Onafhanklikheid
Definisie: ’n Toestand waarin ’n persoon nie van ander afhanklik is nie of beweer dat hy nie van ander afhanklik is nie, en hom nie aan hulle leiding of invloed onderwerp nie. Daar mense met ’n vrye wil begaaf is, het hulle ’n natuurlike begeerte na ’n mate van onafhanklikheid. Maar as dit te ver gevoer word, lei hierdie begeerte tot ongehoorsaamheid, selfs opstandigheid.
Verkry mense werklik vryheid wanneer hulle Bybelstandaarde verwerp?
Rom. 6:16, 23: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie—òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? . . . Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Gal. 6:7-9: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. En laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie.”
Geslagsedelikheid: “Wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Kor. 6:18). “Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets” (Spr. 6:32). (Wat homoseksualiteit betref, kyk Romeine 1:24-27.) (Ongeoorloofde geslagsomgang lyk op daardie oomblik genotvol. Maar dit lei tot walglike siektes, ongewenste swangerskap, aborsie, jaloesie, gewetenswroeging, emosionele verwarring, en beslis die misnoeë van God, van wie ons vooruitsigte op toekomstige lewe afhang.)
Materialistiese strewes: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:9, 10). “Ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie” (Luk. 12:19-21). (Materiële besittings verskaf nie blywende geluk nie. Pogings om rykdom te verkry, lei dikwels tot ongelukkige gesinne, gesondheidsprobleme, geestelike ondergang.)
Strawwe drinkery: “By wie is ‘Ag!’; by wie is ‘Wee my!’; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. Op die end byt dit soos ’n slang en spuug gif uit soos ’n basilisk” (Spr. 23:29, 30, 32). (Dit kan aanvanklik lyk of drinkery ’n persoon help om sy probleme te vergeet, maar dit los hulle nie op nie. Wanneer hy weer nugter is, is die probleme steeds daar, en dikwels het ander bygekom. Wanneer ’n persoon te veel drink, ruïneer sterk drank sy selfrespek, sy gesondheid, sy gesinslewe, sy verhouding met God.)
Dwelmmisbruik: Kyk bladsye 119-125, onder “Dwelms”.
Slegte omgang: Gestel ’n bende sou vir jou vertel dat hulle weet hoe om baie geld met min werk in die hande te kry. Sou jy saam met hulle gaan? “Gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet” (Spr. 1:10-19). Gestel ’n persoon is nie ’n aanbidder van Jehovah nie, maar lyk werklik gaaf. Sou jy hom as ’n geskikte vriend beskou? Sigem was die seun van ’n Kanaänitiese vors, en die Bybel sê “hy was die mees geëerde in die hele huis van sy vader”. Maar hy het Dina “gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer” (Gen. 34:1, 2, 19). Moet die feit dat ander mense nie die waarhede glo wat jy uit God se Woord geleer het nie vir jou saak maak? “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33). Hoe sal Jehovah voel as jy diegene wat hom nie liefhet nie as jou vriende kies? Vir ’n koning van Juda wat dit gedoen het, het Jehovah se woordvoerder gesê: “Daarom kom daar nou ’n toorn op u van die HERE.”—2 Kron. 19:1, 2.
Wie het mense aangespoor om hulle eie besluite te neem sonder inagneming van God se gebooie?
Gen. 3:1-5: “Die slang [wat deur Satan as spreekbuis gebruik is; kyk Openbaring 12:9] . . . sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Watter gees dryf ’n individu aan wanneer hy God se wil ignoreer om sy persoonlike begeertes te bevredig?
Ef. 2:1-3: “Julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld [waarvan Satan die owerste is], volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.”
Watter onafhanklike gesindhede moet diegene wat bely dat hulle God dien noulettend vermy?
Spr. 16:18: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.”
Spr. 5:12: “[Jy sal] sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad.” (So ’n gesindheid kan vir ’n persoon ernstige probleme skep, soos die verband toon.)
Num. 16:3: “Hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron [wat Jehovah as opsieners van sy volk gebruik het] en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?”
Jud. 16: “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.”
3 Joh. 9: “Diotrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.”
Spr. 18:1: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.”
Jak. 4:13-15: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié of dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak—julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”
Onder wie se beheer kom ’n persoon wanneer sy begeerte na onafhanklikheid hom die wêreld buite die Christengemeente laat navolg? En hoe beskou God dit?
1 Joh. 2:15; 5:19: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.”
Jak. 4:4: “Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.”