Kan jy jou naaste liefhê en rook?
Mense wat rook, besoedel nie alleen die lug wat ander moet inasem nie, maar benadeel ook hulle eie gesondheid. Hulle sal self gesonder wees as hulle ophou rook. En hulle sal ook ’n klomp geld bespaar deur nie die lug te besoedel nie—tot R500 of meer per jaar net op die koste van sigarette. Die enigste redelike handelwyse vir ’n roker is dus om op te hou.
Beskou die hoeveelheid gifstowwe in die rook wat van die brandende punt van ’n sigaret af opkrul. Dit is baie giftiger as die rook wat deur die roker ingetrek word. Rook wat in die lug afgegee word, bevat twee keer soveel teer en nikotien, vyf keer meer koolstofmonoksied en 50 keer meer ammoniak as rook wat deur die roker ingetrek word, om nie eens ander gifstowwe te meld nie.
As 10 sigarette in ’n toe motor uitgebrand het, sal dit die koolstofmonoksied-konsentrasie verhoog tot 100 dele per miljoen, ver bo die hoeveelheid wat toegelaat word deur die Verenigde State se federale luggehaltestandaarde. “By ’n tipiese studentepartytjie”, het New York se Times gesê, “ls die konsentrasie partikulaatstof in die lug weens sigaretrook 40 keer hoër as die Verenigde State se luggehaltestandaarde.” En soos hierbo gemeld is, is die skade wat dit diegene berokken wat gereeld gedwing word om sulke rook in te asem deeglik bevestig.
STROOK DIT MET NAASTELIEFDE?
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” is volgens die Bybel “die koninklike wet”, en dit beklemtoon hierdie wet se belangrikheid (Jak. 2:8). Sal dit naasteliefde betoon as jy opsetlik vullis in sy werf gooi of in sy gesig spoeg? “Natuurlik nie!” sê jy. Sal dit ’n sonde wees om hierdie dinge aan jou naaste te doen?
Die definisie van sonde help om hierdie vraag te beantwoord. “Sonde is immers oortreding van die wet van God”, sê die Bybel (1 Joh. 3:4, NAB). As jy dus moedswillig iets so aanstootliks aan jou naaste doen soos om in sy gesig te spoeg of vullis in sy werf te gooi, sal dit ’n sonde wees. Dit sal ’n skending van “die koninklike wet” wees wat sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Maar hoe hou dit verband met rook? In ’n hoofartikel in Cancer News het dr. Isaac Asimov baie onomwonde getoon hoe. “Wanneer iemand in my teenwoordigheid rook”, het hy gesê, “is sy euwel nie ’n private nie. Sy vuil emanasies gaan in my longe en bloedstroom in. Sy stank word my stank en klou aan my. En hy vergroot my kans om hartkwaal en longkanker te kry.”
In antwoord op rokers wat aanspraak maak op die vryheid om in die teenwoordigheid van ander te rook, het dr. Asimov gesê: “Sal hy, as hy meen dat hy moet rook en dat ek hom sy vryheid ontneem deur daarteen beswaar te maak, dan bereid wees om geduldig te wees met my as ek meen dat ek hom in die lies moet skop en dat hy my my vryheid ontneem deur daarteen beswaar te maak? Kom ons stel dit so: Jou vryheid om te rook eindig waar my longe begin.”
Dit ly geen twyfel nie, wanneer ’n mens iemand in die lies skop, in sy gesig spoeg of vullis in sy werf gooi, strook dit nie met naasteliefde nie. En rook ook nie. Dit skend die regte van ander—dit benadeel hulle in plaas daarvan om liefde aan hulle te betoon. Ja, rook is ’n sonde.
Maar ’n roker sal dalk verduidelik: “Ek besef dat rook nadelig kan wees. Dit is waarom ek nooit in die teenwoordigheid van ander rook nie.” Is dit dus ’n sonde as ’n mens net op jou eie rook? Niemand anders word benadeel nie.
IS DIT ’N SONDE OM OP JOU EIE TE ROOK?
Maar dink ’n bietjie: Die roker se eie lewe word nadelig geraak. En wie is in werklikheid die bron van ons lewens? “By U [Jehovah God] is die fontein van die lewe”, antwoord die Bybel. “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee” (Ps. 36:10; Hand. 17:25, NAB). Ja, ons lewe is werklik ’n wonderlike gawe van God af.
Hoe betoon ons waardering vir God se gawe van lewe? Deur dinge te doen wat dit kan ruïneer? Natuurlik nie! Dit sal klaarblyklik verkeerd wees om opsetlik so iets te doen. Kyk in hierdie verband na die verklaring van Joseph Califano, voormalige Amerikaanse Minister van Gesondheid, Onderwys en Welsyn: “Daar kan vandag geen twyfel bestaan dat rook waarlik stadige selfmoord is nie.”
Die moedswillige vernietiging van menselewe is verkeerd—dit is ’n sonde. Die Bybel beveel Christene om nie eens hulle eie liggame te besoedel nie. “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees . . . reinig”, vermaan dit (2 Kor. 7:1). As ’n roker hierdie bevel wil gehoorsaam, moet hy ophou rook, aangesien dit hom inderdaad besoedel. Dit besoedel die roker se vingers, tande, asem, klere—feitlik alles waarmee hy in aanraking kom.
Maar gestel nou ’n roker wil ophou rook, maar hy is so verslaaf dat hy nie kan ophou nie. Sal God barmhartig begrip aan die dag lê, aangesien Jesus Christus gesê het: ‘Die gees is gewillig, maar die vlees is swak’?—Matt. 26:41.
IS SWAKHEID ’N VERSKONING?
Dit ly geen twyfel nie, dit kan baie moeilik wees om op te hou rook. “Dit was baie makliker om op te hou heroïen gebruik as sigarette”, het dwelmslawe gesê. In die geval van tabak duur die onttrekkingsimptome baie langer. “Die meeste het ten minste ’n maand lank nog die begeerte”, sê die tydskrif Science 80, “en by omtrent ’n vyfde bestaan dit nog vyf tot nege jaar nadat hulle opgehou rook het.”
Dit verklaar gedeeltelik waarom baie ’n ruk lank ophou rook, maar dan weer begin. Nege uit 10 rokers wil ophou. Maar dit is ’n voortdurende, daaglikse stryd om nie te rook nie, ’n stryd wat soms jare kan duur. Miljoene het die oorwinning behaal. Tienmiljoene het geveg en verloor. Is dit verstandig om aan te neem dat God sal verstaan en hierdie tekortkoming sal vergewe indien ’n persoon probeer het om op te hou maar nie daarin kon slaag nie?
Een oorsaak van die probleem kan wees dat ’n persoon dit geniet om te rook. Maar dit verskoon nie die gebruik as God dit veroordeel nie. Die Bybel sê dat Moses wyslik verkies het om God te dien eerder “as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê” (Hebr. 11:24-26). God verwag dat sy knegte moet veg teen gebruike wat strydig met sy wette is en dit met sy hulp te bowe moet kom.
Beskou byvoorbeeld hoerery. Dit is ’n gebruik wat moontlik ’n ruk lank aangenaam lyk. En wanneer dit beoefen word, kan ’n persoon se begeerte na seks met ’n verskeidenheid maats net so sterk wees as enige lus vir ’n sigaret. Maar hoerery is ’n verbreking van God se wet, en moedswillige, onberouvolle hoereerders sal nie God se gawe van ewige lewe ontvang nie. So ook nie persone wat aanhou rook nie.—Hebr. 13:4; Rom. 6:23.
Dit verg groot inspanning om aan God se wette gehoorsaam te wees. Dit was ook die geval met God se Seun, Jesus Christus. Hy het verskriklike lyding verduur, en eindelik op ’n afgryslike wyse gesterf. Maar hy het aan God getrou gebly. Vir party persone voel dit moontlik of die foltering wat hulle deurmaak wanneer hulle ophou rook net so straf is as die lyding wat Christus moes verduur het. Maar ’n mens kan ophou rook. Hoe?