Moet jy probeer om die aansien te red of nie?
DIE Bybel toon dat die begeerte om die aansien te red omtrent net so oud soos die mensdom is. Trouens, die eerste mensesonde is gevolg deur ’n poging om die aansien te red.
Jy weet waarskynlik hoe Adam en Eva, ons eerste ouers, teen God gesondig het deur die verbode vrug te eet. Mettertyd moes hulle verantwoording doen vir hulle misdaad. Hulle reaksies was interessant. Toe Adam gedwing is om sy sonde te beken, het hy probeer om die skuld op Eva en selfs op Jehovah God te pak. Hy het gesê: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.” Eva het ook probeer om die skuld te ontduik. Sy het gesê: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”—Gen. 3:8-13.
Was jy al ooit in die versoeking om dieselfde te doen? Het jy probeer om die skuld op ander te pak toe jy gekonfronteer is met iets wat jy verkeerd gedoen het? Party mense sal enigiets doen eerder as om ruiterlik te erken: “Ek is jammer. Ek het verkeerd gehad.” Pogings om die aansien te red verander egter nie die feite nie. Adam en Eva is gestraf vir hulle sondes ondanks hulle verskonings.—Gen. 3:16-19.
Ananias en Saffira was nog ’n egpaar wat gans te besorg was oor aansien. Hulle het probeer om die vroeë Christengemeente te bedrieg deur ’n onbeskaamde leuen te vertel, klaarblyklik omdat hulle hulle reputasie, hulle aansien, onder hulle medegelowiges wou verbeter. God het sy misnoeë getoon toe hy hulle laat sterf het (Hand. 5:1-11). Sal Jehovah sake vandag nie in dieselfde lig beskou indien ’n Christen byvoorbeeld sou voorgee dat hy meer doen as wat hy werklik in God se diens doen nie? Of sal dit Jehovah nie mishaag indien ons ons op enige ander manier anders voordoen as wat ons werklik is nie?—Jak. 3:17.
IS DIT VIR ’N CHRISTEN NODIG OM DIE AANSIEN TE RED?
Besorgdheid oor aansien werp oënskynlik meestal slegte vrugte af. Dit is omdat dit gebaseer is op ’n verkeerde veronderstelling. Dit gaan van die standpunt uit dat ’n persoon se reputasie van die allergrootste belang is. Dit is nie korrek nie. Pogings om die aansien te red kan ook gebaseer wees op trots, of op oordrewe eiedunk. Dit behaag Jehovah nie.—Spr. 16:18.
Die Bybel sê weliswaar: “’n Goeie naam is beter as goeie olie” (Pred. 7:1). Maar dit verwys na die reputasie wat ’n persoon gedurende ’n lewe van goeie werke verwerf, veral in Jehovah se oë. Dit het niks te doen met die respek waarop ’n persoon by ander aandring of hy dit nou verdien of nie.
Dit is ook waar dat ’n man ’n ‘goeie getuienis van buitestaanders’ moet hê om ’n Christelike ouere man te wees (1 Tim. 3:7). Maar hierdie “goeie getuienis” is as gevolg van sy Christelike gedrag en voorbeeldige gesin, nie omdat hy ’n universiteitsgraad het, ’n belangrike pos beklee of baie geld aan sy vriende bestee nie.
Jesus Christus was klaarblyklik nie te besorg oor sy aansien by ander nie. Toe hy vir armes, tollenaars en sondaars gepreek het in plaas daarvan om met die godsdiensleiers om te gaan, het dit hom oënskynlik baie aansien in die oë van daardie trotse manne gekos (Joh. 7:45-48). Maar niks het Jesus gekeer om sy hemelse Vader se wil te doen nie, want hy het nie sy eie eer gesoek nie. Trouens, by een geleentheid het hy gesê: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie” (Joh. 8:49-54). Hy was tevrede om te wag totdat sy Vader hom verheerlik. Jesus se handelwyse het nietemin vir hom ’n goeie reputasie by God en reggesinde mense verwerf.
Dieselfde geld vir ons. Indien ons probeer om onsself te verheerlik, veral deur dinge weg te steek of skynheilig te wees, is dit klaarblyklik verkeerd en het dit op die lange duur geen waarde nie. Dit is baie beter om besorg te wees oor hoe God ons beskou. Jesus self het gesê: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”—Matt. 5:11, 12.
Dit is wat met Jesus gebeur het, veral nadat hy in hegtenis geneem is. Die godsdiensleiers het hom verhoor en probeer om sy reputasie met die hulp van valse getuies te beklad. Daarna is hy uitgelag en bespot. ’n Doringkroon is op sy kop vasgedruk en hulle het vir hom ’n purperkleed aangetrek om te spot met die feit dat hy ’n Koning is (Mark. 14:55-65; 15:17-20). En terwyl Jesus besig was om te sterf, het die heersers wat hulself daarin verlustig het rondom die folterpaal gestaan en met hom die spot, gedryf. Selfs die wyse waarop hy gesterf het, is deur die Jode as baie skandelik beskou (Luk. 23:32-38; Gal. 3:13). Het Jesus, tydens al hierdie gebeure, probeer om sy reputasie te verdedig of die aansien te red? Nee. Die Skrif sê eerder vir ons dat hy “die skande verag het” (Hebr. 12:2). Die verheerliking van sy Vader se naam was vir hom baie belangriker (Joh. 17:4, 11). En vir hierdie goeie handelwyse het Jesus voorwaar ’n groot beloning in die hemele ontvang. Wat ’n uitmuntende voorbeeld vir ons wat vandag lewe!—1 Pet. 2:21, 22.
WAT DIE CHRISTEN MOET DOEN
Hoe moet ’n Christen dan te werk gaan om die probleem in verband met aansien op te los? Daar is in werklikheid twee aspekte omtrent die saak wat ’n mens in gedagte moet hou: ons handelinge met ander, en ons beskouing van onsself.
In sy handelinge met ander moet ’n Christen probeer om situasies te vermy waar hulle dalk verplig sal voel om die aansien te probeer red (Matt. 7:12). Liefde en empatie sal ’n opsiener wat raad gee of teregwys dit op ’n vriendelike, bedagsame wyse laat doen—met ’n “gees van sagmoedigheid” (Gal. 6:1). ’n Christen wat die “goeie nuus” aan ’n ongelowige verkondig, sal dit taktvol doen, “met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet. 3:15). Sodoende sal hy nie die ongelowige seermaak of in die verleentheid stel wanneer daardie persoon dinge sê wat nie korrek is of vind dat sy gekoesterde opvattings verkeerd is nie. ’n Christen moet ook nie iemand anders se reputasie beklad deur skadelike skinderpraatjies oor hom te verkoop nie.—Spr. 16:28.
Wanneer ons na onsself kyk, moet ons erken dat dit Christelike rypheid verg om hierdie strik, die neiging om aansien te probeer red, te vermy. Selfs Job het daarin getrap. Hy het weliswaar onder groot druk verkeer. Sy lyding het ’n verskriklike kwaal, die verlies van sy familie en afrading deur sy vrou ingesluit. Toe het drie sogenaamde vriende opgedaag en hom daarvan beskuldig dat hy in die geheim gesondig het. Dit was toe dat Job homself heftig geregverdig het, “omdat hy homself regverdig beskou het voor God” (Job 32:2). Maar toe Job die wyse redenasie van Elihu en veral die vermanings van Jehovah self gehoor het, is hy gehelp om weer gebalanseerd te dink. Job het God toe verheerlik in plaas daarvan om die aansien te probeer red en homself te probeer regverdig. Hy is gevolglik ryklik geseën.—Job 42:1-6, 12, 13.
’n Christen moet homself dus noukeurig ondersoek. Dit is dikwels moeilik om te besef dat pogings om die aansien te red eintlik die probleem is. Tydens ons pogings om ander te bedrieg, het ons moontlik daarin geslaag om onsself ook te bedrieg. Die hart is bedrieglik en kan dit aan ons doen (Jer. 17:9). Dit is veral die geval wanneer ons onder emosionele druk verkeer of skielik in die nou gedryf word. As ons egter ons denke biddend ontleed. sal dit ons help om te sien wat die ware toedrag van sake is (Ps. 139:23, 24). En wanneer ons dit eers sien, kan ons, net soos Job, deur God se Woord en ons Christenbroers gehelp word om ons balans te herwin.
Ons bekommer ons dikwels nie oor die opinie van teëstanders nie, maar oor die van mense na aan ons. ’n Ryp Christen sal bespotting in sy gemeenskap verduur ter wille van die “goeie nuus”. Maar hy vind dit dalk moeilik om in die gemeente ’n fout te erken of ’n sonde te bely en, syns insiens, die gevaar te loop om die respek van sy mede-Christene te verloor. Hy voel moontlik baie skaam wanneer sy kinders iets verkeerds doen en probeer om dit toe te smeer.
Dit kan selfs met ’n Christenopsiener gebeur. Maar ’n ouere man in hierdie situasie wat sy probleem openlik bely, beywer hom vir die welsyn van die gemeente en stel ’n voorbeeld vir ander. Reggesinde mense sal hom respekteer vir sy eerlikheid. Pogings om skuld vry te spring of om sy of sy gesin se dade toe te smeer, sal andersyds van lafhartigheid getuig. Dit kan ook lei tot leuens. Albei is vir God ’n gruwel.—Openb. 21:8.
DRIE WAARDEVOLLE CHRISTELIKE EIENSKAPPE
Ons moet dus eienskappe aankweek wat ons sal help om die begeerte om die aansien te red te onderdruk. Watter eienskappe is dit? Wel, eerlikheid is een (Hebr. 13:18). Indien ons eerlikheid waardeer, sal ons nie skynheilig wil wees nie, iets waarop pogings om die aansien te red so te sê altyd neerkom. Dit kan moeilik wees. Dit is waarom ons ook nederigheid en moed nodig het om ons te help om eerlik te bly, met onsself sowel as met ander (Spr. 15:33; 1 Kor. 16:13). Daarbenewens sal nederigheid die valse trots te bowe kom wat in eerste instansie die begeerte by ons wek om die aansien te red.
Ja, moed, eerlikheid en nederigheid sal ons help om hierdie strik, naamlik die begeerte om die aansien te red, te vermy. Paulus het gesê dat party hom as ’n dwaas beskou (1 Kor. 4:10). Gee jy om dat mense jou as ’n dwaas beskou indien jy in jou hart weet dat jy God se wil doen? Of verhoed vrees vir wat ander mense dink jou om te doen wat reg is? Veral tienderjariges het moed, eerlikheid en nederigheid nodig om hul standpunt vir regte beginsels in te neem in plaas daarvan om die aansien te probeer red of met die stroom saam te gaan.—1 Pet. 4:4.
Jesus het diegene wat God dien, vergelyk met “onverdienstelike diensknegte” (Luk. 17:10). Is dit hoe jy jouself beskou? Of dink jy dat jy taamlik belangrik is? Paulus het ons aangespoor om ‘nie meer van onsself te dink as wat ’n mens behoort te dink nie’ (Rom. 12:3). Hy het ons ook aangespoor om ‘nie iets uit selfsug of uit ydele eer te doen nie, maar om ander in nederigheid hoër as onsself te ag’.—Filip. 2:3.
Die Skrif toon duidelik dat daar nie in die Christengemeente plek is vir pogings om die aansien te red of om onsself te verheerlik nie. Daardie belangrike Christelike eienskappe—nederigheid, moed en eerlikheid—is reëlreg in stryd met die neiging om die aansien te red. Dit is miskien nie maklik om so te dink nie, veral nie as ons grootgeword het in ’n kultuur wat aansien as van die grootste belang beskou nie. Maar met die hulp van God se heilige gees kán Christene veranderinge in hulle handelwyse aanbring. Selfs ‘die gees van hulle gemoed’ kan verander, indien hulle werklik wil hê dat dit moet (Ef. 4:23). Pas dus op vir die gevare van die neiging om die aansien te probeer red. Besef dat dit ’n strik van die sondige vlees is en vermy dit ten alle koste?