Argeologie bevestig die Bybel
VIR trotse manne wat hardnekkig geweier het om hom as die Messias te erken en sy dissipels verag het, het Jesus gesê: “As hulle swyg, sal die klippe uitroep” (Luk. 19:40). Gelukkig het Jesus dissipels gehad en het hy nog steeds dissipels wat weier om te swyg. Maar in ’n sekere sin het die klippe wat Bybelse gebeure stilswyend aanskou het nou hulle stem verhef en getuig hulle dat die Bybel betroubaar is. Die wetenskap wat sulke klippe in staat gestel het om die Bybel te verdedig, heet argeologie, wat gedefinieer word as “die wetenskaplike studie van die stoflike oorblyfsels van die verlede”.
In sy vakkundige werk Light from the Ancient Past lig Jack Finegan ons in dat “daar gesê kan word dat die hedendaagse argeologie sy ontstaan in 1798 gehad het toe naastenby ’n honderd Franse geleerdes en kunstenaars Napoleon vergesel het toe hy Egipte binnegeval het”. In 1822 het Franse Egiptoloog Champollion daarin geslaag om die hiërogliewe op die Rosetta-steen te ontsyfer. Teen die einde van die 19de eeu was daar sistematiese argeologiese opgrawings in Egipte, Assirië, Babilon en Palestina aan die gang, en dit het tot ons dag argeoloog se graaf die Bybelverslag bevestig?
DIE OORSPRONG VAN DIE WÊRELD EN DIE MENS
Een ontdekking in Egiptiese graftombes stel ons in staat om die Bybel se verduideliking van die oorsprong van die mens te vergelyk met die skeppingsverhaal in ’n eertydse Egiptiese Boek van die dode, waarvan een gesien kan word in ’n lang glaskas in die Louvre-museum, Parys. In ’n artikel in die gesaghebbende Supplément au Dictionnaire de la Bible verduidelik Louis Speleers, kurator van die Cinquantenaire-museum in Brussel, België: “Die Boek van die dode vertel dat [die songod] Ra eendag sy skynende, goddelike Oog in die hemel vergeet het. Sju en Tefnut het vir hom sy Oog teruggebring, wat begin huil het, en mense het uit Ra se trane verskyn.”
Nog ’n argeologiese ontdekking wat ’n interessante vergelyking met die Bybelverhaal moontlik maak, is ’n reeks van sewe kleitafels wat die Enuma elisj, of Sumeries-Babiloniese “Skeppingsepos” bevat. Volgens hierdie antieke verslag het Mardoek, Babilon se stadsgod, die oeroue seegodin Tiamat verslaan en haar in twee gesny. “Uit die een helfte het hy die hemelgewelf gemaak, uit die ander die vaste aarde. Daarna het hy die wêreld georganiseer. . . . Toe het Mardoek mense geskep ‘sodat die gode kon lewe in ’n wêreld wat hulle harte verbly’.”—Larousse Encyclopedia of Mythology.
Glo jy dat die mens van Ra se trane af kom? Talle hoogs beskaafde en geleerde Egiptenare het. Of kan jy die bewering aanvaar dat die gekloofde liggaam van ’n godin die oorsprong van die hemel en die aarde was? Dit is maar net twee van die voorbeelde van die skeppingsmites waaraan opeenvolgende geslagte van vervloë tye geglo het.
Vandag wil talle hoogs geleerde manne hê dat ons moet glo dat die heelal en alle lewensvorms spontaan ontstaan het sonder die tussenkoms van ’n bomenslike lewende Wese, ondanks die feit dat Franse wetenskaplike Louis Pasteur onweerlegbaar bewys het dat lewe van lewe af kom. Is dit nie logieser om die Bybelverslag te aanvaar wat heel eenvoudig sê dat die stoflike heelal ’n gevolg van God se “dinamiese energie” is nie (want Einstein en ander het getoon dat materie ’n vorm van energie is)? En is dit nie redeliker om die Heilige Skrif te glo wat toon dat alle lewensvorms hulle bestaan aan God, die groot Fontein van die lewe, te danke het en dat die mens “na die beeld van God” geskape is nie?—Gen. 1:27; Ps. 36:10; Jes. 40:26-28, NW; Jer. 10:10-13.
ARGEOLOGIE EN ABRAHAM
Abraham is een van die Bybel se vernaamste karakters. Hy is nie alleen die voorvader van al die Bybelskrywers, van die Jode en van talle Arabiere nie, maar hy word ook genoem ‘die vader van almal wat glo’ (Rom. 4:11). Die mense van alle nasies behoort boonop graag te wil weet of die Bybelverslag oor Abraham betroubaar is. Waarom? Want dit was aan hom dat God belowe het: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Gen. 22:16-18). Indien ons graag getel wil word onder ‘diegene wat glo’ en wat in Abraham se nageslag of saad geseën gaan word, behoort getuienis wat die akkuraatheid van besonderhede in die Bybelverslag oor Abraham se lewe en tye staaf vir ons van die grootste belang te wees.
Die Bybel deel ons mee dat Abraham (toe nog Abram) grootgeword het in “Ur van die Chaldeërs” (Gen. 11:27, 28). Is dit ’n legendariese plek? Wat het die pikke en grawe van die argeoloë onthul? Reeds in 1854 het J. E. Taylor Ur voorlopig verbind met Tell el-Muqayyar (“Aardpikhoop”), net ’n paar kilometer wes van die Eufraat. In 1869 het Franse Oriëntalis Jules Oppert by die Collège de France, in Parys, ’n verslag gelewer waarin hy die plek definitief as Ur identifiseer, op grond van kleisilinders met spykerskrif wat Taylor daar gevind het. Veel later, van 1922-1934, het Britse argeoloog sir Leonard Woolley nie alleen hierdie identifikasie bevestig nie, maar ook ontdek dat die Ur wat Abraham verlaat het, ’n florerende en hoogs beskaafde stad was met gerieflike huise en ’n yslike tempeltoring of ziggoerat wat gebruik was vir die aanbidding van die maangod Nannar of Sin. Geskiedkundiges het lank twyfel uitgespreek oor die stad Ur wat die Bybel in verband met Abraham meld. Maar die argeoloog se graaf het bewys dat die Bybel waar is.
Argeoloë het ook baie gebruike wat die Bybelverslag oor Abraham meld, gestaaf. By Nuzu, of Nuzi, ’n eertydse Hurritiese stad suidoos van Nineve, is daar byvoorbeeld kleitafels gevind wat gebruike soos die volgende staaf: dat slawe kinderlose egpare se erfgename geword het (vergelyk Abraham se opmerkings oor sy slaaf Eliëser—Genesis 15:1-4); dat ’n onvrugbare vrou verplig was om vir haar man ’n byvrou te kry (Sara, of Sarai, het Hagar vir Abraham gegee—Genesis 16:1, 2); en dat saketransaksies by die poort van ’n stad plaasgevind het (vergelyk Abraham se aankoop van die stuk grond en spelonk van Magpela, naby Hebron—Genesis 23:1-20). Voorbeelde van hoe die ontdekkings by Nuzi die Bybel staaf, vul meer as agt kolomme met klein druk in die vakkundige Franse Supplément au Dictionnaire de la Bible (Deel VI, kolomme 663-672). Die Encyclopœdia Britannica sê: “Hierdie Nuzi-materiaal het talle moeilike gedeeltes in die kontemporêre patriargale verhale van Genesis opgehelder.”
EIENAME BEVESTIG
Franse argeoloog André Parrot het omvattende opgrawings op die terrein van die antieke koninklike stad Mari aan die Middel-Eufraat gedoen. Die stadstaat Mari was een van die sterkste magte in Opper-Mesopotamië gedurende die vroeë tweede millennium v.G.J. totdat dit deur Babiloniese koning Hammoerabi verower en verwoes is. In die ruïnes van die yslike paleis wat daar ontdek is, het die Franse span argeoloë meer as 20 000 kleitafels gevind. Party van hierdie spykerskriftafels meld die stede Peleg, Serug, Nahor, Tera en Haran. Dit is interessant dat al hierdie name in die Genesisverslag voorkom as name van Abraham se familielede.—Gen. 11:17-26.
Waar hy kommentaar lewer oor hierdie ooreenkoms tussen vroeë eiename, skryf John Bright in sy History of Israel: “In nie een van hierdie gevalle . . . word die Bybelse aartsvaders regstreeks gemeld nie. Maar die oorvloed getuienis van hierdie aard uit kontemporêre dokumente toon duidelik dat hulle name volmaak inpas by die nomenklatuur van die Amoritiese bevolking van die vroeë tweede millennium, eerder as by dié van enige latere tydperk. In hierdie opsig is die verhale oor die aartsvaders dus heeltemal eg.”
Dit was eers in 1976 dat Italiaanse en Siriese argeoloë die eertydse stadstaat Ebla in noordelike Sirië geïdentifiseer het. Net soos Mari word Ebla nie in die Bybel gemeld nie, maar albei name verskyn in antieke tekste wat uit die tydperk van die aartsvaders dateer. Wat het die delwer se graaf op hierdie nuwe terrein aan die lig gebring? In die biblioteek van die paleis is daar duisende kleitafels gevind wat uit die laat derde of vroeë tweede millennium voor ons Gewone Jaartelling dateer. Waar die Franse weekblad Le Point van 19 Maart 1979 oor hierdie ontdekking verslag gelewer het, het dit gesê: “Die eiename kom verbasend baie ooreen [met die in die Skrif]. In die Bybel vind ons ‘Abraham’; in die Ebla-tafels, ‘Ab-ra-um’; Esau—E-sa-um; Migael—Mi-ki-ilu; Dawid —Da-u-dum; Ismael—Is-ma-ilum; Israel—Is-ra-ilu. Ebla se argief bevat ook die name Sodom en Gomorra, stede wat in die Bybel gemeld word, maar waarvan die bestaan lank deur geleerdes in twyfel getrek is. . . . Daarbenewens verstrek die tafels die name van stede in presies dieselfde volgorde waarin hulle in die Ou Testament gemeld word: Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Bela [Gen. 14:2].” Volgens Boyce Rensberger, wat in New York se Times geskryf het, “meen party bybelgeleerdes dat [die Ebla-tafels] met die Dooie See-rolle meeding in die wyse waarop hulle kennis van die lewe in Bybelse . . . tye staaf en verbreed.”
GEBRUIKE EN WETTE
Argeologie het veel gedoen om gebruike te verduidelik waarop die Bybel sinspeel en aldus getoon hoe akkuraat die Bybelse verslag is. Een voorbeeld hiervan is die verslag in Genesis hoofstuk 31 waar dit berig word dat Jakob se vrou Ragel “die huisgode van haar vader [Laban] gesteel” het (V. 19). Daar word ook gesê waarom Laban die moeite gedoen het om sewe dae lank sy dogter en haar man agterna te jaag. Dit was om hierdie “gode” terug te kry (Ve. 23, 30). Dit is interessant dat ’n argeologiese ontdekking in die antieke stad Nuzi in noordelike Mesopotamië getoon het dat daar ’n patriargale wet bestaan het waarvolgens die besit van die gesin se gode ’n man die titel tot sy oorlede skoonvader se boedel gegee het. As ’n mens in gedagte hou dat Laban ’n boorling van noordwestelike Mesopotamië was en hoe skandelik hy Jakob behandel het, werp kennis van hierdie wet lig op Ragel se eienaardige diefstal en Laban se wanhopige pogings om sy “gode” terug te kry. Die Louvre-museum in Parys bevat verskeie van hierdie “huisgode” wat in verskillende stede van Mesopotamië ontdek is. Hulle grootte (slegs 10 tot 15 sentimeter) verklaar ook waarom Ragel die huisgode kon wegsteek deur op ’n saalsak met die gode daarin te sit en te weier om op te staan tydens Laban se visentering.—Ve. 34, 35.
Een van die Louvre Museum se kosbaarste besittings is ’n 2,25-meterhoë swart klipblok wat algemeen bekendstaan as die “wetkodeks van Hammoerabi”. Onder ’n reliëf wat toon hoedat koning Hammoerabi van Babilon sy gesag van die songod Sjamasj ontvang, is daar 282 wette in kolomme spykerskrif. Aangesien Hammoerabi glo van 1728 tot 1686 v.G.J. geregeer het, het party Bybelkritici beweer dat Moses, wat die wette van Israel meer as ’n eeu en ’n half later neergeskryf het, bloot die wetkodeks van hierdie Babiloniese koning nageskryf het. In die boek Documents from Old Testament Times weerlê W. J. Martin hierdie aantyging:
“Ondanks baie ooreenkomste is daar geen rede om aan te neem dat die Hebreeuse iets regstreeks aan die Babiloniese ontleen het nie. Selfs waar die twee stelle wette min in die letter verskil, verskil hulle baie in gees. Volgens die wetkodeks van Hammoerabi is diefstal en die ontvangs van gesteelde ware met die dood gestraf (Wet 6 en 22), maar volgens Israel se wette was die straf vergoeding (Ex. 22:1; Lev. 6:1-5). Terwyl die Mosaïese wet ’n persoon verbied het om ’n ontvlugte slaaf aan sy heer oor te lewer (Deut. 23:15, 16), het die Babiloniese wette iemand wat ’n voortvlugtende slaaf inneem met die dood gestraf.—Wette 15, 16, 19.”
In die Supplément au Dictionnaire de la Bible het Franse Orientalis Joseph Plessis geskryf: “Dit wil nie voorkom of die Hebreeuse wetgewer ooit enige van die verskillende wetkodekse van Babilonië en Assirië gebruik het nie. Daar kan nie bewys word dat enige deel van sy werk daaraan ontleen is nie. Alhoewel daar interessante ooreenkomste is, kan hulle maklik verklaar word deur die kodifisering van gebruike wat mense met ’n gemeenskaplike oorsprong gemeen het.”
Terwyl die wetkodeks van Hammoerabi ’n gees van vergelding weerspieël, sê die Mosaïese wet: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. . . . Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Lev. 19:17, 18). Daar is dus nie alleen bewys dat Moses nie sy wette by Hammoerabi gekry het nie, maar ’n vergelyking van die Bybelwette met dié op die tafels en steles wat deur die argeoloë opgegrawe is, toon dat die Bybelse wette verreweg voortrefliker is as die van ander antieke volke.
ARGEOLOGIE EN DIE GRIEKSE SKRIFTE
Wat van die Griekse Skrifte, algemeen bekend as die “Nuwe Testament”? Het argeologie die akkuraatheid van hierdie belangrike deel van die Bybel bevestig? Hele boeke is al geskryf wat toon dat daar sulke bevestiging is. Reeds van 1890 het Franse Bybelgeleerde F. Vigouroux ’n boek met meer as 400 bladsye met die titel “Le Nouveau Testament et les découvertes archéologiques modernes” (Die Nuwe Testament en hedendaagse argeologiese ontdekkings) uitgegee. Daarin het hy oorvloedige bewys gelewer wat die Evangelies, Handelinge van die Apostels en die briewe in die Griekse Skrifte staaf. In 1895 het W. M. Ramsay sy klassieke boek St. Paul the Traveller and the Roman Citizen uitgegee waarin hy baie waardevolle materiaal verstrek het wat toon dat die Christelike Griekse Skrifte eg is.
Onlangs is baie ander boeke en vakkundige artikels gepubliseer wat toon hoe argeologie die waaragtigheid van die hele Bybel toon. In sy boek The Archaeology of the New Testament, wat in 1970 uitgegee is, skryf E. M. Blaiklock: “Merkwaardige bevestigings van Bybelse historiografie het geskiedkundiges geleer om die gesag van die Ou Testament sowel as die Nuwe te respekteer, en om die akkuraatheid, die diepe besorgdheid oor waarheid en die geïnspireerde geskiedkundige insig van die verskillende skrywers wat aan die Bybel sy geskiedenisboeke gegee het, te bewonder.”
Ja, dit is duidelik dat argeologie die Bybel staaf. Maar wat van ander gebiede van die wetenskap?
[Kaart op bladsy 6]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Haran
Ebla
Mari
Nuzi
Babilon
Lagasj
Ur
Sumer
Persiese Golf
[Prent op bladsy 6]
Ziggoerat wat oopgegrawe is in Ur van antieke Chaldea
[Prente op bladsy 7]
Huisgod (gevind in Lagasj)
Die wetkodeks van Hammoerabi