Dit het ons familie geestelik laat herleef
Voorverlede September het ’n 28-jarige vrou in ’n brief verduidelik hoedat die boek “My boek met Bybelverhale”, wat onlangs gepubliseer is, die meeste lede van haar familie gehelp het om geestelik te herleef. Sy het geskryf:
“ln 1963 het my familie die waarheid oor Jehovah se koninkryk geleer by twee Getuies wat van huis tot huis gewerk het. In drie jaar het al sewe van ons—my vader en moeder en ons vyf kinders —ons lewens aan God toegewy en is ons gedoop.
“Maar omstreeks 1970 het al die lede van my familie opgehou om Christenvergaderinge by te woon—dit wil sê, behalwe ek. Dit het my baie hartseer gemaak, aangesien ek nie kon begryp waarom hulle opgehou het nie. Niemand wou vir my sê nie. Hulle het net gesê dat hulle nie meer wou gaan nie. Ek het vir hulle gevra of hulle nog steeds geglo het dat dit die waarheid is, en hulle het gesê: ‘Ja, dit is beslis.’
“Wel, dit het my nog meer ontstel, omdat ek net nie kon begryp hoe hulle kon glo dat dit die waarheid is en nogtans niks kon doen om Jehovah te dien nie. In 1973 het my vader twee opehartoperasies ondergaan en nogtans geweier om bloed te ontvang omdat God se wet dit verbied (Lev. 17:12-14; Hand. 15:28, 29). My moeder het rugoperasies ondergaan en het ook bloed om dieselfde rede geweier. Hulle het nietemin steeds geweier om met die gemeente van Jehovah se Getuies te assosieer.
“ln 1975 het ek siek geword. Verskeie dokters het vir my gesê dat ek hoogstens twee jaar lank sou lewe. Gelukkig het ek langer gelewe. Kort voor my siekte het my oudste broer met ’n toegewyde lid van die Kerk van Christus getrou. My broer het probeer om vir haar te vertel van die Bybelleerstellings waaraan hy steeds geglo het maar waaromtrent hy niks gedoen het nie. Sy het volstrek geweier om daarna te luister.
“ln 1978 het ek die wonderlike voorreg gehad om die Seëvierende Geloof-byeenkoms in New Orleans by te woon. Met die hulp van twee liefdevolle Getuies het ek daarin geslaag om te gaan ondanks my toestand. Ek was die enigste lid van my familie wat gegaan het. Ek kon jubel van blydskap; dit het gevoel of my hart wou bars met waardering. Ek het Jehovah se gees daar sterk aangevoel.
“Toe ‘My boek met Bybelverhale’ vrygestel is, het ’n broer gevra of hy myne vir my kon kry aangesien ek ’n gebrek gehad het. Ek het ‘ja’ gesê. Hy is dus daar weg om 12 boeke te kry, een vir elke lid van my familie, my niggies en neefs inkluis.
“Ek het nie geweet of my familie dit sou waardeer dat ek vir hulle een gee nie. Ek het dus vir hulle gesê dat die boeke ’n liefdesgeskenk is. My skoonsuster wat aan die Kerk van Christus behoort het, het gesê dat sy nie omgee dat haar dogtertjie ’n eksemplaar het nie. My niggie Aubre is drie jaar oud en kan al ’n bietjie lees.
“Eendag het Aubre vir haar moeder gevra of sy vir haar kon lees. Haar moeder het ja gesê, en dus het klein Aubre haar ‘Bybelverhale’-boek gaan haal en begin lees. Na ’n ruk het my skoonsuster gevind dat sy met groot belangstelling na haar dogtertjie luister. Nadat sy Aubre in die bed gesit het, het sy gaan sit en die boek deurgelees.
“Toe my broer daardie aand van die werk af tuiskom, het sy vir hom gesê dat alles wat sy in die boek gelees het waar is. ‘Dit is so eenvoudig’, het sy gesê, ‘ek weet nie hoe ek so blind kon wees om dit nie te sien nie.’ My broer het gesê dat hy al voorheen probeer het om hierdie dinge vir haar te verduidelik. Sy het gesê dat ’n driejarige met ’n boek oor die Bybel nodig was om haar te laat sien hoe alles inmekaar pas, omdat Jehovah God werklik ’n voorneme met die aarde het.
“Nou, ’n jaar later, dien vyf van die oorspronklike sewe lede van my familie Jehovah weer heelhartig, maar as ek niggies en neefs byreken, is dit 11. Ek dank Jehovah vir die krag om te volhard en om die byeenkoms te kon bywoon, en vir die tydige vrystelling van ’n wonderlike boek. Wanneer ek nou ontslaap, sal my hart hom verheug in die hoop om my familie in die opstanding te sien. O, hoeveel vreugde het die ‘Bybelverhale’-boek my tog verskaf!”