Dit het met gebed begin
JEHOVAH GOD is die “Hoorder van die gebed” (Ps. 65:3). Dit is dus gepas dat Jehovah se Getuies om God se leiding en seën bid terwyl hulle die “goeie nuus” van sy koninkryk verkondig (Matt. 24:14, NW). Ja, gebed is onontbeerlik om regskape persone te vind. En soms bid sulke persone self met geestelik lonende gevolge.
Een Sondagoggend was ’n paar Getuies in Rio de Janeiro amper klaar met hulle velddiensbedrywigheid, maar ’n paar huise het nog oorgebly. Een Christin het vir die Getuie wat oor die groep toesig gehou het, gesê: “Ek wil nog ’n rukkie werk. Om die een of ander rede wil ek na daardie huis toe gaan.” Hy het voorgestel dat hulle die oorblywende huise moet laat vir ’n ander dag van huis-tot-huisgetuieniswerk. Maar sy het daarop aangedring om te gaan.
By daardie besondere huis het ’n jong meisie die deur oopgemaak en haar moeder gaan roep. Na ’n lang ruk het die moeder met rooigehuilde oë haar verskyning gemaak. Later het sy vir die Getuie vertel dat sy gehuil het en tot God gebid het om hulp.
Jehovah se Getuies het al voorheen daar aangeklop, maar sy het geen belangstelling in die Bybel se boodskap getoon nie. Toe het haar man se skielike afsterwe die begeerte by haar gewek om weer met die Getuies te praat. Sy het selfs tevergeefs na hulle Koninkryksaal gesoek.
Deur die Heilige Skrif te gebruik, het die Getuie die ongelukkige vrou daardie Sondagoggend vertroos. ’n Bybelstudie is met haar begin, en sy het nog daardie maand begin om Christenvergaderinge by te woon. Kort daarna is die vrou gedoop om haar toewyding aan God te simboliseer. Dit het alles met gebed begin.