Vrae van lesers
• Toe een van my vriende ’n Christen geword het, het sy vrou van hom geskei en sy weier selfs om hom te sien. Hoewel hy besef dat hy volgens die Bybel nie vry is om weer te trou nie, gaan hy met iemand uit. Wat toon die Bybel oor sulke afsprake, en hoe kan ek hom op die beste manier help?
Dit is jammer dat sy vrou hom, as gevolg van ’n ongegronde egskeiding, blootgestel het aan eensaamheid en versoeking. Maar solank as wat hy nie Skriftuurlik vry is om weer te trou nie, is afsprake verkeerd en gevaarlik. Hy het vriendelike maar ferme hulp nodig. en jy sal dalk sulke hulp kan verleen.
Wettige egskeidings word vandag om baie redes toegestaan. Wanneer so ’n egskeiding toegestaan is, is die twee persone in die oë van die regering weer “ongetroud”. Maar God se Woord bied ’n ander beskouing. Jesus het gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery [porneia, growwe geslagsonsedelikheid], en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Matt. 19:9). Indien ’n regering ’n wettige egskeiding toestaan wanneer daar geen Skriftuurlike rede daarvoor bestaan nie, en nie een van die maats sedertdien onsedelik was nie, beskou God die twee nog as man en vrou.
Hierdie kennis help Christene om te besef hoe ’n persoon wat nie Skriftuurlik vry is om weer te trou nie hom of haar moet gedra. Dit sal wees net asof hy of sy nog steeds wettig getroud is en saam met ’n huweliksmaat lewe. Spreuke 5:15-21 verwys spesifiek na huweliksverhoudings en toon duidelik dat ’n getroude man nie romanties in ander vroue belang moet stel nie: ‘Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. Verheug jou oor die vrou van jou jeug. Laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees. Waarom sou jy by ’n vreemde bedwelmd raak? Elke mens se weë is voor die oë van die HERE.’ Ja, ’n persoon wat in God se oë getroud is, moet ander romantiese verhoudings vermy. Getroue Josef het geweier om met ’n getroude vrou deurmekaar te raak.—Gen. 39:10-12.
Enigiets anders sal minagting vir die huweliksreëling en vir die Insteller daarvan, Jehovah, toon en sal ’n slegte voorbeeld van Christelike gedrag wees. Indien so ’n paartjie romanties saam verkeer, sal die versoeking groot wees om hulle skuldig te maak aan geslagsdade wat slegs in die huwelik geoorloof is. Ons lees: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebr. 13:4.
Geestelik bekwame persone moet Bybelse raad gee aan iemand wat afsprake maak terwyl hy nie Skriftuurlik vry is om te trou nie en probeer om so ’n persoon ‘reg te help’ (Gal. 6:1). Indien hy nie luister nie, moet hulle aanhou om hom te probeer help, waarsku en teregwys, hom selfs “skerp bestraf.—Spr. 29:1; Tit. 1:10, 13.
Hulle kan moontlik sy liefde vir God en sy waardering vir die innige vreugde en tevredenheid om God se liefde en seën te geniet, versterk (Rom. 8:35-39; 2 Kor. 4:16-18). Hulle, en ander lede van die gemeente, kan hom dalk help om sy eensaamheid te bowe te kom deur behoorlike, opbouende omgang met hom te hê en hom besig te hou met goeie werke (Tit. 2:14). Hulle kan hom miskien afkeer van ’n weg wat daartoe kan lei dat hy God se wet teen owerspel verbreek, want dan sal hy dalk uit die gemeente gesit moet word.—1 Kor. 5:9-11.
Indien iemand voortgaan om afsprake te maak wanneer hy nie Skriftuurlik vry is om weer te trou nie, sal baie in die gemeente waarskynlik verplig voel om die Bybel se raad oor iemand wat weier om te werk toe te pas: “As iemand aan ons woord . . . nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ’n vyand nie, maar vermaan hom as ’n broeder” (2 Thess. 3:14, 15). Baie Christene met hoë agting vir God se huweliksreëling sal nie op sosiale vlak wil omgaan met iemand wat dit moedswillig oneer aandoen nie. Deur te weier om op sosiale vlak met die indiwidu te verkeer en deur wat hulle in die gemeente sê oor die aanvaarding van God se wyse raad, sal hulle hom dalk kan oorreed om sy verkeerde weg te verlaat.—Jud. 23a.
• Spreuke 10:6 sê: “Seëninge is daar op die hoof van die regverdige, maar die mond van die goddelose verberg geweld.” Wat beteken dit?
Hierdie spreuk tref ’n mooi teenstelling tussen die uitslag vir twee soorte persone—die regverdige en die goddelose. As ons die betekenis daarvan bespreek, kan dit ons help om te ontleed watter soort persone ons graag wil wees.
Die persoon met ’n rein en regverdige hart, lewer oorvloedige bewys daarvan. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matt. 12:34, 35). Ja, so ’n persoon praat gereeld oor dinge wat vriendelik en leersaam is, en hy tree dienooreenkomstig op. Hoe tree jy teenoor so ’n opregte persoon op? Is dit nie met guns nie? Ontvang hy nie jou seën en waardering nie?
’n Persoon wat andersyds goddeloos, haatlik of boosaardig is, is basies daarop uit om ander kwaad aan te doen. Al kom hy soms met mooi woordjies vorendag, swig hy mettertyd voor geweld, hetsy fisiese geweld teenoor ander of spraak wat ander aanval en probeer om hulle af te takel. Omdat hy nie ander se seën verdien nie, kry hy eerder vloeke van hulle.
In die oorspronklike Hebreeus lui ’n alternatiewe lesing van hierdie laaste deel soos volg: “Geweld sal die mond van die goddelose bedek.” Dit beklemtoon wat die goddelose ontvang en die moontlike uitwerking daarvan op hom. Dit staaf die beginsel dat ‘jy maai wat jy saai’. Hy saai die sade van vyandigheid en boosheid, en dit is wat hy sal maai. Dit sal sy mond as’t ware bedek of snoer. Die gewelddadige gevolge van die goddeloosheid wat hy bedrywe sal hom mettertyd inhaal en hom die swye oplê.
Watter uitslag begeer ons? Dit sal afhang van watter soort persone ons innerlik probeer wees.