Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 3/15 bl. 17-22
  • ‘Deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE HEILIGE WERK VAN DIE GOEIE NUUS”
  • ’N DOELTREFFENDE MANIER OM TE GETUIG?
  • ’N WERK WAT GOD SEËN
  • Die huis-tot-huis-bediening—Waarom nou belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderrig in die openbaar en van huis tot huis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Die uitdaging van die huis-tot-huiswerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 3/15 bl. 17-22

‘DEELNAME aan die HEILIGE WERK van die GOEIE NUUS’

“Die onverdiende goedheid wat vir my van God gegee is sodat ek ’n openbare dienaar van Christus Jesus vir die nasies kan wees en kan deelneem aan die heilige werk van die goeie nuus.”—Rom. 15:15, 16, NW.

1, 2. Waarom is ons spraak en gedrag belangrik?

’N PERSOON kry ’n reputasie ooreenkomstig sy dade en woorde. Ander maak dikwels gevolgtrekkings oor hom en sy beginsels op grond van wat hulle hom sien doen en hom hoor sê. Koning Salomo het geskryf: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.”—Spr. 20:11; Matt. 7:16-20.

2 Wat beteken dit vir jou as jy ’n Christen is? Behoort ander nie aan ons gedrag en spraak te kan sien dat ons die ware God, Jehovah, dien nie? Die Bybel verseker ons dat God heilig en rein is en dat sy beginsels regverdig is en goeie vrugte afwerp (Jes. 6:3; Job. 34:10; Deut. 32:4). Indien ons waarlik die gees van God se aard absorbeer, behoort dit uit ons lewens te blyk.—Ef. 5:1.

3, 4. (a) Watter uitwerking het Israel se aanbidding en geskiedenis gehad? (b) Watter uitwerking moet dit op ander hê wanneer hulle sien hoedat mense volgens die Christelike godsdiens lewe?

3 Wanneer ware aanbidding uit mense se lewens blyk, kan dit ’n goeie uitwerking op ander hê. Jehovah het byvoorbeeld ’n ruk lank hoofsaaklik met Israel gehandel. Hy het vir hulle gesê: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.” (Lev. 19:2; vergelyk Exodus 19:5, 6.) Die voedings-, gesondheids- en morele wette wat God vir die Israeliete gegee het, het hulle gehelp om hulle te beskerm teen baie van die besoeldelde gebruike wat algemeen in die omliggende nasies voorgegom het. Talle uitlanders kon sien hoe voorspoedig die weg van ware aanbidding is en hoe God Israel gelei en beskerm het. Dit het hulle beïndruk en baie beweeg om self Jehovah te aanbid.—1 Kon. 8:41, 42; 10:1; Rut 1:16.

4 Wanneer Christene hulle lewens ooreenkomstig God se bevele lei, het dit dieselfde goeie uitwerking. Die veranderde lewens en die ‘skoon lewenswandel’ van Christene sal party ooggetuies beweeg om ‘God te verheerlik’ (1 Pet. 2:12, 15; 3:1, 2; Tit. 2:7, 8; 1 Thess. 4:11, 12). Maar die Bybel toon duidelik dat die klem van die Christelike godsdiens nie bloot op ’n rein morele lewe en die ontwikkeling van ’n goeie persoonlikheid wat “die vrug van die Gees” weerspieël, is nie (Gal. 5:22; Ef. 4:22-24). Al is hierdie aspekte van die Christelike godsdiens belangrik, is daar nog ’n unieke werk wat ’n mens moet doen as jy ’n ware volgeling van Jesus wil wees.

“DIE HEILIGE WERK VAN DIE GOEIE NUUS”

5. (a) Watter ander ding is vir ons belangrik soos blyk uit Jesus se voorbeeld? (b) Waarom is hierdie werk belangrik?

5 As ’n jong seun en later as ’n volmaakte man het Jesus sy hemelse Vader geëer. Sy lewenswyse en persoonlikheid het vir ander ’n goeie voorbeeld gestel en baie waarnemers beweeg om God te verheerlik (Luk. 2:49, 52). Onmiddellik nadat Jesus gedoop is, het hy “met sy werk begin” en homself ingespan terwyl hy rondgegaan het en “die evangelie [goeie nuus] van die koninkryk verkondig” het (Luk. 3:23, NAB; Matt. 4:17, 23). Hy het selfs ander opgelei om hierdie werk te doen en hulle uitgestuur om mense te leer (Luk. 10:1, 8, 9). Aanvanklik het hy slegs onder die Jode geleer en dissipels gemaak. Maar later sou dit uitbrei, want soos die apostel Paulus in Romeine 15:8, 9 verduidelik het, is dit God se wil dat alle volke van die aarde gehelp moes word om hom te verheerlik.

6, 7. Watter “heilige werk” het die apostel Paulus gedoen?

6 Paulus self het hard gewerk met daardie doel. In Romeine 15:16 (NW) het hy homself “’n openbare dienaar van Christus Jesus vir die nasies” genoem. Wat het daardie ‘diens’ behels? Hy het voorts gesê dat hy “deelneem aan die heilige werk van die goeie nuus van God, sodat die offer, naamlik hierdie nasies, aanvaarbaar sou blyk te wees”. Wat beteken dit?

7 In Romeine 15:16 het ons die enigste gebruik in die Bybel van ’n Griekse werkwoord (hierourgounta) wat beteken ‘om aan iets heiligs deel te neem of dit te doen’.a Paulus het dus gesê dat hy deelneem aan die heilige werk om die goeie nuus van God, die Christelike boodskap, aan heidene te verkondig. Diegene wat die boodskap aangeneem en Christene geword het, was soos ’n offer wat aan God gebring is, ’n offer wat Jehovah goedgekeur en met sy gees geseën het.—Rom 1:1, 16.

8. Hoe het Paulus hierdie werk onder Jode gedoen?

8 Hoe het Paulus en ander hierdie “heilige werk van die goeie nuus van God” verrig en die Christelike boodskap verkondig? Die “goeie nuus” kon lewens red, dus sou hulle soveel mense moontlik wou bereik. Soms kon Paulus, self ’n Jood, Jode wat in sinagoges vergader het, toespreek (Hand. 13:14-42; 14:1; 18:4). Maar kon hy en ander Christene die meerderheid “nasies”, die nie-Jode, bereik?

9. Watter metodes kon vroeë Christene gebruik om nie Jode te help?

9 Christene kon met mense in openbare plekke, soos markpleine, gesels (Hand. 17:17-22). Maar dit was onwaarskynlik dat hulle so te sê alle persone op hierdie manier sou bereik. Wat van besoeke aan mense in hulle huise, soos Jesus se dissipels gedoen het toe hy hulle uitgestuur het om in verskeie stede te gaan preek? (Matt. 10:5-13; Luk. 9:2-6). Die vroeë Christene het ook hierdie metode gebruik terwyl hulle geesdriftig ‘deelgeneem het aan die heilige werk’ om die Christelike godsdiens aan alle volke uit te dra.

10. Watter getuienis is daar dat huis-tot-huisgetuieniswerk gedoen is om ongelowiges te vind en te help?

10 Ons kan dit sien uit kommentare van Paulus aan die manne wat ouere manne in die gemeente in Efese geword het. Waar Paulus gepraat het oor sy predikingswerk van die verlede, toe hy die Christelike godsdiens na hulle gebring het, het hy gesê: “Ek het nie nagelaat om vir julle te preek oor daardie dinge wat vir julle siele goed is nie, en ek het op straat en van huis tot huis geleer, en sodoende vir die Jode sowel as die Arameërs [of Heidene] getuig oor bekering tot God en geloof in onse Here Jesus.” (Hand. 20:20, 21, uit Siries vertaal deur George M. Lamsa.)b Paulus het klaarblyklik hier gepraat oor sy pogings om vir hierdie manne te preek toe hulle nog ongelowiges was, persone wat hulle moes bekeer en in Jesus moes glo. Paulus het na die huise van sulke ongelowiges gegaan. Hy het geen rede gehad om te aarsel om vir vreemdelinge te preek nie, want hy het ’n “heilige werk” gedoen wat God goedgekeur het en sou seën.

11. (a) Hoe doen Christene vandag hierdie “heilige werk”? (b) Waarom is dit belangrik om deel te neem aan die predikingswerk van huis-tot-huis?

11 In hedendaagse tye is Jehovah se Getuies ook bedrywig in die predikingswerk van huis tot huis as ’n vername manier om met mense in aanraking te kom en God se waarheid te verkondig. Elke Christen wat bewus is van sy plig en voorreg om die “goeie nuus” te verkondig, sal natuurlik elke gepaste geleentheid gebruik om te getuig—vir familielede, medeskoliere, medewerkers, bure en vreemdelinge terwyl hulle informeel gesels. Selfs in lande waar geweldige teenstand deur woedende godsdienstige elemente of die polisiestaat dit onmoontlik of onverstandig maak om in die openbaar van huis tot huis te preek, gaan Christene dus voort om alles in hulle vermoë te doen om op hierdie ander maniere te getuig. Maar in alle plekke waar daar nie sulke geweldige teenstand is nie, besoek Jehovah se Getuies al die huise stelselmatig. Dit het ’n ‘deeglike getuienis’ tot gevolg en hulle kom ook so met baie persone in aanraking wat andersins nooit ware Christene sou teëkom en “die goeie nuus” sou hoor nie.—Hand. 4:19, 20; 20:21, vgl. NW; vergelyk Esegiël 9:3, 4.

’N DOELTREFFENDE MANIER OM TE GETUIG?

12-14. Wat toon dat predikingswerk van huis tot huis doeltreffend kan wees?

12 Maar is hierdie evangelisasiemetode nog steeds ’n doeltreffende manier om ‘deel te neem aan die heilige werk van die goeie nuus’? Die getuienis roep uit: JA! In 1977 het die tydskrif Social Compass die artikel “Jehovah se Getuies in Japan” deur Britse sosioloog Bryan Wilson gepubliseer. Hy het geskryf dat hulle “die evangelisasiewerk baie meer doelgerig doen as enige van” die ‘nuwe gelowe’ in Japan. Hy het ook ’n opname gedoen wat getoon het:

“Die meerderheid [58,3%] van diegene wat Getuies geword het, het gesê dat hulle belangstelling gewek is deur ’n huisbesoek deur een van Jehovah se Getuies”.

13 Selfs godsdiensbeoefenaars wat weier om die Bybelse leer te aanvaar wat deur Jehovah se Getuies verkondig word, erken dat die Getuies se evangelisasiewerk van huis tot huis doeltreffend is. Ons lees:

“Dit is dalk juis dit waarmee die Getuies hulself die meeste besig hou—die huisbesoek, wat binne die apostoliese metodologie van die primitiewe kerk val—wat gruwelik deur [die kerke] verwaarloos word. Terwyl die kerke hulself in baie gevalle beperk tot . . . preke binnekant hulle vergaderplekke, pas [die Getuies] die apostoliese metode toe om van huis tot huis te gaan en elke geleentheid te benut om te getuig.”—“El Catholicismo”, Bogotá, Colombia, 14 Sept. 1975.

‘Katolieke behoort die voorbeeld van Jehovah se Getuies op die gebied van evangelisasiewerk te volg, is aanwesiges by die eerste Nationale Kongress oor Evangelisasie meegedeel.’—Minneapolis se “Tribune”, 29 Aug. 1977.

14 Evangelisasiewerk van huis tot huis is so kenmerkend van Jehovah se Getuies dat ’n huisbewoner in baie lande die deur sal oopmaak en sê: “O, jy is seker een van Jehovah se Getuies.” Selfs al is niks verder uit die Bybel bespreek nie, is nut gestig. Die aandag is gevestig op die heilige naam van God, wat verdien om geheilig te word. En die huisbewoner is bewus gemaak van die feit dat God se knegte daar was met Sy boodskap (Matt. 6:9; Jes. 12:4; Eseg. 33:6-9, 29). Maar soos die aanhalings hierbo toon, het die besoeke dikwels baie meer tot gevolg.

15. Hoe word hierdie doeltreffende werk gedoen in party plekke waar daar hindernisse is?

15 Die persoonlike getuienis aan mense by huise is so ’n nuttige en doeltreffende manier om met mense in aanraking te kom, dat die Getuies ’n groot poging aanwend om daaraan deel te neem, selfs onder moeilike omstandighede. Dit was die geval in een Afrikaland waar die owerheid hierdie Bybelse werk verbied het. Die plaaslike Christene het geweet dat hierdie evangelisasiemetode is, dat hulle ‘aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense’ en dat hulle Jesus se raad moet toepas om “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” te wees (Hand. 5:29; Matt. 10:16, 17). Wat kon hulle doen?

’n Paar van hulle het ’n lang straat of gebied volgens die huise se nommers onder hulle verdeel. Een het al die huise gekry waarvan die nommers eindig met 2 (2, 12, 22, 32, ens), en hy kon hulle in enige volgorde besoek wanneer dit hom pas. ’n Ander het die huise gehad waarvan die nommers eindig met 3 (3, 13, ens), en hy kon hulle op ’n ander dag besoek. So kon ’n deeglike getuienis gegee word.

Verskillende benaderings kon ook gebruik word. Een Christen het ’n mandjie eiers of vrugte gehad wat hy aan die huisbewoner te koop aangebied het, maar teen ’n hoër prys as by die mark. Hy sou nie baie verkoop nie, maar baie gesprekke sou ontstaan oor hoë pryse, hedendaagse lewensprobleme en dan, indien dit gunstig gelyk het, die vervulling van Bybelprofesie.

Of ’n Christen wat groente moes koop, kon dit gebruik om in aanraking te kom met persone in sy “gebied”. Voordat hy mark toe gaan, sou hy by huise met ’n tuin aandoen en vra of hy groente kan koop. Of hy nou iets kon koop of nie, dit was dikwels moontlik om ’n gesprek aan te knoop en Bybelgedagtes te gebruik.

Sodoende kon plaaslike Christene teistering deur politieke straatboewe vermy wat tevore diegene wat van huis tot huis gepreek het lastig geval het. Die gemeenskap het ook ’n deeglike getuienis ontvang.

16. Watter ander aanpassings kan gemaak word sodat die Getuies kan aanhou om hierdie predikingsmetode effektief te gebruik?

16 Elders moet daar miskien ander aanpassings gemaak word. In die verlede was dit dalk die gebruik om soggens, wanneer baie huisbewoners tuis was, na die huise te gaan. Maar beteken dit dat hierdie predikingsmetode nie prakties is nie indien omstandighede verander en die meeste nou daardie tyd werk? Nee, want hoe anders sal almal—in elke huis en woonstel—bereik word en die geleentheid gebied word om by “die goeie nuus” baat te vind? Dit sal raadsaam wees om die besoeke in die middag of vroegaand te doen wanneer gesinslede tuis is. Die doel is om soveel mense moontlik te bereik en te help.—Vergelyk Handelinge 16:13.

17. Hoe kan ons, gedagtig aan Paulus se voorbeeld, persoonlik aanpassings maak terwyl ons hierdie werk doen?

17 Die apostel Paulus was bereid om sy metodes en benadering te verander om sy gehoor te pas. Hy het gesê: “Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê” (1 Kor. 9:19-23, NAB). Soortgelyke aanpasbaarheid kan vandag help. Gestel jy woon in ’n gebied waar die meeste mense belangstelling in godsdiens en die Bybel verloor het. Gaan jy jou benadering dienooreenkomstig aanpas?

’n Getuie in België vertel: ‘Ek hou die Bybel in my hand oop, maar ek sê nie dadelik wat dit is nie. Ek sê: “Terwyl ek vir u gewag het om na die deur toe te kom, het ek gekyk wat hier geskryf staan . . . ‘Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe’ [Matt. 5:5]. Dink u dat daar nog sagmoediges onder ons is?” Daar volg sonder uitsondering ’n gesprek en later word die Bybel makliker aanvaar.’

’N WERK WAT GOD SEËN

18. Hoe weet ons dat God belangstel in die “heilige werk van die goeie nuus”?

18 Christene dwarsoor die aarde stel intens belang in “die heilige werk van die goeie nuus”. Jehovah God ook. Paulus het gesê dat nuwe Christene wat gemaak is deur sy aandeel aan hierdie werk soos ’n aanneemlike offer vir God was, wat sy gees op hulle uitgegiet het.—Rom. 15:16.

19. Hoe kan hierdie werk doeltreffend wees selfs wanneer die meeste nie luister nie?

19 God aanvaar en seën steeds hierdie predikingswerk, onder meer die belangrike huis-tot-huiswerk om persone te vind en te help. Een aanduiding is die ondervinding van ’n prediker wat gemeentes in ’n groot streek besoek en wat ’n uitnodiging aanvaar het om ’n Christin in Maryland na ’n Bybelstudie te vergesel. Hy sê:

“Ek het vir die huisbewoner gevra wat haar beweeg het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Sy het gesê dat sy dikwels haar Bybel sommer op enige plek oopgeslaan het. Dan het sy haar vinger op ’n vers gedruk en dit gelees. Maar sy het selde verstaan wat sy gelees het.

“Eendag was sy baie terneergedruk oor ernstige gesinsprobleme. Sy het weer haar Bybel oopgeslaan en ’n vers gekies. Sy kon dit nie verstaan nie, en weens haar terneergedruktheid en teleurstelling het sy begin huil. Sy het tot God gebid om iemand na haar te stuur om haar te help om sy Woord te verstaan. Net toe het die voordeurklokkie gelui. Toe sy die deur oopmaak, het daar ’n Getuie gestaan wat gesê het: ‘Sou u graag die Bybel wou verstaan?’ Die huisbewoner het haar na binne getrek en daar is gou met ’n gereelde studie begin.”

20-23. Watter seëninge kan ’n groter deelname aan die predikingswerk van huis tot huis meebring?

20 Goeie resultate kan verkry word, selfs al lyk dit of die meeste van diegene wat ons teëkom die “goeie nuus” wat na hulle gebring word, verwerp.

’n Tienderjarige het een Saterdagmiddag in ’n plattelandse dorp in Suid-Afrika van deur tot deur getuig. Min mense het gunstig gereageer, want ’n godsdiensorganisasie in die gemeenskap het aansienlike vooroordeel teen die nuttige Christelike pogings van Jehovah se Getuies gewek. Deur na deur is gou in haar gesig toegemaak. Dit het tevergeefs gelyk.

Maar sonder dat sy dit geweet het, het nuuskierige oë haar vanuit ’n venster oorkant die straat dopgehou. ’n Bejaarde vrou het die Getuie se volharding ondanks die onvriendelike reaksies dopgehou. Dit was duidelik dat hierdie Christen anders as ander jongmense was.

Toe die Getuie by die bejaarde dame se huis kom, het sy haar ingenooi. Hoewel die meisie hoofsaaklik Engels gepraat het en die vrou Afrikaans, kon hulle kommunikeer oor ’n belangrike Bybelboodskap vir ons tyd. Later het ’n Afrikaanssprekende prediker die belangstelling opgevolg en het die bejaarde dame bly ingestem tot ’n gereelde studie van God se Woord.

21 God se seën op “die heilige werk van die goeie nuus” word inderdaad op baie maniere waargeneem. ’n Reisende opsiener wat gemeentes in die omgewing van New Orleans, Louisiana, besoek, het geskryf: “Die evangelisasiegees word sterker. Die laaste agt of nege gemeentes wat ons besoek het, wy baie meer tyd aan die predikingswerk. As gevolg van hierdie groter poging word meer mense wat in ‘die goeie nuus’ belangstel, gevind. En omdat die broers en susters die ‘goeie nuus’ bedrywiger verkondig, word ’n gees van vrede en vreugde al hoe duideliker in die gemeentes waargeneem.”

22 Sulke vrede en vreugde neem ook toe in die persoonlike en gesinslewe van daardie Christene wat die “goeie nuus” kragtig verkondig en God se seën waarneem. O, daar sal nog probleme en sorge in die lewe wees. Ons besef dat hulle daar sal wees solank as wat ons onvolmaak is en die huidige goddelose stelsel van dinge voortbestaan. Maar namate ’n Christen bedrywiger raak in die God-verordende “heilige werk van die goeie nuus”, word die lewe voller, ryker en gelukkiger (Hand. 20:35). Dit is nie net teorie nie. Dit werk. Dit het gewerk in die geval van die apostel Paulus. Dit werk vandag in die geval van miljoene van Jehovah se Getuies. Dit sal in jou geval werk.

23 Ander sal ook kan sien watter soort Christen jy is. Hulle sal sien hoe jy deelneem aan die werk om die “goeie nuus” te verkondig. Hulle sal die vrede en vreugde sien wat hierdie en ander Christelike bedrywighede in jou lewe meebring. Hulle sal die baie maniere sien waarop jy die Christelike persoonlikheid en die “vrug van die Gees” weerspieël (Ef. 4:24; Gal. 5:22). Ja, jy sal vir baie ander toon dat jy ’n heilige God met welslae dien.

24. Hoe kan jy voel oor jou volle deelname aan hierdie werk?

24 Na Paulus se kommentaar oor ‘deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’, het hy bygevoeg: “Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God” (Rom. 15:17). Laat ons almal as Christene werk sodat ons ook so in Christus Jesus kan roem.

[Voetnote]

a Party vertalers het hierourgounta weergegee met “priesterlike taak” of ’n soortgelyk uitdrukking. Vergelyk Lukas 1:8 waar ’n verwante werkwoord gebruik word in verband met Sagaria, Johannes die Doper se vader.

b Die eerste vertaling van die Christelike Griekse Skrifte in ’n ander taal was klaarblyklik in Siries. Professor James Murdock se weergawe uit Siries lees: “Ek het nie dinge wat vir julle siele voordelig was links laat lê nie, sodat ek vir julle kon preek en op straat en in huise kon leer terwyl ek vir Jode en vir Heidene getuig het.”

[Prent op bladsy 20]

‘Groter werke’ het op Pinkster begin

[Prente op bladsy 21]

Vandag doen Getuies dwarsoor die aarde ‘groter werke’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel