Dit baat ’n mens om jou trots te sluk
DAAR bestaan ten minste ’n halfdosyn redes waarom dit ’n mens baat as jy jou trots sluk. Dit beteken egter nie dat ’n Christen trots elke keer onvoorwaardelik moet veroordeel nie. Want hoewel trots dikwels voortspruit uit hoogmoed en ’n gebrek aan nederigheid, hou dit soms verband met selfrespek, prysenswaardige prestasies of ons verhouding met God.
Die apostel Paulus het byvoorbeeld die volgende geskryf aan die gemeente in Thessalonika, wat hy die voorreg gehad het om te stig: “Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God, en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.” Sulke geloof en liefde aan hulle kant kon Paulus tereg trots laat voel het.—2 Thess. 1:3, 4, NAB.
Die apostel Paulus het ook gepraat van party wat hulle op God beroem (Rom. 2:17). En ons lees herhaaldelik in die Bybel hoedat God se knegte in Jehovah God en Jesus Christus roem, of ons kan sê, trots op hulle is.—Ps. 34:3; 1 Kor. 1:31; Filip. 3:3.
Daar kan ongetwyfeld gesê word dat daar tye is wanneer familielede met reg trots kan wees op die eienskappe, deugde of prestasies van mekaar, soos wanneer ’n man trots is omdat sy vrou ’n goeie kok is. Of ouers kan trots wees omdat die kinders wat hulle grootgemaak het, verkies om hulle God voltyds te dien.
Maar jy sal dalk verbaas wees om te verneem dat die Woord van God 20 keer meer met afkeuring na trots verwys as wat dit met goedkeuring daarna verwys. Waarom is dit so? Waarom moet ons herhaaldelik raad kry om nie trots te wees nie? Omdat dit gewoonlik ’n diepgewortelde vorm van selfsug is wat ons so maklik in die moeilikheid kan laat beland tensy ons voortdurend op ons hoede daarteen is. Ja, “die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af”.—Gen. 8:21.
Ons moet in werklikheid ons bes doen om enigiets en alles te vermy wat na selfverheffing of trots sweem. Hoeveel het tog gekke van hulleself gemaak as gevolg van trotsheid! Nog erger, hoeveel het vergaan weens hulle trotsheid! ’n Engelse essayis het eenkeer tereg gesê: “Gewoonlik sit trots agter alle groot foute.” ’n Hedendaagse, berugte voorbeeld is die van Adolf Hitler.
’n Groot rede waarom trots ongewens is, is die feit dat dit ons vyande van Jehovah God kan maak, want ons lees: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Pet. 5:5). Ja, in hierdie sin is “elke hoogmoedige van hart . . . vir die HERE ’n gruwel” (Spr. 16:5). Geen wonder nie dat ons verder lees: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.”—Spr. 16:18.
Daar is talle Bybelvoorbeelde wat toon dat dit die verstandige weg is om ’n mens se trots te sluk, byvoorbeeld wanneer jy raad kry. ’n Onderhawige geval is die van die Aramese leërowerste Naäman wat aan melaatsheid gely het. Dit het sy trots gekrenk toe Elisa se dienaar vir hom gesê het om sewe keer in die water van die Jordaan te gaan was om genees te word. Naäman het gespog dat die riviere van Damaskus beter as die Jordaan was. Hy het egter sy trots gesluk en hom deur sy dienaars laat oorreed om te handel volgens die boodskap wat Elisa gestuur het. Naäman is gevolglik van sy melaatsheid genees. Dit het hom beslis gebaat om sy trots te sluk (2 Kon. 5:11-14). So ook met ons. Wanneer ons verstandige raad ontvang wat teen ons persoonlikheid indruis, kan ons gerus ons trots sluk.
Ons lees in hierdie verband: “Bestraf ’n wyse, en hy sal jou liefhê.” “Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef” (Spr. 9:8; 15:31). Kain was een wat teregwysing in die vroegste tye verwerp het. Jehovah God het hom gewaarsku: “Die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” Weens sy trots het Kain geweier om te luister en dus ’n moordenaar geword wat uitgedrywe is (Gen. 4:7). Nog ’n voorbeeld is die van koning Ussia. Sy militêre prestasies het hom so verwaand laat word dat hy hom die funksies van ’n priester probeer aanmatig het. Toe hy bestraf is, het hy hardnekkig geweier om sy trots te sluk en het gevolglik as ’n melaatse gesterf.—2 Kron. 26:16-21.
Soms word ons op die een of ander manier aanstoot gegee of beledig. Wat gaan ons doen? Weerwraak neem? Met gelyke munt terugbetaal? Nee, want ons moet nie kwaad vir kwaad vergeld nie (Rom. 12:17-21). Dit is in sulke gevalle dat Jesus se woorde van toepassing is: “As iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Matt. 5:39). Iemand wat dit nie kon verduur dat ander hom opsetlik veronagsaam nie en wat geweier het om sy trots te sluk, was Haman die Agagiet. Koning Ahasveros het beveel dat almal voor Haman moes neerbuig, maar weens goeie redes het Mordegai die Jood geweier om dit te doen. Dit het trotse en verwaande Haman so woedend gemaak dat hy hom voorgeneem het om nie alleen vir Mordegai nie, maar al die Jode dood te maak. Op die ou end is Haman eers tot in die grond verneder en kort daarna het hy aan die galg gesterf wat hy vir Mordegai laat maak het. As Haman sy trots gesluk het en die aanstoot wat Mordegai hom gegee het, geïgnoreer het, sou hy dalk nie so ontydig en skandelik gesterf het nie (Ester, hfste. 3 tot 9). Ons lees tereg: “Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande.”—Spr. 12:16.
En dit baat ook om ons trots te sluk en om verskoning te vra wanneer ons iemand anders in woord of daad te na gekom het. Ons is dit in werklikheid aan onsself en die ander persoon verskuldig om sake goed te maak. In sy Bergpredikasie het Jesus die volgende raad gegee: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”—Matt. 5:23, 24.
Nog ’n geval waar ons ons trots moet sluk, is om ’n fout te erken wanneer ons een begaan het. Niemand is alwetend nie, niemand is volmaak nie. As ons dus uitvind dat ons werklik nie geweet het waarvan ons gepraat het nie, of dat ons ’n oordeelsfout begaan het en gevolglik onverstandig opgetree het, is die verstandige ding om dit te erken aan ander wat daardeur geraak is. Dit is veral belangrik vir persone wat toesig moet hou, hetsy dit ouers, opsieners of aangestelde ouere manne in ’n gemeente is.—Vergelyk Jakobus 3:1, 2.
Dit sal ons ook baat om ons trots te sluk deur altyd minder te verwag as waarop ons geregtig is. Jesus het byvoorbeeld gesê dat wanneer ons na ’n bruilof uitgenooi word, ons die nederigste sitplek moet inneem, al meen ons dat ons op ’n vernamer sitplek geregtig is. Dit is beter om gevra te word om na ’n beter sitplek te verskuif as om gevra te word om na ’n minder vername sitplek te skuif.—Luk. 14:7-11.
Daar bestaan dus voorwaar baie redes om ons trots te sluk, nie waar nie? Dit baat ons om dit te doen.