Die naam van Jehovah-’n beskutting
DIE naam van Jehovah was waarlik ’n beskutting vir ’n getuie van Jehovah wat laat een aand langs ’n donker en verlate straat in Italië huis toe geloop het. Hy vertel:
“Skielik het ’n jong man voor my verskyn sodat ek moes stilstaan en het hy gebiedend gesê: ‘Steek jou hande in die lug. Gee vir my al die geld wat jy by jou het.’ Dit was dadelik vir my duidelik dat hy nie ’n grap gemaak het nie; toe het vier ander jong mans van 16 tot 18 jaar my met blink messe in hulle hande omring. Ek het dadelik vir hulle my notebeurs gegee, en terwyl die een die geld daarin gevat het, het ’n ander een my horlosie geneem en het die ander my sakke leeggemaak. Toe ek my trouring vir een aanbied, het hy gesê: ‘Hou dit! Ons wil dit nie hê nie. Gee eerder vir my die goue ketting om jou nek.’ Ek het geantwoord dat ek nie ’n ketting of ’n gelukbringer dra nie omdat ek een van Jehovah se Getuies is.
“Ek het skaars klaar gepraat toe een van hulle agter my sê: ‘Ons het ’n fout begaan. Dit is goeie mense. Ek ken hulle.’ Ek het omgedraai na die een wat gepraat het en vir hom begin getuig en hom aangespoor om ’n eerlike lewe te lei. Terwyl ek nog gepraat het, het elkeen, tot my verbasing, vir my begin teruggee wat hy gevat het—een die geld, die ander die horlosie, totdat ek alles teruggekry het. Hulle het vir my gevra of ek hulle sal vergewe, en ek het gesê dat ek geen wrok teen hulle gekoester het nie, maar dat hulle eerder Jehovah met opregte berou om vergifnis moet vra. Ek dank God dat hy my by daardie geleentheid beskerm het.”
Hoe waar is die woorde in Spreuke 18:10 tog: “Die Naam van [Jehovah] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”—vgl. NW.