Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 1/15 bl. 5-7
  • Is dit waar dat “almal gesondig het”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit waar dat “almal gesondig het”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Paar voorbeelde van sonde
  • Waarom is ons sondig?
  • Die verwydering van die sondevlek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Sonde
    Redenering uit die Skrif
  • Wat is sonde?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • ’n Wêreld sonder sonde—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 1/15 bl. 5-7

Is dit waar dat “almal gesondig het”?

HET jy al ooit gewonder waarom die mens, ondanks al die pogings van opregte mense, tot dusver nie daarin kon slaag om sy dringende probleme op te los nie? Waarom is dit dat hy, alhoewel hy ’n redelik duidelike beeld het van wat hy wil hê—vrede, voorspoed, geluk, gesondheid—oënskynlik al hoe verder van hierdie wenslike doelwitte af weg beweeg?

’n Belangrike rede word gevind in hierdie woorde van die apostel Paulus: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Ja, die meeste van die mensdom se strewes is deur menslike sondigheid verydel.

Party bevraagteken die apostel Paulus se opmerking. Hulle sê: ‘Hoe kan jy sê dat ek ’n sondaar is? Ek doen my naaste geen kwaad nie. Ek lei ’n stil lewe en veroorsaak geen moeilikheid nie. Watter sondes doen ek?’ Die waarheid is egter dat sonde meer behels as dade wat ons naaste kwaad doen of moeilikheid veroorsaak. Ja, hierdie dinge is sondes, en dit is prysenswaardig om dit te vermy. Maar die woord “sonde” het ’n breër betekenis. Paulus het dit geassosieer met ‘’n gebrek aan die heerlikheid van God’. Dit staan dus in verband met ons verhouding met ons Skepper, Jehovah God.

Die woorde wat in ons hedendaagse Bybels deur “sonde” vertaal word, het oorspronklik die gedagte bevat dat ’n persoon “te kort skiet” aan die standaard van volmaakte gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid waaraan? Aan God se wil. ’n Hedendaagse Bybelwoordeboek sê dus: “Sonde is ’n skending van ’n verhouding van getrouheid aan God sowel as ongehoorsaamheid aan die gebooie en die wet.” Aangesien dit die geval is, kan slegs God self op ’n gesaghebbende wyse vir ons vertel wat hy as sonde beskou, en hy het dit in die Bybel gedoen.

’n Paar voorbeelde van sonde

Eerstens, baie dinge wat in vandag se wêreld aanvaarbaar word, is werklik verkeerd. Die Bybel sê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor. 6:9, 10). Ja, owerspel, hoerery en homoseksualiteit is sondes. En so ook diefstal.

Baie mense vermy inderdaad onsedelikheid en diefstal, en dit is goed. Maar daar is ander sondes. Ons woorde sowel as ons dade kan sondig wees. Leuens is ’n sonde. So ook lasterlike skinderpraatjies, toornige woorde en skeltaal (Kol. 3:9; Ps. 101:5; Ef. 4:31). Daarbenewens het Paulus gesê: “Moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Kor. 10:10). Jakobus het grootpratery veroordeel, terwyl Paulus ons vermaan het om dwase en lawwe praatjies te vermy (Jak. 4:16; Ef. 5:4). Kan enigeen van ons eerlik sê dat hy nog nooit op ten minste een van die gemelde maniere gesondig het nie? Dit is onwaarskynlik. Jakobus, Jesus se broer, het gesê: “As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jak. 3:2). Kan enigeen van ons voorgee dat hy volmaak is? Nee.

Dieselfde dissipel het nog ’n manier gemeld waarop ons kan sondig. Hy het gesê: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jak. 4:17). Hoe is dit moontlik? Wel, gestel ’n man loop op ’n sypaadjie en ’n kind hardloop skielik voor hom uit ’n tuin en in die besige straat in. Gestel die man kan verhoed dat die kind omgery word maar ignoreer hom eenvoudig en loop verby. Hy doen weliswaar niks verkeerd nie. Maar die feit dat hy versuim om iets te doen om die kind te help, sal vir hom ’n sonde wees. Hoe dikwels het ons almal al versuim om op ’n werklik liefdevolle wyse teenoor ons medemens of teenoor God op te tree? Sulke versuim is elke keer ’n sonde.

Verkeerde gesindhede kan ook sondig wees. Hoogmoed en verwaandheid word deur die Bybel veroordeel, en so ook lafhartigheid (Spr. 21:4; Openb. 21:8). Selfs verkeerde gedagtes is sondig. Die laaste van die Tien Gebooie sê: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”—Ex. 20:17.

Hoe kan ons voorkom dat verkeerde begeertes by ons opkom? Moontlik deur ons gedagtes met iets heilsaams besig te hou. Maar indien dit nie werk nie, moet ons dit eenvoudig aansien vir wat dit is en dit beveg (1 Kor. 9:27). Hierdie verkeerde begeertes is sondes in God se oë.—Spr. 21:2.

Laastens, valse godsdiens kan ons laat sondig. Benewens verkeerde gebruike soos afgodediens en spiritisme, wat uitdruklik in die Bybel verbied word, word daar gewys dat blote lidmaatskap van ’n valse godsdiens sonde is. Waar dit valse godsdiens as ’n groot, wêreldomvattende stad genaamd Babilon die Grote beskryf, sê die Bybel se laaste boek: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 18:4). Valse godsdiens het dit skuldig gemaak aan groot sonde. Dit het die enige, ware God verkeerd voorgestel. God se ware knegte vervolg en dit met die politiek bemoei. Almal wat aan valse godsdiens behoort, het gemeenskap met daardie sondes daar hulle die organisasies wat hulle daaraan skuldig maak, ondersteun.

Waarom is ons sondig?

Net ’n paar van die maniere waarop ons kan sondig, is gemeld. Baie ander word in die Bybel geskets. Nadat jy oor hulle nagedink het, sal jy moontlik tot die gevolgtrekking kom dat dit onmoontlik is om nie op die een of ander manier te sondig nie. Jy stem waarskynlik saam met koning Salomo, wat gesê het: “Daar is geen mens wat nie sondig nie” (1 Kon. 8:46). God self het gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Gen. 8:21). Ja, baie dinge laat ons sondig, maar dit is veral die swakheid van ons vlees wat ons laat sondig.

Waarom? Omdat ons dit oorgeërf het. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het aanvanklik nie hierdie probleem gehad nie. Hulle was volmaak en kon gebalanseerde, redelike besluite oor sonde neem. Maar hulle het verkeerd gekies, besluit om teen God in opstand te kom en gevolglik hulle volmaaktheid vir onvolmaaktheid verruil. Hulle het dus ’n erfenis van sondige, verkeerde neigings aan al hulle kinders nagelaat. Die apostel Paulus het dit soos volg verduidelik: “Deur een mens (Adam) het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.”—Rom. 5:12, NAB.

Al het ons dus die allerbeste voornemens kan ons sonde nie vermy nie. Waarom nie? Die apostel Paulus het self bely: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek”! (Rom. 7:19). Ons het almal dieselfde probleem.

Die gevolg was rampspoedig vir die mensdom. Die mens se beste voornemens is deur sy eie feilbaarheid verydel. Selfsug en hebsug het besoedeling, armoede en onreg tot gevolg. Agterdog en wantroue veroorsaak onbestendigheid in internasionale verhoudinge asook in gesinne. Verdorwenheid en misdadigheid verhinder lande se pogings om vordering te maak. En daar is min wat die mens daaromtrent kan doen.

In die lig van die aangebore sondigheid van mense hang die reël wat in Romeine 6:23 uiteengesit is ook soos ’n onheilspellende wolk oor ons koppe: “Die loon van die sonde is die dood.” Daar is niks wat ons op ons eie kan doen om te voorkom dat die doodvonnis vir ons sondes voltrek word nie, want daar is niks wat ons kan doen om te voorkom dat ons sondig nie. Ons is grootliks aan die genade van ons eie onvolmaaktheid oorgelewer.

Is dit waar die saak eindig? Sal die mens altyd deur sy swakhede verhoed word om sy grootste drome en aspirasies te verwesenlik? Nee. Want daar is Iemand wat ons kan help. Nadat die apostel Paulus sy eie onvermoë om te voorkom dat hy sondig, bely het, sê hy voorts: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Sy antwoord? “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24, 25). Ja, die besef van watter groot houvas sonde op ons het en hoe hulpeloos ons is om onsself te red, laat ons die groot liefde en bedagsaamheid waardeer van die God wat ons gehelp het. Maar hoe het hy dit gedoen?

[Venster op bladsy 6]

“BANG” VIR DIE TOEKOMS?

In ’n brief aan Toronto se Star het ’n jong Kanadese meisie haar mening oor vandag se wêreld gelug:

“Ek is 14 jaar oud, ek is bang—bang dat ek nie ’n toekoms sal hê nie, dat ons onsself aan flarde sal skiet voordat ek matrikuleer. Ek hoor elke dag van die krisis in Iran, die olieskaarste, moorde, gevalle van roof en dies meer. Ek wonder waarom mense hierdie dinge doen, en waarom ek en die res van my geslag ons voorgangers se foute moet ontgeld.

“As ek na die tagtigerjare kyk, wonder ek of die aarde ooit die jaar 1990 sal sien. My toekoms lyk baie duister. . . . Die probleem is dat niemand omgee wat oor tien jaar, wanneer dit my geslag se beurt sal wees om te red wat daar te redde is, gebeur nie. Dit is baie selfsugtig. Die jammerte is dat die meeste lede van die publiek te min belangstel om te besef wat gebeur. Dit is ’n baie treurige toedrag van sake.”

Dit is inderdaad ‘baie treurig’. Maar moenie moed opgee nie. Jesus Christus het moeilike tye voorspel wanneer ‘mense se harte sou beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom’. Maar hy het bygevoeg: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:26, 28). Dit is dus nou nie die tyd om “bang” te wees nie, maar om die Bybel se belofte van ’n vreugdevolle toekoms aan te neem.—2 Pet. 3:13.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel