Sonde—maak dit nog saak?
“AS ’N nasie het ons so twintig jaar gelede amptelik opgehou ‘sondig’.” Dit is wat dr. Karl Menninger in sy boek Whatever Became of Sin? gesê het. Hy het gesê dat die laaste keer wat ’n Amerikaanse president sonde as ’n groot nasionale probleem gemeld het in ’n proklamasie in 1953 was.
In die Ooste is die begrip sonde gewoonlik nie so belangrik soos byvoorbeeld die begrip eer of ouerverering nie. Maar in die Weste was dit eens as van die allergrootste belang beskou. Wanneer iemand daarvan beskuldig is dat hy gesondig het, was dit baie ernstig. Deesdae het dinge oënskynlik verander. Wanneer mense sê dat hulle gesondig het, is dit gewoonlik met ’n effense glimlag. Sonde is nie meer iets vreesliks nie. Is dit hoe dit beskou moet word?
Wat is sonde nou eintlik? Die waarheid is dat baie nie eens meer seker is nie. Mense het tevore van die “sewe hoofsondes” gepraat: trots, hebsug, wellus, toorn, vraatsug, jaloesie en luiheid. Vandag is hierdie karaktertrekke iets algemeens. Trots word voorgestaan in dinge soos nasietrots of rassetrots. Dit is moeilik om te sien hoe verbruikersgemeenskappe in talle ryk lande sou kon voortbestaan sonder ’n mate van hebsug, jaloesie en vraatsug onder die bevolking. Owerspel, homoseksualiteit en hoerery—vorms van wellus—word geduld of voorgestaan, selfs deur party godsdiensleiers. Die hedendaagse uitvindsels soos die beeldradio spoor mense aan om lui te wees.
Wie se mening?
Soms sê mense: ‘Wel, solank jy jou deur jou gewete laat lei, sal jy nie ’n sonde pleeg nie.’ Ons gewete is weliswaar ’n Godgegewe hulp om tussen goed en kwaad te onderskei. As dit nie vir die gewete was nie, sou die mensegemeenskap waarskynlik al lankal in algehele chaos en barbaarsheid verval het.—Rom. 2:14, 15.
Maar die gewete kan bedrieglik wees. Die meeste mense sal byvoorbeeld moord as ’n sonde herken. Die aanbidders van die Hindoe-godin Kali en die Rooms-Katolieke inkwisiteurs van die Middeleeue het moord egter godsdienstig geregverdig. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Joh. 16:2). Selfs vandag word daar elke jaar tot 50 miljoen ongebore babas deur aborsies vermoor, dikwels met die goedkeuring van die landswette.
Daarbenewens het party ’n merkwaardige vermoë om hulle gewete te buig. Hulle gewete word hulle “medepligtige” eerder as hulle “gids”, soos daar van ’n sekere staatsman gesê is. Dit is gevolglik waar dat die meeste diefstal as ’n sonde sal beskou, veral as dit hulle geld is wat gesteel word. Maar een van die grootste misdaadprobleme in die Verenigde State is sakemisdadigheid, onder meer stelery, versekeringsbedrog, omkopery en gunslone. Miljoene gewone mense maak hulle hieraan skuldig. Pla hulle gewete hulle? Klaarblyklik nie. Waarom nie? Moontlik omdat hulle nie aan die kaak gestel word nie, of, omdat “almal dit doen”.
Hoewel die gewete dus ’n rol speel by die herkenning van sonde, het dit leiding nodig. Maar waar kom die leiding vandaan? Dikwels weerspreek diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle deskundiges op die gebied is mekaar.
In die Rooms-Katolieke Kerk was dit byvoorbeeld eens ’n sonde om Vrydae vleis te eet. Deesdae is dit op die meeste Vrydae van die jaar nie langer die geval nie. Baie wonder: ‘Wat is die verskil tussen toe en nou?’
Dieselfde godsdiensorganisasie beskou die gebruik van “kunsmatige” metodes om ’n gesin se grootte te beperk as ’n ernstige sonde. Maar baie mense, selfs Katolieke, is hoogs ontsteld oor die aarde se bevolkingsontploffing en dink nou anders. Hulle stem ongetwyfeld saam met dr. Karl Menninger se kommentaar: “Myns insiens is meedoënloosheid, onverskilligheid, ’n gebrek aan selfbeheersing by voortplanting, of onkunde en onverskilligheid oor die gevolge daarvan vir die wêreld ’n allerverskriklikste sonde.” Wat is die sonde—om die bevolkingsaanwas te beperk of voor te staan?
Sulke dinge verwar mense. ’n Onlangse meningspeiling onder Rooms-Katolieke in die Verenigde State het gevind dat “die meeste Katolieke nie ’n duidelike begrip het van wat sonde is nie”. Baie het erken dat hulle “verward is oor wat sonde is”, en gevolglik “nie seker is wat om te bely nie”.
Party intellektuele betwyfel nou selfs die bestaan van sonde. Hulle verkies om te praat van “siekte” eerder as “sonde”. Van Jim Jones, die aanstigter van die onlangse massa-selfmoord deur sy volgelinge in Guyana, het ’n teoloog wat in die tydskrif Time aangehaal is, gesê: “Myns insiens het mense soos Hitler en Jones in werklikheid bloot aan psigologiese siekte gely. Ek meen dat die enigste reaksie wat dit moet uitlok, jammerte vir al die betrokkenes is, nie morele afsku nie.”
Maak dit werklik saak?
In die lig van sulke algemene meningsverskille kan ’n mens vra: Maak sonde werklik nog saak? Wel, as ons vir ons gesin en bure omgee, as ons ’n hoop vir die toekoms wil hê en graag nou gelukkige, bevredigende lewens wil lei, moet die antwoord “Ja” wees.
“Sonde” word soms gedefinieer as “die skending van godsdienswette of ’n morele beginsel”. Die melding van “godsdienswette” herinner ’n mens aan die feit dat die enigste Een wat werklik met gesag vir ons kan sê wat sonde is en hoe om dit te vermy, die Bron van ware godsdiens, Jehovah God, is. Hy het die mens geskep om volgens sekere morele wette te lewe. Indien ons natuurwette—soos die swaartekragwet—verbreek, kan die gevolg rampspoedig wees. As ons God se morele wette verbreek—dit wil sê, as ons sondig—kan die gevolg eweneens mettertyd net so rampspoedig wees. Die Bybel waarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Gal. 6:7.
Esegiël 18:4 toon sonde se rampspoedige uitwerking op ’n indiwidu: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.” Die slegte uitwerking daarvan op hele nasies, word getoon in Spreuke 14:34, wat sê: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies.”
Ja, sonde maak saak. Vir ons eie beswil moet ons dit kan herken en leer om dit te vermy. Hoe is dit moontlik? Die volgende artikels verstrek die antwoord.