Wat my lewe waarlik sinvol gemaak het
soos vertel deur Jaya Reddy
DIT was my liefde vir boeke wat aanvanklik my belangstelling in godsdiens gewek het. Boeke het van kleins af vir my ’n besondere bekoring ingehou.
Ek het eendag tussen ’n hoop boeke na iets gesoek om te lees toe ek afgekom het op een met ’n buitengewone titel, Van die verlore paradys tot die herwonne paradys. Ons het dit gekry by een van Jehovah se Getuies wat by ons deur aangeklop het. Dit het vergete en onaangeraak in ’n laai gebly. Dit het my op ’n vreemde wyse geboei. Ek het dit in ’n week deurgelees.
Ek was destyds 12 jaar oud. Die boek het my belangstelling gewek in die Bybel, die leerboek van ’n geloof wat van myne verskil het. Ek is in ’n Hindoe-gesin gebore, maar ek het nooit werklik die geloof beoefen nie. Ons woon in Durban.
FISIESE GEBREK
My moeder het drie kinders gehad en ons het almal een ding gemeen gehad. Ons is almal met ’n erfkwaal, spierdistrofie, gebore. Die siekte het drie vorms. My oudste broer het aan die ergste vorm gely en hy is dood toe hy vier was.
Ons was almal by geboorte oënskynlik normaal en gesond. Die tekens verskyn eers later—moontlik ’n swakheid in die arms, ’n swakheid in die bene, wat ’n mens skielik laat struikel, en ’n traagheid in die ledemate en spiere wat met verloop van jare vererger. Die siekte versprei stadig en sluipend.
Met verloop van jare het al hoe meer van my spiere as gevolg van die siekte verswak. Eenvoudige dinge soos om te eet of my hare te kam verg dus buitengewone inspanning. Selfs om te sit kan vir die spiere veeleisend wees. My spiere is so swak dat ek die allerligste klere moet dra en ek kan slegs met behulp van ’n rugstut sit.
Wanneer die spiere moeg word weens inspanning, word hulle styf en seer, soms dae lank. Soms is die spanning wat in my spiere opbou so erg dat elke senuwee en vesel aan die brand is. Die spiere wat ’n mens in staat stel om te sit, het met die jare verswak sodat my ruggraat krom geword het.
Toe ek 18 jaar oud was, het ek ’n groot operasie gehad om my ruggraat reguit te maak. Dit was die Harrington-prosedure, waartydens daar staalstawe in die ruggraat geplaas word om dit reguit te hou. Die stawe word met staalskroewe vasgemaak. In my broer se geval het die siekte stadiger vererger, maar eindelik het hy ook in sy middeltienderjare in ’n rolstoel beland.
EK BEGIN IN BAIE DINGE BELANGSTEL
Die feit dat ek in ’n rolstoel moes sit, het nie verhoed dat ek in baie dinge begin belangstel nie. Ek moet my moeder daarvoor bedank. Sy het haar bes gedoen om ons te help, geen moeite ontsien nie en baie opgeoffer. Sy het ons soos ander kinders grootgemaak. Ons is nooit opgepiep of verwen nie.
Ek was elf jaar oud toe Moeder my aangeraai het om te begin skryf. Sy het gesê dat dit die ideale ding sou wees. Ek kon tuis in my eie tyd werk. Die gedagte het by my byval gevind. Benewens die praktiese oorwegings was ek lief vir ’n fantasiewêreld. Ek was ook ’n introvert, met ’n neiging om lugkastele te bou en te droom. My eerste werke was dus almal sprokies.
Wanneer ek nou terugkyk, is ek bly dat ek vroeg begin het, want skryfwerk is nie ’n maklike professie nie. Dit is egter iets waarin ’n mens al hoe meer opgaan en wat saam met jou ontwikkel. Dit word onvermydelik so ’n integrerende deel van jou dat een deel van jou verstand altyd outomaties idees, indrukke en gedagtes vir toekomstige gebruik absorbeer.
Ek het veral in die geskiedenis en dierelewe begin belangstel. Ek het ook alles gelees wat ek oor godsdiens in die hande kon kry. Omdat ek lief was vir poësie en literatuur, het die pragtige lirisme en skoonheid van die Bybel my veral beïndruk. Later, namate ek meer bewus geword het van die lewe en die onregverdigheid van die mens se onmenslikheid teenoor ander, het ek in die sosiologie en die geesteswetenskappe begin belangstel.
EK SOEK NA ANTWOORDE IN GODSDIENS
Toe ek 15 was, het ek aangesluit by een van die kleiner “Christelike” sektes en nou en dan die dienste bygewoon om iets bevredigends en opbouends te vind. Maar ek was baie ontevrede met baie van die dinge wat ek gesien het.
Ek het opgemerk dat die priester, op ’n paar uitsonderinge na, glad nie in die lede van sy kudde belangstel nie. Hy het baie welvarend gelyk, want hy het dikwels ’n nuwe motor gehad en het goed gelewe. Daar was ook rassevooroordeel. ’n Swart priester het baie minder as sy Blanke-eweknie verdien. Die preke was vervelig. Die preke het min van mekaar verskil en het oënskynlik oor net ’n handjievol tekste gehandel.
Ek het die vermoë van sekere lidmate om dan glo in tale te spreek en krankes te genees, bevraagteken. Ondanks my fisiese toestand, het ek nie na fisiese genesing gesoek in my soektog na die waarheid nie. Dit het vir my onredelik gelyk dat ’n God van liefde ’n paar sou genees terwyl hy die lyding van die massas ignoreer. Ek was seker dat daar iets diepers moes wees.
Ek het niks in die kerk geleer nie. Ek het dus opgehou om kerk toe te gaan en besluit om die Bybel op my eie te bestudeer.
MY BESKOUING VAN SAKE KRISTALLISEER
Intussen het ek vrae oor die lewe rondom my begin stel. Die geskiedenis as geheel word skynbaar gekenmerk deur die mens se onmenslikheid teenoor ander, ongelykheid, ongeregtigheid en verdrukking van die armes deur ’n handjievol maghebbers. Ons het ’n ideologie nodig gehad wat vryheid en gelykheid vir almal sal beteken en wat die indiwidu sal toelaat om ongehinderd tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Ek was daarvan oortuig dat die politiek die oplossing bevat het, want mag wat in die regte hande is en op die regte manier uitgeoefen word, kan goeie resultate hê. Hoeveel beter sou dit tog gewees het as ons leiers ware Christene was wat besorg was oor indiwiduele regte en vryhede en wat toegelaat het dat die leerstellings van Jesus Christus hulle besluite tot hulle land se voordeel beïnvloed!
Ek het nou en dan Die Wagtoring en Ontwaak! gekry. Ek het gesien dat al die feite en raad in hierdie tydskrifte deur die Bybel gestaaf word. Myns insiens was die redenering gesond en veral geskik vir die probleme en moeilikhede in vandag se wêreld. Maar daar was veral een ding wat ek nie kon aanvaar nie: Die neutraliteit van Christene ten opsigte van politieke aangeleenthede. Ek was daarvan oortuig dat ware Christene ’n sterk krag ten goede in die wêreld kon wees indien hulle polities bedrywig sou raak.
Hoe sterker ek oor die saak gevoel het, des te meer het ek met die Getuies verskil oor hulle politieke neutraliteit. En tog het ek hulle standpunt bewonder. As gevolg van my studie van die geskiedenis het ek saamgestem dat oorlog iets verskrikliks is. Twee wêreldoorloë het genoeg verwoesting gesaai om die begeerte by ons te wek om nie weer dieselfde fout te maak nie.
Trouens, ek was gekant teen enige onverskillige slagting, onder meer die moedswillige vernietiging van dierelewe. Weens die mens se dwaasheid en selfsug word talle pragtige en seldsame spesies deur uitwissing bedreig. As gevolg van Bybelstudie het ek geweet dat dit nie God se voorneme was nie. Die mens se heerskappy oor God se diereskepping moes ’n heerskappy van liefde wees.
Ek was nou daarvan oortuig dat die oplossing vir die mens se probleme in die bladsye van die Bybel opgesluit lê. Maar my kennis was te gebrekkig. Intussen het ek besluit om my skryftalent te gebruik om die ontberings en verdrukking van die Swart mense op die voorgrond te bring. Myns insiens moes daar ’n verandering kom.
DIE BRON VAN WARE WYSHEID
Dit was in hierdie stadium dat ek hospitaal toe is vir die rugoperasie. Die genesingsproses was ’n stadige en lange. Twee jaar later, toe ek 20 was, het ek met ’n deeglike studie van die Bybel begin.
’n Getuie wat ek verlangs geken het, het my eendag in Januarie 1969 gebel vir ’n geselsie. Ek het hom genooi om daardie naweek oor te kom. Hy het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe vir my gegee en gesê: “Ek weet dat jy dit nog hierdie week sal lees. Maar dit is nie genoeg om dit net te lees nie. Die materiaal in die boek is diep en verg deeglike studie.”
En teen die volgende naweek het ek dit deurgelees, soos hy gesê het. Toe hy terugkeer, het hy ’n Bybelstudie voorgestel. Ek het dit aanvaar. Tydens sy volgende besoek het hy my broer genooi om ook daaraan deel te neem. Hy het ingestem, maar omdat hy ’n ateïs was, het hy dit baie teësinnig gedoen.
Ek het nie alles op een slag geleer nie. Ware geleerdheid is wanneer kennis in ’n persoon se hart ingaan en ’n deel van sy wese word. ’n Mens moet daaraan herkou
en daaroor peins, soos die apostel gesê het: “Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin” (1 Tim. 4:15, NAB). Ek het mettertyd besef dat God se Woord inderdaad die bron van ware wysheid is.
DIE BOODSKAP WAT MY LEWE VERANDER HET
Ons studie het getoon dat die “ideologie” van die Bybel teokrasie—heerskappy deur God—is. God gaan ’n nuwe stelsel van ware vrede vir die mensdom tot stand bring. Dit is God se koninkryk waarvoor Christene geleer is om te bid wat dit gaan doen (Matt. 6:9, 10). Ek was verbaas om uit te vind dat hierdie koninkryk ’n werklike regering in die hande van God se Seun, Jesus Christus, is en dat dit alle menseregerings van die aarde afgaan uitwis en ’n pragtige paradys op die aarde gaan herstel (Jes. 9:5, 6; Dan. 2:44). Die wêreld sal dus weer eens vry van botsings en tweedrag wees.
In daardie stelsel sal daar ook verstandige leiding wees, nie soos in hierdie stelsel waar ’n mens dikwels sien hoedat die verkeerde mense verantwoordelike posisies beklee nie. “Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop” (Pred. 10:7). Diegene wat in God se koninkryk verantwoordelike posisies gaan beklee, sal deur God self gekies wees. Elke persoon sal tot sy volle potensiaal kan ontwikkel en sal sy talente tot daardie gemeenskap bydra.
Ware kennis en wysheid sal uiteindelik dinge meebring wat goed, die moeite werd en konstruktief is. Byvoorbeeld, hoeveel gelukkiger sou die wêreld tog nie gewees het indien al die geld wat vandag aan die bewapeningswedloop bestee word, gebruik sou word om die armes op te lei en te voed nie! Dit is soos God se Woord sê: “Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.”—Pred. 9:18.
Ek het begin besef dat die burgers van God se nuwe stelsel nou voorberei word om dan te lewe. Hulle is lewende voorbeelde van hoe prakties die ware Christelike godsdiens is. Ek het gehou van die dinge wat ek geleer het en het dit waarlik bevredigend gevind. In Desember 1970 het ek my toewyding aan Jehovah God gesimboliseer deur gedoop te word. My broer is later gedoop. Met verloop van jare het my moeder ook die dinge wat ons geglo het, liefgekry en aanvaar.
BRON VAN WARE GENOT
Iets wat my baie vreugde verskaf, is om die Koninkrykshoop met ander te deel. Weens my fisiese gebrek doen ek die meeste van my getuieniswerk per brief. Wanneer interessante onderwerpe soos aborsie, gewetensbeswaar, wreedheid teenoor diere, talespraak, ensovoorts in die pers gemeld word, skryf ek aan die publikasie en verstrek ek die Bybelse siening. Ek sluit altyd my naam en adres in, en mense skryf dikwels aan my wanneer hulle my opmerkings lees. Dit bied my die geleentheid om terug te skryf en vir hulle oor God se wonderlike voornemens vir die mensdom te getuig. Ek doen ook baie informele getuieniswerk en het al Bybelstudies met kinders in die gemeente gehad.
Op die lange duur is dit die liefde en begrip van sy vriende wat ’n persoon werklik nodig het. Jehovah se organisasie gee aan ons sulke opregte vriende en ware hartlikheid. Ek het gesien dat diegene wat materiële rykdom najaag, gewoonlik onvergenoeg en eensaam is. Hulle verloor die belangrike dinge uit die oog. Dit is soos om na die skaduwee te gryp en die werklikheid te verloor.
Ek het bowenal geleer dat die belangrikste ding in die lewe ’n persoon se verhouding met Jehovah God is. Hoe nader ’n mens aan Hom kom, des te beter leer jy die genesende krag en werking van Jehovah se gees in jou lewe ken. Slegs dan kan ’n mens die ware rykheid van die lewe, van gesondheid en van loutere vreugde ken. Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer ons hoop in God se regverdige nuwe stelsel verwesenlik word!—2 Pet. 3:13; Openb. 21:3, 4.