Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/15 bl. 27-29
  • Geniet jy dinge wat God haat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geniet jy dinge wat God haat?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • God se vriende vermy die kwaad
    Jy kán God se vriend wees!
  • Wat nodig is om afgeskeie te bly van die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onafhanklikheid
    Redenering uit die Skrif
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/15 bl. 27-29

Geniet jy dinge wat God haat?

’N CHRISTENPREDIKER en sy vrou het kaartjies gehad vir ’n toneelstuk van Shakespeare. Toe hulle egter by die teater opdaag, moes hulle hoor dat die toneelstuk van Shakespeare nie baie geslaagd was nie en dus deur ’n moderne toneelstuk vervang is. Die gehoor het hoofsaaklik uit ouer mense uit die middel- en hoërinkomstegroepe bestaan aangesien die teater een van die stad New York se bestes is.

Nadat hulle omtrent drie of vier minute lank na die toneelstuk gekyk het, het die prediker hom tot sy vrou gewend en gesê: “Is jy gereed?” Omdat sy presies geweet het wat hy in gedagte gehad het, het sy gesê: “Ja.” Hulle het opgestaan en uitgeloop. Waarom? Die taal, gebare en strekking van die toneelstuk was so onbeskryflik vuil dat hulle nie so ’n belediging wou verduur nie. Christengetuies van Jehovah het dit al ook by ander geleenthede nodig gevind om soos hierdie egpaar op te tree omdat hulle deur reklame mislei is.

Wat haat God? Hy haat alles wat sleg is. Hy haat onder meer ‘’n hart wat onheilsplanne beraam en voete wat haastig na die kwaad toe loop’ (Spr. 6:16-19). Omdat hy alles wat sleg is, haat, sal hy almal wat morele onreinheid beoefen, veroordeel.—Hebr. 13:4.

Ons is nog nooit tevore deur soveel morele vuigheid omring nie. Rolprente, toneelstukke, TV-programme, boeke en tydskrifte bevorder almal die gewilde belangstelling in pornografie en onbetaamlike dinge.

Waarom is die menslike natuur so geneig om te geniet wat God haat? Dit is weens die slegte begin wat ons eerste ouers, Adam en Eva, ons gegee het. Omdat hulle ’n weg van selfsug, ongehoorsaamheid en opstand ingeslaan het, is ‘die versinsels van die mens se hart sleg van sy jeug af. Nadat hy tereggewys is oor ernstige sondes wat hy teen Jehovah begaan het, het koning Dawid geskryf: “In ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”—Gen. 8:21; Ps. 51:7; 2 Sam. 12:7-14.

Die genot wat onvolmaakte mense put uit dinge wat God haat, kan vergelyk word met ’n man wat aan suikersiekte ly se begeerte na lekkers. Suikersiekte is hoofsaaklik ’n oorgeërfde kwaal, hoewel onoordeelkundige etery en drinkery en ander faktore dit kan verhaas en ernstiger kan maak. Weens ’n fout in die liggaam se chemiese reaksies het die lyer ’n sterk begeerte juis na die ding wat hy nie moet eet nie. Dit laat ’n reël uit een van Shakespeare se werke by ’n mens opkom: “Your affections are a sick man’s appetite, who desires most that which would increase his evil.” Ja, net soos sekere kwale gepaard gaan met begeertes na dinge wat die siekte sal vererger, is ons oorgeërfde sondige neigings na dit wat sleg is.

Ons mag nie swig voor ’n begeerte na slegte vermaak nie. Waarom nie? Omdat ons so gewoond daaraan sal raak dat ons op die ou end die begeerte sal hê om dit te beoefen, en wanneer ’n groot versoeking ontstaan, sal ons swig en val, tot ons ewige smart.

Selfs die apostel Paulus het ’n stryd op hierdie gebied gehad. Dit is waarom hy geskryf het: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God . . . maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.”—Rom. 7:19, 21-23.

Wat sal ons beskerm? As ons die dinge wat Jehovah haat intens en opreg haat, ja, verafsku: “Verafsku wat sleg is” (Rom. 12:9). Die is nie maklik nie. Een skryfster wat gesukkel het om op te hou rook, het gesê: “Hoe kan ek iets haat wat my genot verskaf?” Maar ’n mens kan ’n besluit neem en voortdurend vir jouself sê om dit wat sleg, kwaad, nadelig, vernietigend en onverstandig is te haat en te verafsku. Die apostel Paulus het iets daaromtrent gedoen, soos hy aan ’n ander Christengemeente geskryf het: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Kor. 9:27.

Dit beteken nie dat Paulus sy liggaam letterlik gekasty het soos Martin Luther gedoen het toe hy nog ’n monnik was deur sy liggaam te gesel totdat die bloed gevloei het nie. Paulus het homself eerder gedissiplineer; hy het strenge, strawwe selfbeheersing beoefen. Daarom kon hy skryf: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, . . . in reinheid, . . . in ongeveinsde liefde.” Ons moet dieselfde doen.—2 Kor. 6:3, 4, 6.

Ons word beveel om God met ons hele hart en siel, ons hele verstand en krag lief te hê. Indien ons God waarlik liefhet, sal ons alles wil vermy wat hom mishaag (Mark. 12:30). Hy is heilig en wil hê dat ons heilig moet wees (1 Pet. 1:15, 16). Verligte eiebelang is ook ter sake. God beveel ons om onsself lief te hê, maar ook om ons naaste soos onsself lief te hê (Mark. 12:31). Ons moet aanhou om vir onsself te sê dat dit eenvoudig nie die moeite werd is om te doen wat sleg is nie. Soos God se Woord dit stel: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”—Gal. 6:7, 8.

Die verkryging van goeie geestesgewoontes sal help. Laat ons voortdurend let op die dinge wat ons lees, waarna ons kyk, waaroor ons dink. Dit sal help as ons die Bybel daagliks lees, selfs Bybeltekste uit die hoof leer. Ons moet ook nie die waarde van gebed oor die hoof sien nie. Maak gebed ’n gewoonte. “Volhard in die gebed.” Jesus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel, want van hom staan daar geskrywe: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat.”—Rom. 12:12; Hebr. 1:9.

Watter beloning hou sulke pogings in? Ons sal vind dat die verdere woorde van die apostel Paulus in ons geval waar is: “Godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” Dit beteken dat ons die smal en moeilike weg van selfdissipline moet bewandel, maar dit gaan nou gepaard met gemoedsrus en vergenoegdheid, en dit lei tot die ewige lewe.—1 Tim. 4:8; Matt. 7:13, 14.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel