Jongmense vra . . .
Wat van rassetrots?
“Een van my skoolmaats praat altyd oor die ras en die kleur van ander mense”, sug die 17-jarige Tanya. “In baie van sy gesprekke beweer hy dat hy beter as hulle is.”
DIT is net natuurlik om trots te wees op ’n mens se familie, kultuur, taal of plek van herkoms. “Ek is Viëtnamees”, sê ’n 15-jarige meisie met die naam Phung, “en ek is trots op my kultuur.”
Maar alte dikwels gaan rassetrots hand aan hand met rassisme. Hierdie trots kan dus ’n kanker wees wat verhoudings op subtiele wyse afbreek, selfs wanneer dit onder ’n masker van beleefdheid verberg word. Jesus Christus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). En diepgewortelde gevoelens van meerderwaardigheid—of van veragting—kom dikwels openlik na vore en veroorsaak leed en pyn.
Soms lei rassetrots selfs tot geweld. In onlangse jare het dit aanleiding gegee tot oorloë, onluste en bloedige “etniese suiwering”. Maar jy hoef nie ’n ooggetuie van bloedvergieting te wees om die onaangename kant van rassetrots te ondervind nie. Sien jy byvoorbeeld bewyse daarvan op skool, by die werk of in julle buurt? “Ja, beslis”, verduidelik ’n jong Christen met die naam Melissa. “Party van my skoolmaats spot met kinders wat met ’n aksent praat, en hulle sê dat hulle beter as hulle is.” Tanya sê iets soortgelyks: “In die skool het ek al gehoor hoe kinders openlik vir ander sê: ‘Ek is beter as jy.’” In een Amerikaanse opname het byna die helfte van dié met wie ’n onderhoud gevoer is, gesê dat hulle persoonlik gedurende die vorige jaar die een of ander vorm van rassevooroordeel ondervind het. “Die rassespanning by my skool is nogal erg”, het ’n jeugdige met die naam Natasha gesê.
Gestel nou jy woon in ’n land of ’n gebied waar daar ’n groot instroming van immigrante was, wat die karakter van julle skool, buurt of Christengemeente opvallend verander het. Laat dit jou ietwat ongemaklik voel? Dan het rassetrots miskien ’n groter invloed op jou denke as wat jy moontlik besef het.
Gepaste trots teenoor ongepaste trots
Beteken dit dat trots inherent sleg is? Nie noodwendig nie. Die Bybel toon dat daar ’n plek vir die gepaste soort trots is. Toe die apostel Paulus aan die Christene in Tessalonika geskryf het, het hy gesê: ‘Ons beroem ons op julle onder die gemeentes van God’ (2 Tessalonisense 1:4). Dit is eweneens gesond en normaal om ten minste ’n mate van eiewaarde te hê (Romeine 12:3). Dit is dus nie op sigself verkeerd om in ’n mate trots te wees op ’n mens se ras, familie, taal, kleur of plek van herkoms nie. God sal sekerlik nie vereis dat ons ons oor sulke dinge skaam nie. Toe die apostel Paulus vir ’n Egiptiese misdadiger aangesien is, het hy nie gehuiwer om te sê nie: “Ek is in werklikheid ’n Jood, van Tarsus in Silisië, ’n burger van geen onbekende stad.”—Handelinge 21:39.
Rassetrots word egter gevaarlik wanneer dit ’n oordrewe gevoel van eiewaarde voed of wanneer dit ’n mens op ander laat neersien. Die Bybel sê: “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek” (Spreuke 8:13). En Spreuke 16:18 sê: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” God verafsku dit dus as ’n mens daarmee spog dat jy aan ’n beter ras behoort.—Vergelyk Jakobus 4:16.
Die oorsprong van rassetrots
Wat veroorsaak dat mense oordrewe rassetrots aan die dag lê? Die boek Black, White, Other, deur Lise Funderburg, sê: “Vir baie mense kom hulle eerste (en mees blywende) rasse-indrukke van ouers en familie.” Ongelukkig is die indrukke wat deur party ouers oorgedra word alte dikwels ongebalanseerd of verwronge. Daar word dalk reguit vir party jongmense gesê dat mense van húlle ras beter is en dat mense van ander rasse anders of minderwaardig is. Maar meer dikwels sien jongmense eenvoudig dat hulle ouers min met mense van ander rasse te doen het. Dit kan ook ’n kragtige invloed op hulle denke hê. Opnames toon dat die meeste jongmense hulle ouers se rassebeskouings deel, al stem tieners en ouers dalk nie saam wat klere of musiek betref nie.
Ongebalanseerde gesindhede wat rasse betref, kan ook as gevolg van onderdrukking en mishandeling ontwikkel (Prediker 7:7, NW). Opvoeders het byvoorbeeld opgelet dat kinders van sogenaamde minderheidsgroepe dikwels ’n gebrek aan selfrespek het. Party opvoeders het sake probeer regstel deur skoolleerplanne op te stel wat kinders die geskiedenis van hulle ras leer. Dit is interessant dat kritici aanvoer dat hierdie klem op rassetrots eenvoudig tot rassisme aanleiding gee.
Persoonlike ondervinding kan ook ’n rol speel in die ontwikkeling van ongesonde rassegesindhede. ’n Onaangename voorval met iemand van ’n ander ras kan jou tot die gevolgtrekking laat kom dat alle lede van daardie ras aanstootlik of verkramp is. Negatiewe gevoelens kan eweneens gewek word wanneer die media rassekonflikte, polisiewreedheid en protesvergaderinge in die kollig plaas of wanneer hulle etniese groepe in ’n negatiewe lig stel.
Die mite van rassemeerderwaardigheid
Wat van sommige se bewering dat hulle ras die reg het om meerderwaardig teenoor ander te voel? Die idee dat mense werklik in spesifieke rasse verdeel kan word, is om mee te begin twyfelagtig. ’n Artikel in Newsweek het gesê: “Vir wetenskaplikes wat die kwessie ondersoek het, is ras ’n ontwykende begrip wat ondanks enige ernstige poging nie omskryf kan word nie”. Daar is dalk weliswaar “waarneembare verskille in velkleur, haartekstuur en die vorm van ’n mens se oë of neus”. Maar Newsweek het gesê dat “hierdie verskille hoogstens oppervlakkig is—en ten spyte van al hulle pogings kon wetenskaplikes oor die algemeen nie met enige noemenswaardige verskille vorendag kom wat een rasgroep van ’n ander onderskei nie. . . . Die slotsom waartoe die meeste wetenskaplikes kom wat op hierdie gebiede werksaam is, is dat ras bloot ’n ‘maatskaplike begrip’ is—’n [verdorwe] mengsel van vooroordeel, bygeloof en mite.”
Selfs al kon wetenskaplike onderskeide tussen rasse gemaak word, is die gedagte aan ’n “suiwer” ras ’n versinsel. The New Encyclopædia Britannica sê: “Daar is geen suiwer rasse nie; alle rasgroepe wat op die oomblik bestaan, is heeltemal vermeng.” Wat die geval ook al mag wees, die Bybel leer dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak” het (Handelinge 17:26). Ongeag wat mense se velkleur, haartekstuur of gelaatstrekke is, daar is in werklikheid net een ras—die menseras. Alle mense is verwant deur ons voorvader Adam.
Die eertydse Jode was deeglik bewus van die gemeenskaplike oorsprong van alle rasse. Maar selfs nadat hulle Christene geword het, het party vasgehou aan die opvatting dat hulle beter is as nie-Jode—met inbegrip van hulle nie-Joodse medegelowiges! Die apostel Paulus het die idee van rassemeerderwaardigheid die nekslag toegedien met die woorde wat in Romeine 3:9 opgeteken is: “Jode sowel as Grieke [is] almal onder die sonde.” Geen rasgroep kan hulle derhalwe op enige spesiale posisie voor God beroem nie. Trouens, dit is slegs deur geloof in Jesus Christus dat mense ’n verhouding met God kan hê (Johannes 17:3). En dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4.
As jy besef dat alle rasse in God se oë gelyk is, kan dit ’n betekenisvolle uitwerking hê op hoe jy jouself en ander beskou. Dit kan jou beweeg om ander met waardigheid en respek te behandel, om hulle verskille te waardeer en te bewonder. Jong Melissa, wat vroeër genoem is, lag byvoorbeeld nie saam met haar skoolmaats vir jongmense wat met ’n vreemde aksent praat nie. Sy sê: “Ek beskou dié wat twee tale praat as intelligent. Hoewel ek graag ’n ander taal wil praat, kan ek net een praat.”
Hoewel die mense van jou ras en kultuur ongetwyfeld baie het om op trots te wees, moet jy onthou dat dit ook met mense van ander rasse die geval is. En hoewel dit dalk redelik is om in ’n mate trots te wees op jou kultuur en op wat jou voorouers bereik het, bring dit baie meer bevrediging om trots te wees op wat jy persoonlik deur inspanning en harde werk bereik het! (Prediker 2:24, NW). Trouens, daar is iets wat jy kan bereik waarop die Bybel ons aanspoor om trots te wees. God self sê in Jeremia 9:24: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is.” Kan jy jou daarop beroem?
[Prent op bladsy 26]
As ons weet wat God se beskouing van rasse is, help dit ons om die geselskap van mense van ander rasse te geniet