Vrae van lesers
• Wat was die “betekenis van die brode” wat in Markus 6:52 (NW) gemeld word?
Markus 6:51, 52 lui: “Hy [Jesus] het by hulle [die dissipels] in die skuit geklim, en die wind het gaan lê: en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie [die betekenis van die brode nie gesnap nie], omdat hulle hart verhard was.” Die dissipels het vroeër gesien hoedat Jesus Christus vyf brode en twee visse op wonderdadige wyse vermeerder sodat omtrent 5 000 manne, benewens vroue en kinders, gevoed kon word. Die brokstukke wat opgetel is, het 12 mandjies gevul en tasbare bewys gelewer dat al die aanwesiges versadig was. Dit moes vir die dissipels geleer het dat Jesus deur God gemagtig is om wonderwerke te verrig.—Matt. 14:19-21; Mark. 6:41-44.
Toe Jesus dus later op die water geloop het en die wind gaan lê het toe hy in die boot klim, het sy dissipels ’n grondslag gehad om hierdie wonderwerke met die wonderdadige vermeerdering van die brode te assosieer. Indien Jesus Christus ’n skare kon voed, moes dit tog sekerlik nie so buitengewoon of verbasend gewees het dat hy ook op water kon loop en die wind kon laat bedaar nie.
Die dissipels kon egter nog nie een wonderwerk in die lig van ’n ander sien nie. Hulle harte kon eenvoudig nie die omvang van die mag snap wat deur die heilige gees aan Jesus Christus gegee is nie. Hulle het met soveel verbasing gereageer as wat ’n mens by persone sou verwag wat geen grondslag gehad het om te glo dat die Seun van God op water kon loop of die wind kon laat ophou waai nie.
• Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy geskryf het dat die bestaan van sektes onder die Korinthiërs sou openbaar wie goedgekeur is?
Op grond van berigte wat hy ontvang het, het die apostel Paulus geskryf: “In die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit. Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes [goedgekeurdes, NW] onder julle openbaar kan word.”—1 Kor. 11:18, 19.
Die apostel het besef dat berigte nie altyd ’n volledige beeld van die ware toedrag van sake gee nie. Maar omdat hy die gemeente in Korinthe persoonlik geken het, het hy geweet dat daar ’n mate van waarheid steek in die informasie wat aan hom oorgedra is. Dit is waarom hy kon sê: “En gedeeltelik glo ek dit.” Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat daar wel partyskappe of sektes onder die Korinthiërs bestaan het. Maar die bestaan van hierdie partyskappe sou toon watter indiwidue God se goedkeuring wegdra.
Wanneer partyskappe ontstaan, probeer sekere indiwidue dikwels om ’n gevolg te kry. Hulle onvergenoegdheid en hulle begeerte na vernaamheid of erkenning sal gou duidelik word. Maar persone wat goedgekeurde knegte van die Allerhoogste is, gaan voort om hulle medegelowiges nederig te help. Deur hulle woorde en dade toon hulle dat hulle daarvan oortuig is dat die Here Jesus Christus die hoof van die Christengemeente is. Hulle sal hulle nie vereenselwig met groepe wat onvolmaakte mense verhoog nie; hulle sal ook nie probeer om die lof van mense te verkry nie.
Persone wat waarlik goedgekeurde knegte van God is, dra nie by tot die ontstaan van partyskappe nie en het niks met hulle te doen nie. En wanneer partyskappe ontstaan, doen sulke goedgekeurde persone alles in hulle vermoë om eenheid en liefde te bevorder. Ja, liefhebbers van waarheid sal opvallend wees omdat hulle ’n sektegees vermy en voortgaan om ander te help om te sien dat eenheid onder die hoofskap van Jesus Christus nodig is. Sodoende help partyskappe of skeuringe in werklikheid om ware gelowiges, persone met suiwer beweegredes, te identifiseer.
• Die Bybel vertel van drie ernstige foute wat Dawid tydens sy bewind begaan het. Hoe weet ons dat God nie versuim het om sy deel te doen om te keer dat Dawid struikel, soos toe hy Abigail gebruik het nie?—1 Sam. 25:32-34.
Die foute was: (1) Dawid het die Ark op ’n wa vervoer in plaas daarvan dat die priesters dit op hulle skouers gedra het, met die gevolg dat Ussa dood is; (2) sy sonde met Batseba, wat gelei het tot die dood van sowel Uria as die kind wat weens hulle owerspel gebore is; en (3) hy het Israel se leër laat tel, met die gevolg dat 70 000 vergaan het.
In verband met Ussa se dood: God se wet het vereis dat Dawid as koning ’n afskrif van die Wet maak en dit elke dag lees (Deut. 17:18). Dit was sy versuim om gehoorsaam te wees aan die Wet se voorskrifte oor die regte manier waarop die Ark vervoer moes word wat Ussa se dood meegebring het (Num. 4:15; 7:6-9). Ons moet daarop let dat Dawid nederig die skuld aanvaar het vir die gevolge van sy poging om die Ark te verskuif.—2 Sam. 6:2-10; 1 Kron. 15:12, 13.
Wat sy verhouding met Batseba betref: Dawid het God se uitdruklike wet oor egbreuk gehad, maar hy het dit veronagsaam.—Ex. 20:14.
Wat betref die fout wat hy begaan het deur Israel se leer te tel: Hy was beslis moedswillig. Jehovah het Joab gebruik om Dawid te probeer afraai en te keer dat hy struikel, maar Dawid was koppig.—2 Sam. 24:1-17.
Jehovah kon dus nie in een van die gemelde gevalle daarvan beskuldig word dat hy versuim het om te keer dat Dawid struikel nie.
• Waarom het die Mosaïese wet die doodstraf voorgeskryf vir enigiemand wat sy ouers vloek?
God se wet het gesê: “Elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Hy het sy vader of sy moeder gevloek. Sy bloedskuld is op hom” (Lev. 20:9). Indien ’n man sy ouers sou vloek en sou wens dat ’n verskriklike ramp hulle moet tref, sou dit getuig van ’n haatlike, moorddadige gesindheid. Dit sou ’n skokkende gebrek aan dank wees vir die sorg en aandag wat hy van sy ouers ontvang het. Hoewel hy nie self ’n wapen gebruik het om hulle mee dood te slaan nie, het so ’n man in sy hart begeer dat hulle op ’n ander manier moet omkom. In God se oë kom so ’n boosaardige gees op moord neer. (Vergelyk Mattheüs 5:21, 22; 1 Johannes 3:15.) In sy wet aan Israel het die Allerhoogste dus dieselfde straf voorgeskryf vir iemand wat sy ouers vloek as vir een wat hulle letterlik vermoor.
• Die afkoms van die bedrewe vakman wat deur Hiram gestuur is om tydens Salomo se bewind met die tempelbouwerk te help, word in 1 Konings anders aangegee as in 2 Kronieke. Waarom?
Eerste Konings 7:14 lui: “Hy was die seun van ’n weduvrou uit die stam van Naftali, en sy vader was ’n man van Tirus.” In 2 Kronieke 2:14 word hierdie vakman beskrywe as “die seun van ’n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader ’n man van Tirus is”. Wanneer hierdie verklarings as twee aanvullende verklarings beskou word, word die oënskynlike teenstrydigheid maklik uit die weg geruim. Sy moeder was ’n “weduvrou uit die stam van Naftali” in die sin dat sy getroud was met ’n man uit daardie stam. Sy self was egter uit die stam van Dan. Na haar man se dood het sy met ’n man van Tirus getrou, en dit is uit hierdie huwelik dat die seun gebore is wat ’n bedrewe vakman geword het.