Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 12/1 bl. 9-11
  • ’n Waardevolle Bybelskat in Leningrad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Waardevolle Bybelskat in Leningrad
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE LENINGRAD-KODEKS
  • MAG EK DIT AFNEEM?
  • ’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • A3 Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wat is die Masoretiese teks?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 12/1 bl. 9-11

’n Waardevolle Bybelskat in Leningrad

DIT het begin as ’n gewone besigtigingstoer uit Finland. In Leningrad het die besoeker en sy vrou geen groot verwagtinge gekoester om enigiets besonders in verband met die Bybel raak te loop nie, want die reisburo se instruksieboekie het gesê: “Dit is verbode om godsdienslektuur in die land in te bring.” Dit was egter in hierdie stad wat hy iets in verband met die Bybel gesien het waaroor hy in ekstase was.

Daar is baie kerke in Leningrad, maar slegs ’n handjievol van hulle dien die doel waarvoor hulle gebou is. Baie is in museums omskep. Dit sluit die indrukwekkende Isak-katedraal in wat ’n mens herinner aan die St. Pieterskerk in Rome.

Die insiggewendste aanbieding van die amptelike gesindheid teenoor godsdiens word gevind in die Kazan-katedraal aan Leningrad se hoofstraat, Nefski-prospekt. Hierdie statige katedraal is omskep in die Museum van die Geskiedenis van Godsdiens en Ateïsme. In die kelderverdieping word godsdiensgeskiedenis in chronologiese orde tot die hede toe uitgestal. ’n Mens kan die martelinstrumente sien wat gedurende die tyd van die Inkwisisie gebruik is. Die toneel van ’n Inkwisisie-verhoor, met lewensgroot wasbeelde, is veral indrukwekkend. Die ongelukkige slagoffer is geboei en op sy knieë voor sy aanklaers en monnike wat in swart geklee is. Die laksman is byderhand, gereed vir aksie.

Oorkant die Kazan-katedraal, aan die ander kant van Nefski-prospekt, is die grootste boekwinkel in die stad. Op die tweede verdieping het die Finse besoekers talle prente en slagspreuke gesien wat daarop gemik was om die leser aan te spoor om godsdiens te verwerp. Op een plakkaat was daar visse in die vorm van ou vroue met doeke om hulle koppe. Hierdie visse is aangelok deur die “kaartjie na die Koninkryk van die hemel” wat vas was aan ’n hoek met die woord “Sektes” daarop.

Nadat die besoekers in ’n oostelike rigting langs Nefski-prospekt gery en net voor die standbeeld van Katharina die Grote regs gedraai het, het hulle hulle voor die beroemde Openbare Saltykov-Shchedrin-Staatsbiblioteek bevind. Hierdie biblioteek is die tweede grootste in die Sowjet-Unie en een van die grootste in die wêreld, daar dit meer as 17 miljoen werke bevat. Toe die besoeker navraag gedoen het oor die manuskrip, het ’n biblioteekbeampte ’n reeks hoflike, deurdringende vrae gestel. Toe het hierdie beampte verdwyn en kort daarna met ’n rooibruin kis teruggekeer. Hy het dit op die tafel neergesit en dit oopgemaak. Daar was dit—die Leningrad-kodeks uit die jaar 1008 (of 1009). Maar wat is hierdie manuskrip, en waarom is dit so waardevol?

DIE LENINGRAD-KODEKS

Sou jy graag ’n manuskrip van die Hebreeuse Skrifte wou sien wat as basiese teks vir Bybelvertalings dien? Dit is wat die Leningrad-kodeks is.

Maar jy wonder miskien: Was die Hebreeuse Skrifte nie voor Christus voltooi nie? Hoe kan hierdie teks dan slegs uit die jaar 1008 dateer? Om die saak beter te verstaan, moet ons ’n bietjie meer omtrent die Masorete weet.

Die Masorete (in Hebreeus, Baalei Hamasorah, “Here van Tradisie”) het gelewe tydens die eeue na Christus en was buitengewoon akkurate oorskrywers van die Hebreeuse Skrifte. Hulle het geen wysigings in die teks aangebring nie, maar het eerder kennis geneem van die veranderinge wat deur vroeëre oorskrywers aangebring is en die aandag daarop gevestig in die kantruimte van die Hebreeuse teks. Hulle het ook ’n stelsel vokaal- en klemtekens ontwerp om die leser te help om woorde reg uit te spreek. In die lig van die groot sorg van die Masorete is hulle teks inderdaad geskik vir Bybelvertaalwerk, selfs al is dit meer as 1 000 jaar na die oorspronklike teks op skrif gestel. ’n Vergelyking met baie ouer tekste, soos die Dooie See-rol van Jesaja, bevestig die akkuraatheid van die Masoretiese teks.

Geen enkele manuskrip is egter volkome betroubaar nie, want oorskrywers het foute begaan. Dis waarom daar begin is om Hebreeuse uitgawes te druk wat gebaseer is op ’n vergelyking van verskillende manuskripte. In 1906 het die Duitse geleerde Rudolf Kittel byvoorbeeld sy beroemde Biblia Hebraica of Hebreeuse Bybel gepubliseer. Hy het Jacob ben Chayyim se Masoretiese teks as grondslag gebruik. In sy voetnote het hy daarbenewens die lesings van baie ander manuskripte weergegee.

Ben Chayyim se teks dateer slegs uit die jare 1524-25 G.J. Saam met sy opvolger, Paul Kahle, het Kittel naarstiglik na ouer Masoretiese tekste gesoek. Daar was ’n puik Masoretiese teks in die Sinagoge van Sephardim in Aleppo, Sirië. Dit is saamgestel deur die beroemde Ben Asher-familie en is omstreeks 930 v.G.J. voorberei. Maar hierdie manuskrip kon nie gebruik word nie, het professor Kahle gesê, want “die eienaars van die kodeks wou nie daarvan hoor dat ’n fotokopie gemaak word nie”, uit vrees dat dit ontheilig sou word en dat hulle vervloek sou word.

Daar was egter nog ’n Masoretiese teks gebaseer op die werk van die Ben Asher-familie. Dit het die volledige Hebreeuse Skrifte bevat, en daar is inderdaad besluit om dit te gebruik as grondslag vir die derde uitgawe van die Biblia Hebraica. Dit is in 1008 (of 1009) in Ou Kaïro oorgeskryf uit die verbeterde boeke wat voorberei is deur die meester Aaron ben Moshe ben Asher, soos die oorskrywer Samuel ben Jacob self meld. Die eienaars was nie ‘bevrees dat hulle vervloek sou word’ as hulle ’n fotokopie van die Bybel laat maak, soos in die geval van die eienaars van die Aleppo-kodeks nie. Hulle het hulle manuskrip twee jaar lank aan Kittel en Kahle geleen. Hierdie manuskrip is die einste Kodeks B 19-A wat nou in Leningrad se Openbare Biblioteek bewaar word.

MAG EK DIT AFNEEM?

Die Leningrad-kodeks, ’n manuskrip in boekvorm, is nou net los blaaie. Omdat dit vermikrofilm is, is die bindsel uitgehaal. Die velle is omtrent in kwartoformaat, net effens breër, en voel soos baie dik papier, amper soos dun bordpapier. Die rande van party van die bladsye is verslete, maar die teks self, geskryf in drie kolomme, is helder en duidelik.

“Mag ek hierdie manuskrip afneem?” het die besoeker gevra. Die biblioteekbeampte het in ’n binnevertrek verdwyn en met toestemming teruggekeer. Die besoeker het ’n paar lywige bundels uit ’n boekrak daar naby voor die naaste venster gepak, sy sakdriepoot met die kamera daarop opgestel en die tweede vel van die manuskrip vir die foto gekies.

Die besoeker het met belangstelling opgemerk dat God se naam, die Tetragrammaton (Jehovah of Jahweh) verskeie kere op hierdie vel voorgekom het, naamlik van wat nou Genesis 2:4 is en verder. Die goddelike naam verskyn 6 960 keer in die Hebreeuse Skrifte. Dit sê beslis nie veel vir daardie Bybelvertalers wat dit deur die woord “Here” vervang nie.

Teen die einde van die toer het die biblioteekbeampte vir die besoekers verskeie seldsame manuskripte in glaskaste gewys. Daar was onder andere die beroemde Ostromir-Evangelie, die oudste gedateerde manuskrip in Russies (Ou-Bulgaars), uit die jaar 1056.

Dit is voorwaar ’n aangename verrassing dat so ’n kosbare manuskrip soos die Leningrad-kodeks versigtig bewaar word in ’n land wat die vrye invoer van Bybels verbied. Die betrokke manuskrip is nie net een van vele nie, maar die einste een wat die grondslag gevorm het vir talle hedendaagse vertalings van die Hebreeuse Skrifte, onder meer die New World Translation wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel