Moet jy die Bybel glo?
GELOOF of twyfel? Betroubaar of onbetroubaar? Hierdie alternatiewe het ’n deel van mense se alledaagse lewe geword. So baie dinge wat ons lees en hoor, is onbetroubaar. Skrywer Aldous Huxley het eenkeer van menslike wysheid geskryf: “Die aanvoering van slegte redes vir die dinge wat ’n mens om ander slegte redes glo—dis filosofie.”
Wat die wetenskap betref, is die boekrakke in al die groot nasionale biblioteke vol wetenskaplike, vakkundige werke wat gedurende die afgelope 50 jaar verouderd geraak het. Dit is dus geen wonder dat mense skepties geraak het oor wat hulle lees nie.
NEGATIEWE TWYFEL OF POSITIEWE NAVORSING?
In ’n wêreld waar skeptisisme dikwels ’n noodsaaklike skild teen bedrog en misleiding is, kan ’n persoon maklik in die gewoonte raak om aan alles en almal te twyfel. “’n Esel stamp hom nie twee maal teen dieselfde klip nie”, is ’n uitdrukking wat ’n mens dikwels hoor, en dit is heeltemal verstaanbaar. Maar is dit werklik bevredigend om in ’n wêreld vol twyfel te lewe? Kan ’n persoon vaste oortuigings hê indien hy nie ’n betroubare bron van inligting het nie?
Negatiewe twyfel sal jou nêrens bring nie. Opregte vrae en positiewe navorsing kan andersyds nuttige werktuie vir die soeker na waarheid wees. Dit is waar op die gebied van die wetenskap. In sy meesterwerk Introduction à l’étude de la médecine expérimentale (Inleiding tot die studie van eksperimentele geneeskunde), het Franse wetenskaplike Claude Bernard gesê: “Die eerste vereiste waaraan ’n wetenskaplike wat natuurlike verskynsels ondersoek, moet voldoen, is om algehele onafhanklikheid van denke te behou. . . . Hy wat twyfel, is ’n ware wetenskaplike, en hy moet twyfel aan homself en sy eie vertolking van dinge, maar hy moet sy vertroue in die wetenskap stel.”
Volgens hierdie beroemde Franse fisioloog vereis wetenskaplike navorsing dus twyfel sowel as geloof. ’n Navorser twyfel of alles op ’n sekere gebied al geleer is, maar wanneer hy sy eksperimente uitvoer, word hy verplig om geloof te stel in wat as wetenskaplike waarheid op ander gebiede beskou word. Met ander woorde, hy twyfel nie aan die wetenskap as geheel nie. Sy twyfelgedagtes op een sekere gebied is konstruktief, aangesien hy hoop om die belange van die wetenskap te bevorder deur ’n nuwe ontdekking te maak.
Dieselfde kan waar wees op die gebied van godsdiens. Sonder om aan die bestaan van God te twyfel, kan ’n persoon tereg twyfelgedagtes koester oor party van die leerstellings wat geleer word deur kerke wat beweer dat hulle Christelik is. Opregte navorsing kan lei tot die verwerping van godsdiensdwaling; dit kan ook lei tot die ontdekking van ware aanbidding. Maar op watter grondslag kan daardie navorsing gedoen word?
DIE BYBEL—’N GRONDSLAG VIR GELOOF
Die universeel erkende grondslag vir ’n ondersoek van die Christelike godsdiens is die Heilige Bybel. Dit is interessant dat die Bybel self nie blinde geloof van sy lesers vereis nie. Waar dit ’n waarskuwing teen liggelowigheid rig, sê dit: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spr. 14:15). En weer: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21). Dit dui op noukeurige ondersoek, sifwerk, die gebruik van jou “denkvermoë” en dan ’n vaste greep op dít wat jy gevind het waar is.—Rom. 12:1, 2, NW.
Sulke redenering en beproewing van dinge vir jouself stel ’n mens in staat om oortuigings te verkry. En sulke oortuigings bou geloof. Volgens die Bybel, is geloof “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr. 11:1). Bybelse geloof vra om “bewys”. Dit verg kennis om die soort geloof te hê wat in die Bybel aanbeveel word. ’n Persoon word nie met sulke geloof gebore nie. Dit is iets wat met kennis en ervaring toeneem. Die Bybel sê verder: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Rom. 10:17, NAB). En die enigste plek om die ware “verkondiging van Christus” te vind, is in die Bybel.
GELOOF—VANDAG ’N WENSLIKE EIENSKAP
Om jou geloof te versterk, het jy kennis nodig sowel as die vermoë om dit te gebruik. Die Bybel noem daardie vermoë “wysheid”. Dat jy iets kan doen om sulke wysheid te verkry, word gestaaf deur die volgende Bybelse raad: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word . . . ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”—Jak. 1:5-8.
In ’n wêreld vol twyfelgedagtes en onsekerheid oor sy toekoms, ’n wêreld wat beproefde morele waardes verwerp het, is dit mos duidelik dat die mens ’n geestelike kompas nodig het waardeur hy hom kan laat lei, nie waar nie? ’n Twyfelaar is waarlik “soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word”, omdat hy feitlik heen en weer geslinger word deur die veranderende filosofieë van wisselvallige mense. So ’n persoon het oor niks sekerheid nie. Hy het geen oortuigings nie. Geen argument, al is dit ook hoe logies, kan hom oortuig nie. Hy kan nie glo nie, want hy wil nie glo nie.
STEL DIE BYBEL OP DIE PROEF
Sulke skeptici twyfel daaraan of die lewe enige sin het. Hulle is tevrede om hulle lewenstyd (wat korter is as die van party diere) te lewe en te sterf, sonder enige hoop om vir ewig te lewe. Ons hoop dat jy, liewe leser, onder diegene is vir wie dit onlogies is om te dink dat die mens net 70 of 80 jaar lewe en dan sterf sodat al sy vergaderde kennis en ervaring vir ewig verdwyn. Ons hoop dat jy onder diegene is wat na die lewe sowel as na die waarheid soek. Van sulke persone wat in die eerste eeu gelewe het, sê die Bybel: “Almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword.”—Hand. 13:48, NW.
Om jou te help om te glo dat die Bybel lewegewende kennis kan verstrek, nooi ons jou om die volgende argeologiese en wetenskaplike bewys van die Bybel se betroubaarheid te ondersoek.