om die respek van hulle medegevangenes . . . van gevangenisamptenare en selfs van die SS-offisiere af te dwing. Almal het geweet dat geen Jehovahsgetuie ’n bevel sou gehoorsaam wat strydig is met sy godsdiensopvatting nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel